Afrikaans my hartstaal – Willa Boezak

Foto: Netwerk24 – Dr. Willa Boezak

Met effense weemoed kyk ek na Het ‘Onze Vader’ in Hottentots. Dit is in 1717 deur ene G.W. Leibniz opgeteken en verlede jaar weergegee in die Amsterdamse Ryksmuseum se publikasie getiteld Good Hope – South Africa and the Netherlands from 1600, wat ’n soort korreksie is op die ou koloniale vertellinge. Die Kaapse Khoitaal was maar een van vele wat Suider-Afrika se eerste inheemse mense gepraat het, maar wat nie die koloniale aanslag kon oorleef nie. Seker die vroegste Khoi-Hollandse woordelys is reeds in Johan Antonisz van Riebeeck se tyd deur George Wreede – heel waarskynlik met behulp van die tolk, Krotoa-Eva van Meerhof – opgestel, maar het ongelukkig verlore gegaan. Het ‘Onze Vader’ in Hottentots kan nie meer gebid word nie, want die afstammelinge van die Kaapse Khoi-Khoin is lank gelede al onttaal.

Onttaling het weinig met ras te make. In 1685 is ’n vredesverordening rakende die Franse Protestante opgehef en vervolging daar het meegebring dat duisende gesinne as Hugenote uit hul land gevlug het. ’n Kompanjie-kommissaris van die Kaap is daarheen gestuur om toevlug aan te bied, en sowat 180 gesinne het dit tussen 1688-90 met dankbaarheid aanvaar. Hul nuwe plase het knus tussen die Hollanders s’n genestel met Franschhoek reg in die middel. Maar dié gasvryheid het met ’n prys gekom. Ja, hulle kon na hartelus Bordeaux wyne maak, maar die Hollands Oos-Indiese Kompanjie wou die Kaap op alle gebiede beheer. Vanaf 1701 het die VOC ’n streng taalbeleid begin toepas: In skole en die staatskerk is slegs Hollands toegelaat; Frans is verbied in openbare vergaderings en alle amptelike korrespondensie moes in die taal van die maghebbers wees. Die gevolg? Teen die middel 1700’s het die Hugenote hul huistaal begin vergeet en hul kennis daarvan het getaan. Onttaling het dus ’n magtige wapen geword. Deur ’n afhanklikheidsverhouding te skep, kon en kan maghebbers die onttaaldes koöpteer in hul eie kulturele agteruitgang – selfs ondergang.

Die Griekwa is die enigste Khoigemeenskap wat dwarsdeur die twee koloniale en apartheidseras op ’n georganiseerde en deurlopende wyse hul identiteit, kultuur en leierskapstrukture tot vandag behou het. Tog het Xiri (of Gri), die oertaal van die #Karixurikwa – wat later bekend sou staan as Griekwas – lankal uitgesterf. Erêns langs húl pad het onttaling ook plaasgevind.

Prof. GS Nienaber noem in sy boek Khoekhoense Stamname dat sekere clans vermeng geraak het met Europeërs en die Westerse leefstyl verkies het. Natuurlik moet ’n mens die heersende magsverhoudinge van daardie tyd en milieu begryp. Verwestering het beter weigronde, werksgeleenthede en status meegebring. Met perd en Bybel het stamme soos die Griekwa al meer ’n vroeë vorm van Afrikaans, naamlik Hottentots-Hollands, in eie geledere gedryf. Die strenge onttalingstrategie van die VOC was nie dus alleen vir die verdwyning van ons oorspronklike tale verantwoordelik nie, maar van ons voorouers het self meegehelp om Afrikaans te vestig. Ten koste van die eie. Nienaber skryf: “In hul omgang met die Hollanders het die Khoekhoen ’n geleentheidstaal geskep met hoofsaaklik Hollandse inslag. Teen 1800 was Hottentot-Hollands nog nie gestandardiseer nie, maar die handhawers van dié taal was gedenasionaliseerde Khoekhoen, die bruinmense van die Westelike Provinsie, Oorlamme en Basters, laasgenoemde met êrens langs die bloedlyn en in een of ander graad met Blankebloed in die are. Hulle en ander Afrikaanssprekende Khoekhoen het ook tot die vorming van die taal bygedra, sy aard, en karakter en seggenskrag.”

Hele Boesmantaalfamilies soos Ju en !Ui-Taa is daarmee heen. Die taal van die Korana, /Xam en Soakwa – weg. Net twee het oorleef: Nama en !Nu van die Kalahari Boesmans. Oumense vertel nou nog hoe hul voorouers van Nama ’n “skindertaal” gemaak het deur dit net te praat wanneer hulle alleen was. Hulle wou hul kinders beskerm teen swaar strawwe by die skool en kerk. Onttaling van die oorspronklike bewoners van ’n land wat hulle wou koloniseer, was dus een van die magtigste strategieë om die diskoers te beheer en die gekoloniseerdes te manipuleer. Die opteken van geskiedenis was ook in die koloniseerders se taal wat natuurlik hul dade daarin vergoelik het met die gepaardgaande demonisering van ‘die ander’ – wat later voorgeskrewe materiaal vir skole geword het. Oor Suid-Afrika se inheemse mense is gereeld beskrywings gegee soos “hul taal is soos die gekloek van kalkoene”, “praat soos ape”, “onbeskaafde, heidense barbare” en “mensvreters”. ’n Minderheid het wel positiewe opmerkings gemaak. So byvoorbeeld Peter Kolbe wat na agt jaar van waarneming in 1719 tot die slotsom gekom het: “Dis duidelik dat hierdie mense opreg in God glo, en leef volgens daardie geloof.” Let wel, hy praat van hul inheemse oergeloof. Geen wonder dat die helfte van die Ryksmuseum se skrywers Suid-Afrikaners is wat met die herbesinning moes help nie. Die punt is dat derduisende bruin mense, wat waarskynlik afstammelinge is van die Khoi-San, vandag steeds sukkel om hulle met so ’n negatiewe herkoms of uitbeelding te vereenselwig. Ja, die mag van taal.

Hoewel Nienaber se bevindinge in die 60ger tot 80ger jare ’n mylpaal was in terme van die besondere bydrae wat die Khoi-San gelewer het ten opsigte van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis, was dit hoofsaaklik net in akademiese kringe bekend. As ons prof. Christo van Rensburg se artikel hieroor in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 56 No. 2: Junie 2016) lees, dan is dit ongetwyfeld vir die binnekring van taalkundiges bedoel. In die artikel verduidelik hy in detail hoe Khoi-Afrikaans in vroeë, spontane handelsgesprekke vanaf 1595 ontstaan het – kortom, die epogmakende rol wat die Kaapse Khoi-Khoin in die wording van Afrikaans gespeel het.  Hy wil “onderstreep dat die klem inderwaarheid daarop gelê moet word dat Khoi-Afrikaans die éérste Afrikaans was.”

Die bedoeling van die Afrikaanse Taalraad om hom te vra om sy taalwetenskaplike bevindinge te populariseer met So kry ons Afrikaans (2012), was om die eensydige, skewe beeld oor Afrikaans as witmanstaal vir die breë publiek reg te stel. Daarin lees ons ook van oud-Hessekwa te Genadendal wat in die middel 1800’s al Afrikaanse nuusbriewe en maandblaaie uitgegee het – nogal met hul eie drukpers. Daarom het ek aan Hanlie Retief (Rapport, 20 Augustus 2017) gesê dat daardie boek my “regtig bevry” het en “Dit het my hele lewe verander.” Ek is in 1948 gebore, grootgeword in ’n Afrikaanse dorp, aanbid in ’n Afrikaanse kerk en ’n dominee geword van ’n Afrikaanse gemeente … en ’n onuitwisbare liefde vir die taal ontwikkel. Tog het die gevoel van eienaarskap ontbreek. Nie net by my nie – ook by die hele Khoisan-nasie. Daarom probeer ek in my Naelstringlesings dit aan my mense oordra: julle is die kreatiewe beginners van die taal.

Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) gaan die helfte van die wêreld se sowat 6000 tale teen die einde van hierdie eeu iets van die verlede wees. Slagoffertale. Dit beteken: “… humanity would lose not only a cultural wealth but also important ancestral knowledge embedded, in particular, in indigenous languages.”

Gaan ons sowaar toelaat dat dit ons lot word? Nee, ons as Afrikaanssprekendes sal nie toelaat dat ons onttaal word nie, want ons is almal gesamentlik mede-eienaars van ’n trotse gemeengoed: dis immers ónse geloofstaal, brugtaal, moedertaal, skeltaal, versettaal, deeltaal. Maar bowenal: hartstaal.


Willa Boezak,

Khoi-San navorser en skrywer.


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.