Belastingstelsel verarm werkendes

Mnr. Trevor Manuel is ’n bekwame en gewilde minister wat die staat se finansies op die oog af goed bestuur. Dit is egter ’n ongelukkige feit dat die Suid-Afrikaanse belastingstelsel besig is om die gemiddelde werknemer en belastingbetaler te verarm. Die probleem is dat die politiek onder die ou én die nuwe regering so oorheers is deur rassekwessies, dat belasting nog nooit ‘n brandpunt op die nasionale agenda geword het nie. Dit het gelei tot ’n algemene onkunde onder belastingbetalers wat getrou werk en belasting betaal omdat hulle voel dat hulle die keiser moet betaal wat hom toekom.

Die wérklike prentjie lyk ongelukkig heeltemal anders. Die gemiddelde werknemer betaal sowat 25% van sy salaris aan direkte belasting en nog omtrent 25% aan indirekte belastings soos BTW, petrolheffings en munisipale regerings. Dis nie al nie. Daarna betaal hy nóg sowat 15% van sy inkomste aan mediese premies, skoolgeld en ander noodsaaklikhede, waarvoor hy in werklikheid rééds deur sy belasting betaal het. Hierdie “dubbele” belasting bring mee dat hy ’n totaal van omtrent 65% van sy inkomste moet spandeer voordat hy kos vir sy kinders kan begin koop! Dit beteken dus dat die gemiddelde werknemer van Maandag tot Woensdag vir die staat werk, Donderdag om vir dienste soos medies en onderwys te betaal waarvoor hy eintlik reeds belasting betaal het, en nét Vrydag oor het om vir sy gesin te probeer sorg. Dit is geen wonder dat net die rykes en die armes (wat toelaes kry) kan bekostig om kinders te kry nie!

Kom ons kyk na die statistiek om die redes vir hierdie verdrukkende stelsel te probeer bepaal. Eerstens die betaalkant. Daar is 47 miljoen mense in die land. Omtrent 8 miljoen mense werk in die formele sektor van die ekonomie, maar net 4,6 miljoen betaal belasting. Dit is 1 uit 11 mense. Die direkte belastinglas is sowat 25%, wat billik met ander lande vergelyk. Sowat 10% van die belastingpligtiges betaal omtrent 50% van die belasting.

Aan die ontvangkant van belasting word die prentjie gedomineer deur ’n massiewe herverdelingsproses, wat grootskaalse hulp aan die armes insluit. Ongeveer 1 uit 4, of ’n kwart van die bevolking, ontvang een of ander vorm van maatskaplike toelaag van die staat af, teenoor die skrale 4% wat hulp kry in vergelykbare lande soos Brasilië of Mexiko. Dit maak van Suid-Afrika die land met die grootste welsynsnet buite Wes-Europa, teen ‘n koste van sowat 15% van die normale staatsuitgawes. Die ontvangers van staatshulp het drasties toegeneem van 2,6 miljoen mense in 1994 tot omtrent 12 miljoen mense wat in die volgende boekjaar toelaes gaan ontvang. Hoe graag mens ook alle armes sou wou help, is hierdie tipe syfers net nie volhoubaar nie.

Daar is ongelukkig ook ‘’n ingeboude rassespanning in die belastingstelsel, omdat die meeste belastingbetalers steeds wit is en die meeste ontvangers van staatshulp swartmense is. Hierdie onderliggende spanning word vererger deur die oorvleueling van rasse- en politieke steunlyne in die land, omdat witmense weens die ANC oormag nie effektiewe inspraak het in hoe hulle swaar verdiende geld spandeer word nie. Die ANC is nie sensitief hiervoor nie, omdat hulle die enigste oorsaak vir swart armoede in die land by historiese beleidsrigtings wat witmense bevoordeel het soek. Hierdie onderliggende spanning kan egter opvlam as Afrikaners voel dat hulle ‘n stelsel wat hulle belange benadeel met hul belastings moet befonds, deurdat die ANC onbillik teen Afrikaans of Afrikaner- groepsbelange diskrimineer. Hierdie tipe spanning word gereeld in moderne demokrasieë opgelos deur aan minderheidsgroepe seggenskap te gee oor sake wat hulle ten nouste raak, soos onderwys en plaaslike regering.

Die probleem met die belastingstelsel is waarskynlik nie dat mense te véél aan direkte belasting betaal nie, maar dat hulle te mín vir hulle geld kry. Waarde vir geld is die kern van die saak. Dit bring die kwessie van die netto belastinglas na vore: dit wat mense betaal aan belasting, minus dit wat hulle vir hulle geld terugkry in die vorm van dienste soos medies, onderwys en veiligheid. Senior ekonome het vir Solidariteit bereken dat die middel en hoër inkomstegroepe se netto belastinglas sedert 1994 met sowat 200% gestyg het! Die rede hiervoor is dat mense belasting betaal teen ‘n koers asof hulle die meeste dienste van die staat af gaan kry, maar dan ekstra vir hulle eie medies, onderwys, veiligheid, elektrisiteit, behuising, pensioen en ander dienste moet betaal. Dit is hoekom mense finansieel swaarkry al kry hulle ’n goeie salaris.

Vanweë die aard van die belastingstelsel dra die gewone middelklas die grootste deel van hierdie netto belastinglas en kan hulle met reg voel dat hulle grootliks die armes moet dra. Dit is ‘n wêreldwye verskynsel dat die gemiddelde werk mense moontlik nie ryk maak nie, maar dat die werkende middelklas terselfdertyd ook nie arm sal wees nie. Dít voorveronderstel egter ‘n belastingstelsel waar die middelklas eers vir die basiese behoeftes van sy eie gesin kan sorg voordat hy belasting aan die staat vir die behoeftes van ander moet betaal. Verder behoort die belastingbetaler self ook waarde vir sy geld te kry in die vorm van gratis onderwys en ander dienste, en behoort hy of sy ook ‘n doeltreffende inspraak in die besteding van sy of haar belastinggeld te hê.

Daarom is dit tyd dat die regering die middelklas nie net soos onderdane wat belasting moet betaal behandel nie, maar soos volwaardige burgers wie se belange net soos die van ander groepe beskerm moet word.

Tags: , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.