Die dekontekstualisering van die Voortrekkermonument en die moontlike negatiewe gevolge daarvan

deur Dr. Anton van Vollenhoven 

Die dekontekstualisering van die Voortrekkermonument en die moontlike negatiewe gevolge daarvan


Hierdie dokument is die voorganger vir ‘n wetenskaplik gefundeerde publikasie waaraan tans gewek word

Inleiding

 Die Voortrekkermonument in Pretoria was sedert die oprigting daarvan waarskynlik die vernaamste simbool van die Afrikanergeskiedenis en moontlik ook van Afrikaner Nasionalisme. Nie alleen was die oprig daarvan ten nouste verbind met die regering van die dag en die nasionalistiese strewe van Afrikaners nie, maar feitlik alle Afrikaner kultuurorganisasies het op die een of ander wyse ’n bydrae in hierdie verband gelewer. ’n Mens sou tereg kon sê dat die Voortrekkermonument die belangrikste erfenissimbool van Afrikaners is en dat dit daarmee saam ’n simbool van Afrikaneridentiteit is.

Vir die Sentrale Volkskomitee (SVK), wat hoofsaaklik die taak gehad het om die Voortrekkermonument te laat oprig, was dit belangrik dat dit die beliggaming van die Voortrekkeridee moes insluit. Aspekte waarop klem geplaas is, was dat dit moes inspireer, ruim van opvatting moes wees en eer moes gee aan diegene wat dit verdien.

Benewens die argitektoniese meriete, het monumente gewoonlik ’n sterk simbolies-ideologiese karakter. Menige monumente word opgerig met ’n ideologiese doel voor oë – in die geval van die Voortrekkermonument was dit Afrikanernasionalisme. Dit maak monumente natuurlik baie broos omdat dit maklik die slagoffer van teenpartye kan word.

As voorbeeld hiervan dien die onlangse debat oor die aanvaarbaarheid van standbeelde, monumente en gedenktekens wat ’n sterk ideologiese grondslag gehad. Dit voorspel waarskynlik niks goeds vir Afrikanererfenisse nie en gevolglik is dit noodsaaklik om te voorkom dat ons erfenisse, wat volgens sommige reeds ’n sogenaamde onaanvaarbare betekenis uitdra, nie onnodig daaraan blootgestel word nie. Hierdie relaas gaan nie direk oor oplossings vir die standbeelde-kwessie nie, maar daar is beslis raakvlakke waarvan kennis geneem moet word.

Die betekenis van die Voortrekkermonument

’n Kort opsomming van Gerhard Moerdyk se idees met die ontwerp en bou van die Monument (natuurlik in opdrag van die SVK) moet vermeld word. Benewens die bogenoemde aspekte dui Moerdyk aan dat hy die Bybel as inspirasie gebruik het en dat die idee van ’n altaar onderliggend aan die simboliek van die monument sou wees.

Hy het die grootsheid van die dade van die Voortrekkers probeer versinnebeeld en het met die senotaaf ’n gewyde middelpunt daargestel. Hierdeur word die nageslag herinner aan die offers wat gebring is in die verkryging van die ideale van vryheid. Die koepel dien as simbool van die omvang van die dade van die Voortrekkers, met die sonstraal wat daardeur skyn die simbool van God se seën op die lewe en strewe van die Voortrekkers.

Veranderende betekenis

Vir ander groepe in Suid-Afrika het die Voortrekkermonument egter ’n ander betekenis gehad en sommige hiervan het moontlik bygedra tot veranderende betekenisse sedert die negentigerjare van die Twintigste eeu. Die Monument is in 1952 by die opening van die South African Indian Congress as simbool van apartheid geoormerk. Dit was die eerste van verskeie soortgelyke uitsprake sedertdien.

Ongeveer saam met die algehele demokratisering van die land was daar in reaksie hierop verskeie pogings om die persepsie van die Monument as simbool van apartheid af te breek. Een van die belangrikstes hiervan was die besoek van oud-President Nelson Mandela in 2002 om die Danie Theron-standbeeld by Fort Schanskop te onthul. Dit is as een van die mees belangrike historiese en simboliese besoeke beskou. Intussen is swart gidse ook opgelei en het die Monument verskeie toekennings gekry wat daarop dui dat die apartheidsgedagte waarskynlik in ’n groot mate die wyk geneem het en dat dit eerder begin het om ’n simbool van versoening en selfs nasiebou te word.

Dit was nie net invloede van ander groeperinge in Suid-Afrika wat die hoof gebied moes word nie. Verskeie sogenaamde verregse organisasies het die Monument as simbool vir hulleself begin toe-eien en daardeur in botsing met die bestuur van die Monument gekom, juis omdat daar eerder gepoog is om dit van politiek los te maak en die idee dat almal daar welkom is te laat posvat.

Ook op bestuursvlak is veranderinge aangebring en is die Voortrekkermonument in 1993 in ’n Artikel 21-maatskappy omskep. Die toenemende persepsie dat die Afrikaner se erfenisgoedere bedreig word, en die druk op die Monument om by die bewaring van andere terreine betrokke te raak, lei tot die daarstel van die Erfenisstigting in 2002, as afsonderlike Artikel 21-maatskappy.

Die Voortekkermonumentmaatskappy probeer dan ook om die Monument as ’n belangrike deel van die erfenisbesit van Suid-Afrika te vestig. In hierdie verband word klem gelê op die Monument as iets wat ’n brug verskaf tussen die verlede, die hede en die toekoms, maar ook tussen verskillende gemeenskappe – ’n ware toekomsgerigte erfenisinstansie. Hierdie is ’n uiters belangrike ideologiese skuif, ‘n gedagte wat hieronder weer aangeraak sal word.

Daar is selfs ’n alternatiewe verhaal as aanbieding aan besoekers voorgestel en insette hieroor is onder meer van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAHRA)[1] versoek ten einde uiting aan hierdie oorbrugging tussen gemeenskappe aandag te gee. Die alternatiewe verhaal spreek onder meer aspekte soos die Difaqane, gronduitbreiding en konflik aan.

Nasionale Erfenishulpbron

In 2011 is die Voortrekkermonument tot ’n Nasionale Erfenisterrein verklaar. Dit beteken dat die Monument as ’n erfenis van nasionale belang beskou word. Die dui aan dat die pogings van die bestuur van die Monument suksesvol daarin geslaag het om die Monument se beeld te verander van een gekoppel aan apartheid tot een van nasionale versoening. Laasgenoemde is ’n gedagte wat onlangs nog in ’n onderhoud in die media versprei.

Die presiese betekenis van die verklaring van erfenisterreine word dikwels misverstaan. In hierdie geval word daar waarskynlik klem geplaas op die onmiddellike 15 Ha rondom die Monument, wat deel is van dít wat verklaar is. Dit is egter belangrik daar verskeie ander aspekte is wat ook in ag geneem moet word. Een van die heel belangrikste hiervan, omdat dit hier oor ’n monument gaan – iets wat simboliese betekenis het, is die fisiese aansigte daarnatoe sowel as die beklemtoning en bewaring van die simboliek wat juis tot die verklaring aanleiding gegee het. Twee aspekte is pertinent vermeld in die verklaring van die terrein, nl. die argitektoniese belang daarvan en die herdenking wat dit verleen aan die historiese gebeure van die Groot Trek.

Daar moet dus altyd wyer gekyk word. So het die Voortrekkermonument self in hulle motivering vir die verklaring aandag gegee aan die uitgebreide stelling van belang (statement of significance) van die Monument. In hierdie dokument word daar reeds buite die 15 Ha area beweeg en word onder meer aspekte soos die klipstapel van 1938, die amfiteater, voorgestelde trekroetes oos van die Monument en replikas van Zulu-hutte vermeld. Aandag word ook aan die nie-tasbare erfenis verleen met die vermelding van die Simboliese Ossewatrek van 1938, en die gebeurlikhede tydens die hoeksteenlegging van die Monument. Dit is gevolglik duidelik dat die groter geheel in ag geneem moet word.

Dekontekstualisering

Die fisiese aansigte behels die sigbare beeld van die Monument. Enigiets wat belemmerend hierop uitwerk sal noodwendig hierdie aspek benadeel en gevolglik is dit van kardinale belang dat geen aksie toegelaat word om hierdie aansig te benadeel nie. In effek beteken dit dat enigiets wat binne die verklaarde area gebeur, wat van permanente aard is en wat die fisiese gesteldheid van die terrein verander, eers deur SAHRA goedgekeur moet word. Dit word egter maklik vergeet dat enigiets wat buite die 15 Ha radius gebeur en van permanente aard is of die fisiese gesteldheid van die terrein verander moontlik ’n effek op hierdie aansig kan hê en gevolglik ook onderhewig is aan goedkeuring deur SAHRA.

Dit bring ons terug by die Erfenisstigting wat oor die afgelope aantal jare verskeie strukture, standbeelde en gedenktekens op die terrein van die Voortrekkermonument opgerig het. Hoewel afsonderlike maatskappye deel die Voortrekkermonument en Erfenisstigting verskeie hulpbronne, waarvan die belangrikste sekerlik die terrein is en waar die Erfenissentrum in 2008 ook neffens die Monument opgerig is. Selfs hierdie aspek het ’n invloed op die moontlike betekenis van die Voortrekkermonument omdat dit in sommige gevalle nie voor die hand liggend is om die versoeningsgedagte met dié van Afrikanererfenisse in verband te bring nie en gevolglik iets is wat maklik verkeerd vertolk kan word.

Die oprig van allerlei strukture kan dus moontlik daartoe lei dat die erfenisstatus van die Monument in gedrang kom. Hier is twee aspekte ter sprake. Eerstens die blote oprig van ’n struktuur wat esteties onaanvaarbaar is, die aansig tot die Monument belemmer en gevolglik ’n negatiewe effek op die Monument en die daaruit voortspruitende erfenisbelang daarvan het. Dit sluit self die moontlikheid in dat besoekers nie heel eerste deur die grootsheid van die Monument getref word wanneer hulle op die terrein aankom nie, maar dat hulle eerste indruk die ander nie-verbandhoudende strukture is – en dít is juis die tweede aspek.

Die tweede is veel ernstiger omdat dit op subtiele wyse tot die dekontekstualisering van die Monument kan lei en gevolglik die simboliese waarde daarvan aantas. Hier word veral verwys na die oprig van strukture wat ’n boodskap sou oordra wat in stryd is met die boodskap van die Monument en enigiets wat nie bydra tot die simboliese waarde nie, sou hieronder kon ressorteer.

In die bostaande is aangedui dat die simboliese waarde van die Monument twee uitinge het. Eerstens is dit ’n simbool van die Afrikaner se strewe na vryheid en tweedens ’n simbool van versoening. Hierdie twee betekenisse kan soms as moeilik versoenbaar beskou word en hoewel dit nie noodwendig waar is nie, kan daar juis daarom nie toegelaat word dat toevoegings tot die terrein gemaak word wat moontlik hierdie boodskap weerspreek nie. Dit is veral belangrik en as sodanig onlangs deur ’n SAHRA amptenaar vermeld dat die aanhoudende plasing van ander monumente en gedenktekens in ’n gebied te naby aan die Voortrekkermonument, die fokus daarvan af wegneem en dus op die lange duur ’n negatiewe uitwerking op die kulturele belang daarvan sal hê.

Die onlangse debat i.v.m. standbeelde en die moontlike verskuiwing daarvan het by baie die vraag laat ontstaan of die Voortrekkermonument nie dalk die aangewese plek hiervoor sou wees nie. In die lig van die bostaande is die antwoord ’n feitlik onomwonde ‘nee!’, want as dit die kulturele belang van die grootste van alle Afrikanermonumente gaan bedreig, kan dit nie toegelaat word nie. Die woord ‘feitlik’ word met voorbedagte rade gebruik, want dit sou onder sekere omstandighede wel moontlik wees om standbeelde en gedenktekens na die groter terrein te bring, maar slegs na deeglike besinning oor die posisionering daarvan en die moontlike invloed daarvan op die simboliese dekontekstualisasie van die Monument.

In effek beteken dit dat die konteks van die Monument deeglik in ag geneem moet word by die plasing van ander strukture en gedenktekens aldaar. Een moontlikheid sou wees om ‘n definitiewe buffersone te skep, wat ongetwyfeld daartoe sal bydra dat die Voortrekkermonument se betekenis nie afgewater word nie. Daar sou selfs verskillende sones geskep kon word, sodat daar al hoe verder van die Monument beweeg kan word in die plasing van die genoemde strukture. Aspekte wat ‘n direkte konteks met die Monument het, kan in die eerste sone, die naaste aan die Monument geplaas word. Sake met ’n minder direkte konteks, maar tog ’n mate van ’n verband in die volgende sone en so aan totdat daar ’n laaste sone is, die verste van die Monument af, waar Afrikanergedenktekens met ’n baie geringe skakel tot die Monument, geplaas kan word. Die presiese afbakening van hierdie sones is ’n saak van dringende belang sodat ’n beleid daargestel kan word waarvolgens toekomstige ontwikkelinge kan geskied. Dit sou gewis minder kontroversieel wees as die huidige tendens van die oënskynlike lukrake plasing van strukture.

Die Voortrekkermonument se direksie het self die Monument ’n toekomsgerigte erfenisinstansie genoem. Die plasing van ander strukture, soos hierbo aangedui, laat egter ernstige bedenkinge daaroor ontstaan. Sommige hiervan mag moontlik aanvaarbaar wees, maar hiervoor is dit nodig dat daar opnuut na die totaliteit gekyk moet word. Iets wat wel die wenkbroue laat lig is die spore van die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag instansies. Dit skep ’n eensydige militêre beeld en gee die indruk dat ander aspekte van die Afrikanergeskiedenis afgeskeep word. Daar is reeds ander plekke waar die ou SAW erkenning kry, onder meer by die Johannesburgse Oorlogsmuseum en die Lugmagmuseum. Dit is juis hierdie gedenktekens wat gewis nie in alle opsigte ’n boodskap van versoening oordra nie, en wat in elk geval nie noodwendig slegs Afrikanergerig is nie. Hierdeur word ‘n ideologiese dilemma geskep wat nie maklik verduidelik of negeer kan word nie.

Dit is allermins die gedagte om koud te staan teenoor Afrikanermonumente en –gedenktekens, maar dit het tyd geword dat daar minder emosioneel hiermee te werk gegaan word. Daar kan eenvoudig nie toegelaat word dat die dekontekstualisering van die Voortrekkermonument voortgaan nie. Daar is hard gewerk om die beeld daarvan te verander sodat dit in die algemeen meer aanvaarbaar is. Dit mag nie tot niet gemaak word deur die voortgesette ondeurdagte plasing van ander gedenktekens en standbeelde wat dreig om hierdie beeld te vernietig nie. Nie alleen sou dit die beeld en simbool van die Voortrekkermonument skaad nie, maar sou dit daartoe kon lei dat die Monument sy status as Nasionale Erfenisterrein kan verloor.

[1] Die Afrikaanse akroniem is eintlik SAEHA, maar omdat SAHRA maklik op die tong val, word dit algemeen gebruik.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.