Aspekte van die taak en rol van die kultuurorganisasie met verwysing na J. Lauwers – Evelyn D. Ferreira

In ’n artikel “Verenigingscultuur: de franjes van het leven?”, gepubliseer in ’n bundel onder redakteurskap van H. Arts, Cultuur: dichter bij de mensen?, maak J. Lauwers ’n aantal stellings oor kultuurorganisasies in gemeenskappe. “Franjes” verwys na die tosseltjierand van ’n doilie en met hierdie titel stel hy dus eintlik die vraag na die belang al dan nie van ’n verenigingskultuur aan die orde. Volgens hom is kultuurorganisasies “… de eminente dragers van elke volkscultuur. Ze vormen de kaders waarin een volk zich als een gemeenschap manifesteert, en waarin het zijn cultuur bewaart en beleeft”. Hy gaan verder deur te sê dat kultuurorganisasies “de spiegels van ons verleden en de experimenteerruimtes van vandaag” is en dan maak hy ook die stelling dat dit aan “het modern individu zekerheid en bezieling kunnen verschaffen” (Lauwers 1988:75,77,87). Kortom, vir Lauwers is die taak en rol van die kultuurorganisasie van groot belang.

Vervolgens enkele gedagtes oor Lauwers se sieninge van elemente van die kultuurorganisasie se taak en rol. Sy stelling dat kultuurorganisasies “… eminente dragers van elke volkscultuur” is, impliseer dat ’n kultuurorganisasie gereeld vir homself moet kan afvra of hy inderdaad ’n draer van ’n spesifieke volkskultuur is. Die organisasie moet dus eerstens duidelikheid hê oor die begrip “volk” wat tradisioneel deur historici gekoppel word aan ’n kultuurgemeenskap. In die Suid-Afrikaanse konteks het die begrippe “volk” en “nasie” oor jare debatte opgelewer wat al geyk geraak het en onnodige verwarring by die gewone kultuurdraer skep. Hierdie artikel gaan hom dus nie daarmee bemoei nie. Die begrip “volk” word hier bloot as ’n “kultuurgemeenskap” gedefinieer. Volgens Lauwers sien die kultuurorganisasie sy taak en rol ook as die middel waardeur ’n bepaalde kultuurgemeenskap homself as ’n gemeenskap manifesteer. Dit is dus vir die Afrikaanse kultuurorganisasie om homself af te vra of hy deur sy aktiwiteite die middel tot hierdie doel is.

Lauwers se siening dat ’n kultuurorganisasie die rol het om die spieël van die verlede te wees, beklemtoon natuurlik die kernbelangrike rol van die geskiedenis as deel van die wese van elke kultuurgroep. Hy (die kultuurorganisasie) herinner sy lede voortdurend aan die pad waarlangs hul kultuurgroep gekom het en plaas dit in perspektief ten opsigte van die hede. Sommige Afrikaanse kultuurorganisasies was nog altyd uitgesproke daaroor dat hulle ’n hoë premie plaas op die waardering van en bewusmaking en bemarking van die geskiedenis van byvoorbeeld die Afrikanervolk as kultuurgemeenskap. Vir so ’n organisasie is die kultuurgemeenskap se identiteit onlosmaaklik aan die verlede gekoppel. Erkenning en bewaring van, asook waardering vir die geskiedenis as volkserfenis, is net so waardevol soos die voortgesette ontwikkeling van daardie bepaalde kultuur. Die organisasie se verbintenis tot sy kultuurgroep se geskiedenis sal dan ook ’n belangrike rol in sy aktiwiteite speel. In die proses word die kultuurorganisasie in sy rol as spieël, vir sy lede ’n terugkyk op wat goed, maar ook minder goed was in die verlede. Hopelik kom hy dan daarby uit om Paul Kruger se boodskap aan sy lede oor te dra, naamlik om die toekoms te bou op wat edel en mooi in die verlede was. Dit beteken nie dat die minder goeie dinge uit die verlede ontken word nie, want ook die pynlike dinge uit die verlede bly deel van ’n bepaalde kultuurgroep se geskiedenis.

Maar die suksesvolle kultuurorganisasie is ook toekomsgerig. Met die spieël voor hom, rig hy hom op die toekoms wat voor hom uitstrek. Hy word die draer van die volkskultuur uit die verre verlede die toekoms in en bevestig met nuwe kultuurskeppinge ook sy byderwetsheid. Soos Van Wyk Louw dit stel: “Dit is ’n voorreg waaraan ons nie kan ontvlug nie. Die kern en die bronaar van die kultuur is die vryheid, die vryheid om nuwe waarheid en skoonheid te skep en na nuwe, selfgewonne insig te handel. Die groot, byna onmoontlike taak van ’n kultuurorganisasie is dus om naby die groeipunte van die kultuur te bly; om sy eie starre vorm gedeeltelik te verloën en self iets van die vloeibare van die kultuur aan te neem” (Van Wyk Louw 1970: 8). Elke kultuurdraer het die vryheid om met die kultuur van sy keuse te assosieer en dit doelbewus te bevorder en uit te bou. Geen wonder dat Lauwers die rol en taak van die kultuurorganisasie koppel aan die sekerheid en besieling wat dit aan die moderne individu bied nie. Die mens wil behoort en as ’n kultuurorganisasie vir hom/haar daardie gevoel kan verskaf, beantwoord die organisasie aan sy doel.

’n Ander belangrike stelling van Lauwers is dat die kultuurorganisasie ook ’n “eksperimenteerruimte van vandag” is. Wat sou dit in die konteks van die moderne kultuurorganisasie beteken? Sekerlik nie dat daar met kernwaardes, wat die grondslag van die kultuurorganisasie is, geëksperimenteer kan word nie. Met nuwe kultuurprodukte wel. Dink maar aan musiek, kuns, die letterkunde, ontspanning en vele meer. Die kultuurskepper besluit in elk geval of die eksperiment werk al dan nie, terwyl sy waardestelsel ook ’n rol te speel het. Hierdie “nuwe erfenis” word nou deel van die kumulatiewe volkserfenis. Dit vervang nie die bestaande erfenis nie, want dis juis bestaande erfenis wat sorg vir daardie “sekerheid en besieling” waarna Lauwers verwys.

Vir Afrikaanse kultuurorganisasies in Suid-Afrika kan dit ’n nuttige oefening wees om ’n slag weer sy eie praktyk met die teorie van Lauwers te vergelyk. Anders verval so ’n organisasie in selfgenoegsaamheid of kan hy homself so laat lei deur ander faktore dat hy sy mandaat oorskry. NP van Wyk Louw wys daarop dat ’n organisasie gedurig in botsing sal wees met die groeiende kultuurlewe, “maar die botsing sal minder hewig wees wanneer die organisasie erken dat hy in die lewe van die gees die mindere is, dat hy die middel is en die kultuur die doel” (Van Wyk Louw 1970: 9).

Uiteindelik gaan die taak en rol van die kultuurorganisasie nie in die eerste plek oor sy volhoubaarheid as organisasie nie, maar eerder of hy ’n hawe van “zekerheid en bezieling” vir sy lede is. Gegrond in sy verlede het hy ’n positiewe boodskap van hoop vir die toekoms aan die kultuurgroep waarbinne hy funksioneer. So vervul hy sy rol en taak as kultuurorganisasie en word volhoubaarheid eintlik ’n gegewe omdat mense met sy boodskap assosieer.

 

Bronne:

Arts, H. red. 1988. Cultuur: dichter bij de mensen? Leuven.

Louw, N.P. Van Wyk. 1970. Lojale verset. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.

 

Evelyn D. Ferreira

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.