Argeologie en die Afrikanergeskiedenis

deur Johan Schoeman 

Argeologie en die Afrikanergeskiedenis


Diegene wat belangstel in die Afrikaanse geskiedenis as geheel en in besonder dié van die Afrikaner, sal waarskynlik saamstem met die opmerking dat daar ʼn indrukwekkende hoeveelheid kennis, opgesluit in ʼn ewe indrukwekkende korpus publikasies en argiewe, van watter aard ook al, hieroor beskikbaar is. Waarskynlik is die gedetailleerde optekening van sy eie geskiedenis een van die Afrikaner se grootste en mees indrukwekkende mylpale in Afrika. Daar is egter een terrein waarop daar net soveel indrukwekkende werk gedoen is, maar wat dalk minder in die oog was tot nou. Dit is in die argeologie (die studie van kulture deur die herwinning van hulle fisiese oorblyfsels, asook die dokumentering en analise daarvan), en meer spesifiek vir die doel van die bespreking hier die terrein van Afrikaner-argeologie.

Daar is ʼn magdom terreine in Suid-Afrika van belang vir Afrikaner-argeologie. Terreine sluit in (om net enkeles te noem):

  • verskeie historiese slagvelde en fortifikasies;
  • historiese nedersettings;
  • terreine waar belangrike gebeure in die politieke (en ander) geskiedenis afgespeel het (byvoorbeeld tydens vredesonderhandelinge);
  • roetes deur die Trekkers gevolg;
  • ander historiese geboue en infrastruktuur;
  • skeepswrakke.

Die Viertrek-projek van die FAK van 2013 tot 2014 stel byvoorbeeld verskeie verdere moontlikhede vir argeologiese ondersoek voor, as mens mooi oplet. Onlangse aktiwiteite op historiese terreine in die Noord-Kaap, Mpumalanga en selfs (feitelik) in die middestad van Pretoria, dui aan dat hierdie vorm van ondersoek na die historiese verlede se dae nog lank nie getel is nie. Die mate van belangstelling deur die publiek en ook jongmense is verblydend, al is die getalle hiervan klein.

Daar is dalk nie veel geleenthede vir professionele argeoloë in Suid Afrika nie, maar dié wat wel bestaan, is dikwels onderbefonds en/of polities ingekleur. Ook die vak sukkel met studente-getalle en belangstellendes wat dit as beroep wil beoefen. Dit opsigself mag een teken wees van die toenemende ‘kommoditeit’-maak van die kulturele lewe waarna al elders verwys is. Dit maak die taak van diegene wat op hierdie terrein ’n bydrae wil lewer nie net moeiliker nie, maar ook hulle verantwoordelikheid groter. Daar bestaan na my mening beslis ’n groot behoefte aan die optekening van wat reeds op Afrikaner-argeologiese terrein gebeur het en wie hiervoor verantwoordelik was/is. Hierbo is verwys na die tasbare reste wat ter plaatse die argeologie van Afrikaners uitmaak. Argeologie help egter ook om die oorspronge van ’n bepaalde kultuurgroep aan te dui. Die Afrikaner het die kenmerk dat sy oorspronge aanvanklik buite die grense van Suid Afrika lê, maar dat sy identiteit mettertyd tot iets uniek binne Suid-Afrika gevorm is. Dit is hierdie uniekheid wat vandag nie net uit verskeie oorde bevraagteken word nie, maar wat terselfdertyd opnuut vra na die inkleur van hierdie historiese oorspronge.

Wat maak argeologie anders as geskiedenis, alhoewel dit binne dieselfde kader diens doen? Die maklike antwoord sal wees om te sê dat die argeologie die geskiedenis “voelbaar en vatbaar” maak. Dit is natuurlik waar; voorwerpe wat te voorskyn kom uit argeologiese arbeid maak inderdaad die geskiedenis tasbaar (en sodoende dalk meer bevatlik). Die argeoloog Paul Bahn stel dit op ’n stadium in ’n debat oor die etiek van argeologie dat die bedoeling nie is om die rus van die dooies te versteur nie, maar om toegang te kry tot die leefwêreld van hierdie mense om sodoende meer te verstaan van die eie bestaan. Onderskeid is vaag, maar waar geskiedenis gewoonlik met politiek, ekonomie en sosio-maatskaplike gebeure en tendense werk en kultuurgeskiedenis op sy beurt erns maak met historiese kwessies wat die kultuurlewe en die uitdrukkingsvorme daarvan aandui, wil argeologie eintlik in diens van albei staan deur dit wat verskuil onder die grond lê (’n simptoom van tyd), sigbaar te maak. Maar waarom is juis die aksie van “opgrawing” belangrik?

Ek wil slegs een antwoord probeer gee, en dit aan die hand van ’n onlangse artikel deur prof. Fanie de Beer, waar hy dit op filosofiese wyse het oor die “herbetowering” van ’n “onttowerde” wêreld. Hy voer ’n diepgaande analise van wat hierdie twee konsepte beteken, maar in wese kom dit baie kortliks en vereenvoudig op die volgende neer:

  • Apatie, gevoelloosheid, maatskaplike “geraas” en die gebrek aan samehang verteenwoordig tans alles harde simptome van die onttowering van ons leefwêreld;
  • Skepping en menslike intervensie om die wêreld meer leefbaar te maak en die naderende katastrofe (’n amorfe “iets” wat niemand kan omskryf nie maar wat almal aanvoel en afwag) ten minste op ʼn manier te probeer aanspreek, verteenwoordig pogings tot herbetowering.

Dit is egter nie ’n maklike taak nie, en De Beer gebruik ’n beeld uit die aptekerswese deur te noem dat alle menslike handeling nou in die teken van die farmakon staan – dit óf kan gif óf ’n teenmiddel tot nuwe singewing wees.

Terug na geskiedenis en argeologie. Eersgenoemde word baie keer juis deur skoolkinders en volwassenes beskryf as iets “dood en droog”; dus, as iets waarvan die betowering nie ingesien kan word nie. Die argeologie daarenteen se moderne (populêre) kenmerk is dikwels juis die teenoorgestelde, alhoewel dit dalk meer te wyte is aan Hollywood as aan argeoloë. Maar nietemin, dit wil lyk asof argeologie moontlik die geskiedenis se farmakon, in ’n positiewe sin, verteenwoordig. Dit is tasbaar besig deur reste te bekom en te bestudeer en stig daardeur intervensie; maak wêreld. En dan spesifiek kulturele wêreld en nie die skynweergawe van dit wat Michael Sandel en selfs Michel Houellebecq onlangs beskryf het as ’n wêreld wat toenemend in die teken staan van die “mark” in die kapitalistiese sin van prys, koop, verkoop, nie. Ander outeurs praat in dié verband van die sug tot herontdekking van daardie dinge wat tradisioneel sin aan ons bestaan gegee het en verwys ook byvoorbeeld na die rol van klassieke tekste in die Westerse geskiedenis om hierdie singewing te help stig.

Waar laat dit historici en argeoloë? Farmakologies (en andersins) gesien dalk hier: Dat beide ’n verantwoordelikheid het om die leefwêreld van die voorgeslagte te herbetower deur dit te “her-maak”; deur dit relevant en sigbaar te maak. Verder, dat spesifiek argeoloë die bykomende verantwoordelikheid het om versigtig om te gaan met die tasbare reste uit ’n leefwêreld wat sigself nie kan verdedig nie. Dit is ook nodig dat, gegee hierdie omgang met die tasbare geskiedenis, argeoloë se stem waarskynlik meer duidelik gehoor moet word in die polities-historiese debat. Hoe gebeur hierdie herbetowering, hier toegepas op die historiese Afrikaner? Deurdat die argeologie in debat kan gaan met die heersende politieke en ander historiese benaderings en daardeur ’n nuwe debat stig waarvan die uitkoms van “die klippe se gesprek” dalk wil sê: Ons was onteenseglik hier en ook daar, maak nie saak wie wat sê nie. En ons sal hier bly, juis omdat ons hier en ook daar is. Ons sal bly maak aan ons wêreld, of ander nou daarmee saamstem of nie. Só sal ons sin skep en weer ’n wêreld stig waar ons volledig mens kan wees sonder om verskoning te vra. Want ons hier wees is nie ’n guns van ander nie, maar ’n feit van die wêreld.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.