Anderkant woede

deur Dr Danie Langner
NP-van-Wyk-Louw-Toekoms-Geskiedenis

Tydens die  Zuid-Afrika-avond van Vlaamse kultuurorganisasies in Sint Niklaas, België, was die bekommernis oor die politieke en ekonomiese toekoms van Suid-Afrika opvallend. Ledy Broeckx, voormalige hoofleier van die Vlaamse Nasionale Jeugverbond (VNJ) het gevra of ek werklik glo dat Afrikanerkinders steeds ’n toekoms in die land het.

Haar vraag het my onkant betrap. Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Die vorige dag het Die Voortrekkers een van ons lede in Port Elizabeth begrawe. Hy is  aangeval, beroof en het na 18 dae weens komplikasies gesterf. Charl Meyer was ’n murg-en-been-Voortrekker. Charl was nie ’n kantlyn-mens nie, maar ’n koershou-mens. Hy was ’n kompas wat ideale en waardes uitnemend aan ons kinders voorgeleef het. Charl was ’n kan-mens wat baanbrekerswerk gedoen het om selfbehoudkampe volhoubaar  in die Oos-Kaap te vestig. Hier het hy sy liefde vir die veld en respek vir die natuur aan jeuglede oorgedra. In ’n tyd van groeiende polarisasie was Charl met sy rustigheid, waardigheid en integriteit in sy gemeenskap ’n brugbouer en waardedraer. Ons gebroke land het mense soos Charl broodnodig. Charl se dood het ons geruk. Verslae gelaat. Dit is met goeie rede dat ons woedend is oor misdaad en geweld wat nie net Die Voortrekkers nie, maar Port Elizabeth en Oos-Kaap van ’n steunpilaar beroof het.

Emosies soos woede mag nie met ’n geveinsde vroomheid weggepraat, of met ’n optimistiese Colgate-glimlag ontken word nie. Woede vra eerder ’n eerlike erkenning en nugter hantering daarvan. Woede kan destruktief wees. Dit kan breek en vernietig. Woede kan kwets en seermaak. Woede kan ook isoleer en deelname aan gemeenskaplike sake verlam. Tjaart du Plessis, kommandoleier van die Kranskop Voortrekkers in Nylstroom skryf:

“Die gemiddelde Afrikaner van vandag:

  • wil graag hê sy kinders moet in ’n goeie skool wees, maar wil nie by die skool betrokke wees nie;
  • wil graag in ’n veilige omgewing bly, maar wil nie buurtwagpatrollies ry nie;
  • wil sy kinders na ’n Afrikaanse universiteit stuur, maar dra nie by tot Akademia nie en dring nie aan op die
  • behoud van Afrikaans by bestaande universiteite nie;
  • kla oor die stukkende paaie, maar wil nie help slaggate regmaak nie;
  • kritiseer graag, maar doen niks.

Ons grootste probleem is nie die regering óf die president nie, maar ’n apatiese kultuur van wag dat iemand anders dit vir my doen.”

Woede kan ook positief wees. Ons grootste probleem is nie die regering óf die president nie, maar ‘n apatiese kultuur van wag dat iemand anders dit vir my doen.

Woede gemik teen geweld, vernietiging van kulturele erfenis, onreg, diskriminasie, korrupsie, misdaad, taalonderdrukking het die potensiaal om mense te motiveer tot aktiewe deelname aan opbouende prosesse. Charl se ontydige en tragiese dood vra van Die Voortrekkers en elke vredeliewende Suid-Afrikaner om nie op die kantlyn te staan nie, maar  as aktiewe burgers op te staan teen alles wat Suid-Afrikaners van ’n positiewe toekoms beroof.

Positiewe burgerskap is vir Die Voortrekkers aktiewe burgerskap deur diensbaarheid. Ons wese sê dit ook: “Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat die moderne Afrikaner, in besonder sy jeug, bemagtig om as positiewe Burgers en konsekwente Christene suksesvol te wees in hul roeping tot diens.”

Diensbaarheid is nie vir Die Voortrekkers ’n vae konsep of ’n oppervlakkige maatskaplike benadering nie. Afrikaners het met ’n gesindheid van diensbaarheid en ’n troffel in die hand armoede oorwin, kerke, skole en universiteite gebou, lande geploeg, harte oorgeplant, nuwe horisonne ontdek, grense geskuif. Dit is in die gees van diensgerigtheid en diensvaardigheid waarmee Die Voortrekkers prakties inhoud aan Christenskap, burgerskap en Afrikanerskap gee.

  • Deur diensbaarheid bou ons met opgerolde moue brûe met dade van omgee en naasteliefde.
  • Diensbaarheid beteken dat ons nie vir ander wag om leiding te neem nie, maar selfverantwoordelikheid neem om ons taal en kultuureie in beskerming te neem en daarvoor te sorg.
  • Dade van diensbaarheid, hoe gering of klein ook al, gee hoop vir die toekoms.
  • ’n Diensbare hart veronderstel ’n nederige wegkyk van die eie ek waar daar geen plek is vir hoogmoed of selfsug nie. Diensbaarheid vra harde werk, opoffering, toewyding, maar bowenal deursettingsvermoë.

In die vroeë Christelike kerk het ’n onbekende martelaar in ’n brief aan die nie-gelowige Diognetos die volgende oor Christene se diensbare burgerskapbeskouing getuig:

“Die onderskeid tussen christene en die res van die mensdom is nog in landstreek, nog in taal, nog in gewoonte geleë. Alhoewel hulle die plaaslike gewoontes navolg, in kleredrag, voedsel en alledaagse lewenswandel, vertoon hulle die unieke aard van hulle eie burgerskap:

  • Hulle woon  in hulle vaderland, maar soos bywoners.
  • Hulle het as  landsburgers deel aan alle dinge, maar verdra dit soos vreemdelinge.
  • Hulle vertoef op aarde, maar het burgerskap in die hemel.
  • Hulle trou soos alle mense, hulle verwek kinders, maar gooi nie hulle kinders weg nie.
  • Hulle deel hulle tafel, maar nie hulle bed nie.
  • Hulle gehoorsaam die wette van hulle regerings, maar oorwin die wette deur hulle lewenswyse en liefde.
  • Hulle het almal lief, maar word vervolg.
  • Hulle is arm, maar maak baie mense ryk deur diensbaarheid.
  • Hulle het gebrek, maar het tog alles in oorvloed.
  • Hulle word belaster, maar hulle seën.
  • Hulle word beledig, maar hulle betoon respek.
  • Terwyl hulle aan ander goed doen, word hulle as boosdoeners gestraf.

Deur die Jode word hulle beveg en deur die Grieke vervolg, maar die haters kan nie die oorsaak van hulle haat noem nie.”

’n Koninkryksgerigte diensbare burgerskapbeskouing stel ons in staat om anderkant die vernietiging, verlamming en isolasie van woede te tree en met toekomshoop te leef.

Terug na Ledy Broeckx se vraag of Afrikanerkinders ’n toekoms in die land het? My eerlike antwoord is: ek weet nie. Dit is miskien arrogant om namens ons kinders die vraag te wil antwoord. Die vaste en seker toekomsantwoorde wat ons as kinders van grootmense gekry het, het nie gerealiseer nie. Dit is ’n vraag wat elke geslag kinders vir hulself moet antwoord en verantwoordelikheid vir hulle antwoord aanvaar.

Wat ek  wel weet, is dat die toekoms nie aan die ANC, die EFF, die DA of enige ander politieke party, groep of organisasie behoort nie. Die toekoms behoort aan die Here. Dit is die Here wat ons in hierdie land as koninkryksburgers roep om Sy fakkeldraers te wees. Fakkeldraers wat deur middel van aktiewe betrokkenheid by gemeenskapsinstellings lig en sout is.

Ek weet ook dat die land diensbare jongleiers broodnodig het.

  • Jongmense wat as diensbare leiers die voortou neem om met nuwe denke, nuwe woorde en omgeedade hoë berge te oorwin, deur diep riviere te swem en nuwe lande in klipperige grond te ploeg.
  • Diensbare jong leiers wat nie op die kantlyn staan of hulself in ‘n eie klein private wêreldjie isoleer nie, maar met selfvertroue en aktiewe deelname hulle potentiaal verwerklik en hulle  omgewing beïnvloed met waardes wat werk.
  • Jongmense vir wie roeping tot diens nie lippetaal is nie, maar die ware noord waarmee hulle koershou na die toekoms.

Dit is die soort jongmense wat ek in Die Voortrekkers ontmoet.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.