Afrikaners tussen die tye

deur Prof. Pieter Duvenage 

Afrikaners tussen die tye


In hierdie bydrae besin ek oor die posisie van Afrikaners as gemeenskap in die tydsgewrig van die hede tussen verlede (tradisie) en toekoms. Voordat daar na die politieke en staatkundige posisie van Afrikaners in die huidige Suid-Afrika gekyk word, gaan ʼn definisie voorgestel word. Helderheid hieroor is nodig omdat ʼn vraag soos die volgende dikwels gehoor word: Moet Afrikaners hulleself nie eerder ophef en opgaan in ’n begrip soos Afrikaanses of Suid-Afrikaners nie? Teen die agtergrond kan daar tussen drie moontlike definisies van Afrikaners gedifferensieer word.

In die eerste plek is daar ’n groep mense wat hulleself nog in ou en geykte terme as Afrikaners wil definieer. Die tradisionele en eksklusiewe definisie van ’n Afrikaner is aan ons almal bekend. Hiervolgens is Afrikaners ’n volk of gemeenskap wat in redelik statiese terme gedefinieer word. Gewoonlik is die kwessie van ras hier hoog op die agenda. Tweedens is daar die groep Afrikaners wat meen dat hulle gewoon by wyse van ’n rasionele besluit (en soms openbare aankondiging) as Afrikaner kan bedank en dan iets anders word – byvoorbeeld ’n Afrikaanse, Suid-Afrikaner, neo-liberale verbruiker of kosmopoliet. Hierdie groep is welbekend en bestaan dikwels uit prominente openbare figure wat probleme met ’n statiese definisie van dié Afrikaner het. In die derde plek is daar egter Afrikaners wat nie hulleself wil weg-definieer as Afrikaners nie, maar wat ook nie met ’n statiese opvatting van Afrikaners tevrede is nie. So ’n definisie is nie geslote nie, maar dit is ook nie alles vir almal nie. Een manier om hierdie posisie te nuanseer is om te sê dat hier van ’n lewende tradisie sprake is. ’n Ander manier om hierdie posisie te stel is om te sê dat ’n Afrikaner is iemand wat Afrikaans praat en deur ’n sekere historiese bewussyn en tradisie aangespreek voel. So ʼn opvatting van ’n (lewende) tradisie is nie iets staties nie, maar oop vir kritiese interpretasie. Hiermee saam kom ook die verantwoordelikheid van elke geslag om hulle posisie in die hede altyd te verantwoord en te regverdig teenoor die wat voor hulle was en die wat na hulle sal kom.

In ’n essay “Die web” wat in Liberale Nasionalisme gebundel is, het Van Wyk Louw ook oor die idee van ’n lewende tradisie besin (Versamelde Prosa 1, 1986, pp. 446-449). Hy beskryf dan tradisie met die konkrete beelde van ʼn stroom of ʼn web. By ʼn stroom kan “… verskillende tradisies… saamkom soos takriviere om ’n nuwe stroom te vorm; maar ander aspekte word dan weer maklik oor die hoof gesien, bv. dat ’n tradisie sommige elemente kan verloor, of dat hy verstar kan raak, of op die punt weer uitmekaar kan loop – soos die gemeenskaplike Christelike tradisie in Katolisisme en Protestantisme… ” ’n Web is “… ’n Geweefde stuk lap, of tapisserie waaraan geweef word met die drade van verskillende kleure…” (p. 446).

Louw gebruik dan hierdie twee beelde om vier opmerkings oor die Afrikaners se (lewende) tradisie te maak: 1). Die gemeenskaplike Wes-Europese kultuur vanaf Italië, Spanje tot Skandinawië (en die Hebreeus-Grieks-Romeinse wêreld daarvoor). 2). Die spesifiek Nederlandse (Hollands en Vlaams) deur die taal. 3). Die spesifiek-Engelse, deur die saamwoon met Engelssprekendes sedert 1806. 4) Afrika – “… ons ervaring hier, en die primitiewe kultuur van Afrika” (pp. 446-447). Die gebruik van die woord “primitief” hier is problematies, maar gelukkig verwys Louw elders in die essay na “ons geweldige Suid-Afrikaanse omgewing” (p. 449). Kortom, hierdie vier drade waarmee Louw weef is steeds toepaslik wanneer daar op ʼn besinnende wyse na ’n definisie van die Afrikaners in ons eie tyd gesoek word.

In die opsig kan die volgende punte gemaak word. Eerstens staan hierdie definisie vir kritiek en interpretasie oop. ʼn Gemeenskap of volk is nooit ’n afgehandelde geheel nie, maar altyd iets wat in die hede beoordeel moet word. Tweedens is enige mens (individu) die produk van ’n bepaalde tradisie. (Dit is ’n weergawe van Aristoteles se formulering van die mens as sosiale wese en Hegel se begrip van Sittlichkeit.) Derdens is dit deesdae al meer ’n vereiste van ʼn demokrasie dat hierdie aspek van menswees in die politiek verreken moet word.

Dit is op hierdie punt dat die fokus na die huidige Suid-Afrikaanse politiek toneel skuif met vraag oor hoe Afrikaners, met hulle bepaalde historiese bewussyn en lewende tradisie, in die post-1994 staat erken word? Hierdie vraag gaan nou by wyse van drie tydgenootlike politieke konsepte verreken word: Erkenning (recognition), herverdeling (redistribution) en verteenwoordiging (representivity).

In die eerste geval het mens te doen met die politiek van identiteit of simboliese politiek. Dit is ’n omvattende kwessie, maar dit kom daarop neer hoe geborge ʼn kultuur-politieke gemeenskap, met sy tradisies en historiese bewussyn, voel. Indien dit nie die geval is nie, word daar gewoonlik van vervreemding gepraat. Wat vervreemding onder Afrikaners aanbetref sou ’n mens kan verwys na die sluiting van baie Afrikaanse skole, die wegkalwing van Afrikaans by die Historiese Afrikaanse Universiteite en die verdwyning van Afrikaans in die staatsdiens, privaatsektor en meeste openbare plekke. Verder dra die onbesonne naamsverandering van dorpe, stede en strate (en verwydering van standbeelde) ook nie by tot ’n gevoel van geborgenheid en deelname by nie. Hierdie lys van faktore wat tot vervreemding bydra sou uitbrei kon word. Die feit is egter dat hierdie vervreemding tot ’n verwarde, vreesgevulde en eksistensieel-ongeborge gemeenskap bydra.

In die tweede geval gaan dit oor die billike verdeling (en herverdeling) van materiële hulpbronne in ’n samelewing. Die gedagte van billike verdeling is natuurlik in Suid-Afrika ’n komplekse aangeleentheid, veral as dit by die regstel van historiese benadeling gaan. Die probleem hier is dat regstellende aksie op so ’n wyse geïmplementeer word dat ’n meerderheid (en veral die elite van daardie meerderheid) bevoordeel word ten koste van minderhede (iets wat in die klassieke opvatting van regstellende aksie die omgekeerde is). Ook bring regstellende aksie weer ras terug in die hart van die Suid-Afrikaanse politiek. Hoe dit ook al sy, regstellende aksie tref Afrikaners op so ’n manier dat hulle voel dat hulle nie behoorlik aan die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing kan deelneem nie. Anders gestel: om onreg van die verlede reg te stel word onreg weer in die hede gepleeg.

Wanneer dit kom by verteenwoordiging gaan dit nie net oor die kwessie van stemreg (voting) nie maar ook om ’n stem (voice) te hê wat gehoor word. In die opsig voel meeste Afrikaners dat hulle nie werklik as minderheidsgemeenskap enige impak op die politieke stelsel het nie. Vanaf plaaslike regeringsvlak, via provinsiale owerhede tot die sentrale regering is die politieke werklikheid so gestruktureer dat daar vir minderhede en hulle belange baie min ruimte tot formele inspraak bestaan.

Hierdie drie aspekte word natuurlik verder gekompliseer deur die geweldige aard van misdaad in Suid-Afrika. Beide op plase en in stede voel Afrikaners dat hulle nie behoorlik beskerming en veiligheid geniet nie.

Die vraag is nou, gegee die historiese bewussyn en lewende tradisie van Afrikaners, wat hulle in die onsekere konteks van die hede te doen staan. Een reaksie is natuurlik emigrasie. Die wesenlike emigrasie onder Afrikaners sedert 1994 is ’n duidelike teken dat ’n deel van Afrikaners hulle hoop op ’n simboliese en materiële toekoms in die land verloor het. Die Afrikaners wat agterbly (en die wat geëmigreer het) sal egter aan verbeeldingryke moontlikhede moet dink om hulle tradisies en historiese bewussyn in konkrete instellings te laat bly voortleef. (Hier kan mens dink aan ’n veelheid van instellings en ruimtes). As dit nie gebeur nie sal Afrikaners as ’n gemeenskap met ’n duidelike historiese bewussyn en lewende tradisie in die sand van die geskiedenis leegloop.

Pieter Duvenage is professor en hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Tags: , , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.