Afrikaners en Suid-Afrika se dringende keuses

deur Johan Schoeman

Afrikaners en Suid-Afrika se dringende keuses


Moontlik mag die geskiedenis eendag wys dat, alles in ag genome, Suid-Afrika waarskynlik nou in dieselfde situasie sit as die strykorkes op ‘n welbekende passasierskip wat nie sy bestemming gehaal het nie. Hierdie onbenydenswaardige situasie is dalk selfs ʼn onderbeklemtoning van die huidige Suid-Afrikaanse opset. Onlangs verwoord ‘n Franse skrywer/digter hierdie posisie waarmee die werklikheid ons konfronteer, as volg:

Die heelal skreeu. In beton sien ‘n mens die geweld waarmee

dit as muur gevorm is. Beton skreeu. Gras kerm onder die tande van die diere.

En die mens? Wat sal ons sê van die mens?

Hierdie werklikheid is nie eenduidig nie – verlede, hede en toekoms smelt dikwels saam om dinge nog meer ingewikkeld te maak. Neem nou maar die situasie van die Afrikaner in besonder. Ons (of sommige van ons) vier byvoorbeeld elke jaar feesdae wat belangrike mylpale in die Afrikaner se geskiedenis herdenk. En die bywoning van byeenkomste is soms goed, hopelik om die regte redes en nie as ‘n verskyningsvorm van die binnedring van die kulturele lewe deur die ‘mark’ en die ‘kommodifisering’ van kultuur en die verbruik daarvan wat toenemend duidelik word nie. Hierdie bywoning (of nie) is ten diepste elke keer ʼn persoonlike keuse. Kom ons vergeet vir die oomblik van diegene wat eintlik nie bewustelik daarvoor of daarteen kies nie, maar bloot net voortleef. Die ingrypende aard en gevolge van keuses word goed geïllustreer deur twee uiteenlopende opmerkings wat onlangs weer in die kuberruim aangemerk is, die een letterkundig en die ander natuurwetenskaplik.

Die eerste opmerking is ‘n aanhaling waarna die Fransman Sylvain Tesson, wat vir etlike maande homself in die Siberiese wildernis gaan afsonder het en ook ‘n hele stel boeke met hom saamgeneem het om die tyd te verwyl, verwys. Sy verslag oor sy verblyf daar is om verskeie redes verpligte leesstof, maar een van die boeke wat hy saamgeneem het is ‘n bundel van Walt Whitman. Whitman het die volgende opmerking tot sy krediet, (eie vertaling):Ek het niks te doen met hierdie stelsel nie. Nie eers genoeg om my teen hulle te verset nie.” Ek sou dink ‘n  ingrypende keuse en iets waarvan die grondslae dalk verder in eie konteks deurdink moet word, veral gesien in die lig van die keuses hieronder. Die tweede opmerking kom van ‘n wetenskaplike wat terloops aandui dat niks ooit werklik eindig nie. Hoe so? Die lig van sonnestelsels eeue oud bereik in sekere gevalle nou eers ons visuele spektrum. In beginsel is dit dus bedinkbaar dat wat ons ook al nou doen of kies, in menslike tydsterme vir altyd deur die heelal sal trek en op ‘n spesifieke punt sigbaar sal wees aan enige waarnemer in die toekoms. ‘n Groter verantwoordelikheid kan ek my skaars voorstel.

Maar terug in Suid-Afrika. Vir mense wat Afrikaans en die Afrikaner in besonder op die een of ander wyse prakties wil dien, is daar myns insiens vyf keuses in Suid-Afrika te maak. Hierdie keuses (of soms kombinasies daarvan) bied hoofsaaklik die volgende moontlikhede:

  • Wegtrek/padgee uit ‘n onaanvaarbare werklikheid. Vele persone het hierdie keuse reeds geneem en hulself fisies uit ‘n onaanvaarbare situasie verwyder, sommige met groot sukses, ander nie.
  • Saamwerk met die owerhede ten einde ‘n soort voortbestaan te verseker – ‘n gewilde keuse voor en na 1994 en wat nou skynbaar al meer op ontnugtering begin uitloop.
  • Apaties staan tot wat ook al gebeur; nog ‘n gewilde keuse vandag. Ten diepste gaan dit vir hierdie persone meestal bloot oor (die mees suksesvolle en dikwels skouspelagtige) persoonlike oorlewing. Die Griekse denker Perikles het egter op ‘n stadium gesê dat jy nie moet dink dat as jy nie in die politiek belangstel nie, dit nie beteken dat die politiek nie in jou gaan belangstel nie.
  • Militante verset teen die status quo. Hierdie keuse het skynbaar grootliks uit die debat verdwyn. Dit beteken egter hoegenaamd nie net iets wat met wapens en vuisgevegte te doen het nie, maar dit is ‘n ander debat.
  • Die realisering van ʼn alternatief/alternatiewe op die status quo, ook op kulturele vlak. Dikwels gaan hierdie doen-dinge gepaard met die een of ander vorm van aktivisme, en moet mens sekerlik iemand soos die denker Slavoj Žižek se raad aan die ‘Occupy Wall Street’-betogers in 2011 onthou. Hy waarsku teen die feit dat jy op net blote aktivisme verlief kan raak: “Karnavalle is goedkoop. Die ware toets is wat oorbly daarna; die manier waarin dit slaag om die daaglikse lewe te verander. Julle moet verlief raak op harde en geduldige werk – julle is die begin, nie die einde nie.”

Die realiteit is dat nie almal tot dieselfde oortuiging en keuses sal kom nie. Ek wil uit my opmerkings oor die Suid-Afrikaanse werklikheid en die viering van betekenisvolle dae uit ons Afrikanergeskiedenis die volgende stel: ook elkeen van die organisasies wat die Afrikaner en Afrikaanse gemeenskap se belange op die hart dra, maak die een of ander keuse uit hierdie vyf en sit hierdie keuses dan om in aksie. Keuses en oordele het gevolge en met hierdie gevolge moet ons saamleef. Maar dit toon ook ons verantwoordelikheid in dié verband. Ons keuses, op watter terrein ook al, vorm deel van die geskiedenis. Die toekoms sal ons hieroor beoordeel, ook oor die mate waartoe ons, eie belang ten spyt, onderling saamgewerk het vir die dinge wat vir ons belangrik is om sodoende te probeer ontsnap aan die tipe politieke Stockholm-sindroom wat vir sommige Afrikaners ‘n politieke en sosiale leefwyse geword het. Laasgenoemde is des te meer verbysterend as in ag geneem word dat die nou reeds bekende en oneindige ‘struggle’ ten diepste ‘n poging verteenwoordig om juis in iets meer aanvaarbaar in te breek eerder as noodwendig uit iets onaanvaarbaar uit. Maar ook dit is ‘n ander debat. Omdat internasionale navorsing toon dat nostalgie plek-plek ‘n terugkeer maak as ‘n reaksie op, onder andere, ‘n mensvreemde en tegnologies-gedrewe bestaan, sal dit onvergeeflik wees, veral van ons wat in formele organisasies erns maak met ons geskiedenis, kultuur en toekoms, as dieselfde van ons gesê kan word as van die inwoners van Michel Houellebecq se Ville – Lumière:

Sommige van ons begeertes het hierdie stad gebou

Ons het teen vyandelike magte baklei

En toe het ons uitgeteerde arms die stuur laat vaar

Só gesien – tereg die opmerking dat dit eers is as Raka die vrees en huiwering in die stemme van die sterk leiers van die stam hoor dat hy tot aksie oorgaan, nie voor die tyd nie. Jos de Mul noem in sy onlangse studie oor die tragedie dat noodlot in die ou Griekse tragedies uitgelok word deur drie menslike ondeugde – oormoed, verblinding en misrekening. Die les is ewe duidelik vir vandag. Ons durf nooit onkant gevang word deur en spyt wees oor onsoepel denke, ondeug en ʼn gebrek aan skeppende oplossings nie. As Afrikaners en Afrikaanse belanghebbendes het ons nie die luukse van die twee boemelaars wat vir (ons) Godot sit en wag nie, nog minder om ons slegs op die regspraak, wat al meer gekoöpteer raak, te beroep. Daarvoor is daar te veel op die spel, veral omdat ons alreeds voorheen met ‘n slenter of twee gevang is en ons mettertyd deeglik hiervan bewus begin raak het. Naïwiteit, daardie toenemend ontnugterende spel van die gewilde ‘liewelinge met fluweelstemme’, soos al na hulle verwys is en wat feitlik daagliks in aksie gesien word, is onvergeeflik. Dringende aandag aan ons keuses en aksies is daarom tydsensitief as ons die (dalk voortydige) kritiek van ‘n groepering wat nie kon wag om sy plek in die geskiedenis te ontruim nie, wil vryspring. Dit beteken ‘n keuse wat ons dalk aan gewildheid gaan kos. Maar dit is nie regtig meer vir die ingeligtes ‘n probleem nie. Ons het werk wat wag.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.