Britte verlaat die Europese Unie – Victor Correia (Aros)

NP van Wyk Louw Brexit

 

Inleiding
Op 23 Junie 2016 het Brittanje uit die Europese Unie getree. Die skommeling in die geldmarkte het aangedui dat die uitslag onverwags en selfs vir baie ongewens was. Dit is vir ons van belang om te weet hoe die gebeure ons raak. Hoewel dit op die oog af mag lyk of daar nie ’n duidelike verband is tussen die Britte wat die Europese Unie verlaat het en ons in Suid-Afrika nie, is daar wel raakpunte waaroor ons kan besin. Daar is iets wat ons kan leer uit die Britse uittog.

 
Reaksie
Voordat ons by die punt uitkom, laat ons net kortliks na die reaksie van ander lande oor die Britte se besluit stilstaan. Angela Merkel meen dat Brexit ’n keerpunt kan wees vir die Europese Unie: “Let’s not beat around the bush: Today marks a watershed for Europe”. Tog maan Merkel vir kalmte, omdat sy as leier weet dat die besluit van Brittanje moontlik ’n rimpeleffek kan hê wat uitkring na ander lande wat die Europese Projek in twyfel trek.

Skotland wat gestem het om in die Europese Unie te bly, moet nou saam met ander lidlande van die Verenigde Koninkryk die Europese Unie verlaat. Die Skotte sal nou moontlik ’n tweede referendum wil hou om weg te breek van die Verenigde Koninkryk met die doel om daarna hul lidmaatskap van die Europese Unie voort te sit. Dit blyk dat die Skotte se beweegredes hoofsaaklik ekonomies is.

Die vrees bestaan dat die Britte se uittog ’n kettingreaksie kan veroorsaak waar ander Europese lidlande ook vir referendums aanvra. Front Nasionaal se leier Marine le Pen het reeds vir ’n Franse referendum (Frexit) oor lidmaatskap aan die EU aangevra. Waarom is leiers in Europa so besorg oor een lidland van die Europese Unie wat besluit het om dit te verlaat? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers na die geskiedenis van die Europese Unie kyk.

 
Geskiedenis
Die Europese Unie het na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan met die doel om te sorg dat daar nie weer so bloedige oorlog tussen die onderskeie Europese lande ontstaan nie. Die eerste ses lidlande was België, Frankryk, Duitsland, Italië, Luxemburg en Nederland. Die doel van die unie was om vrede tussen lidlande te bevorder, maar ook om na die verwoestende oorlog te help om ekonomiese bande te verstewig en om handel tussen lande te bespoedig. In 1957 is die Verdrag van Rome gesluit met die doel om ’n algemene Europese mark daar te stel.

Die Schengen-ooreenkoms wat in 1995 tot stand gekom het, het dit moontlik gemaak om tussen al die lidlande van die Europese Unie te beweeg sonder ’n paspoort. ’n Verdere verwikkeling was die Euro geldeenheid wat sedert die begin van die millennium in gebruik geneem is. Verskeie ander verdrae is ook geteken met die doel om die Europese Projek te bevorder. Tot en met Brittanje se uittrede het die unie gegroei tot 28 lidlande.

Die afgelope jare was daar egter verskeie kwessies wat dit vir lidlande al hoe moeiliker begin maak het om oor die sake wat vir hul eie mense belangrik is te besluit. Een van die redes hiervoor was dat daar in die vorm van die Europese Parlement ’n wetgewende liggaam geskep is wat regering nog een stap verder van die man op straat geneem het.

Die Europese Unie wat die doel van vrede en ekonomiese groei gehad het, word op dié stadium onder geweldige druk geplaas. Die vrye toegang wat deel is van die Shengen-ooreenkoms word deur ISIS-ekstremiste misbruik om vrees by Europeërs in te boesem. Die ekonomiese krisis wat in 2008 ontstaan het in Banksektor, het dit aan die lig gebring dat verskeie Europese lidlande nie hul skuld kan terugbetaal nie. Dus bring lidmaatskap van die EU nie meer die voordele wat oorspronklik deur die unie beoog is nie. Dit verwonder ’n mens nie dat daar in Brittanje verset teen lidmaatskap van die Europese Unie gekom het nie.

 

Britse verset
In 2011 word die leier van die Konserwatiewe Party David Cameron deur 81 van sy eie party se lede gedwing om ’n referendum vir Britse onafhanklikheid te hou. Cameron het uit sy weg uit probeer gaan om met die Europese Unie te onderhandel en om die “Bly veldtog” meer stukrag te gee. Hy het lank die referendum uitgestel en na dit onafwendbaar geword het vir 9 maande na verskeie lidlande van die Europese Unie gereis met die doel om die “Bly veldtog” meer stukrag te gee. Tog kon Cameron (wat nou bedank het) die saak wat aangeroer was nie stop nie.

Die saak van Britse onafhanklikheid is gedryf deur ’n party met die naam van UKIP (United Independent Party) en is later meer stukrag gegee deur Boris Johnson van die Konserwatiewe Party. Nigel Farage, die leier van UKIP, beskou die uitslag van die referendum van 23 Junie as ’n oorwinning vir doodgewone Britte. Ten spyte van geweldig baie politiekery en vrees vir verarming wat deur die “Bly veldtog” aangeblaas is, het die waarheid in die veldtog uiteindelik oorwin. Die waarheid wat gewone Britte aan die lig wou bring, is dat hulle wel bedreig voel deur die vloedgolf van onbeheerde immigrasie en dat hulle hul eie identiteit as Britte wil beskerm selfs ten koste van tydelike ekonomiese agteruitgang.

 
Onbeheerde immigrasie
Een van die hoofkwessies wat gelei het tot die Britte se besluit om uit die Europese Unie te tree, is onbeheerde immigrasie. In 2015 het ongeveer ’n miljoen immigrante Europa binnegestroom. Angela Merkel het hulle met ope arms na Duitsland genooi. Merkel se Willkommen het die res van Europa nie onaangeraak gelaat nie. Die Schengen-ooreenkoms met ander lidlande van die EU bring mee dat die vlugtelinge vrye toegang tot ander lande in Europa kan verkry. Wat die situasie nog vererger, is dat onlangs bevind is dat ISIS-vegters tussen die groep immigrante Europa binnestroom het. Na die onlangse terreuraanvalle in Parys, Brussels en Orlando is dit verstaanbaar dat die Britte wat besorg is oor hul eie veiligheid weer beheer oor hul eie grense wou neem. Farage het keer op keer opgemerk dat dit nie moontlik is om beheer oor ’n land se eie grense te neem terwyl ’n land deel van die Europese Unie is nie. Die Britte het geluister.

 
Rimpeleffek na buite
Dit mag verwag word dat die idee van vrye beweging tussen lidlande van die Europese Unie in die toekoms al hoe meer onder druk sal kom. Die probleem is egter nie net beperk tot Europa nie, maar word wêreldwyd ervaar. Een van die redes waarom Donald Trump vermoedelik so goed vaar, is sy sterk standpunt oor die beheer van immigrasie in Amerika.

 
Samevatting
Die een ding wat ons kan leer uit Brittanje se uitstem, is dat daar wêreldwyd ’n dieper besef vir groepsidentiteit na vore kom. Die besef word aangedryf deur onbeheerde immigrasie in ’n eeu van globalisme. Dit is ironies dat Brittanje wat histories binne die liberale tradisie staan, wat die regte van die individue vooropstel, nou tot die besef gekom het dat groepsidentiteit ’n groter rol moet speel in die toekoms. Dit blyk verder dat die oorspronklike doelwitte van die Europese Projek deur die bedrywighede van ISIS in die wiele gery word. Vrye toegang vir lede van die Europese Unie word deur hulle misbruik om terreurdade in lidlande van die EU te pleeg. Die enigste manier om die terroriste te keer, blyk te wees om uit die EU te tree, sodat Brittanje weer beheer oor hul eie grense kan neem.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.