Cyril Ramaphosa: Ridder of Rower? – Flip Buys

President Nelson Mandela tydens die ondertekening van die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet. Langs hom, ANC sekretaris-generaal Cyril Ramaphosa met ‘n kopie van die grondwet in sy hand – Foto: Robbie Botha


President Cyril Ramaphosa se verkiesing het aanvanklik ’n gees van optimisme oor ’n vuisvoos land laat posvat. ’n Publiek wat lewensmoeg was van die daaglikse dosis Zuma-skandale en wanbestuur, het hom gesien as die Ridder op die wit perd wat die bose draak se kop afgekap en Prinses SA gered het. Maar die wonderlike wittebrood het ’n week later op ’n hardhandige egskeiding uitgeloop, toe die Ridder en sy onderdane begin dreig het om die prinses te mishandel en haar hardverdiende juwele sonder vergoeding te beroof. Die verwarde mensdom wonder nou of die nuwe president nou Ridder of eintlik weer ’n Rower is?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet mens kyk na die oorspronklike konflik tussen die ANC se vorige twee top leiers, President Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa. Daar is min getuienis dat die spanning tussen die twee fundamenteel oor beleid gegaan het. Wat duidelik geword het, is dat mnr. Ramaphosa sterk daaroor gevoel het dat mnr. Zuma die ANC en die land vir sy eie doeleindes gekaap en misbruik het, en dat sy korrupsie en wanbestuur Suid-Afrika tot op die rand van die afgrond gesleep het. Ramaphosa het geweet dat die grondwet ’n geweldige magskonsentrasie om topmense aan te stel in Zuma as president se hande geplaas het. Nie net stel die president die hoofde van die Weermag, polisie, staatsdepartemente, openbare beskermer, die openbare vervolger, ministers en talle ander in die regering aan nie, maar het hy ook ’n belangrike inspraak in die aanstelling van die hoofde van die land se 715 openbare ondernemings soos Eskom en die SAA. Dit het Zuma in staat gestel om die land deur sy aanstellings i.p.v. sy instellings te regeer.

Biljoen rand

Hierdie netwerk van wedersydse bevoordeling en beskerming het die land straffeloos geplunder en ’n groot rol gespeel in die verval van baie openbare instellings. Die hoofekonoom van Standerd Bank het bereken dat die laaste 7 jaar van die Zuma-administrasie die land een biljoen rand en ’n miljoen werksgeleenthede gekos het, en dat die staatskas net in die vorige belastingjaar hierdeur sowat R300 miljard gekos het. Hierdie en ander skades en skandale het tot ’n opstand in die ANC gelei wat tot Ramaphosa se naelskraapse oorwinning in Desember uitgeloop het.

Rewolusie

Die konflik in die ANC was dus nie oor die party se fundamentele beleid nie, maar oor Zuma se kaping van die staat vir sy korrupte doelwitte. Daar is nie ’n merkbare verskil tussen die twee kampe oor die grondliggende ideologie en beleid van die party nie. Ramaphosa het in sy staatsrede die kern van die ANC se beleid weereens onderstreep, naamlik die politieke en ekonomiese bevryding van die Afrikane in die besonder en van swartmense in die algemeen. Daar is ook eenstemmigheid oor die strategie om dit te bereik, naamlik radikale sosio-ekonomiese transformasie ter uitvoering van die ANC se Nasionaal-demokratiese rewolusie, beter bekend as die NDR.

Dit word al duideliker dat die ANC rondom die 1994-onderhandelings toegewings gemaak het om die mag te kry, en dat hul nou die mag gebruik om hulle oorspronklike doelwitte te verwerklik. Daardie doelwitte het hulle al die jare in twee fases uitgespel. Die politieke mag moet eers bekom word deur magsoorname in ’n demokratiese verkiesing, waarna die mag gebruik moet word om ekonomiese sosialisme in te stel.

Van BEE na GEE tot VAT

Mnr. Ramaphosa het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van beleid vir swart ekonomiese bemagtiging. Die kern van hierdie beleid is nie die noodsaaklike ontwikkeling en ondersteuning van swart ondernemerskap en ekonomiese groei nie, maar die oordrag van groot dele van “wit” besighede se eienaarskap aan swart magnate. Die probleem daarmee is dat dit meestal nie nuwe welvaart en werk skep nie, maar bloot die herverdeling van die bestaande koek is. Dit behels gewoonlik die verwatering van die aandeelhouding van maatskappye, wat in die praktyk beteken dat die geld van arm werkendes en pensioenarisse geneem word en aan ryk bemagtigingsmagnate oorgedra word. In die praktyk verryk die polities gekoppelde swart elite hulself in die naam van die arm massas. Dit gebeur deur regmatige kommer oor swart armoede te gebruik om BEE in die vorm van GEE te regverdig, hoewel dit nie die massa se armoede verlig nie, maar dit selfs kan vererger deur  hulle pensioene te verwater of hulle dienste te verswak.

Maar dit het nie by “GEE” alleen gebly nie, met die parlementêre besluit oor onteiening sonder vergoeding beweeg dit nou na “VAT”. Dit kom neer op konfiskering oftewel diefstal, en behels ’n terugkeer na die ANC se sosialistiese wortels, omdat Karl Marx gesê het dat sy beleid neerkom op ’n verbod op eiendomsreg omdat dit ongelykheid bevorder.

Kettingreaksie

Ramaphosa se poging om mense gerus te stel deur te sê dat dit nie voedselsekerheid of die ekonomie moet benadeel nie, en dat dit nie ’n “gryp en vat”-proses sal behels nie, oortuig ongelukkig nie. Eiendomsreg is die pilaar waarop enige ekonomie berus, en die verwatering daarvan lei onvermydelik tot ’n kettingreaksie wat die hele land sal benadeel. In Zimbabwe het die aantasting van ’n betreklik klein groepie boere tot ’n inflasiekoers van miljoene persent en ’n werkloosheid van sowat 90% gelei. Mnr. Ramaphosa se politieke aanval op eiendomsreg skep verwagtings waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie. Hy moet verantwoordelikheid aanvaar vir die naweek se onwettige grondgrype, want dit is die gevolg van die verwagtings wat die ANC se beleid geskep het. Dit is skynheilig om dit nou te ontken en te veroordeel, omdat sy beleid hierdie kettingreaksie ontketen het.

President Ramaphosa is ’n goed opgeleide en hoogs ervare politikus, met ’n deeglike begrip van die ekonomie en die regstelsel. Anders as sy voorganger, is hy ’n moderne mens wat nie in die tradisionele era vasgevang is nie. Hy moet weet dat hoewel hierdie beleid se bedoeling anti-wit is, die gevolge ook anti-swart gaan wees. Die beleid om grond te konfiskeer, het in Zimbabwe tot groot swart armoede gelei, omdat die meeste wittes daarin kon slaag om met hul kundigheid en ondernemerskap weer ’n nuwe begin te maak. Kom ons hoop dat mnr. Ramaphosa betyds sal besin, anders sal hy in die geskiedenis nie bekendstaan as die ridder wat die land gered het nie, maar as die rower wat deur die “wettiging” van die diefstal van eiendomsreg die land en al sy mense ten gronde gerig het.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.