Die gemeenskapsgedagte: ’n Antwoord op die liberale modernisme – Prof. Danie Goosen

Foto: naramatachurch.ca


Toespraak gelewer tydens die AP Akademie se teologiese konferensie op 30 Januarie 2017 in Pretoria.


 

  1. Agtergrond

’n Liberale ekonoom skryf onlangs dat die oplossing van die hedendaagse ekonomiese ongelykheid in die keusevryheid van die individu opgesluit lê. Indien die individu in arm lande soos Tsjad, Liberië of Mauritanië toegelaat word om self te kan besluit of hy na ryk lande soos Italië of Frankryk wil emigreer, moet hy toegelaat word om dit te doen. So kan die individu sy ekonomiese agterstand uitwis.

In antwoord hierop is aan die ekonoom gevra of sy voorstel nie sal beteken dat die eeue-oue tradisies van die onderskeie lande vanweë onbeperkte emigrasie uitgewis sal word nie. Sy antwoord het botweg gelui. “So, what? If Chad, Liberia and Mauritania cease to exist because everybody wants to move to Italy or France, why should one be concerned: people have freely chosen to be better off in Italy and France, and that’s all there is to that.”

Die ekonoom se opvatting dat die belange van die individu voorkeur bo die eeue-oue tradisies van kultuurgemeenskappe behoort te geniet, is nie ’n geïsoleerde opvatting nie. Anthony Kennedy, senior regter in die Amerikaanse hooggeregshof, is nog een te midde van talle ander voorbeelde. In ’n bekende uitspraak oor die aard van die huwelik sê hy dat die individu self daaroor moet kan besluit. “At the heart of liberty is the right [of the individual] to define one’s own concept of existence, of meaning, of the universe …”

Kortom, die oordeel van ons tradisies en gemeenskappe oor die sin van die lewe (ingesluit die huwelik) moet ondergeskik gestel word aan die oordeel van die individu.

Waarom noem ons dit? Vir ons doeleindes is dit slegs belangrik om daarop te wys dat genoemde uitsprake in die teken staan van die belangrikste kultuur-politieke spanningslyn van ons tyd. Ons kan dit so saamvat:

Enersyds is daar dié liberale en neo-liberale kragte wat, soos ons ekonoom en regter, uitgaan van die standpunt dat die individu die sentrum van die werklikheid verteenwoordig. Volgens hulle moet alles die belange en regte van die individu dien.

Andersyds is daar dié kragte wat vir die gedagte van gemeenskap intree. Volgens dié kragte kom ons menswees aan die bod wanneer ons deel is van en ook deelneem aan die sake van ons gemeenskappe. Dit beteken nie dat die individu onbelangrik is nie. Sonder die skeppende individu verstar gemeenskappe. Maar anders as wat die links-liberale denke aanvoer, maak gemeenskappe juis ’n egte individualiteit moontlik.

Waarskynlik die beste voorbeeld van ’n skeppende individu onder Afrikaners is NP van Wyk Louw. Sonder Louw sou Afrikaners as kultuurgemeenskap oneindig armer gewees het. Louw het ons intellektueel en kultureel verryk. Tegelyk is Louw ook deur dié gemeenskap moontlik gemaak: Deur ’n Afrikaner-familie, kultuur- en kerklike instellings, skole, ensovoorts. Sonder hierdie dinge sou daar na alle waarskynlikheid nie ’n Louw gewees het nie.

As ons vandag oor gemeenskap nadink, speel dit af teen die agtergrond van die spanning tussen bogenoemde kragte – tussen die liberale en gemeenskapskragte. Dit is ’n spanningslyn wat vandag in ’n groot veelheid van dissiplines aanwesig is – vanaf die fisika, die biologie, die ekonomie, die sosiologie, die politiek, die filosofie tot en met die teologie. In laasgenoemde sny dit dwarsdeur die Protestantse, Katolieke en Ortodokse tradisies. In elkeen van hierdie tradisies woed ’n soortgelyke stryd. (Een van die boeiende vrae van ons tyd is hoe dié tradisies onderling gaan hande vat in hul poging om antwoorde op genoemde spanning te gee).

 

  1. Die gemeenskapsgedagte in die tradisie

Bogenoemde inleidende opmerkinge bring ons uit by dit waaroor ons graag hieronder wil gesels, naamlik die gemeenskapsgedagte. Ons neem hieronder ons stelling in genoemde loopgrawe deur voorspraak vir die gemeenskapsgedagte te maak. Ons strategie is om by enkele wesenlike riglyne vanuit die groot Westerse tradisie van filosofiese denke aan te sluit. Dit is ’n strategie wat rus op die vooronderstelling dat ons nie sonder so ’n aansluiting grondig op die uitdaginge van die liberale en neo-liberale wêreld sal kan antwoord nie.

Nou, kenmerkend van die filosofiese tradisie is dat dit nie in die eerste plek oor die verskynsel gemeenskap in ekonomiese, juridiese, sosiale of politieke terme gedink het nie. Alhoewel dit belangrike dimensies van gemeenskap verteenwoordig (en ons inderdaad van so-iets as ’n ekonomiese gemeenskap, ’n kontraktuele gemeenskap, ensovoorts, kan praat), is gemeenskap soos wat ons dit hieronder in aansluiting by die tradisie verstaan in die eerste plek ’n ontologiese begrip. Gemeenskap het betrekking op die aard en wese van die werklikheid self.

Dit bring ons by die belangrike vraag: Hoe het ons tradisie oor die werklikheid self nagedink? In ons antwoord word slegs by ’n enkele sleutelaspek daarvan stilgestaan. Ondanks die aanwesigheid van die skeppingsgedagte in die laat-Klassieke denke is dit eers vanaf die Christelike eeue dat die filosofie die aller-belangrike uitgangspunt aanvaar het dat die werklikheid as ’n skeppingsgebeure verstaan moet word. Vir ons doeleindes is dit belangrik om te weet dat die tradisie nie die skepping los van die begrip ‘gemeenskap’ ervaar het nie. Inteendeel, gemeenskap is as ’n intrinsieke kenmerk van die skeppingsgebeure ervaar. Ten diepste is die werklikheid as ’n gemeenskapsgebeure ervaar.

Nou, hierdie punt is nie so vanselfsprekend as wat dit mag klink nie. Vanweë die heerskappy van die moderne liberale denke het die verband tussen die skepping en gemeenskap onduidelik geword. In die besonder het dit onduidelik geword vanweë wat beskryf kan word as die moderne denke se reglynige opvatting van tyd. As ons weer hierdie verband wil raaksien, moet na die stem van die tradisie geluister word, en in die besonder na die sirkulêre opvatting van tyd wat eie daaraan was. Wat word daarmee bedoel?

Volgens die tradisie verwys die skeppingsgebeure na ’n sirkulêre beweging. Nog nader geformuleer, dit verwys na dié beweging ingevolge waarvan alle dinge vanuit en ook weer na die oorsprong van alle dinge terugkeer.

Nou, indien die skepping vanuit die beeld van die reguit lyn bedink word, verwys dit na ’n eenmalige gebeurtenis wat iewers aan die begin van ’n reglynige tydsverloop afgespeel het. Vir ons doeleindes is die belangrike implikasie hiervan dat die skeppingsgebeure nie op die verdere verloop van tyd en veral nie op die toekoms betrekking het nie. Ons kan sê dat die toekoms as ’n integrale deel van die skeppingsgebeure buite die prentjie val.

Vanuit die tradisie se sirkulêre tydsopvatting beoordeel, het ons met ’n geheel andersoortige blik op die skeppingsgebeure te doen. Van daaruit beskou, duur die skepping steeds voort. Nog nader, die skeppingsgebeure duur vanaf oorsprong tot en met oorsprong; vanaf die begin tot en met die einddoel (wat tegelyk die begin van alle dinge is). Ingevolge die sirkulêre beeld speel die skeppingsgebeure met ander woorde nie net in ’n soos oerverlede af nie, maar ook in die terugkeer van alle dinge na die einddoel.

In die ou taal van die filosofie geformuleer: Die Skepper skep nie net as die effektiewe beweger van alle dinge nie, maar ook as die einddoel daarvan. Terwyl alles uit hom kom, lok hy as’t ware die ganse skepping ook weer na hom toe terug by wyse van sy doeloorsaaklike werking.

Ter wille van ons doeleindes fokus ons slegs op enkele kenmerke van die skepping verstaan as ’n sirkulêre gebeure. In die hart van die skeppingsgebeure staan die feit dat dit deur die tradisie as ’n geskenkgewende gebeure verstaan is. Binne hierdie konteks kan enkele aspekte onderskei word.

In die eerste plek gebeur die skepping wanneer God die skepping uit ’n oorvloed van goedheid aan homself as skepping skenk. (Sonder om, en dit moet altyd bygesê word, dat God self met enige aspek van sy skeppingsgeskenk saamval. As radikaal onophefbare misterie is God gans anders as die geskenk wat sy skepping is).

In die tweede plek en in ooreenstemming met die wederkerige (gee en neem) logika van die egte geskenk, gebeur die skepping egter ook wanneer ons deur die werking van God as einddoel uit dankbaarheid teruggee. Ons kan sê dat die reis terug in ons dankbare teengeskenk uitdrukking vind.

Volgens die tradisie word laasgenoemde – die reis terug – onder meer beliggaam in ons deelname aan die liturgiese feesgebeure wat die kerk is, maar ook in ons deelname aan ’n veelheid van gemeenskapsinstellings, soos ons gesinne, skole, universiteite, gilde, teaters, kunste-, musiek- en skryf-forums, ons stede, boerderye, eie regerings, militêre ordes, ensovoorts.

In hierdie verband is dit bykans onnodig om daarop te wys dat genoemde deelname volgens die tradisie telkens weer deur die uitnemende beoefening van die tradisionele deugde gekenmerk word (dit wil sê die ou kardinale deugde, naamlik matigheid, dapperheid, geregtigheid en wysheid, asook die drie Christelike deugde, naamlik geloof, hoop en liefde). In en deur die beoefening van die deugde binne die verskillende gemeenskapsinstellings word die goeie (aan die gesin, die onderwys, die akademie, die besigheid, ensovoorts) verwesenlik. In die mate waarin dit inderdaad gebeur, kry ons reeds (op hoe ’n voorlopige en radikaal gebrekkige wyse ook al) deel aan die goeie wat die oorsprong self ten diepste is.

Op grond van bogenoemde kan ons sê dat die geskenk dwarsdeur die ganse skepping loop. Vanaf oorsprong tot en met oorsprong. Kortom, ten diepste rus alles wat is op die wederkerigheid tussen geskenk en teengeskenk.

Daarmee stuit ons ook meteens op die tweede belangrike eienskap van die sirkulêre skeppingsgebeure. As iets wat tot in sy wese deur die wederkerigheid van die geskenk gekenmerk word, is die skeppingsgebeure tegelyk ’n gemeenskapsgebeure. Uit ons alledaagse ervaring weet ons dat gemeenskap in die egte sin van die woord tot stand kom by wyse van die uitruil van geskenke (en nie, soos wat ons in die moderne era begin glo het, in die sluit van formele kontrakte tussen losstaande individue nie). So kom die gemeenskap wat die gesin is tot stand wanneer ek myself vanuit my ouers en die voorgeslagte ontvang én ek tegelyk aan die nageslag teruggee.

Die skeppingsgebeure kan na analogie daarvan verstaan word. Ten diepste is dit ’n gemeenskapsgebeure gegrond in geskenk en teengeskenk.

Hierdie kort uiteensetting bring ons by ’n belangrike vraag. Wat is die verhouding tussen genoemde kenmerke van die skeppingsgebeure, dit wil sê tussen die beweging vanuit en terug na die oorsprong?

Anders geformuleer, wat is die verhouding tussen enersyds die feit dat ons die skepping as’t ware passief (dit wil sê sonder ons toedoen) uit die hand van God ontvang, en andersyds die feit dat ons aktief by wyse van uitnemende deelname ’n gemeenskap met die goeie oorsprong opsoek? Uit die antwoord hierop blyk die reuse probleem waarmee die moderne liberale denke opgeskeep sit.

Volgens die tradisie moet ons passiewe ontvangs van die skepping en die aktiewe deelname daaraan in hul intrinsieke samehang bedink word. Alvorens ons kortliks verduidelik wat die tradisie daarmee bedoel, moet genoem word dat die liberale modernisme juis hierdie intrinsieke samehang verbreek. In die liberale denke word hulle op ’n ekstrinsieke grondslag teenoor mekaar geplaas. Tegelyk kies dit die een ten koste van die ander.

Die eerste beweging van die sirkulêre skeppingsgebeure verwys na die feit dat jy as mens die goeie (en te verwonderde) werklikheid buite-om jou eie toedoen as ’n geskenk ontvang. Hier is jy nie die aktiewe outeur van die werklikheid nie, maar eerder die passiewe ontvanger. As gevolg daarvan word jy deur ’n onuitwisbare staat van afhanklikheid jeens die oorsprong van die skepping gekenmerk. Ons kan sê jou eie selfstandige handeling word daardeur voorafgegaan en ook moontlik gemaak. George Grant, ’n vooraanstaande konserwatiewe denker, skryf daarom ook tereg dat jou eie selfstandige self altyd weer afspeel binne die horison van die feit dat die ganse werklikheid, jyself ingesluit, aan jou geskenk is.[1] Daarmee eindig die verhaal egter nie.

Volgens die tweede beweging eie aan die sirkulêre skeppingsgebeure is jy nie net ’n ontvanger nie, maar ook ’n aktiewe self wat by wyse van deelname aan die geskenkte werklikheid handel. Nou, wat is die verhouding tussen beide, dit wil sê tussen ons passiewe ontvang en ons aktiewe deelname aan die skepping?

Hierdie vraag is veral belangrik teen die agtergrond van ’n belangrike en selfs grondliggende tendens in die liberale modernisme. Ons verwys na die feit dat die liberale modernisme die gedagte afwys dat ons die werklikheid passief vanuit ’n bron buite onsself ontvang. Volgens sy oordeel sou dit ons immers in ’n staat van afhanklikheid jeens bronne buite onsself dompel. Ons is eerder self die outeurs van die werklikheid. Ons ontvang dit nie, ons maak dit self, sê die liberale modernisme.

Volgens die tradisie is beide bogenoemde motiewe egter belangrik. Beide moet in hul intrinsieke samehang bedink word. Maar hoe moet dié samehang verstaan word?

Soos wat reeds hierbo aangevoer is, is die passiewe ontvangs van die werklikheid en ons aktief-selfstandige deelname daaraan twee kante van een en dieselfde skeppingsgebeure. Dit beteken nie dat hulle eweveel gewig geniet nie. Ons ontvangerskap geniet eerder ’n gewisse voorkeur. Ons kan immers nie aktief handel sonder om hoegenaamd te wees nie. Tegelyk is ons aktiewe en selfstandige deelname nie onbelangrik nie. Want, lui die argument, die geskenkgewende gebeure wat die skepping is, word slegs voltooi wanneer daar tegelyk by wyse van aktiewe en selfstandige deelname daarop geantwoord word. ’n Geskenk in die volle sin van die woord is immers nie ’n geskenk as dit nie erken en aktief in ontvangs geneem word nie. Kenneth L Schmitz skryf daarom ook tereg: “… reception is integral to the very character of a gift, for a gift refused is an unfinished gift … The acceptance completes the gift, fulfills it.”

Waarskynlik kan die verhouding tussen die twee motiewe die beste as ’n hiërargiese wederkerige verhouding verstaan word. Hiervolgens is elke motief in ooreenstemming met sy eie aard onontbeerlik. Sonder die geskenk wat die skepping is, kan ons nie op ’n dankbare wyse daarop antwoord nie. Ons kan immers slegs antwoord by grasie van die feit dat ons hoegenaamd is. Tegelyk bly die skeppingsgebeure onvoltooid as ons nie by wyse van handeling aktief daarop antwoord nie.

In aansluiting by David L Schindler kan ons hierdie enigsins paradoksale samehang (die gelyktydige belangrikheid van die passiewe en die aktiewe) met behulp van die woorde “aktiewe ontvanklikheid” beskryf. Ons menslike toestand word gekenmerk deur ’n aktiewe deelname en ’n selfstandige skep van die werklikheid binne die groter raamwerk van ’n werklikheid wat ons van buite ons eie kragte ontvang. Dit bring ons by enkele kritiese slotopmerkings.

 

  1. Kritiese opmerkings

Teen die agtergrond van bogenoemde opmerkings staan ons ten slotte by enkele kritiese opmerkings stil. Dit draai rondom die poging van die liberale modernisme om die hiërargiese wederkerigheid waarna pas verwys is, te deurbreek.

Die liberale modernisme word ten diepste gekenmerk deur ’n vyandskap jeens die skeppingsgedagte. Soos wat ons reeds hierbo genoem het, stel dié gedagte immers die mens afhanklik van ’n oorsprong buite-om sy eie outonome selfbeheer. In die hart van die modernisme staan die aanspraak dat die mens nie die werklikheid vanuit ’n oorsprong buite-om homself ontvang nie, maar dat hy as outonome mens dit eerder vanuit sy eie self maak en produseer.

Laasgenoemde blyk uit die wyse waarop die liberale modernisme gepoog het om by wyse van die instrumente van die moderne staat, die moderne wetenskap en die moderne tegniek outonoom oor die werklikheid te heers. Uit die onlangse verlede blyk dieselfde ambisie uit pogings om die gesin, tradisionele geslagsrolle, asook ons biologiese erfenis na willekeur te verander en ter wille van die belange en regte van die outonome mens in te span.

Ons staan stil by drie omvattende probleme eie aan die liberaal-moderne ideaal van outonomiteit.

3.1 Die eerste probleem lê opgesluit in sy ontologiese mondering. Terwyl die liberale mens voorgee om outonoom te wees, skep hy ironies genoeg nuwe vorme van afhanklikheid. ’n Gevolg hiervan is dat hy nie kan waarmaak wat hy belowe nie. Nêrens blyk dit so as uit sy eie opvatting van die werklikheid wat, dikwels verskuil,  telkens in die agtergrond aanwesig is nie.

Volgens die liberale modernisme moet die werklikheid nie in die eerste plek as ’n skeppingsgeskenk ervaar word waarop dankbaar geantwoord word nie. Nee, die werklikheid is iets veel donkerder en selfs onheilspellender, naamlik die dood self. Ons kan sê dat die ontologie van die modernisme is ’n ontologie van die dood. As sodanig ontlok dit nie dankbaarheid en verwondering nie, maar eerder vrees en angs.

Tekens daarvan kan reeds by verskeie vroeë moderne denkers opgespoor word. Tydens die 19de en 20ste eeue is dit by ’n groot aantal leidinggewende figure aanwesig. In plaas daarvan dat die werklikheid ons tot deelname uitlok, poog die moderne mens eerder om hom negatief daarteen te beskerm.

Vanuit hierdie grondslae beoordeel, is dit te begrype waarom die moderne liberale denke soveel nadruk op die outonome self geplaas het. Vanweë die vrees en angs wat die dood as afgrondelike leegte by hom ontlok, poog die moderne mens telkens om skuiling agter die skanse van ’n outonomie self te vind.

Maar dit bring ons by die eerste spanning in die liberale mondering. Ons kan dit so formuleer. Terwyl die moderne mens daarop aanspraak maak om nie van enige kragte buite-om homself afhanklik te wees nie, is hy ironies genoeg van die donkerste krag denkbaar afhanklik, naamlik die afgrondelike dood. Dit is immers vanweë die vrees- en angsaanjaende werking van die leegte buite homself dat hy hoegenaamd verplig voel om hom in ’n staat van outonomie te verskans.

3.2 Die tweede kritiese opmerking gaan oor die vernietigende gevolge wat die liberale modernisme vir ons opvatting van ‘aktiewe handeling’ het. Soos wat uit bogenoemde opmerkings blyk, het die tradisie ’n besondere hoë waarde aan ons aktiewe handeling geheg. Die tradisie het ons eie selfstandige handeling en die aanvaarding van ’n eie verantwoordelikheid as ’n noodsaaklike aspek van die skeppingsgebeure self ervaar. Om selfstandig te handel, het beteken om aan die skeppingsgebeure self deel te neem.

In die modernisme word ons selfstandige handeling egter van sy afhanklikheid jeens die groter werklikheid losgemaak en as iets outonoom ervaar. Maar juis hier gebeur die vreemde. Ondanks (of is dit juis vanweë) sy verbintenis tot die ideaal van outonomie, word die aard en wese van handeling self ernstig verskraal. Losgeknoop van sy afhanklikheid jeens bronne buite-om sy eie inspanning word handeling in die modernisme tot niks meer nie as ’n siniese magsmanipulering en tegniese beheer gereduseer.

Kortom, selfstandige handeling in die sin van deelname met die oog op die verwerkliking van die goeie is slegs moontlik binne die konteks wat die tradisie daarvoor bied. Die modernisme dompel dit in ’n krisis.

3.3 Die outonomiteitsideaal het tot gevolg dat die mens as’t ware vanuit die groter skeppingsgebeure geabstraheer word. Voortaan word die mens as ’n losgeknoopte individu ervaar, dit wil sê as iemand wat per definisie buite enige gemeenskapsverbintenisse staan. As daar hoegenaamd van sodanige verbintenisse sprake is, is dit bloot die gevolg van kontrakte wat tussen sodanige losgeknoopte individue gesluit word.

’n Dramatiese gevolge hiervan is dat die menslike toestand per definisie met ’n toestand van eensaamheid geïdentifiseer word. Om ’n mens te wees, beteken voortaan om ’n eensame mens, ’n homo solus, te wees.

Maar dit bring ons by die laaste spanning. Dit sluit aan by vorige punte. Ondanks sy aanspraak om ’n outonome wese te wees, kan die eensame mens nie sy status as eensame handhaaf nie. Ook hy het, ironies genoeg, geselskap, hulp en ondersteuning nodig.

Maar waar vind hy dit? Waarskynlik is dit die grootste ironie van die liberale modernisme: Hy vind sy hulp en ondersteuning nie in sy deelname aan sy veelheid van gemeenskappe nie. Inteendeel, hy vind dit in sy onderdanige onderwerping aan die magtigste instrument van die liberale modernisme, naamlik die moderne staat.

Daarmee is die sirkel voltooi: Terwyl die moderne mens voorgee om ’n staat van outonomie te bewerkstellig, skep hy ’n toestand van diepe onderwerping en afhanklikheid. Slegs die herontdekking van die tradisie en die belangrikheid van gemeenskap kan ons uit hierdie toestand bevry.

[1] Aangehaal uit ’n artikel van die Amerikaanse filosofiese teoloog, David L Schindler, We are Not Our Own. Childhood in a Technological Age, The Imaginative Conservative, 9 January 2017.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.