Brexit vlek breuk tussen stamme oop – Christoff van Wyk

Brexit NP van Wyk Louw

Foto: Netwerk 24

Al weet ons minister van internasionale verhouding, Maite Nkoana-Mashabane, net van Brexit ‘from the TV’, sal sy vinnig moet opvang, want hierdie historiese gebeurtenis het ’n breuk oopgevlek tussen twee ‘stamme’ wat nog veelvuldige uitwerkings gaan hê, internasionaal, maar ook spesifiek vir Suid-Afrika.

Ross Douthat skryf, na aanleiding van Brexit en die Trump-verskynsel, in sy artikel The Myth of Cosmopolitanism die volgende: “From now on the loyalties that matter will be narrowly tribal — Make America Great Again, this blessed plot, this earth, this realm, this England — or multicultural and cosmopolitan.”

Brexit en Trumpism is werklik besig om ’n baie interessante internasionale breuk te bewerkstellig of ten minste uit te lig tussen sogenaamde ‘nasionalisme en internasionalisme’. Tussen ’n groep, of ‘stam’ wat die lokale, plaaslike gemeenskapsidee aanhang en ’n sogenaamde elite groep wat ontwortel geraak het van die plaaslike en nou binne ’n ‘verhewe’ internasionale, identiteitlose en staatlose ruimte funksioneer. Daar is egter twee groot verskille tussen die groepe. Die kosmopolitaanse, internasionalistiese groep kan nie insien dat hul optrede al hoe meer dié van ’n stam verteenwoordig nie. En dat hulle deur hul sienswyse en gepaardgaande gedrag, enige persoon of groep wat hiervan verskil as die dom barbare van ouds afmaak wat op die vlakte en in die buitewyke woon. Hulle besef nie dat hulle toenemend die beeld uitstraal van ’n klas wat hulself die reg toegeëien het om oor almal te regeer nie.

Om hierdie punt nog verder te bevestig, kyk gerus na die onderhoude wat CNN se Christiane Amanpour gehad het met van die politici wat die ‘Uit’-veldtog in Brittanje gelei het. Amanpour is volgens Rod Dreher se artikel in The American Conservative getiteld Cultured Hicks, die toonbeeld van die “… stateless, rootless, global-citizen”.

In een van die onderhoude wat sy voer met Brittanje se minister van buitelandse sake, Philip Hammond (’n ‘Bly’-ondersteuner), raak sy verskriklik opgewerk oor die uitkoms van die Britse referendum en dring daarop aan dat hy ’n verduideliking moet gee oor hoekom die Britse eerste minister so iets kon toelaat. Hammond probeer dan verduidelik dat die referendum ’n demokratiese besluit was deur die mense van Brittanje, ’n begrip wat duidelik verlore is op Amanpour. Dreher merk dan ook tereg die volgende op: “What’s so fascinating about that exchange is that it never seems to have occurred to Amanpour that the people should have a say in the way they are governed in their own country.”

Hoe resoneer hierdie laaste gedagte nie met ons in Suid-Afrika nie? Die onlangse besluit van die ANC om ’n ‘buitestander’, Thoko Didiza, te benoem  as burgemeesterskandidaat vir Pretoria het in totale chaos ontaard. Die redes wat aangevoer word vir hierdie betogings en onluste is onder andere dat die township-gemeenskappe in en om Pretoria nie geken was in hierdie besluit nie, en ook die feit dat Didiza ’n Zulu is. Een taxibestuurder in Atteridgeville het dit baie taktvol gestel toe hy aan ’n verslaggewer gesê het: “Die ANC kan nie ’n Zulu-persoon bring om oor Pedi, Tsonga, Shangaan en Vendas te regeer nie.”

Daar is natuurlik ’n diep frustrasie hierin opgesluit met afwesige leiers wat kontak verloor het met hul gemeenskappe en teen alle wil en dank voortstoom met hul eie agendas, oftewel die agendas wat aan hulle voorgeskryf word.

NP van Wyk Louw skryf baie insiggewend, in ag genome dat dit 1946 was, die volgende: “Die taak van die liberale denke in Suid-Afrika is om ’n toekomsbeleid te ontwerp wat aan die groot liberale beginsels van Europa sal vashou, maar wat geen ‘onreg’ in ons multi-nasionale staat as eis voorop sal stel nie; miskien selfs die konstruksie van ’n staatsvorm wat in Europa onbekend is – as dit daarop aankom, die totale omskepping van die kunsmatige Suid-Afrikaanse ‘Unie’.” (“Vegparty of polemiek?”, VPI p. 506).

Dit wil voorkom asof ons die boot gemis het en nie werklik in ons denke in staat was om hierdie nuwe staatsvorm wat moontlik ’n totale omskepping van die kunsmatige Suid-Afrikaanse ‘Unie’ kon inhou, te bedink wat nog te sê bewerkstellig nie. In hierdie opsig kan dit wel wees dat die nuwe winde van verandering in Europa, ook wel Suid-Afrika sal bereik binne die volgende paar jaar, en die groot vraag sal dan wees, hoe gaan hierdie stamverdeling ons plaaslike orde beïnvloed.

Onderstrominge van ’n Wes-Kaap wat kan afstig, kom al hoe meer na die oppervlak en swaargewig politieke ontleders soos RW Johnson skryf baie volledig oor hierdie onderwerp in Politicsweb  in ’n artikel getiteld An independent Western Cape?.

In aansluiting hierby, skryf Frans Cronje van die SAIRV in Rapport van 3 Julie 2016: “Namate die ANC verder destabiliseer, moet ’n mens op die uitkyk wees vir ’n herlewing van Zoeloe-nasionalisme – wat selfs kan lei tot eise vir onafhanklikheid. Sodanige oproepe sal soortgelyke eise oor die Wes-Kaap versterk.”

Cronje skryf dan ook verder: “Etniese spanning sal baie belangriker as rassespanning wees in toekomstige Suid-Afrikaanse politiek.”

Is die dae van die sterk, sentralistiese staat getel? Nee, nog lank nie, inteendeel die staat sal  nog lank met ons wees. Maar die uitdaging wat ons in die gesig staar, is om die alternatief vir ’n sentralistiese staat daar te stel. Daar kan tereg opgemerk word dat die moderne sentralistiese staat meestal bestaan uit lede van die ‘elite’, kosmopolitiese stam wat hulself opwerk in magsposisies, en op grond van hul denkwyse ook baie maklik opgeneem word in hierdie bestel.

Daarteenoor staan die gemeenskap wat gesien kan word as die ‘stam’ wat die lokale, plaaslike tradisie voorstaan. Die spanning tussen hierdie twee stamme word juis veroorsaak deur die sentralistiese staat wat die gemeenskap se inset en aandeel aan die besluitneming van gemene sake ontken.

Juis hierin ontstaan die gemeenskap se behoefte na selfstandigheid. ’n Behoefte waarvoor daar duidelik geen begrip is onder die internasionaliste nie, maar wat onlangs, soos ’n vuishou, vierkantig op die wêreldagenda geplaas is.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.