Die geleenthede wat hedendaagse krisisse ons bied

deur Victor Correia

Lugfoto-Akademia-2

Lugfoto van Akademia in Centurion, Pretoria


Daar is in die laaste jaar vanuit verskeie hoeke gepoog om krisisse wat ons tans in die land beleef in geleenthede te omskep. Einde 2015 skryf Max du Preez dat die politieke krisis in Suid-Afrika gebruik moet word om ’n beter toekoms vir die hele Suid-Afrika te skep. Die Solidariteit beweging het vroeg in 2015 ’n Krisisberaad gehou, wat opgevolg is deur dieToekomsberaad later in dieselfde jaar. Meer onlangs het Akademia hul nuwe kampus geopen, te midde van die studente-opstande wat elders in die land voortduur. Die laasgenoemde is ’n uitstekende voorbeeld van hoe daar midde in die krisis in die hoër onderwyssektor nuwe geleenthede geskep word vir Afrikaanse universiteite om tot stand te kom.

Hoekom werk dit so dat krisisse geleenthede bied? ’n Krisis stel jou voor ’n spesifieke probleem waarop jy ’n antwoord moet bied. Verder neem ’n krisis jou dikwels uit jou gemaksone uit en dwing dit jou om langs nuwe paaie oplossings te soek. Verder dwing ’n krisis jou om ’n bepaalde besluit te maak, wat jy onder gewone omstandighede dalk nie sou wou maak nie. Dit dwing jou om anders te dink oor sake, omdat die omstandighede rondom jou dalk aansienlik verander het.

Dit is egter nie te sê dat almal die geleenthede in krisisse raaksien nie. ’n Krisis kan ook vir baie mense as ’n onoorkombare brug gesien word. Die aantal Afrikaners wat in die afgelope jare na ander lande geëmigreer het, is ’n voorbeeld hiervan. Daar is ook baie mense wat nie kan bekostig om te emigreer nie, of selfs geen behoefte daaraan het nie, maar nie noodwendig die geleenthede in die land se krisisse raaksien nie. Die gevaar is hier dat jong Afrikaners hul optimisme oor die toekoms verloor, vaskyk in die onreg van die huidige bedeling en dan net opportunisties na hul eie behoeftes omsien.

Twee mense kan dus na dieselfde krisis kyk. Die een sien ’n onoorkombare brug, terwyl die ander reeds dink hoe om die brug te bou. Die wyse waarop krisisse hanteer word, is ten diepste ’n geloofsaak. Indien ons glo dat krisisse deur God beskik word, kan ons die krisisse as geleenthede beskou waarop ons moet reageer. ’n Krisis bevat dus ’n dwingende element. Ons moet reageer op die krisisse in ons midde, want die Here beskik dit oor ons en wil hê dat ons iets daaraan moet doen. Die krisis word aan ons gestel, die uitkoms word aan ons oorgelaat. Ons het dus ’n verantwoordelikheid om die krisisse om ons in die oë te kyk en iets daaraan te doen. Ons mag nie passief teenoor krisisse staan nie.

Om dié rede is dit dalk nodig om van die krisisse wat ons vandag beleef, te noem en te wys op die moontlike geleenthede wat hulle ons bied. Daar word hier net enkele gedagtes vir verdere nadenke gelaat.

  • Die demografiese krisis bied geleenthede om te besin of dit wenslik is vir Afrikaners om verspreid oor die hele Suid-Afrika te woon of om eerder ’n meerderheid in ’n kleiner geografiese gebied te wees.
  • Die krisis in die staatsuniversiteite bied geleenthede vir private onderwysinstellings om tot stand te kom.
  • Die hoë wisselkoers bied moontlik in die toekoms geleenthede om produkte wat teen hoë koste ingevoer word, plaaslik te vervaardig.
  • Die ekonomiese krisis bied moontlik weer die geleentheid om ons rykdom op ander plekke te soek. Dalk kan ons meer tyd in ons huwelike en gesinne belê?
  • Die veiligheidskrisis, naamlik geweldsmisdaad en plaasmoorde, bied geleenthede om saam te werk met gemeenskapsveiligheidstrukture.
  • Die minimum lone bied ’n geleentheid om die moontlikheid te ondersoek om armes beter op te lei.

Daar kan nog baie ander krisisse wees wat hier nie genoem is nie. In elke geval is dit vir ons nodig om nie net die krisisse voor ons raak te sien nie, maar juis te vra watter geleentheid in die krisisse aan ons gestel word? Dalk is sommige van die oplossings wat hier voorgestel word nog vroegtydig? Soos die krisis vererger, sal ons denke ook oor verskeie sake verander.

Vroeër was private hospitale ondenkbaar en selfs nie wenslik beskou nie. Nou kan ons amper nie meer sonder hulle klaarkom nie. Vandag is die vraag na private universiteite uiters relevant en meer mense begin hieraan meewerk met woord en daad. Vandag is daar ’n heelwat kleiner groep denkers wat meen dat dit nodig is vir die Afrikanergemeenskap om oor ’n geografiese grondgebied te beskik. Die huidige onsekerheid oor eiendomsreg mag die debat vinniger laat vorder.

So gesien is al die krisisse rondom ons geleenthede wat God aan ons stel en waarop ons geroep word om in gehoorsaamheid te reageer. Dit is goed om te weet dat God nie net die verskeie krisisse oor ons beskik nie, maar ook vir elke krisis ’n besondere uitkoms gee.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.