Dekolonialisering orals! Behalwe Engels, net nie Engels nie! – Prof. Jaap Steyn

Taalmonument – Paarl

Die meeste Suid-Afrikaners wil ontslae raak van alles wat iets te make het met kolonialisme. Monumente en standbeelde word gevandaliseer, plekname gewysig, nuwe leerplanne vir skole en universiteite bepleit. Die geskiedenis is en word herskryf en die nalatenskap van kolonialisme veroordeel.


Die meeste Suid-Afrikaners wil ontslae raak van alles wat iets te make het met kolonialisme. Monumente en standbeelde word gevandaliseer, plekname gewysig, nuwe leerplanne vir skole en universiteite bepleit. Die geskiedenis is en word herskryf en die nalatenskap van kolonialisme veroordeel.

Die politieke debat hieroor ken geen nuanses nie; daar is net reg of verkeerd. Al die gedoentes oor Helen Zille se berugte twiet toon hoe onverdraagsaam en eensydig die openbare gesprek en geskreeu hieroor is.

En tog bly een koloniale erfenis onaantasbaar. Dit is die tale van die gewese koloniale heersers. Die tale van die groot koloniale moondhede is veral in Afrika die vernaamste onderwys- en amptelike tale van die gewese kolonies.

In lande met ’n groot verskeidenheid stamme, volkere en tale is ’n bindingstaal ’n belangrike nasiebouer. Die gemeenskaplike gebruik van Engels in gewese Engelse kolonies help dat die weermag, staatsdiens en ander instellings behoorlik funksioneer omdat die werk gedoen word deur mense wat verskeie tale as moedertaal besig. Daarby was die koloniale tale soos Engels en Frans die skepper van ’n gemeenskaplike politieke bewussyn by die intellektuele in die eertydse kolonies.

Ook in Suid-Afrika geniet die taal van die koloniale veroweraar van weleer tans ’n aansien en mag wat dit nog nooit voorheen gehad het nie. Ouers en leerlinge verkies om so gou as moontlik Engels te bemeester. Dit is die taal wat noodsaaklik is vir vordering in die openbare lewe. Die kind moet so vroeg as moontlik as ’t ware van sy moedertaal gespeen word en onderrig ontvang deur middel van Engels.

Dit blyk onder meer uit ’n uitspraak van ’n vooraanstaande ANC-politikus, dr. Naledi Pandor, ’n paar jaar gelede. Sy was toe minister van onderwys en het in 2004 in die parlement die belangrikheid van moedertaalonderwys erken, maar aangekondig dat die regering in die toekoms net bereid sal wees om dit tot op graad 3 toe te pas. Die doel van moedertaalonderrig is nie om die inheemse tale te bevorder nie, maar om leerders voor te berei “to use English as a language of teaching and learning beyond the three years of schooling”. (Sy is aangehaal deur Pieter Kapp in Draer van ’n droom, bl. 353.)

Dit is byna of die moedertaal ’n euwel is waarvan die gemeenskap so gou moontlik ontslae moet raak. Maar hierdie benadering lei daartoe dat Suid-Afrikaanse leerders swak presteer, onder meer in wiskunde en natuurwetenskappe.

Slegs in enkele gewese kolonies het die gemeenskappe die moeite gedoen om hul tale tot volwaardige kultuurtale en dus ook wetenskapstale op te bou. Hierdie tale is Indonesies, Hebreeus, Hindi en Afrikaans.

Reeds onder die Britse bewind het Afrikaners hul taal vir die onderwys ontwikkel. Die argumente wat ds. SJ du Toit in die 1870’s daarvoor gebruik het, kon net so goed uit UNESCO se beroemde verklaring oor die gebruik van die volkstale in die onderwys gekom het. Ná die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) het die leiers van die gewese republieke van die Vrystaat en Transvaal ’n verbete stryd aangeknoop om van hul eie taal een van die onderrigtale op skool te maak. Die nuwe heersers wou slegs Engels as skooltaal hê.

Nadat Suid-Afrika van die Britse koloniale heerskappy bevry is, is Afrikaans stadig maar seker ingevoer as voertaal aan verskeie universiteite. Die ontwikkeling van Afrikaans as skool- en universiteitstaal was een van die belangrikste dade van dekolonisering wat in Afrika plaasgevind het.

Dit word egter tans tot niet gemaak juis deur mense wat hulleself beskou as stryders teen kolonialisme. Aan die histories Afrikaanse universiteite is Afrikaans in die afgelope paar jaar afgeskaf of word dit as voertaal uitgefaseer. Dit word onder allerlei voorwendsels gedoen.

Aan die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat was ’n argument teen Afrikaans die volgende: Afrikaanssprekende studente word bevoordeel omdat hulle in hul moedertaal onderrig is en swart studente nie. Om die “speelveld gelyk te maak”, moet Engels die enigste voertaal vir almal word.

Dit is bitter ironies. Pogings is sedert die 1950’s aangewend om moedertaalonderrig in die swart onderwys te bevorder, maar daar was groot teenkanting van swart mense. Een van die redes van verset teen die Wet op Bantoe-onderwys van 1953 was dat dit moedertaalonderwys vir swart leerlinge verpligtend gemaak het.

Die beleid is bepaal deur die Eiselen-verslag. Dr. WWM Eiselen was die voorsitter van die “Naturelle-onderwyskommissie” wat aanbeveel het dat “die algemeen erkende beginsel, nl. die gebruik van die taal wat die kind die beste verstaan (die moedertaal), as medium, ook in Bantoe-onderwys, moet geld”.

Die regering het die Eiselen-aanbevelings hieroor ten volle aanvaar. Skole moes die moedertaal as medium uitbrei van standerd 3 (tans graad 5) in 1956 tot standerd 6 (graad 8) in 1959. Toe is die eksamen vir die eerste keer geskryf in een van die inheemse tale pleks van Engels.

Die onderskeie taalkomitees van die Bantoetaalkommissie van die eertydse departement van Bantoe-onderwys het ’n belangrike bydrae gelewer tot die vasstelling van die ortografie van dié tale, die terminologie van die skoolleerplanne, onderwysregulasies en soms die skryf van handboeke.

Volgens ’n kenner, KB Hartshorne, was die taalmediumbeleid vanaf die 1950’s tot by 1976 die oorheersende faktor in die teenkanting teen die stelsel van “Bantoe-onderwys”. “African opinion never became reconciled with the extension of mother tongue medium beyond Std 2, nor to the dual medium policy in the secondary school.”

Die “dual medium” waarna Hartshorne verwys, was die beleid dat die helfte van die nie-taalvakke in swart hoërskole in Afrikaans en die ander helfte in Engels onderrig word. Jare lank het die swart skole verlof gekry om alle vakke deur medium van Engels te gee, maar sedert 1974 het amptenare en inspekteurs verlof begin weier. Die teenkanting teen die toepassing van die beleid is ongelukkig geïgnoreer. Afrikaans kon op dié wyse die vonk in die kruitvat word. Die opstand teen apartheid kon dus aan Afrikaans vasgeknoop word – iets wat die taal tot vandag toe stigmatiseer.

Maar daarby het moedertaalonderrig in swart skole ná 1976 afgeneem, ook in die gewese tuislande. In die meeste tuislande was die betrokke moedertaal die voertaal tot graad 4, en daarna Engels. Die Afrikataal was wel ‘n verpligte vak van die eerste tot die twaalfde skooljaar.

Afrikaans – wat in Suid-Afrika ontstaan het en dus ’n inheemse taal is – het in 1925 een van die amptelike tale van Suid-Afrika geword. Die destydse tuislandbeleid was so oorskadu deur apartheid dat die idealistiese oogmerke daarvan dikwels misgekyk word. Dit was om ook aan die ander inheemse tale amptelike erkenning te gee, al was dit dan streeksgewys.

Die vier tuisland-republieke het die volgende amptelike tale gehad: Transkei: Xhosa, met Suid-Sotho, Engels en Afrikaans as toelaatbare tale (wat vir amptelike doeleindes gebruik mag word); Bophuthatswana: Tswana, Engels en Afrikaans; Venda: Venda, met Engels en Afrikaans as toelaatbare tale; Ciskei: Xhosa en Engels. In die sogenaamde “nasionale state” het die ander tale erkenning gekry.

Die eie taal is veral gebruik vir mondelinge kommunikasie met die publiek, vir informele kommunikasie tussen die amptenare en vir die vertaling van wette. Dit was ook van ’n besondere simboliese waarde. Engels is vir skriftelike kommunikasie gebruik en vir mondelinge informele (en soms formele) kommunikasie tussen die amptenare. Afrikaans en ander tale se rol was veel kleiner. Wette is dikwels in Afrikaans vertaal en dit is gebruik vir kommunikasie met Afrikaanssprekendes.

Wat die uitsaaiwese betref, het die SAUK van die begin van 1962 af met volwaardige dienste in Zoeloe en die drie Sotho-tale begin, en kort daarna ook in Xhosa, Venda en Tsonga. Wat dit moontlik help maak het, was die FM-diens wat in daardie jaar ingestel is, asook die koms van die transistorradio aan die einde van die 1950’s.

Suid-Afrika het in Januarie 1976 ’n televisiediens gekry, wat aanvanklik net in Afrikaans en Engels aangebied is. Van 31 Desember 1981 af het Zoeloe en Xhosa een kanaal gekry en die Sotho-tale ’n ander. Saam met dié tale was daar soms ook Engels.

Weens die ANC se voorkeur vir Engels is dit tans die ankertaal van SABCTV. Media Monitoring Africa het in 2012 vasgestel dat 76% van die SABC se TV-uitsendings in Engels is, 6% in Afrikaans en 5% in Zoeloe. Die res van die tale kry almal onder 5%. Die gewese koloniale taal kry dus die voorkeur en die inheemse tale word afgeskeep.


Jaap Steyn is die skrywer van ‘Ons gaan ’n taal maak’. Afrikaans sedert die Patriot-jare, wat in 2014 by Kraal-Uitgewers verskyn het.


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.