‘Foute in UV se hersiene taalbeleid’

deur Prof Hennie van Coller

800px-Main_Building,_University_of_the_Orange_Free_State,_Bloemfontein,_South-Africa_-xs1

 


Op 6 Junie (2015) se UV-raadsvergadering gee die raad ’n mandaat dat die taalbeleid van die universiteit hersien moet word. ’n Komitee (die talekomitee van die uitvoerende komitee) word saamgestel. Die name van die lede van dié komitee word nooit bekend gemaak nie en is selfs nou nog nooit in die openbare pers genoem nie.

Die kernkomitee het bestaan uit 11 lede van wie die meerderheid hulle reeds vooraf in die openbaar en boonop herhaaldelik ten gunste van Engels as die enigste (nagraadse) onderrigtaal uitgespreek het en dikwels (soos in die geval van die voorsitter, me. Dionne­ van Reenen, en dr. Munene Mwanike) ook fel anti-Afrikaans was. Prof. Angelique van Niekerk (departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans) en dr. Johann Rousseau (filosofie) sou waarskynlik die enigstes wees wat beskou sou kon word as onomwonde pro-Afrikaans of beter gestel: pro-meertaligheid. Dié genoemde twee persone was ook later verantwoordelik vir wat dikwels (verkeerdelik) bekend gestaan het as die “minderheidsverslag”. Van Reenen (van die instituut vir versoening en maatskaplike geregtigheid) het ’n magistergraad in filosofie, geen bewese kundigheid wat betref taalpolitiek en -beplanning nie, is Engelssprekend en uitgesproke ten gunste van Engels as onderrigtaal. Vermoedelik is dit weens ontevredenheid oor haar bekwaamheid dat dr. Liz Lange (vise-rektor en voorsitter van die advieskomitee) al hoe meer vergaderings begin bywoon het en feitlik die voorsitterskap oorgeneem het.

Die uitgebreide (advies-)komitee (met sy “ex officio members”) is saamgestel uit lede van verskeie fakulteite en belangegroepe (soos die vakbonde), maar hulle het nie stemreg gehad nie. Opvallend was dat verskeie van die fakulteitsverteenwoordigers relatiewe juniors was. Ook dié lede se voorkeur was van meet af aan Engels, met die Engels-eentalige Lange as dryfkrag.

Probleme met proses

Die omvattende proses vir die inwin van opinies en data het ook probleme opgelewer. Aanvanklik is gesê dat daar voldoende tyd vir besprekings sou wees; tog is die proses uiteindelik verhaas met duidelike keertye. Kwalitatiewe onderhoude wat in die vooruitsig gestel is, het ook nooit plaasgevind nie. Daar is telkens aan die komiteelede gesê wye ontevredenheid bestaan onder studente oor die parallelmediumonderrig-beleid, maar ván die feite (dat tutoriale en praktika hoofsaaklik in Afrikaans aangebied is) was foutief. Belangrik was egter dat die uitslae van die meningsopnames (onder leiding van die onafhanklike verkiesingskomitee) nooit aan komiteelede beskikbaar gestel is nie.

Lede van die talekomitee 

  •  Me. Dionne van Reenen (voorsitter, verbonde aan die Instituut vir Versoening   en Sosiale Geregtigheid)
  • Prof. Loyiso Jita (fakulteit opvoedkunde)
  •  Dr. Munene Mwaniki (departement linguistiek en taalpraktyk)
  •   Dr. Johann Rossouw (departement filosofie). Bedank uit protes.
  •  Prof. Angelique van Niekerk (departement Afrikaans en Nederlands, Duits en    Frans). Bedank uit protes.
  • Dr. Kudzayi Ngara (departement Engels, Qwaqwa-kampus)
  • Mnr. Francois Marais (Suid-kampus en sentrum vir onderrig en leer (CTL))
  • Prof. Arlys van Wyk (CTL)
  • Dr. Elias Malete (departement van Afrikatale)
  • Me. Mosa Leteane (Studenteraad)
  • Me. Cornelia Faasen (Studente­sake)

Op 29 Oktober verneem die komitee dat ’n voorlopige verslag geskryf moet word. Wat bekend staan as die “minority report” was ’n opdrag (in ’n laat stadium) aan Van Niekerk en Rossouw om ’n verslag te skryf oor Afrikaans as inheemse taal, maar ook oor sy sogenaamde “rassistiese” verlede. Op 12 November word ’n vergadering gehou om ’n konsensus-besluit te formuleer. Die verslag van Van Niekerk en Rossouw het nie deel uitgemaak van die uiteindelike verslag nie omdat dit volgens Lange bedoel was as ’n voorlegging aan die komitee met ’n duidelike fokus en uiteindelik ’n persoonlike taalsiening geraak het.

Vir die raadsvergadering op 4 Desember het prof. Jonathan Jansen as voorsitter van die UV se bestuurskomitee ’n lywige stuk aan die raad voorgelê met die versoek dat die raad die belangrikste aanbevelings van die talekomitee moet bespreek, die besluite van die uitvoerende komitee van die senaat moet oorweeg, die senaat se mening moet oorweeg, die belangrikste aanbevelings van die bestuurskomitee moet aanvaar (dit is die gewysigde verslag van die talekomitee) én die UV die reg moet verleen om die aanbevelings te vervat in ’n nuwe taalbeleid wat in 2016 aan die raad en die uitvoerende komitee van die raad voorgelê sal word. Dié proses sal dus in 2016 voltooi word. Hoe die komitee gaan lyk aan wie die opdrag gegee gaan word, is nog onseker omdat twee lede van die talekomitee, Van Niekerk en Rossouw, uit protes bedank het.

Slegs riglyne

Die aanbevelings van die UV-raad dra nie die status van ’n taalbeleid nie. Hulle gee slegs die riglyne waaraan die nuwe taalbeleid moet voldoen.

  • Engels moet die “primêre ­medium van onderrig” wees.
  • Veeltaligheid word beklemtoon.
  • Op eerstejaarsvlak moet ’n ondersteunende tutoriaalstelsel ingestel word om die oorgang na (net) Engels te vergemaklik.
  • Die Engelse voertaalbeleid moet met buigsaamheid ingestel word.
  • Parallelmedium-onderrig sal voortgaan “gegewe die duidelik gedefinieerde Afrikaanse markte”.
  • Demografiese verskuiwings maak die voortsetting van die huidige ­parallelmedium-stelsel onhoudbaar.
  • Altesame 20% van die gesamentlike aantal studente verkies Afrikaans as onderrigtaal en van hulle is 95% op die Bloemfontein-kampus.
  • Uit al die stukke blyk dit dat afsonderlike klasse ’n doodsonde is.

Lede van uitgebreide (advies-)komitee

  • Dr. Liz Lange (rektoraat)
  • Dr. Lynette van der Merwe (gesondheidswetenskappe)
  •  Dr. Nathaniel Mofolo (gesondheidswetenskappe)
  •  Dr. Boitumelo Moreeng (fakulteit opvoedkunde)
  • Dr. Juliet Ramohai (fakulteit opvoedkunde)
  •  Prof. Bradley Smith (fakulteit regte)
  •  Dr. Brand Claassen (fakulteit regte)
  • Prof. Pieter Duvenhage (fakulteit geesteswetenskappe)
  •  Me. Susan Lombaard (fakulteit geesteswetenskappe, Gebaretaal)
  •  Me. Philippa Tuubweinee (fakulteit natuur- en landbouwetenskappe)
  •  Dr. Dirkie Strydom (fakulteit natuur- en landbouwetenskappe)
  •  Dr. Petrus Nel (fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe)
  •  Prof. Johan van Zyl (fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe)
  •  Me. Marlene Oosthuizen (fakulteit teologie)
  • Prof. Pieter Verster (fakulteit teologie)
  • Me. Anita Lombaard (UVPersu)
  •   Mnr. Thabang Sepeame (Nehawu)
  • Dr. Thierry Luescher (ondersteuningsdienste)
  •  Dr. Elsa Crause (Qwaqwa-kampus)
  • Studenteraadslede (een van elke kampus, verandering in Sept. 2015)

Die besluite van die raad getuig van groot sinisme en ongevoeligheid: Afrikaans mag steeds onderrig word as dit geld vir die UV inbring – soos in landbou en opvoedkunde. Waar is die beginsels dan? Die taal moet glo ’n menslike dood sterf. Die aanbevelings wat deur die raad goedgekeur is, is ook met tye gewoon absurd (soos kamtige steun aan Afrikaanse akademiese tydskrifte), juis omdat dit onbekookte, strategiese opmerkings is ter wille van goeie gesindheid.

Een absurditeit is die aanbeveling dat die nuwe taalbeleid Afrikaans – wat die beleid wil nek omdraai – as akademiese taal behoort te ondersteun deur steun aan Afrikaanstalige akademiese tydskrifte.

’n Mens kan aanvaar dat die huidige talekomitee die taak gaan kry om die nuwe taalbeleid op te stel; ’n ander besluit sou neerkom op ’n mosie van wantroue.

Dit is daarom gebiedend noodsaaklik dat die nuwe komitee se name in die openbaar bekend gemaak moet word.

Indien die UV uiteindelik ’n aanvaarbare taalbeleid wil skep, behoort die talekomitee opnuut saamgestel te word met kundige mense en behoort gestrewe te word na die (skyn) van onpartydige wetenskaplikheid.

In die inwerkingstellling van die nuwe taalbeleid sal omsigtig gekyk moet word na benadeelde groepe:

Studente wat hulle in 2016 inskryf vir parallelmedium-onderrig en geen ondersteuning deur tutoriale ontvang nie, maar in 2017 dan slegs in Engels onderrig gaan word.

Huidige studente wat hulle ingeskryf het aan die UV vir enige kursus met die verwagting (kontraktueel bevestig) dat hulle hul studie in Afrikaans kon voltooi.

Selfs moontlik studente wat hulle reeds daadwerklik begin voorberei het vir studie in Afrikaans in 2017.

Verskeie probleme

Die hele proses om ’n nuwe taalbeleid op te stel, gaan mank aan verskeie probleme:

  • 29 (2) van die Grondwet bepaal “everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonable practicable”. Uit alle gegewens (én die status quo) is dit duidelik dat dit wel “redelikerwys doenlik is” in terme van die Afrikaanse teks van die Grondwet. Die raad van ’n universiteit is onderworpe aan die Grondwet. Waar die vorige taalbeleid van 2003 die gees van die Grondwet onderskryf, doen die jongste raadsbesluite dit nie. Pierre de Vos se mening in dié verband is reeds deur prof. Koos Malan bestempel as in wese onbenullig;
  • Van meet af aan was die proses emosioneel en ideologies eerder as wetenskaplik. Dit blyk uit vae aannames, stereotiperende en ongetoetse bewerings soos reeds aangedui;
  • Die lede van die kern- en breër komitee is nie aangestel vanweë bewese kundigheid op die terrein van taalbeplanning, taalpolitiek, ensovoorts nie;
  • Op die raadsvergadering van 26 Junie 2015 is genotuleer dat die lidmaatskap van die talekomitee “gebalanseerd en verteenwoordigend” moes wees. Die komitee het in der waarheid bestaan uit ’n meerderheid van mense wat ’n duidelike voorkeur gehad het vir Engels en die voorsitter het telkens blyke gegee van bevooroordeelheid;
  • Kwalitatiewe onderhoude het nooit plaasgevind nie en geen ernstige aandag is gegee aan moontlike alternatiewe taalmodelle (soos dié van Van Niekerk en Rossouw) nie;
  • Die verouderde verslag van die Hoër Onderwys se Kwaliteitskontrole(oudit)paneel (HEQC – Higher Education Quality Control) wat reeds eenogig krities was, word in die verslag klakkeloos aanvaar as grondslag waarop verskeie aannames gegrond word;

Sekretariaat 

–          Me. Lacea Loader (departement van kommunikasie en identiteitsbestuur (Brand Management)

–          Me. Susan Esterhuizen (Vergaderingsadministrasie)

–          Me. Elize Gouws (Sekretaris)

  • Die historiese verlede van die UV word op eensydige wyse vertolk en nie beskou as ’n reaksie op ’n aggressiewe­ angliseringsbeleid nie;
  • Daar is geen blyke van waardering vir die wyse waarop ’n taal- en spraakgemeenskap ’n taal se hoër funksies uitgebou het juis in ’n tydperk­ waarin Afrikaanssprekendes nie oor politieke mag beskik het nie;
  • Afrikaanse onderrig word voortdurend as minderwaardig bestempel sonder verrekening daarvan dat verskeie persone wat in Afrikaans opgelei is, internasionaal gepresteer het;
  • Meertaligheid word op plakkaatagtige wyse aangeprys, maar daar is geen moeite gedoen om op kreatiewe wyse na vore te kom met vernuwende modelle nie;
  • Die ernstigste leemte is egter die kernuitgangspunt dat Afrikaans (eintlik op enige vlak behalwe as sosiale omgangsmiddel) ’n verenigde Suid-Afrika strem en dat enige persoon wat sterk oor Afrikaans voel, basies rassisties is.

Gevoer tot sy logiese konsekwensies, impliseer hierdie UV-taalbeleid – en veral die onderliggende denke – dat Suid-Afrika soos die VSA behoort te wees.

Mense kan gerus vleisbraai en bid in die tale van hul voorkeur, maar mag op generlei wyse aandring op enige ander regte vir hul tale nie.

Dit sluit duidelik die onderwys in.

*Van Coller is ’n voormalige hoof van die UV se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans en oudvoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het dié lesing gelewer op ’n byeenkoms oor “Die universiteit vandag” onder beskerming van die N.P. van Wyk Louw-sentrum van die FAK by Fort Schanskop, Pretoria. Die byeenkoms handel oor Afrikaans in die Hoër Onderwys.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.