Apartheid in perspektief

Voordrag gelewer by Solidariteit

 

 

  1. Inleiding
  2. Die begrip “Misdaad teen die mensdom”
    • Wording van die begrip misdaad teen die mensdom

Die begrip van ’n misdaad teen die mensdom, het volgens Bassiouni[1] die eerste keer in 1907 in die aanhef tot die Haagse Konvensie, wat die gewoontereg rakende gewapende konflik gekodifiseer het. Na die Eerste Wêreldoorlog is die term gebruik om Duitse oorlogsmisdade te etiketteer, asook die Turkse volksmoord op Armeniërs binne hulle grondgebied. Na die Tweede Wêreldoorlog is dit weer gebruik teen oorlogsmisdadigers van die Spilmoondhede, en traktaat waarvolgens die Nuremberg- en Tokio-verhore plaasgevind het, verwys na misdade wat teen die mensdom gepleeg is. Die handves van die Internasionale Militêre Tribunaal waarvolgens die Nuremberg-verhore plaasgevind het, lys misdade teen die mensdom as:

“Moord, uitwissing, verslawing, uitsetting en ander onmenslike dade gepleeg teen burgerlike bevolkings, voor of gedurende die oorlog; of vervolgings op politieke, rasse of godsdienstige gronde in uitvoering of in verband met enige misdaad wat binne die gesag van die Tribunaal val, of dit strydig met die wet van die land waar dit gepleeg is was, of nie.”

Sedertdien is daar 11 verskillende dokumente opgestel wat misdade teen die mensdom omskryf. Hoewel dit nie in alle opsigte ooreenstem nie, sluit elkeen in dat dit verwys na spesifieke geweldsdade teen mense ongeag of dit burgers van die land is of nie, en of dit in oorlog- of vredestyd plaasgevind het. Dit moet ook gemik wees teen ‘n identifiseerbare groep, ongeag hoe die groep saamgestel is. Daar is sedertdien soortgelyke tribunale ingestel vir die gewese Joego-Slawië en Rwanda, en ook ‘n permanente Internasionale Kriminele Hof (Bassiouni 2009). ’n

  • Apartheid tot misdaad teen die mensdom verklaar
    • Suid-Afrika se “Détente-offensief

Suid-Afrika is sedert die 1960’s toenemend deur die wêreldmening geïsoleer. Premier John Vorster het geglo die oplossing is dialoog, later meer welsprekend détente genoem, met Afrika leiers. Indien Suid-Afrika deur Afrika aanvaar word, het hy geredeneer, sou die Westerse wêreld dit nie kon weerstaan nie. Die sukses daarvan, terugskouend gesien, was merkwaardig. President Kenneth Kaunda van Zambië, vroeër die spreekbuis van anti-Suid-Afrikaanse sentimente, het meegedoen, asook die presidente van Ivoorkus, Ghana en Malgassië , en selfs Idi Amin van Uganda (Van Jaarsveld 1980:580-581 en Van Rensburg 1979:323-326). Te midde van die Koue Oorlog het die Portugese gebiede Angola en Mosambiek in 1975 onafhanklik geword. Suid-Afrika het militêre leiding geneem met ‘n poging om die Russies-ondersteunde MPLA uit die Angolese kussings te lig. Die OAE, aartsvyand van Suid-Afrika kon egter nie Suid-Afrikaanse deelname in Angola veroordeel nie, omdat lidstate 22 vir en 22 teen so ‘n resolusie gestem het (Steenkamp 1989:60).

Teen die agtergrond, en die feit dat die NP se tuislandbeleid spoed begin optel het, was dit belangrik om die anti-apartheidsveldtog wêreldwyd op te skerp.

  • Internasionalisering van anti-apartheid

Die ANC het in 1973 ‘n groot internasionale oorwinning behaal, toe die Verenigde Nasies apartheid as misdaad teen die mensdom bestempel het, en besluit het om ‘n konvensie daarteen op te stel. Die voorstel is deur die Sowjet-Unie en Guinee gedoen, en die eerste 20 ondertekenaars was almal lande in die Sowjetblok. Brittanje en die VSA het dit nie gesteun nie (Giliomee 2004:515). Dat Van Jaarsveld in sy Van Van Riebeeck tot PW Botha nie hierna verwys nie, verbaas mens min. Maar dat AJ Christopher van die Universiteit van Port Elizabeth in 1994 ‘n boek The Atlas of Apartheid deur Routledge uitgee, en in die hoofstuk getiteld International response to apartheid (Christopher 1994:173 e.v.) nie daarna verwys nie, is verrassend. Miskien het selfs teenstaanders van die beleid die uitspraak as effens buitensporig gesien.

Van sulke sentimente sou niemand egter die ANC kon verdink nie. In 1987 reik hulle ‘n belangrike verklaring uit na ‘n konferensie in Arusha. Uit die staanspoor word ‘n reguit lyn tussen apartheid en Nazi-misdade getrek. Die term “crime against humanity” kom dikwels voor. Dit is bevestig deur die International Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid van Julie 1976 waarna bo verwys is, en wat in 1984 bevestig is. Die term word ook in samehang met genocide gebruik. Dat iemand dit mag betwyfel, voorsien hulle en ondervang dit met die volgende:

The association between the crimes of apartheid and of genocide has been confirmed by the 1985 report … which points out that genocide is not merely the act of murder applied on a mass scale to a national or ethnic group, but also covers acts “calculated to destroy the individual or prevent him from participating fully in national life. Apartheid, the report concludes, is:

‘not simply a crime against humanity but a series of acts of genocide, as far as some aspects of its practises are concerned, but also with implications for international peace and security’” (ANC 1984).

So ‘n definisie van volksmoord laat by ‘n mens die indruk dat die skrywers apartheid onder die term wou tuisbring, en toe maar die definisie verander om dit reg te kry.

Die Internasionale Kriminele Hof waarna bo verwys is, het in 2003 verdere geloofwaardigheid aan die gedagte dat aprtheid inderdaad ‘n misdaad teen die mensdom is, verleen. Die mandaat daarvan is die vervolging van die misdaad van volksmoord, misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade, die misdaad van aggressie. Onder misdade teen die mensdom tel weereens moord, uitwissing, verslawing, deportasie of gedwonge verskuiwing, gevangeneming in weerwil van fundamentele reëls van internasionale reg, marteling, verskeie soorte seksuele geweld, gedwonge verdwyning van mense, vervolging van enige identifiseerbare groep, die misdaad van apartheid en ander onmenslike dade van soortgelyke aard wat met opset groot lyding of ernstige liggaamlike, mentale of fisiese verwonding veroorsaak. Die misdaad van apartheid word verduidelik as:

“…inhumane acts of a character similar to those referred to in paragraph 1, committed in the context of an institutionalized regime of systematic oppression and domination by one racial group over any other racial group or groups and committed with the intention of maintaining that regime (International Criminal Court 2003).”

Weereens word ‘n bestrybare definisie gebruik, maar meer nog: As die misdade wat so part en deel van apartheid was werklik in die liga van volksmoord was, sou dit kon tuiskom onder die ander gelyste misdade. ‘n Vorige ideologiese stelling moes egter met ‘n volgende een tot universele waarheid verhef word.

  • Ander misdade teen die mensdom
  • Staatsoptrede wat nie “misdaad-status” verkry het nie
    • Die Sowjet Unie onder Stalin

Na die kommunistiese rewolusie van 1917 en gevolglike nasionalisering en kollektivisering van produksiemiddele, het produksie ineengestort. Lenin se Nuwe Ekonomiese Plan het ‘n groter mate van private inisiatief toegelaat, en produksie het herstel. Die “Koelakke” was ‘n welvarende kleinboerklas wat gevolglik tot stand gekom het. Sy opvolger, Stalin, het egter kollektivisering weer deurgedwing, en honderdduisende koelakke het vergaan as gevolg van hongersnood, verbanning of vervolging (Kirchner 1969:278-279). Op politieke vlak is dit opgevolg met grootskaalse heksejag op politieke en militêre leiers wat van dislojaliteit aan Stalin verdink is (Grant en Temperley 1963:472-473).

Volgens Brooks (1990:460) was die menslike koste van kollektivisering weersinwekkend hoog, en eerder vernietiging van bronne as oordrag daarvan. Soveel vee, geboue, trekvee en lewens is opgeoffer, dat daar nie juis bronne was om oor te dra nie (Brooks 1990:463). Trouens, bykans alle geskooldes en kundiges in die landbousektor is tereggestel of verban, sodat gekollektiviseerde plase swak bestuur is, deur mense wat in die vorige bedeling nie bo die basiese arbeidsvlak sou vorder nie (Brooks 1190:465). Simkin stel die getalle op duisende wat tereggestel is en vyf miljoen wat na Siberië verban is. Van hulle het ‘n kwart gesterf voor hulle hulle bestemmings bereik het (Simkin s.a.).

Eric Margolis[2] beskryf die volksmoorde wat onder Stalin plaasgevind het. Hy noem sewe miljoen Oekraïners dood en twee miljoen na konsentrasiekampe, die uitwissing van die Don Kossakke in die 1920’s, die Volga Duitsers in 1941, twee miljoen Moslems gedood, twee miljoen etniese Duitsers in Oos-Europa vermoor, gewelddadige uitsetting van nog vyftien miljoen Duitsers, verkragting van twee miljoen Duitse meisies en vrouens. As al die tereggesteldes, vermoordes en sterftes in konsentrasiekampe bymekaargetel word, beweer hy meer as dertig miljoen mense het in die Sowjet-Unie gesterf nog voor Hitler met sy uitwissing van Jode en Sigeuners begin het.

Wikipedia stel dat volgens amptelike Sowjet-syfers net meer as een miljoen mense as gevolg van Stalinistiese vervolging gesterf het, uitsluitend sterftes in strafkampe, waarheen tussen ses en sewe miljoen mense gestuur is (Anoniem s.a.).

  • China onder Mao Zedong

Die Groot Sprong Vorentoe was ‘n poging in die Volksrepubliek van China in 1958, om landbouproduksie in een jaar te verdubbel. Gevorderde landbouprodusente-koöperasies is omskep na volkskommunes, landelike industrieë is gestig en in agterplaas branders moes mense yster produseer. Kos is gratis versprei. Die ontwrigting van beleidsveranderings, gekombineer met swak beplanning en ongunstige weer, het rampspoed tot gevolg gehad. Sterftes het 30miljoen beloop (Lin, Yao en Wen 1990:499).

China se “Kulturele Rewolusie” van 1966-1969 was eweneens ‘n tyd van terreur. Omtrent 10 miljoen mense wat op die een of ander manier van dislojaliteit of potensiële “anti-rewolusionere” neigings verdink is, het die lewe gelaat (Stone 1997:230).

  • Pol Pot en Kambodja

Pol Pot was die leier in Kambodja van 1975 tot 1979. Sy ultra-kommunistiese bewind het alle eiendomsreg, godsdiens, geld en skole afgeskaf. Stedelinge is na groot kollektiewe plase gedwing. As gevolg van teregstelling, uitputting en hongersnood het ongeveer twee miljoen mense gesterf (Suy 2008).

  • Idi Amin en Uganda

Tydens Idi Amin se agtjarige bewind in Uganda van 1971 tot 1979, is talle mense gedood, gemartel en gevange geneem. Skattings wissel van eenhonderdduisend, tot ‘n half miljoen. Dit het begin as etniese geweld teen groepe wat sy voorganger (wie hy in ‘n staatsgreep uitgeskuif het) ondersteun het. Dit het later na die hele weermag uitgebrei. Hy het persoonlik opdrag gegee vir die teregstelling van die Anglikaanse aartsbiskop, die hoofregter, die kanselier van ‘n kollege en die goewerneur van die sentrale bank. Hy is in ‘n staatsgreep uit die kussings gelig, nadat hy ‘n aangrensende provinsie van Tanzanië probeer inneem het (Boddy-Evans s.a.).

  1. Die Afrikaner binne koloniale verband
    • Afrika se kolonisering deur Europa

Hoewel Afrika sedert die vyftiende eeu reeds deur Europese seevaarders omreis is, het werklike kolonisering nie vinnig plaasgevind nie. Eintlik het dit eers met die Berlynse Konferensie van 1884 momentum gekry, toe Afrika arbitrêr in Europese invloedsfere gedeel is. ‘n Land moes effektiewe besetting demonstreer om aanspraak te behou (Van Rensburg 1979:91-92). Selfs die “Blankste” kolonies soos Kenia en Suid-Rhodesië het maar eers na die Tweede Wêreldoorlog werklik ‘n groot toestroming van setlaars beleef. In Angola en Mosambiek het dieselfde gegeld (Van Rensburg 1979:217,237 en 253).

Teen hierdie agtergrond is die vestiging van die Afrikaner ‘n groot uitsondering. Met die grootste deel van die immigrasie wat teen 1750 afgesluit was, het Afrikaners werklik tyd gehad om Afrikane te word. Of ander Afrikane of die res van die wêreld hierdie verskil raaksien, is onwaarskynlik. Dit help ook nie dat Afrikaners in hulle honderdduisende na Westerse lande uitwyk nie; trouens dit laat my self soms wonder.

  • Westerse houdings teenoor ander rasse

Westerlinge sou nie met reg op die huidige gelykheidsgeloof as deel van ons erfenis kon aanspraak maak nie. In die 1860’s het die Volkekundige Genootskap baie moeite gedoen om ‘n Franse geleentheidspreker wat eerbied vir Afrika-godsdiens en sekere sosiale kenmerke gehad het, tereg te wys. Volgens hulle sou dit min goeds meebring om op sulke maniere na die ontaarde mense van Afrika te verwys (Van Rensburg 1979:12). Dit het, soos hy dit in sy opskrif noem, ‘n rassistiese mitologie tot stand gebring. Dit straal uit ‘n veel later uitspraak van generaal Jan Smuts, dat Afrika niks kon oplewer op die terrein van godsdiens, letterkunde of kuns nie. Hy twyfel of die Zimbabwe-ruïnes werklik deur Afrikane gebou kon wees, en stel dat daar by die Afrikaan geen behoefte tot innerlike verbetering is nie (Smuts 1941:40-41).

Die opvattings is nie vir Afrikane gereserveer nie. Volgens Hugh Brogan in sy geskiedenis van die VSA, was die opvatting tot in die negentiende eeu dat Negers pakdiere was – geskik as slawe, maar Indiane was jagdiere – geskik om op sig geskiet te word, aangesien hulle bra swak slawe uitmaak (Brogan 1988:64). In ‘n hoofstuk van 20 bladsye beskryf hy ‘n pynlike geskiedenis van Indiane wat telkens ‘n ooreenkoms met die Blankes maak, net om later te vind dat dit verbreek word. Wanneer hulle dit aanvaar het, is hulle verneder. Wanneer hulle dit weerstaan het is hulle oorwin en dan verneder, want Blankes het vas geglo dat die voorsienigheid aan hulle die hele kontinent van Amerika bestem het (Brogan 1988:51-70).

Hierdie meerderwaardige houding het ook gelei tot sosiale skeiding. In die Amerikaanse Suide, waar Swart Amerikaners groot getalle uitgemaak het, is afsonderlike fabrieke, woonbuurte en skole vir Swart en Wit eers in die 1960’s formeel afgeskaf, en dit teen groot teenkanting (Brogan 1989:660).

So beskryf Van Rensburg ook aparte geriewe vir Blankes en nie-Blankes in die destydse Noord-Rhodesië, en ‘n padteken in die kopergordel wat motoriste waarsku: “Pasop vir Swartmense” (Van Rensburg 1979:245).

Uit Victoriaanse en selfs latere Britse literatuur is dit nie moeilik om aanhalings van Britse meerderwaardigheidsgevoel te vind nie. Trouens, Afrikaners het dit dikwels aan eie lyf gevoel. Die punt hier is egter om duidelik te maak dat sosiale skeiding vandag na iets ongehoord voel, maar in die tyd wat dit ingestel is, was dit praktyk in talle wêrelddele waar Westerlinge hulle omgewing met ander rasse gedeel het.

  • Dekolonisering – “Scramble out of Africa”

Met die bevryding van Afrika het dit heelwat vinniger gegaan as die kolonisering daarvan. Van die vrywording van Ghana in 1957 tot die van Swaziland in 1968 het ‘n korte 12 jaar gele. Slegs die Portugese kolonies, Rhodesië, Suid-Afrika en Suidwes-Afrika was toe nog onder Blanke beheer. Dat Afrikaners nie daaroor gerus gestel is nie, is om dit lig te stel.

Die omvang van die situasie is egter dalk nie altyd vir Afrikaners duidelik nie. ‘n Vyfhonderdjarige tydperk van Westerse wêreldoorheersing het tot ‘n einde gekom. Afrikaners het nie die inheemse bevolking uitgewis soos die Amerikaners of Australiërs nie, maar ons het ook nie ‘n moederland om na terug te keer soos ander Blankes in Afrika nie. Ons het die koloniale leefwyse deel van ons gemaak, wat beteken ‘n heersersklas versprei sigself oor die land en maak beste gebruik van beskikbare hulpbronne, insluitende goedkoop arbeid. Ons het die koloniale leefwyse wat verwyt en uiteindelik haat verwek, maar nie die rugsteun van ‘n koloniale moondheid nie. As die Afrikaner nie sy bevolking kan konsentreer en ‘n deel van die land doeltreffend beset nie, sal sy lot die van ander koloniale gemeenskappe wees, of hy nou langer in Afrika was of nie.

Later was dit strewe na ‘n groot politieke oplossing wat aparte state vir Swart volke in gedagte gehad het. Maar uiteindelik het dit nie met beëindiging van die koloniale leefwyse gepaard gegaan nie.

  1. Apartheid in aksie
    • Afsonderlike geriewe of “klein apartheid”

Apartheid was ‘n reaksie op die bedreiging wat Afrikaners na die Tweede Wêreldoorlog sien naderkom het. Eers was dit bloot vrees vir gelykstelling wat sosiale skeiding vereis het. Hier wil ek nie eers na al die wetgewing en aanhalings van historici verwys nie. Ek het in die 1980’s in Pretoria grootgeword. Ek onthou goed dat dit nie regtig verkeerd was as kinders Swart vrouens skrik gemaak het nie, en ek onthou dat mense baie verbaas was toe ‘n Swarte (‘n ampsdraer van Inkatha) by ons aan huis geëet het. Ek onthou dat Engelse firmas daarvoor verwyt is dat hulle swart werknemers uit dieselfde koppies as Blankes laat tee drink het. Ek onthou dat ons nooit die K-woord gebruik het nie, en dat dit vir ander kinders snaaks was. Ek onthou dat KP-beheerde stadsrade in 1988 aparte geriewe teruggebring het. Ek kry nie ‘n gevoel van trots as ek aan daardie tyd in ons geskiedenis dink nie. Dat ons so lank daarmee volgehou het, strek ons nie tot eer nie. Dat mense ‘n kultuureie gemeenskapslewe verkies kan ek verstaan, maar dan moet dit deur arbeid, ekonomie en demografie gerugsteun word.

Ek onthou egter ook dat ek ‘n toespraak van Dr Verwoerd gelees het, wat ek nie weer kon vind nie. Daarin verdedig hy aparte poskantore en banke, met rofweg die volgende argument: Blankes sou nie te vinde wees om deur Swart personeel bedien te word nie. (Dit was nie ‘n normstelling nie, bloot ‘n feit wat destyds gegeld het.) As Swartmense egter altyd deur Blanke amptenare bedien word, sou dit ‘n permanente gevoel van “daardie is Witmenswerk” vestig. Swartmense sou nie in sulke poste inbeweeg nie, en dit sou ‘n plafon oor hulle plaas. Dit was dus ‘n deel van bevolkingsontwikkeling om Swartmense deur Swart amptenare te laat bedien. Inderdaad nie ‘n argument wat ek vandag ten gunste van aparte geriewe sou inbring nie, maar hy het dit in die 1960’s gedoen, toe segregasie nog wyd aanvaar is.

  • Onderdrukking van anti-apartheid

Die onderdrukking van teenstand teen apartheid is iets wat ons geskiedenis nie goed laat lyk nie. Die emosionele tonele van slagoffers wat met die Waarheids- en Versoeningskomissie verklaar het wat hulle beleef het, was inderdaad aangrypend. Die verhaal van Eugene de Kock wat vertel hoe hy en ander polisielede wetstoepassing benader het, het my vir ‘n geruime tyd mislik gelaat. Maar uit The Atlas of Apartheid blyk dat 76 politieke gevangenes van 1960 tot 1991 in aanhouding gesterf het (Christopher 1994:170), en dat in totaal ongeveer 20 000 mense in politieke geweld gesterf het (baie IVP vs. ANC) (Christopher 1994:168-169).

‘n Mens besef dat die onnodige dood van een persoon vir die naby aan hom traumaties is, en dat 20 000 sterftes nie ligtelik afgemaak kan word nie. As dit egter vergelyk word met owerheidsoptredes van die twintigste eeu wat nie as misdadig gebrandmerk is nie, kry mens ‘n ander perspektief.

  • Verwoerd se ongesiene rewolusie
    • Tuislande

Verwoerd word dikwels die argitek van apartheid genoem, en afwyking van strenge toepassing van apartheidsmaatreëls is veral deur regses as afwyking van Verwoerd afgemaak. Beide die stellings is ongeldig. Wat Verwoerd wel gedoen het, is om ‘n “reservaat”-benadering tot Swart vestiging, te omskep in staatskeppende prosesse. Die tuisland-beleid word dikwels voorgestel as ‘n siniese poging om die voorsiening van goedkoop arbeid te bespoedig, deur Swartmense in onlewensvatbare gebiede saam te druk. Op die punt wil ek eers verwys na ontwikkelingsekonomie, ‘n dissipline wat na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het. Vroeëre koloniale moondhede het veral na koloniale bevryding, verantwoordelik gevoel om ontwikkeling daar te ondersteun. ‘n Standaardwerk op die terrein is Agricultural Development in the Third World onder redaksie van Carl Eicher en John Staatz. In hulle eerste hoofstuk gee die redakteurs ‘n historiese oorsig oor idees rakende landbou-ontwikkeling. Tydens die 1950’s en 1960’s was daar ‘n groot vertroue in tegnologie-oordrag. Die benadering het misluk (Eicher en Staatz 1989:13). Teen die 1990’s stel hulle ‘n ontwikkelingsmodel voor wat klem lê op plaaslike kundigheid wat in die werklikheid ontwikkel word (Eicher en Staatz 1989: 28-29).

Die laaste hoofstuk van die boek, deur Uma Lele, is getiteld Managing Agricultural Development in Africa. Daarin waarsku sy teen skemas om vinnige resultate te kry deur snelle industrialisering. Dit is belangrik om die mense wat dit moet uitvoer, daarin te laat groei (Lele 1989:538).

Die belangrikste kritiek teen Verwoerd se tuislandbenadering (Giliomee 2004:484) is juis dat hy nie gedoen het wat die konvensionele wysheid van sy tyd vereis het nie – benaderings wat later gediskrediteer is.

Die geweldige bedrae wat in die tuislande belê is, moet nie buite rekening gelaat word nie. Dit is nie asof die hele Suid-Afrika gelyk ontwikkel was teen 1948, en toe het die NP besluit om verder net aan Blanke gebiede aandag te gee nie – inteendeel. ‘n Mens kan ‘n eindelose debat voer oor die oordeelkundigheid van bepaalde projekte. Vyftien jaar met die ANC se Departement van Grondsake, en nou Landelike Ontwikkeling, is aan die ander kant genoeg om die kompleksiteit van die projek te begryp. As gebrekkige vordering vroeër aan ‘n siniese onderdrukkingsbeleid wat bedoel was om te misluk toegeskryf kon word, wat is die rede nou? Ek lees graag die Farmer’s Weekly, en sien dat “groot projekte” in die Oos-Kaap dikwels maar net tuislandprojekte is wat weer in werking gestel word.

Geldige kritiek teen die tuislande is dat dit nie, in die vorm wat dit deurgevoer is, ‘n geloofwaardige alternatief vir Suid-Afrika se Swart bevolking gebied het nie. Dat dit ‘n bewuste poging was om mense permanent te verarm, is egter onsinnig.

  • Swart onderwys

Die ander aspek van apartheid wat amper universele veroordeling ontlok, is die sogenaamde Bantoe Onderwys. Prof Herman Giliomee het ‘n deeglike studie hiervan gemaak, wat in die South African Journal of Economics van Maart 2009 gepubliseer is. Hy dui oortuigend aan dat bewerings dat Verwoerd deur ‘n ideologie van rasse minderwaardigheid gelei is, onwaar is (Giliomee 2009:191). Verder dui hy aan hoe die staat voor 1948 amper geen aandag aan Swart onderwys geskenk het nie, en dat dit wat gedoen is, deur sendinginstellings gedoen is. Dit was in die destydse konteks ‘n politiek gevaarlike stap om ‘n omvattende onderwysstelsel vir Swartes uit te rol, aangesien dit baie fondse sou verg van ‘n Blanke kieserspubliek, wat nog lank nie gevoel het daar word aan al hulle behoeftes voldoen nie. Daaraan skryf Giliomee sowel die kru taalgebruik, as die onaanvaarbare lae besteding tydens die eerste 10 jaar toe (Giliomee 2009:192). Die kurrikuluminhoud was vir lank ‘n punt van bespreking. Sekere liberale skrywers, asook die leidende Swart onderwysman van die tyd, ZK Matthews, het verskillende inhoude vir Blanke en Swart kinders bepleit, omdat hulle in sulke verskillende omstandighede leef (Giliomee 2009:194). Met die inwerkinstelling van Bantoe onderwys, het selfs die Institute of Race Relations toegegee dat die inhoud basies dieselfde was as in Blanke skole. Wanneer die gewraakte aanhaling oor Swart skoolkinders en Wiskunde gemaak word, word selde bygevoeg dat Wiskunde wel ‘n vak in Swart skole was. Die grootste probleem was om toepaslik gekwalifiseerde onderwysers na Swart onderwys te lok, en die departement het maniere gesoek om meer kinders in Wiskunde en Natuur- en Skeikunde te interesseer (Giliomee 2009:195). Uiteindelik beskou hy die onvoldoende befondsing van Swart onderwys as die grootste probleem, maar bestempel dit as ‘n suksesvolle projek in massaskoling in ‘n beperkte tyd (Giliomee 2009:197).

In ‘n doktorale proefskrif aan die Universiteit van Johannesburg, ondersoek Bipath onder meer die redes vir die hoe voorkoms van disfunksionele skole in Suid-Afrika. Hoewel sy die ongelykheid in die vorige bedeling ook as rede aanvoer, is die feit dat skole sedert 1976 ‘n politieke slagveld geword het, selfs belangriker. Die slagspreuk No education before liberation die leerkultuur ineen laat stort (Bipath 2008:56-70).

  1. Gevolgtrekking

In hierdie studie is ondersoek hoe dit gebeur het dat apartheid as misdaad teen die mensdom verklaar is, en wat die omskrywing vir ‘n misdaad teen die mensdom is. Dit wat in Suid-Afrika gebeur het, is vergelyk met ander gebeure in ander lande, wat nie as misdade teen die mensdom bestempel is nie. In vergelyking is dit byna onsinnig om apartheid wel in daardie kategorie te plaas. Aspekte van apartheid wat dikwels onder skoot kom, is die tuislandbeleid, en Bantoe onderwys. Hoewel gebreke in beide hierdie stelsels uitgewys kan word, is dit bloot besonder moeilike projekte, wat nie foutloos uitgevoer is nie. Dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom is, is uit ‘n regs-positiwistiese oogpunt waar.

Of dit die etiket verdien, ek dink dit is verspot.

Bronne

  • Anoniem, 1984. The illegitimacy of the apartheid regime, the right ot struggle against it, and the status of the African National Congress Statement from the ANC Arusha conference, 1 – 4 December 1987. Elektronies afgelaai van http://www.anc.org.za/ancdocs/history/acrime.html op 23 November 2009.
  • Anoniem, 2003. Rome statute of the international criminal court. International Criminal Court, Den Haag, Nederland. Elektronies afgelaai van http://untreaty.un.org/cod/icc/statute/romefra.hetm op 23 November 2009.
  • Anoniem s.a. Gulag. Wikipedia. Elektronies afgelaai van http://en.wikipedia.org.wiki.Gulag op 23 November 2009.
  • Bassiouni MC, s.a. Crimes of war a- z guide > Crimes against humanity. Elektronies afgelaai van http://www.crimesofwar.org/thebook/crimes-against-humanity.html op 23 November 2009.
  • Boddy-Evans A, s.a. Biography Idi Amin Dada. About.com:African History. Elektronies afgelaai van http://africanhistory.about.com/od/biography/a/bio_amin.htm op 23 November 2009.
  • Brogan H, 1988. The Pelican history of the United States of America. Penguin Books, Londen.
  • Brooks K, 1990: Agricultural reform in the Soviet Union. In Eicher CK en Staatz JM, 1990: Agricultural development in the Third World, The John Hopkins University Press, Baltimore.
  • Christopher AJ, 1994. The Atlas of Apartheid. Routledge Londen en Witwatersrand University Press, Johannesburg.
  • Giliomee H, 2004. Die Afrikaners ‘n Biografie. Tafelberg, Kaapstad.
  • Grant AJ en Temperley H, 1963: Europe in the nineteenth and twentieth centuries. Longman’s, London.
  • Kirchner W, 1969: Western Civilization since 1500. Barnes en Noble, New York.
  • Lin JY, Yao X en Wen GJ, 1990: China’s Agricultural Development. In Eicher CK en Staatz JM, 1990: Agricultural development in the Third World, The John Hopkins University Press, Baltimore.
  • Margolis E, s.a. Seven million died in “forgotten” holocaust. Elektronies afgetrek van http://www.ukemonde.co/genocide/margolisholocaust.html op 23 November 2009.
  • Simkin J, s.a. Joseph Stalin. Spartacus Educational. Elektronies afgelaai van http://www.spartacus.schoolnet.co.uk/RUStalin.htm op 23 November 2009.
  • Smuts JC, 1941. Groter Suid-Afrika Planne vir ‘n beter wêreld Toesprake deur die hoog edelagbare JC Smuts, PC, CH, KC, DTD. Torch Commando, Johannesburg.
  • Steenkamp W, 1989. South Africa’s border war 1966-1989. Ashanti Publishing Limited, Gibraltar.
  • Stone B (Samesteller), 1997: Milennium eyewitnesses A thousand year of history written by those who were there. Piatkus, Londen.
  • Suy S, 2008. Cambodia quietly marks Pol Pot’s death. Mail and Guardian online. Elektronies afgetrek van http://www.mg.co.za/article/2008-04-15-cambodia-quietly -marks-pol-pots-death op 23 November 2009.
  • Van Rensburg APJ, 1979. Die nuwe Afrika. HAUM, Pretoria en Kaapstad.

[1] Die uiteensetting tot by die verwysing is geneem uit ‘n intenetartikel wat deel vorm van die Crimes of War project. Dit is ‘n gesamentlike poging van joernaliste, prokureurs en akademici om openbare begrip oor internasionale humanitere wetgewing te bevorder.

[2] Bydraende buitelandse redakteur van die Toronto Sun

Tags:

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.