Abraham Maslow en opvoeding – Dr. Attie Louw

Toddler boy holding an open Bible, smiling up at camera

It is not true, as is sometimes said, that man can organize the world without God. What is true is that, without God, he can ultimately only organize it against man. Exclusive humanism is inhuman humanism. Henri de Lubac[1]

Ek het onlangs na my graad 7-seun se werk gekyk en op die volgende in sy handboek vir “Ekonomiese en Bestuurswetenskappe” afgekom. Ek haal aan:

Abraham Maslow, ’n sielkundige wat navorsing gedoen het oor hoe mense optree, het vyf soorte behoeftes geïdentifiseer wat alle mense het. Hy noem die primêre behoeftes laer-orde behoeftes en hulle sluit in fisiese behoeftes, die behoefte om veilig te voel en die behoefte vir liefde. Hy noem die sekondêre behoeftes hoër-orde behoeftes en dit sluit in die behoefte om belangrik te voel en die behoefte om groot hoogtes in die lewe te bereik. Mense kan nie sonder die primêre behoeftes oorleef nie. Sonder kos, water, skuiling en ontspanning sal mense sterf. Sekondêre behoeftes is nie nodig vir oorlewing nie, maar help om mense se lewensgehalte te verbeter.[2]

Hier is Maslow se hiërargie van behoeftes volgens Wikipedia grafies voorgestel:[3]

NP van Wyk Louw Maslow

Ons sien hier dat Maslow se selfverwesenliking deur my kind se graad 7-leerplan gedefinieer word as om belangrik te voel en om groot hoogtes te bereik. Hierdie gedagte definieer ons tyd in baie opsigte en het al so deel van ons denke geraak, dat ons nie twee maal daaroor dink nie.

Tog behoort ’n oomblik se nadenke ’n mens tot stilstand te ruk. Hierdie definisie van selfverwesenliking, soos in die graad 7-leerplan, raak aan die hart van ons Christelike Westerse tradisie. Elke samelewing het ’n storie of ’n narratief, wat nie net die oorsprong van die samelewing vertel nie, maar ook die hoofkenmerke van so ’n samelewing na vore bring. Ons huidige narratief in die postmoderne Suid-Afrika is dat daar geen sentrale narratief is nie. Die hoogste goed is individuele selfverwesenliking, waar elkeen vry is om sy eie narratief te vertel. Hiervoor moet daar geen bande, soos godsdiens, op die individu gelê word, wat vrye selfkeuse en dus die kies van ’n eie persoonlike narratief, aan die bande lê nie. Die ironie is dat die ontkenning van ’n sentrale narratief in wese steeds ’n narratief is, omdat agter die fasade steeds ’n narratief van ’n struggle, met hoofkarakters en medekarakters skuil. Die graad 7-leerplan se interpretasie van Maslow se behoefte-hiërargie is ’n verwoording van hierdie hoofdoel van die selfverwesenliking as radikale individuele vryheid.

Die idee van selfverwesenliking van die individu as die hoogste goed, staan lynreg teenoor ons tradisionele Westerse Christelike beskouing waar nie selfverwesenliking nie, maar selfgawe aan ander en aan God, die hoogste goed en hoofdoel is. Dit is slegs in selfgawe dat die self verwesenlik word. Selfgawe is die hoogste goed, omdat die self, soos die res van die skepping, ’n geskenk of ’n gawe van God af is en die goedheid van God weerkaats. Selfgawe is die hoogste uitdrukking van die feit dat ons handel en wandel ’n dankbare gepaslike respons is op die geskenk, nl. die werklikheid, wat die self insluit.

Die Weste is tot en met die Verligting van die 18de eeu gekenmerk deur twee narratiewe, waar die tweede narratief die eerste een bevestig, uitbrei en verdiep.

Die eerste narratief kan gevind word in die karakter van Aeneas. Aeneas het na die val van Troje, die opdrag van die gode ontvang om na Italië te seil en die stad Rome te vestig. Hy het dit gedoen, ten spyte van vele ontberinge en die liefde van die Kartaagse koningin Dido. Aeneas het die regte ding gedoen, nie net omdat die gode dit van hom verwag het nie, maar omdat die werklikheid dit van hom vereis het. Die tweede narratief is die inkarnasie van God wat Homself aan die kruis gegee het. Jesus Christus het hierdeur die motief van Aeneas tot sy volledige konsekwensie deurgevoer. Hierin is die mite van Aeneas nie net voltooi nie, maar is dit ook verwerklik.

Selfgawe vir die ander tot die dood toe is die hoogste offer wat enige een kan bring. Selfgawe is die diepste vlak van die werklikheid, soos CS Lewis dit stel in The Lion, the Witch and the Wardrobe. Aslan het sy eie lewe in ruil vir Edward se lewe geoffer. Hy het egter die volgende dag uit die dood opgestaan. Hy stel dit daarna as volg aan die vier kinders:

“It means,” said Aslan, “that though the Witch knew the Deep Magic, there is a magic deeper still which she did not know. Her knowledge goes back only to the dawn of time. But if she could have looked a little further back, into the stillness and the darkness before Time dawned, she would have read there a different incantation. She would have known that when a willing victim who had committed no treachery was killed in a traitor’s stead, the Table would crack and Death itself would start working backward.[4]

God se selfgawe geskied omdat Hy die absolute Goeie en Liefde is. Alles is deur Hom ex nihilo, of te wel uit niks uit geskape. Elke ding word deur Sy hand deurlopend van oomblik tot oomblik van die Niks weggehou, waarvandaan elke ding oorspronklik kom. Die totale skepping, insluitend elke ding, is in teenstelling met God, die enigste Noodwendige en is dus voorlopig en ’n geskenk in liefde. Die mees basiese wese of aard van die skepping, met elke ding in die skepping, is die van ’n geskenk in goedheid. Die totale skepping weerkaats as ’n geskenk, Sy goedheid as ’n glans, deurdat aan elke ding in die skepping, volgens elke ding se aard, ’n bepaalde goedheid toebedeel is. Ons ervaar die glans as skoonheid, wat ons heenwys na die goedheid daarvan en na die Bron daarvan, nl. God. Die totale skepping en elke ding is goed, omdat dit ooreenstem met die bedoeling wat God daarvoor het. Die gevolg is dat alles wat is soos hulle moet wees, is waar. Daar is ’n duidelike onverbreekbare band tussen elke ding en die goedheid en skoonheid wat aan elke ding, volgens sy maat, toegeken is en dus die waarheid van elke ding.

Die totale skepping is ’n geskenk, ’n manifestasie van die goedheid en liefde van God in die skoonheid daarvan. Dit beteken dat die grondstemming van die skepping een van dankbaarheid is. Danie Goosen stel dit baie goed:

Geskenke wat ons ons vanuit die hand van ’n gewer ontvang, ontlok in die eerste plek dankbaarheid. En juis dit gebeur in die tradisie. Trouens, dit stempel die tradisie se ervaring op ’n grondige wyse. Dankbaarheid is ’n grondstemming van die tradisie, omdat die geheel nie bloot as ’n gegewe werklikheid nie, maar as ’n geskenkte werklikheid ervaar word. Alles wat is, van die geringste tot die belangrikste, is ’n geskenk. Daarom ontlok alles ook dankbaarheid.[5]

God is nie net die Bron van alles wat is nie, Hy vergader ook alles in Homself, beide as die Onderhouer en as die Eindpunt van alles. Ons het daarom ’n ingebore sug en heimwee na God. Augustinus het die sug goed saamgevat toe hy opgemerk het dat die hart rusteloos is totdat dit rus in God vind.

Selfverwesenliking kan net geskied teen die agtergrond van die twee gegewes, nl. eerstens die feit dat ons mees grondige heimwee na God is en tweedens die feit dat alles wat is, insluitend ons eie self, ’n geskenk van God is. Die mees grondige modus waarvolgens ons dankbaarheid moet geskied, is ’n totale selfgawe aan God, nie net onsself nie, maar ook met alles wat ons het en alles wat ons doen. Ons dade moet ’n korrekte respons op die werklikheid wees, m.a.w. dit moet deugsaam wees, gegrond in selfgawe.

Die graad 7-leerplan het dit geheel en al verkeerd. Die hoogste goed is nie in selfverwesenliking en selfwaarde geleë nie. Hierin is die groot paradoks geleë. Selfverwesenliking is slegs moontlik met selfverloëning en selfgawe aan die ander en aan God, sodat God alles kan wees. Slegs dan kan die self in God rus vind.

Die werklikheid maak aanspraak op die mens om in die eerste plek te onderskei tussen die goeie en die slegte en in die tweede plek toepaslik volgens die onderskeiding te handel. Om toepaslik te kan handel, soos die werklikheid dit vereis, vereis ’n regte ingesteldheid, ’n gewoonte of habitus van die gees. Die individu moet met ander woorde oor karakter beskik. Hiervoor is nie net kennis of wysheid nodig nie, maar ’n vermoë om skoonheid, goedheid en die waarheid raak te sien. Die individu moet nie net daarvolgens kan handel nie, maar ook in staat wees om die gees daardeur te voed en om God daardeur te eer.

Karakter word deur deugsaamheid gekenmerk. Die vermoë om die goeie en die skone raak te sien, is in die hart, die setel van die emosies, gesetel, terwyl wysheid in die verstand gesetel is. Volgens CS Lewis[6] lê die hart tussen die verstand en die buik, die setel van die drange. Die hart moet altyd die verstand gehoorsaam, maar die buik kan die verstand slegs via die hart gehoorsaam.[7]

Ons kan die saak van ’n ander hoek beskou. Volgens die tradisie is daar vier klassieke deugde, nl. wysheid, dapperheid, matigheid en geregtigheid, en drie teologiese deugde nl. geloof, hoop en liefde. Wysheid is gesetel in die verstand, dapperheid in die hart en matigheid in die buik of die lewer. Geregtigheid geskied wanneer wysheid, dapperheid en matigheid ’n eenheid vorm. Die verstand, hart en buik moet dus ’n samehangende eenheid vorm. Die drie teologiese deugde is die geopenbaarde lig van God wat op die vier klassieke deugde skyn en dit voltooi.

Die wese van opvoeding in die Westerse Christelike tradisie is karakterbou, m.a.w. om deugsaamheid in die kind te ontwikkel. Hiervoor moet die hemelse en aardse werklikheid, in sy goedheid en skoonheid, vir die kind ontsluit en oopgemaak word. Dit is nie net die verstand wat ontwikkel moet word nie, maar belangriker nog die hart, sodat die verstand, hart en buik ’n samehangende eenheid kan vorm. Dit is, soos CS Lewis dit genoem het, wanneer ’n ma-voël haar kleintjies leer vlieg.[8]

Die Westerse Christelike tradisie staan lynreg teenoor die beeld van die werklikheid wat deur die graad 7’s se “Ekonomiese en Bestuurswetenskappe”-handboek voorgehou word. Die beeld wat hier voorgehou word, is ’n werklikheid sonder God. Die werklikheid het in wese geen goedheid of skoonheid nie, behalwe dit wat deur die mens aan dinge toegeken word. Die mens word hierdeur die waardegewer en dus per implikasie, die skepper van alles. Die mens se hoogste doel is dus noodwendig blote selfbevrediging.

Die inherente waardeloosheid van die werklikheid t.o.v. die goeie en dus die skone en die ware, is die belangrikste kenmerk van beide die modernisme en die postmodernisme. Anders gestel, die een groot kenmerk van die modernisme en die postmodernisme is atrofie van die hart. Volgens CS Lewis lyk moderne en postmoderne mense net so slim omdat hulle borskaste so klein is, nie omdat hulle so baie verstand het nie.[9]

Waar die stemming in die tradisie een van dankbaarheid teenoor die werklikheid as ’n geskenk en ’n gawe van God is, is die stemming in beide die modernisme en die postmodernisme een van angs. Die hoogste beginsel in die werklikheid, gestroop van alle goedheid en skoonheid, is die noodlot. Daar moet nou ten alle koste beheer oor die werklikheid verkry word om die angs en die noodlot van die deur weg te hou. Die gevolg is dat elke mens nie net vir homself leef nie, maar ook in opposisie met elke ander mens verkeer. In die proses om selfverwesenliking te bereik, verloor die mens nie net homself nie, maar ook die werklikheid in sy volheid en goedheid. Die graad 7-leerplan se idee dat selfverwesenliking die hoogste beginsel is, is nie die pad na geluk nie, maar die voorpoort van die hel.

Sekerlik die mees opvallende kenmerk van beide heidense en sekulêre gemeenskappe is ’n doelbewuste en naïewe hardvogtigheid. Daar is altyd gevalle van ’n doelbewuste ignorering van die bose en selfs ’n regverdiging daarvan. Daar is ook altyd gevalle van ’n blote onvermoë of blindheid om die bose raak te sien. Daar is ook, vanweë die atrofie van die hart, ’n kenmerklike onvermoë tot enige deugsaamheid in die aangesig van die bose, al word die ding as boos herken. Die een kenmerk in hierdie verband is ’n hardvogtigheid teenoor kinders. Dit was so in antieke Rome toe, ongewensde pasgeborenes tot die stad se Cloaca Maxima of rioolafvoer verdoem is. Dit is ook so in vandag se tyd met aborsie op aanvraag, waar ongebore kinders as mediese afval beskou word. In Suid-Afrika is dit ook die geval van slagoffers van BEE, Afrikaners se kulturele erfenisse, gemeenskappe soos boere, ens.

Geen wonder CS Lewis praat van men without chests[10] en Danie Goosen praat van monsters teenoor mense[11] nie. Ons, as ouer mense vanuit ’n vorige bedeling, het hierdie kondisionering, as deel van die modernisme, glad nie vrygespring nie. Flannery O’Connor stel dit baie goed in een van haar briewe, geskryf in 1955:

The notice in the New Yorker was not only moronic, it was unsigned. It was a case in which it is easy to see that the moral sense has been bred out of certain sections of the population, like the wings have been bred off certain chickens to produce more white meat on them. This is a generation of wingless chickens, which I suppose is what Nietzsche meant when he said God was dead.[12]

Die kind moet in die modernisme en postmodernisme letterlik gekondisioneer word om ’n spesifieke “goeie” en / of “absolute” te aanvaar, wat ook al op daardie tydstip in die mode is. So is kinders op ’n tydstip in die ou bedeling “opgevoed” om burgers van ’n geslote gemeenskap te wees. In die nuwe bedeling word kinders “opgevoed” om burgers van ’n oop gemeenskap te wees, waarin sake soos rassisme en homofobie die hoogste kwaad is.

Opvoeding is in die modernisme en postmodernisme nouliks opvoeding, maar kondisionering en indoktrinasie, waarin deugsaamheid tot ’n verwaterde moralisme gereduseer word. Dit het met karakterbou niks te doen nie.

Die feit dat ons almal vandag produkte van beide die modernisme en postmodernisme is, vind onbewustelik neerslag in ons pogings om ons kinders se onderwys te red. Ek het waardering vir pogings soos die CVO-skole en Akademia. ’n Mens kry egter die indruk hulle word deur pragmatisme gelei. Dit is verstaanbaar, veral gesien in die lig van die beperkte hulpbronne wat beskikbaar is. Die feit is dat hierdie pogings onder die huidige denkraamwerk waarskynlik sal misluk, tensy ons werklik die probleem van die monsteragtige in onsself aanspreek en besliste pogings aanwend om ons kinders en onsself op die regte pad te bring.

 

[1]  Henri de Lubac, The drama of atheist humanism.  Ignatius Press. San Francisco. 1995.  Vertaal deur E. M. Riley, et al. Bl. 14.

 

[2] M.L. Evans, et al. Shuters Top Klas Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Graad 7 Leerdersboek.  Shuter & Shooter. 2013.  Bl. 14

 

[3] Bron: https://commons.m.wikimedia.org/wiki/File:MaslowsHierarchyOfNeeds.svg

[4] C.S. Lewis. The Lion, the Witch and the Wardrobe.  Harper Collins Childrens Books.  2001. Bl.   176.

[5] Danie Goosen.  Oor Gemeenskap en Plek.  Anderkant die Onbehae. F.A.K. Pretoria. 2015. Ble. 158-159, e.v.

[6] C.S. Lewis.  The Abolition of Man, or, Reflections on education with special reference to the teaching of English in the upper forms of schools.  Amazon. Kindle uitgawe. Ligging 185

[7] Ibid. Ligging 185.

[8] Ibid. Ligging 168.

[9] Ibid. Ligging 189.

[10] Ibid. Ligging 188.

[11] Danie Goosen. Oor Gemeenskap en Plek. Bl. 93, e.v.

[12] Flannery O’Connor. The habit of being. Letters of Flannery O’Connor. Ferrar, Strauss and Giroux. New York. Bl. 90.

One Response to “Abraham Maslow en opvoeding – Dr. Attie Louw”

  1. Wynand Louw 2016-08-29 at 1:00 pm #

    Uitstekende artikel.

    Maslow is ‘n guru vir humanisme.

    Lynreg teenoor Maslow staan Frankl, wat na sy ervarings in Nazi strafkampe Maslow se berugte piramide op sy kop gedraai het. Volgens Frankl is kos, klere en skuiling nie genoeg vir oorlewing nie. Meer fundamenteel, sê hy gegrond op sy observasie van sy mede doodskamp-gevangenes, is die geloof dat daar sin in die lewe is. En volgens hom kan die mens slegs sin vind in iets buite en groter as homself. (Frankl het sy tesis so 3 jaar na Maslow publiseer. Of hy geweet het van Maslow weet ek nie.)

    Slegs God kan hierdie sin aan die mens se lewe verleen. Paulus skryf in Rom 8: “Want hiervan is ek oortuig, dat alles ten goede meewerk vir dié wat God lief het…” Dan gaan hy voort en noem ‘n lys van dinge (of gebrek aan dinge) wat ons nié van Christus se liefde kan skei nie – toevallig juís die dinge wat Maslow laag op sy piramide het. En dan kom hy tot die gevolgtrekking: “Maar in dit alles is ons méér as oorwinnaars, deur Hom wat ons lief het.”

    Dit is waarom Christen martelare deur die eeue hulle dood met vreugde in die gesig kon kyk.

    Guy de Brès (opsteller van die Nederladse Geloofsbelydenis) skryf na sy ter doodsveroordeling uit die gevangenis aan sy vrou:

    “I am happy; my heart is light and it lacks nothing in my afflictions. I am so filled with the abundance of the richness of my God that I have enough for me and all those to whom I can speak. So I pray my God that he will continue his kindness to me, his prisoner. The One in whom I have trusted will do it, for I have found by experience that he will never leave those who have trusted in him. I would never have thought that God would have been so kind to such a poor creature as I. I feel the faithfulness of my Lord Jesus Christ.”

    Miskien moet ons dit eerder as Maslow se twak vir ons kindets leer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.