Afrikaneridentiteit, Orania en die politieke werklikhede van Suid-Afrika

Op die oog af mag dit lyk asof ‘n bespreking van Afrikaneridentiteit, Orania en die politieke werklikhede van Suid-Afrika oor drie gegewe groothede handel; oor Afrikaners, Orania en Suid-Afrika. Hoewel ek juis van dié standpunt wil uitgaan, kan ek dit net doen as ek eers aantoon dat dit in werklikheid glad geen vanselfsprekende standpunt is nie.

Aan die een kant is dit moontlik om aldrie hierdie verskynsels aan byvoorbeeld ‘n buitelandse toeris te wys of om ‘n foto daarvan te neem, maar aan die ander kant weet ons goed genoeg dat daar diegene is wat aan elkeen van die drie ongewensde verskynsels ‘n soort voorlopige en fiktiewe bestaan wil toeken. Die verwagting is dat, óf die Afrikaner, óf Orania, óf Suid-Afrika hoogstens ‘n vorlopige verskynsel is wat reeds deur die geskiedenis agterhaal is en bloot danksy die inherente traagheid van dinge hoegenaamd nog met ons is, dat dit eintlik al verdwyn het en ons dit nog net moet besef.

Terwyl ‘n hele geslag Afrikaners die A-woord liefs gladnie meer gebruik nie, veral nie in die enkelvoud nie, en daarvoor deur ‘n hele klomp ou Boere-haters aangeprys word, word Orania deur haar kritici, Afrikaners en andere, as ongelukkige herinnering aan, selfs as aanstootlike voorbeeld van uitgediende apartheidsdenke uitgebeeld – as iets wat nie net sal kwyn nie, maar moet verdwyn. Daarteenoor staan weer mense wat die “nuwe” Suid-Afrika van 1994 nie net wil verander nie, maar dit glad nie wil erken nie en eweneens veronderstel dat dit soos ‘n slegte droom sal weggaan as ons dit lank genoeg ignoreer.

U sien, dít is die agtergrond waarteen ek van die onvanselfsprekende standpunt wil uitgaan dat ons met drie onmiskenbare gegewe groothede te doen het as ons oor Afrikaners, Orania en Suid-Afrika praat en dat die belangrike vraag is in watter verhouding hulle tot mekaar te staan kom. Met die oog daarop wil ek ‘n toepaslike perspektief op elkeen ontwikkel en dan ‘n blik op die toekoms werp om aan te toon dat identiteitspolitiek ons nie agteruit of ondertoe hoef te trek nie, maar vir Afrikaners, Orania én Suid-Afrika ‘n vrugbare bron van nuwe moontlikhede kan ontsluit.

Die Afrikaner

Mense wat hulleself as “Afrikaners” beskryf, word tereg vandag met ‘n ernstige krisis-bewussyn gekonfronteer. Aan die wortel nie net van hierdie beraad nie, maar van Orania se bestaan hoegenaamd, van die FAK se meta-politieke projek, van die Vryheidsfront Plus se openbare standpunte, van Afriforum se veldtogte, van beide die ywer en die moedeloosheid waarmee jonger én ouer Afrikaners die toekoms tegemoetgaan, lê die ondermynendste stuk selftwyfel wat die Afrikanergemeenskap, in soverre so-iets nog bestaan, voortdurend teister.

Hiervoor is nie net die mate waartoe enige beroep op Afrikanerskap tot ‘n hoogtepunt van politieke onkorrektheid gemaak is, te blameer nie. Hoewel sulke miskenning in die oë van ander ‘n verrykende uitwerking het, is die Afrikaner soos ons hom geken het van sy eie bestaansvoorwaardes afgesny. Staatsmag het nie in die eerste plek die vermoë om jou groep se belange bo ander s’n te verhef, behels nie, maar eerder die vermoë om aan jou hoogste geestelike waardes openbare beslag te gee.

Die feit dat Afrikaners nie ‘n pad uit Suid-Afrika se veelvolkigheid kon vind of wou volg nie en dat daar uiteindelik eerlose dinge gedoen is om aan die mag te bly, beteken nog lank nie dat die vryheid om jou samelewing volgens jou hoogste waardes in te rig, oorbodig geword het nie. Die feit dat Afrikaners hulle onherroeplik moes versoen met die minderheidstatus wat hulle in “hulle eie land” beklee het, beteken nie dat hulle sonder die instellings en kulturele leefruimte wat die staat hulle gebied het, kan bestaan nie.

Die gevolg is dat Afrikaners oor ‘n baie breë front in twee geskeur is: aan die een kant kon hulle nie aan ‘n ooglopend onvolhoubare bedeling bly vasklou nie, maar aan die ander kant bied die bedeling waarin hulle nou verkeer self geen hoop op volhoubare volksbestaan nie. Boonop is dit nie net die formele inrigting van die staat en die kultuurvreemde praktyke wat daarmee gepaardgaan wat Afrikaners vervreem nie, dit is ‘n kombinasie van ongunstige demografie, ‘n oorweldigende konsentrasie van mag in die hande van die ANC, blaam vir die verlede en vir alles wat verkeerd is en transformasiedwang.

Vir enigeen wat ‘n herinnering daaraan het, goed of sleg, moet dit sonder meer duidelik wees dat die Afrikaner soos ons hom in die “ou Suid-Afrika” geken het, nie onder die huidige omstandighede kan bestaan nie. Ek wil sover gaan as om te sê dat enige nugter gesprek hieroor in die teken van verlies en ondergang sal staan, dat Afrikaners met hulle verbintenis tot diensplig, tot die staatsdiens, tot die regerende party en die opposisie, tot verskillende strategieë van magsbehoud soos met ‘n naelstring aan die vorige Suid-Afrika verbind was en dat die Afrikanergemeenskap nie in staat was om die knip van hierdie naelstring te oorleef nie.

Sover dit myself aangaan, het die hoop en geloof wat ek nou koester slegs gekom ná die skok en berusting soos by die dood van ‘n geliefde. Vir my het die besef van ons kultuur-politieke gemeenskap se ontbinding gekom met die 1999-verkiesingsuitslae toe Afrikaners hulle politieke keuses nie meer as Afrikaners nie, maar as individuele Suid-Afrikaners probeer maak het. (By dié geleentheid het die Vryheidsfront driekwart van sy steun verloor en die NP netsoveel of meer van sy oorblywende Afrikanersteun terwyl die groot meerderheid Afrikaners wat gaan stem het, hulle agter Tony Leon se DP geskaar het.)

My skok en wanhoop is mettertyd met die volgende besef besweer: dat die Afrikaner wat in ons arms gesterf het, ten spyte daarvan dat ons sy lewe met ingrypende medikasie soos “die volkstaat” probeer red het, nie die eerste of enigste weergawe van die verskynsel “Afrikaner” was nie – en daarom ook nie noodwendig die laaste sou wees nie.

Nie dat dit so maklik is om te besef as wat dit mag lyk nie, veral nie as mens jou gemeenskapsbewussyn aan nasionalistiese denkbeelde te danke het en aan ‘n geskiedenisbeeld waarvolgens daar deur alles ‘n goue draad loop, afgestem op die goeie einde wat ‘n selftevrede outeur namens ‘n gevestigde magsorde aanbied nie. Eers wanneer die einde anderkant die einde aan die beurt kom, skud die geskiedenis self jou uit die illusie van ‘n goue draad en ‘n goeie einde – die les wat selftevrede liberale demokrate nog moet leer. Die bevryding wat dit inhou, is natuurlik dat as die einde nie so goed blyk te wees nie, nie die hele geskiedenis gevolglik daarmee heen is nie, maar slegs die poging om een enkele betekenis aan alles te gee. Talle nuwe perspektiewe op die verlede gaan danksy dié kopskuif vir ‘n mens oop.

Om voor die handliggende redes het ek die volgende gedagte aantreklik gevind: dat die negentiende eeuse Afrikaner eintlik iets heel anders as die twintigste eeuse Afrikaner was en dat mens die vroeë Afrikanergeskiedenis beter verstaan as jy dit nie net as aanloop tot die latere geskiedenis benader nie. Die breuk tussen tydperke wat toevallig met die eeuwending en minder toevallig met die Anglo Boere-oorlog saamhang, kan ook aan die hand van modernisering verstaan word. Die Afrikaners van 1914, 1939, 1948, 1961 en 1994 kan as moderniserende en moderne Afrikaners beskryf word en verskil in wesenlike opsigte van hulle voorgangers, wat gevolglik as pre-moderne of “tradisionele” Afrikaners beskryf kan word.

Hierdie onderskeid kan aan die hand van industriële produksie en verbruik, van geletterdheids- en geskooldheidspatrone, van staatkundige en politieke instellings en praktyke, van demografiese veranderinge soos verstedeliking en nog ander sake uiteengesit word. Vir die doel van hierdie argument sal dit ons van die spoor aflok en laat ek dit daar; wat van belang is, is die onderskeid tussen die “eerste Afrikaner” en die “tweede Afrikaner” – omdat dit die moontlikheid van ‘n “derde Afrikaner” open. Dit beteken dat die moontlikheid voor ons ooplê om nie net en ten alle koste ons voortbestaan in die voortgang van ons mees onlangse geskiedenis te soek nie, maar ook in die breuke en verskille tussen ons en die Afrikaners wat ons was.

Soveel as wat die tweede Afrikaner op die eerste gevolg het, maar nie deur sy ondergang gevange gehou kon word nie, soveel volg die derde Afrikaner op die tweede en hoef hy nie deur sý ondergang gevange gehou te word nie. Inteendeel, waar die tweede Afrikaner net sy agterhaalde voorganger se voorbeeld en sy eie skeppende verbeelding gehad het om aan sy nuwe gestalte beslag te gee, het die derde Afrikaner naas twee (nouwel agterhaalde) voorbeelde ook nog ‘n suksesvolle oorgang om voor oë te hou. Dit bied nog geen waarborg vir sukses nie, maar dit kan ‘n goeie grondslag vir hoop en geloof uitmaak, dit kan die wanhoop besweer.

Orania

Op hierdie punt en met al die oop moontlikhede waaraan gestalte gegee moet word, wil ek my dan tot Orania wend, die tweede gegewe grootheid wat nie weggewens kan word nie. Kom ons begin deur die verskuiwing van perspektief wat ten opsigte van die Afrikaners se geskiedenis gemaak is, op Orania toe te pas.

Om dit negatief te stel: Orania het nie geword wat ons gehoop het sy sou word toe ons byvoorbeeld in April 1994 in hierdieselfde saal vergader en strategie bespreek het nie. Orania het nie die Afrikaner van die tyd wat op die punt gestaan het om sy staatsmag te verloor (van vryheid het hy nie meer ‘n duidelike beeld gehad nie) se verbeelding aangegryp en hulle in tienduisende of selfs in duisende by die opbou van ‘n nuwe staat betrokke laat raak nie. Om die waarheid te sê, as Orania se sukses gemeet moet word, en baie doen juis dit, aan die mate waartoe sy daarin geslaag het om die tweede Afrikaner van ondergang te red, dan moet ons aanvaar dat sy die onderspit gedelf het.

Aan die ander kant, selfs al was dit by die loodsing van die huidige Orania haar oprigters se doel om, grootliks onbedag, die tweede Afrikaner te red, sou dit nie moontlik wees om aan die hand van ‘n ander vertolking van ons geskiedenis en omstandighede ‘n ander doel en aanslag toe te eien nie? Ek is van mening dat ons dit reeds, weer eens grootliks onbedag, gedoen het, aanvanklik nie soseer aan die hand van ander politieke denkbeelde nie, maar aan die hand van ‘n meer grondliggende verskuiwing wat mettertyd ook in die politiek voelbaar geword het.

As ons aanvoer dat die oorgang van die eerste na die tweede Afrikaner ten nouste met die oorgang van ‘n tradisionele na ‘n moderne samelewing verbandhou, en as ons daarbyvoeg dat dit ‘n suksesvolle oorgang was en dat Afrikaners tereg as ‘n gemoderniseerde groep mense beskryf kan word, dan is ek van mening dat die oorgang van die tweede na die derde Afrikaner met ‘n soortgelyke beskawingsverskuiwing verbandhou en dat Orania oppad is om ‘n belangrike rol daarin te speel. Maar watter oorgang is hier ter sprake?

Moderniteit is ‘n unieke verskynsel. Soos elke beskawingsvorm is dit vir die mense wat daarin lewe soos die water waarin ‘n vis hom bevind: hy is kwalik bewus daarvan, so omvattend en bepalend is dit vir sy bestaan. In vele opsigte verteenwoordig die moderne ‘n breuk met die tradisies wat dit voorafgegaan het en is die hele gedagte van rewolusie eie daaraan. Nog ‘n voorbeeld – en ‘n verrykende een daarby – is dat, waar alle voorafgaande kulture die menslike neiging tot begeerte probeer hokslaan en beperk het, begeerte deur veral die moderne ekonomie tot deug en dryfveer verhef is. Ten nouste aan minstens hierdie twee eienskappe van die moderniteit, naamlik die belofte van ‘n verbruikershemel, ‘n soort luilekkerland en die groot vergeet van die pad daaruit wytens die rewolusionêre breuke met die verlede, blyk die proses van modernisering ‘n eenrigtingpad te wees. Niemand wat deel daaraan het, wil dit prysgee nie en almal wat nog nie toegang daartoe het nie, wil dit tot elke prys verkry.

Anders as ‘n vis beskik die mens egter oor die vermoë om oor homself, sy geskiedenis en sy lewe te reflekteer, om dinge in oënskou te neem en te heroorweeg. Danksy hierdie vermoë en die onvermydelike feit dat die moderne beskawing die perke van sy eie vooruitgangsgeloof begin bereik, is daar wel mense wat ‘n kritiese bewussyn aankweek en alternatiewe op die hiper-moderne hoogbloei waaraan ons nog uitgelewer is, ondersoek.

Sonder om die onomkeerbare te wil omkeer of in ‘n nostalgie-vlug na die verlede vas te val, is ‘n ander moderniteit as die een wat tans aan die bot is tog denkbaar en moet met nuwe deugde en praktyke as dié wat tans oorheers, uitdrukking daaraan gegee word. En hiermee, is ek van mening, het Orania al begin. Wie die ban van die vooruitgangsgeloof verbreek het en hom- of haarself met die onvolhoubaarheid van onbeperkte groei gekonfronteer het, het ook weer ‘n soort verligting ondergaan en kan kwalik na die duister terugverlang. In Orania is daar mense wat die dominante beelde van moderniteit deurbreek het en wat die gemeenskap ten opsigte van deurslaggewende sake op ‘n ander pad geplaas het. Ek noem ‘n paar.

Die eerste en voor die handliggende insig is ekologies. Dit is duidelik dat moderne menslike aktiwiteite té swaar op die omgewing rus, dat te veel onvervangbare energiebronne uitgeput word en te veel onafbreekbare en ander afval daaruit voortgebring word. Noudat die uitwerking op ons makro-klimaat byvoorbeeld sigbaar word, tree die belang van heel andersoortige bestaanswyses onbetwisbaar na vore.

Een sleutelwoord wat hierby ter sprake kom en wat regstreeks op Orania betrekking het, is skaal. Die moderne wêreld word deur ‘n ongekende skaal van stedelike nedersettings, van produksie en verbruik van goedere, van olie-gedrewe beweging en verhitting, van tegnologiese hulpmiddele gekenmerk. Orania ontgin en ontwikkel die moontlikhede wat in kleinskaligheid opgesluit lê.

Nog ‘n sleutelwoord is selfstandigheid. Die moderne wêreld is op ‘n komplekse afhanklikheidsnetwerk gebou, ‘n netwerk wat met die onlangse golf van globalisering verder as ooit tevore uitgebrei het en die vlakke van afhanklikheid en vervreemding, veral in die ontwikkelende wêreld, tot nuwe hoogtes gevoer het. Enigiets vanaf waardelose speelgoed tot voedsel en kleding word daagsliks letterlik om die wêreld vervoer om nuwe markte en ou arbeidspraktyke byeen te bring. Dit lei nie net tot kunsmatige tekorte nie (byvoorbeeld aan melk in Suid-Afrika tans), maar ook tot ‘n verlies aan mense se vaardighede en vermoëns om noodsaaklike lewensmiddele vir hulleself te voorsien. Orania daarenteen lê hom daarop toe om hoër vlakke van selfvoorsiening na te jaag en stel dit as maatstaf dat ten minste die helfte van wat by elke ete bedien word, plaaslike produkte moet wees.

Selfwerksaamheid het kennelik ook met selfstandigheid te make, maar plaas ‘n noodsaaklike aspek daarvan in die kollig. Arbeidsverdeling en spesialisering is ‘n inherente deel van menslike gemeenskapslewe. Dit kan die optimale benutting van mense se verskillende talente en vermoëns ontsluit, maar dit kan ook oordryf word en tot uitbuiting en kolonisering lei. In die pendulum-beweging van magsverskuiwings bly arbeiders egter ook nooit magteloos nie, veral nie as hulle hulself met die oog op kollektiewe optrede organiseer nie. Afrikaners kan by uitstek getuig van, aan die een kant, die gerief en voordele wat groot getalle goedkoop arbeiders inhou, maar aan die ander kant ook van die onomkeerbare gevolge as daardieselfde werkerskorps sy politieke magsposisie besef en benut. In Orania word selfwerksaamheid en plaaslike werksverdeling as voorwaarde vir sukses beskou, nie net omdat arbeid adel nie, maar ook omdat die behoud en uitbreiding van ons eie besluitneming oor ons eie sake daarvan afhanklik is. Talle ontwikkelde, veral Europese gemeenskappe is ook besig om hiervan meer bewus te raak.

Gemeenskap is vir individualistiese, moderne Afrikaners dikwels net ‘n outydse woord vir iets waaroor mens nie voor die kinders praat nie – of hulle voor die grootmense nie. Om die waarheid te sê, dit is moeilik vir iemand van moderne stedelike afkoms om die transformasie wat ek in die bestek van 10 jaar se plaaslike gemeenskapslewe ondergaan het, onder woorde te bring. Dit word nog moeiliker gemaak deur die skouspelagtige groei, kultureel-geestelik en andersins, waardeur die gemeenskap van Orania in dieselfde tyd gegaan het. Laat ek daarom volstaan met die stelling dat ‘n sin vir gemeenskap een van die voorwaardes is om lewensvorme anderkant die hiper-moderne te ontsluit.

Die laaste sleutelwoord waarmee ek Orania wil verbind, is vryheid. Dit is ‘n gelaaide woord wat moderne Afrikaners maar moeilik op die lippe neem, deels omdat dit tog so passé geword het om oor enigiets andes as individuele regte en welvaart te praat, deels omdat dit hulle aan hulle eie, diep gediskrediteerde verlede herinner en deels omdat dit so doeltreffend deur die swart bevolking gebruik is om hulle politieke dominansie in Suid-Afrika te vestig en te regverdig. Uit wat ek gesê het, blyk reeds duidelik dat ek ons eietydse huiwering om dié woord aan die grootklok te hang, nie as die einde van sy gebruik in Afrikaans beskou nie. Te oordeel aan die etniese selfbevestiging van die “De la Rey-generasie”, die populêre weerstand teen regstellende aksie, en die algemene onwilligheid om ons verlede as een groot misdaad teen die mensdom te laat uitbeeld, is ek van mening dat vryheid as doel en strewe na vore sal kom soos die prent op ‘n legkaart wat duideliker word namate meer stukke op hulle plekke kom. Ons is immers nie vir onderhorigheid gebore nie.

Teen hierdie agtergrond behoort dit duidelik te wees wat ek bedoel as ek sê dat Orania as gegewe grootheid nie gemeet kan word aan die mate waartoe sy die tweede Afrikaner van ondergang gered het nie, maar aan die mate waartoe sy besig is om ‘n simboliese orde te help skep aan die hand waarvan die derde Afrikaner die geskiedenis kan betree. In dié opsig is ek van oordeel dat Orania daarin kan slaag om veel meer as net ‘n uitsonderlike dorpie en ‘n suksesvolle gemeenskap te wees. Maar of sy slaag sal afhang van die verhouding wat sy nie net met Afrikaners nie, maar ook met die derde gegewe grootheid van ons tema, naamlik Suid-Afrika, kan aanknoop.

Suid-Afrika

Ten aansien van Suid-Afrika en die epogmakende oorgange van die 1990’s het die Orania Beweging en Afrikanervryheidstigting op geen tydstip enige twyfel gelaat dat hy dit as onomstootlike werklikheid beskou nie, soms ook tot sy nadeel en skade. Hoewel daar diegene is wat Afrikanervryheid, in werklikheid meer dikwels “Boerevryheid”, en Suid-Afrika as eenvoudig onderling uitsluitend beskou, tel Orania nie in hulle geledere nie en is die herstel van Afrikanervryheid deur ons nooit anders as langs evolusionêre weg en met erkenning van die huidige bedelings se grondliggende legitimiteitsaansprake nie. Daarmee is die huidige bedeling natuurlik nie van kritiek vrygestel nie – maar juis ook nie met ‘n ontwykingstrategie uit ons blikveld verwyder nie. Ek gaan dus nie verder tyd daaraan bestee om Suid-Afrika as gegewe grootheid te motiveer nie.

My bydrae tot ons Artikel 235-konferensie twee jaar gelede het onder die opskrif “Orania en Suid-Afrika” gestaan en in ‘n paragraaf opgesom was die strekking daarvan die volgende: ‘n Ander moderniteit as dié wat deur die hoogbloei en skaal van nasionale state en sentralistiese ideologieë gekenmerk is, is denkbaar aan die hand van ‘n ander beeld van soewereiniteit as die een wat na Jean Bodin teruggevoer kan word en die era van die nasionale state onderlê het. Dit was naamlik die gedagte dat soewereiniteit een en ondeelbaar is en in die staat gesetel is. Daarteenoor staan die ietwat vergete, maar vrugbaarder beskouing van Bodin se tydgenoot, Johannes Althusius, wat ‘n soewereiniteit van outonomie op die plaaslikste moontlike vlak, van subsidiariteit of opwenteling van bevoegdhede en van burgerlike deelname aangehang het. Hierdie benadering stel nie net die kruipende selfstandigheid wat ons tans nastreef nie, maar ook die formaat waarin ons in die toekoms Afrikanervryheid as in ere herstel wil sien, in ‘n nuwe lig.

My pleidooi het daarop neergekom dat ons die kombinasie van ons republikeinse tradisie en ‘n federalisitiese staatsbeskouing verder moet voer en nie soseer sentralistiese nasionalisme moet agterlaat nie as aanvaar dat sentralistiese nasionalisme ons agtergelaat het. In hierdie verband en ten slotte wil ek nou twee gedagtes kortliks met u deel.

Die eerste is dat die federasie-gedagte onder baie Afrikaners by verstek ‘n negatiewe ontvangs geniet. Wie federalisme bepleit, se goeie trou is maklik onder verdenking en hy bevind hom dikwels op die verdediging. Na my oordeel is dit nie op konseptuele oorwegings nie, maar op tradisie gegrond en die rede is eenvoudig. Beide Afrikaners se eerste en tweede republikeinse bewegings was kwesbaar as dit by die opgaan in ‘n groter geheel gekom het. In beide gevalle het Afrikaners staatkundige vryheid verwerf en verdedig, in die eerste geval teenoor insluiting van die Boererepublieke in die Britse Ryk en in die tweede geval teenoor die politieke insluiting van die totale Suid-Afrikaanse bevolking in die Afrikaners se “eie” republiek.

In beide gevalle is Afrikaners se selfbeskikking bedreig deur verwatering in die vorm van federering, eers ‘n federasie van Suid-Afrikaanse gebiede onder die Britse kroon en later ‘n rassefederasie in een staatkundige bedeling. In elke geval kan mens bespiegel oor of vroeër federering nie die uiteindelike, totale magsverlies, eers in die vorm van die Anglo Boere-oorlog en later met die “onoorwonne oorgawe” van 1994, sou kon afweer. Hoe ookal, beide die genoemde twee historiese bedreigings vir Afrikaners se staatkundige vryheid en die bespiegeling oor die meriete daarvan om vir minder te geskik het, stel die gedagte van federalisme in ‘n ongunstige lig.

Die feit dat Afrikaners die vraagstuk tans nie vanuit ‘n posisie van mag of staatkundige vryheid benader nie, maar vanuit onderhorigheid, is reeds rede genoeg om ons houding te verander. ‘n Belangriker rede vind ek egter in die oorgang van die laat-moderniteit na ‘n ander moderniteit wat die oorgang van die tweede na die derde Afrikaner moontlik maak en staatkundig op ‘n derde republikeinse beweging moet uitloop. Niks in dié oorgang laat my dink dat sentralistiese nasiestate en ondeelbare soewereiniteit die toon sal aangee nie; alles laat my dink dat waar en in soverre kleiner volke in staat sal wees om staatkundige uitdrukking aan hulle bestaan te gee, dit aan die hand van federalistiese denkbeelde sal wees – denkbeelde waaraan konkrete beslag nog gegee sal moet word.

Maar hoe gaan ons nou verder te werk? Hieroor wil ek die tweede, kriptiese opmerking maak en dalk die saadjie vir ‘n volgende konferensie van hierdie aard plant. Dit is dat die Afrikaners van Orania (of is dit die Orania-Afrikaners?) hulle op daardie een groot punt van konsensus onder Afrikaners van alle soorte moet beroep, naamlik dat ons inheems aan Afrika is. Hoe sleg ons mekaar in Suid-Afrika ken, het opnuut vir my duidelik geword toe ek agterkom hoe verras swart Suid-Afrikaners nog telkens is mens daarop aanspraak maak. As inheemse bevolking moet ons voorts daarna strewe om ingevolge die Noord-Kaapse Wet op Tradisionele Leierskap en Regering erkenning as tradisionele gemeenskap te verwerf. Dit sal aan ons die status van ‘n omlynde bevolking binne ‘n omlynde gebied met erkende owerheidsinstellings en -bevoegdhede besorg.

Tags: , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.