Afrikaans in Namibië – Dr. Callie Opperman

Sedert 1990 is Maart ’n belangrike maand in Namibië. Op 21 Maart 1990 het die landstreek, wat as gebied in opdrag van die Verenigde Nasies deur die Suid-Afrikaanse regering bestuur is, ’n onafhanklike republiek geword.

‘N BESONDERE JAAR – POLITIES GESIEN

Vanjaar word in Maart weer geskiedenis gemaak. Die republiek van Namibië is ’n kwarteeu oud. ’n Tyd van vrede en groei op talle gebiede. Die derde president is met ’n algemene verkiesing aangewys en neem, saam met sy nuwe parlement en ministers, die leisels by sy voorganger oor.

Die algemene verkiesing in November 2014 het Namibië weer as bestendige land, waar vreedsaamheid, goeie verhoudinge en verdraagsaamheid heers, aan die wêreld bekendgestel. SWAPO (South-West Africa People’s Organisation) het die verkiesing met ’n groot meerderheid gewen. SWAPO se steun het gegroei sedert die vorige verkiesing. Dit is ’n prestasie waarby ander vryheidsbewegings (soos die ANC) nie kan kers vashou nie.

Maart 2015 kondig ook ’n nuwe tydvak aan vir ’n land met 11 etniese groepe. Die Ovambo’s maak ongeveer 50% van die totale populasie uit en is grootliks ondersteuners van SWAPO. Sam Nujoma, die stigterspresident wat vir drie termyne president was, sowel as Hifikepunye Pohamba, president vir twee termyne, was beide uit die Ovambo-bevolking. Vanjaar neem dr Hage Geingob, ’n Damara, as president die hoogste regeringstoel oor. ’n Nuwe tydvak, allerweë beskou as ’n teken van etniese verdraagsaamheid. Dit was ’n wenresep vir die verkiesing, want Geingob het 86% van die totale stemme getrek, meer as sy voorgangers en meer as wat die SWAPO-party in hierdie verkiesing kon behaal. Geingob is ’n politieke veteraan wat al verskeie ampte in Namibië se administrasie beklee het. Hy het ook ’n hoë profiel gehad in Namibië se bevrydingstryd. Hy was die eerste Eerste Minister van die onafhanklike Namibië, en weer daarna. Nadat hy vir ’n tydperk uit die politiek getree het, is hy weer in leiersposisies aangestel. Hy was ook die vise-president van SWAPO toe hy genomineer is as kandidaat vir die nuwe presidentskap van Namibië.

Geingob erf ’n stabiele staat, word deur die meerderheid gerespekteer en sit die “legacy” van SWAPO voort – “peace, stability, prosperity”. Hy word allerweë getipeer as ’n volwasse en ervare politikus, inklusief van geaardheid, ingestel om die nasie te dien. Geingob het onmiddellik ná sy verkiesing gesê, hoewel hy die regerende Swapo-party se kandidaat was, wil hy ’n president wees vir alle Namibiërs.

Op die gewilde nuwe president wag groot uitdagings. Daar is steeds ’n groot behuisingstekort, baie werkloses, asook te min skole, klinieke en hospitale in die uitgestrekte land met sy 2.1 miljoen inwoners. Basiese dienste is onbekostigbaar vir die armes. Namibië het ’n positiewe ekonomiese groei (+-5% word in 2015 verwag), die stad Windhoek bars uit sy nate, Walvisbaai se hawe word vergroot, die Noorde (waar die meeste Ovambo’s woon) beleef groot groei in ekonomiese aktiwiteite en dorpsgroei, maar die spoorweë het in duie gestort en die paaie kreun onder swaar vragmotors.

GODSDIENS

Die bevolking van Namibië is oorwegend Christelik. Die sensus stel dat ongeveer 90% van die bevolking aan Christelike kerke behoort. Die protestantse kerke staan die sterkste, waarvan die Lutherse kerk die meeste lidmate het. Onder die Afrikaners is die gereformeerde kerke die sterkste, waarvan die Nederduitse Gereformeerde Kerk die meeste lidmate het. Die breë Christelike basis van die bevolking skep ’n onderlinge vertroue en samehorigheid oor taal- en kultuurgrense heen, wat myns insiens baie bydra tot die vreedsaamheid in die land.

DIE TOEKOMS VAN AFRIKAANS EN AFRIKANERS IN NAMIBIË

Kyk en luister ’n mens oppervlakkig, wil jy positief wees oor Afrikaans in Namibië. Baie mense praat nog die taal, selfs as kommunikasietaal tussen Afrikataalgebruikers. Die Damara bevolkingsgroep en die nuwe president Geingob is bekend as mense wat naas hulle moedertaal Damara/Nama ’n baie suiwer Afrikaans praat. Daar word nie teen Afrikaans gediskrimineer deur wetgewing of openbare teenstand nie. Afrikaans word as vak in die regeringskole aangebied. By die universiteit van Namibië is ’n klein Afrikaans departement. In baie besighede en regeringskantore kan jy in Afrikaans bedien word. Afrikaans geld vir ’n groot deel van die land nog as lingua franca, deurdat dit as tweede of derde taal gebruik word.

Tog is daar na skatting slegs ongeveer 40 000 Afrikaners in Namibië. Baie meer, +-10% (120 000) van die bevolking, gebruik Afrikaans as huistaal (2011 sensus). Met onafhanklikheid het Afrikaans twee groot knoue gekry: (1) Dit het sy posisie as amptelike landstaal verloor toe Engels gekies is. (2) Moedertaalonderrig in regeringskole is teruggedwing na graad 1 tot 3, afhangende van die demografie van die voedingsarea van die skool. Vanaf graad 4 is Engels die onderrigtaal in alle regeringskole. Daardeur is talle Afrikaanssprekendes dwarsdeur die land die voorreg ontneem om in hulle moedertaal (huistaal) matriek in ’n regeringskool te voltooi. Dit taalbeleid benadeel terselfdertyd natuurlik al die inheemse tale van die land.

Weens die beleid van een staat met 13 streeksowerhede, wat nie etnies verdeel is nie, is daar vir die Afrikaners in Namibië geen “tuisland” nie. Hulle is verspreid oor al die streke van noord na suid, en van oos na wes. Baie Afrikaners is grondbesitters en ’n groot persentasie is afstammelinge van voorouers wat reeds 90 na 100 jaar gelede in die land kom vestig het. Die Afrikaners beskou hulleself as volwaardige burgers van die republiek van Namibië en wil hier ’n bydrae lewer tot opbou van die land.

KULTUUR EN ONDERWYS

Die grondwet van die republiek van Namibië maak voorsiening vir die behoud en bevordering van jou taal en kultuur. Sien die uittreksels uit die Konstitusie van die Republiek van Namibië, artikel 19 en 20.

19

Dit gee ook ruimte vir die vestiging van privaatskole, sonder diskriminasie op grond van ras, godsdiens en geslag (Artikel 20 (4) Namibiese Grondwet). ’n Ouergemeenskap het egter wetlik die reg om die etos van hulle privaatskool te bepaal.

1

As gevolg van die taalbeleid vir regeringskole het die Afrikaanse ouergemeenskap privaatskole gestig. Drie pilare is as grondslag geneem: die Christelike etos, Afrikaans as onderrigtaal en strewe na hoë kwaliteit. Met geen ervaring van privaatskole uit die Afrikaanse gemeenskap se geskiedenis nie, is vir die eerste jare soos in droë grond geploeg. Die skoolgemeenskap het egter sedert die 1990’s ’n dinamiese krag in vele dorpe asook die hoofstad geword. ‘n Oorkoepelende organisasie, Navco (Namibiese Vereniging vir Christelike Onderwys), het mettertyd tot stand gekom. Daar is vandag ongeveer 5300 leerders in 18 skole, wat by Navco geaffilieer is. Daarvan is 7 Christelike Afrikaanse privaatskole, wat graad 1 tot matriek aanbied, terwyl die ander skole verskillende keuses oor Afrikaans, Engels en Duits as onderrigmedium gemaak het. In sommige privaatskole, ten spyte van die keuse van Engels as onderrigtaal, word die Afrikaanse taal en kultuur wel ondersteun en uitgebou. Die meerderheid Afrikaanse leerders is egter weens die hoë koste aan privaatskole in “Engelse” regeringskole.

Die verloop van die onafhanklikheidspad, waarop Afrikaans sy bevoorregte posisie verloor het, het egter ’n nuwe bewuswording van taal en kultuur by talle Afrikaners en Afrikaanse taalgebruikers na vore laat kom. Daarom groei die Voortrekker jeugbeweging, daar is ’n aktiewe ATKV gemeenskap, vyf-jaarlikse Dorslandtrekkers gedenkfeeste word gevier, Geloftedag word nog wyd in stand gehou.

NETWERK VIR AFRIKANERBELANGE

’n Nuwe vereniging “Netwerk vir Afrikanerbelange” het ontstaan, vanweë die behoefte om na die kultuurbates van die Afrikaner in Namibië om te sien. Daar is in 2013 ’n Kulturele Vennootskap tussen die FAK en Netwerk gesluit. Netwerk sien dit as sy funksie om die verskillende instansies, verenigings en indiwidue wat hulle vir die Afrikaner en die Afrikaanse saak beywer, te laat kommunikeer en koördineer. In samewerking met Selfhelp Trust is ’n pragtige gebou in Windhoek opgerig, waarin ’n museum, argief en vergaderplek vir die bevordering van die Afrikaanse kultuur gevestig is. Daar is twee privaat Afrikaanse radiostasies, asook ’n 24 uur Afrikaanse uitsending op die nasionale radiodiens NBC (Namibia Broadcasting Corporation). Die Republikein is die sterkste koerant wat in Afrikaans nuus dra. Afrikaanse boeke, tydskrifte en musiek verkoop goed onder die bevolking. Jong Afrikaanse entrepreneurs het hulle in die besigheidswêreld gevestig. Ook in die landbou en toerisme lewer Afrikaners ’n groot bydrae.

IS DAAR HOOP VIR AFRIKAANS EN DIE AFRIKANER IN DIE REPUBLIEK VAN NAMIBIË?

Die skrywer glo van harte so. Met geloof, toewyding, ’n positiewe gesindheid en harde werk wil hierdie besondere deel van ’n groter diverse kultuurgemeenskap hulle eie saak dien. Daar is egter ook ’n dryfkrag om ter wille van die land en al sy mense ’n positiewe opbouende nasionale bydrae te lewer. ’n Positiewe realisme heers by baie Afrikaners.

Daar is egter altyd nuwe uitdagings. Behalwe dat daar fyn beplan moet word om ekonomies te oorleef, fondse beskikbaar te hê vir eie sake en landsake, is daar ’n groot leemte aan Afrikanerleierskap op die partypolitieke en staatkundig-politieke terrein. Ook die burgerregte word nie op ’n goedgeorganiseerde wyse opgeëis nie. Daarvoor kan verskillende redes aangevoer word: apatie dalk die grootste, maar dalk gaan dit ook “goed genoeg” in die land, sodat georganiseerde aksies nie noodsaaklik geag word nie.

Die Afrikaners in Namibië staan nie alleen nie, maar kommunikeer, dink en bid saam met ander kultuurgenote oor die landsgrense heen.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.