As elkeen sy deel doen… – Willie Spies

Vreemd hoe die geskiedenis homself herhaal.

Die gebeure van die afgelope twee weke het by my herinneringe opgeroep van soortgelyke gebeure, tien jaar gelede en weer vyf jaar gelede.

April 2005

Laat ek begin by 10 jaar gelede rondom April 2005. Die destydse burgemeester van die Tshwane Metroraad, Smangaliso Mkwatshwa, het pas sy voorneme uitgespreek om die naam van Pretoria na Tshwane te verander. Almal was in rep en roer. Ek was destyds ’n parlementslid en ’n ou studentemaat, Kallie Kriel, was in diens van die vakbond Solidariteit. Saam met raadslede van opposisie-partye in die metroraad en die Pretoriase Sakekamer het ons die Pretoria Burgerlike Aksie gestig wat hom sou besig hou met planne om Pretoria se naam te red.

Die hoogtepunt van die protes daardie tyd, was ’n optog vanaf Kerkplein na die kantoor van die Minister van Kuns en Kultuur, wat gelei is deur Steve Hofmeyr, wat destyds die eerste treë begin gee het om nie net musiek te maak nie, maar ook die vrese en frustrasies van sy volgelinge te verwoord.

Die optog, waaraan meer as 2 000 mense deelgeneem het was ’n reuse-sukses en die Minister van Kuns en Kultuur het kennis geneem, want twee hofsake later en na tien jaar, bestaan Pretoria steeds as ’n geografiese naam op die Suid-Afrikaanse Nasionale Pleknaamregister.

Solidariteit sou kort daarna vir Kallie Kriel belas met die verantwoordelikheid om ’n burgerregte-inisiatief op die been te bring wat kwessies soos die Pretoria-naamstyd, minderheidsregte en ander grondwetlike regskwessies in beskerming te neem. Só het ’n krisis van tien jaar gelede, wat net sowel tot verslaentheid en hopeloosheid kon lei, die teenoorgestelde gevolg gehad en het AfriForum ontstaan wat vandag nagenoeg 130 000 aktiewe lede het.

April 2010

Vyf jaar later op 1 April 2010 het ons die Donderdagaand voor Paasnaweek tot na donker in die Paleis van Justisie gesit het terwyl argumente gevoer is rondom die verlening van ’n interdik teen die destydse ANC-jeugleier, Julius Malema. Malema was in Zimbabwe, op besoek aan die jeugvleuel van Robert Mugabe se Zanu-PF en om sy steun toe te sê aan Mugabe se onmenslike grondgrypprojek.

Hy het geweier om op te hou met die sing van die haatlied Dubhul’ iBhunu (“skiet die Boere”) en het selfs daarmee voortgegaan nadat die regsaksie daaromtrent aan die gang gesit is.

Regter Eberhard Bertelsmann het eindelik kort voor 19:00 daardie aand die interdik verleen waarvoor AfriForum gevra het. Daar was egter iets onheilspellend in die lug. Ek onthou dat ek die aand op pad terug na my kantoor ’n oproep van ’n Beeld-joernalis ontvang het. Hy het ook genoem dat iets skort in ons land – dat die spanningsvlakke ondraaglik begin raak het.

Net twee dae later het die bom gebars. Kort na 21:00 op Saterdagaand 3 April 2010 het die eerste onbevestigde berigte begin kom dat die omstrede leier van die AWB, Eugene Terre’blanche wreed op sy plaas naby Ventersdorp vermoor is. Die spanningsvlakke was by kookpunt en die vonke het gevaarlik naby aan die kruitvat gespat. AWB-lede het in Ventersdorp betoog, hulle ou uniforms wat styf gespan het om uitgeswelde middellywe, uitgekrap en vlae rondgeswaai.

Maar ten spyte van die hoogspanning van die tyd, sou redelikheid uiteindelik seëvier.

In die maande wat gevolg het, is die moordverdagtes verhoor, skuldig bevind en gevonnis. Die haatspraak verhoor in die gelykheidshof het in AfriForum en TLU-SA se guns verloop en op advies van die President van die Appèlhof, Regter Lex Mpati het AfriForum, Julius Malema en die ANC met ’n bemiddelingsproses begin wat sou lei tot die finale skikking op ’n wyse dat dit Suid-Afrikaners weer hoop gegee het vir die toekoms.

Die partye het onderneem om nie weer strydliedere te sing wat aanstoot gee nie en om hulle ondersteuners te begelei om ’n pad van wedersydse respek te loop.

April 2015

Die jaar 2015 is ingelui met President Jacob Zuma se gewraakte uitlating dat Suid-Afrika se probleme met die koms van Jan van Riebeeck begin het. Asof dit ’n kodewoord vir ’n nuwe veldtog was, het die sogenaamde Rhodes must fall veldtog in Maart in Kaapstad gevolg. Sedert 6 April het die sporadiese vandalisering van Genl. Louis Botha se standbeeld in Kaapstad, die perdemonument in Port-Elizabeth en helaas Oom Paul op Kerkplein gevolg. Die reaksie wat gevolg het, is byna ’n herhaling van die drama van vyf jaar gelede: AWB uniforms, vlae, kamaste, pistole en plakkate.

Julius Malema en woedende swart jeugdiges aan die een kant. Steve Hofmeyr saam met ewe woedende jong- en ouer Afrikaners aan ander kant en ’n gemeenskap wat weer hoogspanning beleef – en die drama is nog lank nie verby nie.

Maar reeds twee maal, vyf jaar gelede en tien jaar gelede, het die spanning en verset uiteindelik Suid-Afrika as ’n gemeenskap van gemeenskappe versterk. Die Afrikanergemeenskap as ’n gemeenskap wat homself moes herontdek na 1994, het telkens sterker na vore getree, sy burgerlike instellings versterk, sy mense geslyp Om homself as ’n nuwe en unieke faktor in die na-apartheid Suid-Afrika herbevestig.

Op ’n vreemde manier vervul elke uiteenlopende speler in hierdie herhalende sage, ’n unieke maar ook noodsaaklike rol om Suid-Afrika en sy gemeenskappe te slyp vir ’n selfstandige saambestaan met wedersydse erkenning en respek. En te midde van die drama kry die wyse woorde van die Vrystaatse staatsman, Jan Brand, wie se standbeeld (nog) ongeskonde is, nuwe betekenis: “Alles sal regkom as elkeen sy deel doen.”

Tags: , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.