Die ideologie van struggle en die studente-opstande

deur Victor Coreia 

feesmustfall-south-africa-xs


Alweer apartheid se skuld

In ’n onlangse artikel van die Economist word daar beweer dat apartheid nog te blameer is vir die opvoedkundige agterstand van die swart bevolking van Suid-Afrika.

More than two decades after apartheid ended black South Africans are still worse off than whites. Mostly, this is because they are less well educated, a result of apartheid’s legacy and the government’s failure to fix it. [1]

Daar word uitgegaan van ’n veronderstelling dat die meeste swart mense vandag slegter af is as wit mense en dat apartheid die hoofoorsaak hiervan is. Daar sit in die bogenoemde stelling ’n growwe veralgemening wat nie rekening hou met die swart elite wat in die afgelope 20 jaar geweldig vinnig ryk geword het teenoor die groeiende armoede onder arm blankes nie. Dit daar gelaat. Is dit werklik so eenvoudig om al die probleme wat jong swart studente vandag ervaar aan die gevolge van kolonialisme en apartheid toe te skryf? Ek meen dat dit ’n oorvereenvoudiging en ’n verkeerde diagnose van die probleem is. As dit werklik so is dat apartheid die skuld moet dra vir al die onderwysprobleme in Suid-Afrika, bevind ons onsself in ’n hopelose situasie omdat daar geen manier is waarop ons die verlede kan verander nie. Dat die huidige studente en pres. Zuma die hoofprobleem van Suid-Afrika beskou vanuit ’n vorige politiese bedeling wat al meer as 20 jaar terug tot ’n einde gekom het, moet ook vir ons ook ’n aanduiding gee van die soort oplossings wat vir die probleem gegee word.

“Indien apartheid die skuld moet dra vir al ons huidige probleme en ons nie die verlede kan verander nie, laat ons die wat gebaat het by apartheid bykom en alle simbole van apartheid verbrand.” Die voorgestelde oplossing wat die studente by die universiteit van Kaapstad gevolg het deur ’n skildery van Jan Smuts en ander wit mense te verbrand, is weereens ’n poging om skuld op ander te plaas. Waar daar gepoog word om alleenlik aan ander die skuld te gee in plaas daarvan dat daar ook eie skuld aanvaar word, het die gevolg dat daar nie verantwoordelikheid vir die verwerkliking van ’n eie toekoms geneem word nie. Die stryd om ’n beter verlede is werklik ’n struikelblok tot die verwerkliking van ’n beter toekoms. Die voorgestelde werkswyse is uiters problematies indien daar gestreef word na ’n meer volhoubare oplossing van die huidige rassespanning en opvoedkundige probleme in Suid-Afrika. Solank apartheid die skuld kry, word dieperliggende probleme onderliggend aan die krisis misgekyk.

Ideologiese krisis

Die eintlike krisis waarmee ons vandag te doen het, is ’n ideologiese krisis. Dit is wel nodig dat ons eers uitklaar wat ons met ideologie bedoel, voordat ons aandui wat die aard van die tersaaklike ideologiese krisis is. ’n Ideologie is volgens Goudswaard ’n omvattende sisteem van waardes en norme wat gebruik word om ’n allesomvattende doelwit in die samelewing te bereik. [2] Die middele wat gebruik word om die doel te gebruik, is minder belangrik as die doel self.

Nou kan daar gevra word, wat wil die studente bereik met hul opstande? Wat is die doelwit wat hulle wil bereik? Op die Facebook-blad van die Rhodes Must Fall-beweging word hulle doelwit soos volg gestel:

A student, staff and worker movement mobilising against institutional white supremacist capitalist patriarchy for the complete decolonization of UCT. [3]

Uit die bogenoemde doelwit kan daar nie regtig bepaal word wat die beweging wil bereik nie, maar wel wat hulle wil afbreek. Daar word gepleit vir die dekolonialisering van die universiteit, waarmee bedoel word dat alle simbole uit die kolonialistiese era verwyder moet word. Verder is witheid, manlikheid en kapitalisme alles struikelblokke wat uit die weg geruim moet word, voordat vooruitgang gemaak kan word. Ek vra myself steeds die vraag: Wat wil die groep bereik, nadat hulle dit regkry om die gestelde struikelblokke uit die weg te ruim?

Op die webblad van die Rhodes Must Fall-beweging word ’n meer omvattende beskrywing gegee: [4]

Rhodes Must Fall Movement is a collective movement of students and staff members mobilising for direct action against the reality of institutional racism at the University of Cape Town. Formed as a direct result of the Open Air dialogue that took place on Thursday 12th of March at the University of Cape Town. The chief focus of this movement is to create avenues for REAL transformation that students and staff alike have been calling for. Calls that the institution have thus far ignored or silenced. While this movement may have been sparked around the issue of the Rhodes Statue: the existence of the statue is only one aspect of the social injustice of UCT. The fall of ‘Rhodes’ is symbolic for the inevitable fall of white supremacy and privilege at our campus. UCT students, workers, academics and interested staff members refuse to be alienated in their own university. If the institution will not bring true transformation to us – we will bring it to them.

Email us at: [email protected]

A luta continua

#RhodesMustFall

Melding word gemaak van verskeie sake waarteen die beweging hul uitspreek, naamlik institusionele rassisme, transformasie, sosiale onreg en vervreemding. Ook noem hulle dat die val van die Rhodes-standbeeld net die begin van die “onvermydelike ondergang van wit oorheersing” is. Nogtans is daar geen aanduiding waarvoor die beweging staan nie. Hul blyk ’n uitstekende voorbeeld van ’n antibeweging te wees. ’n Ideologie het altyd ’n vyand nodig en in die geval van dié beweging blyk die vyand die wit mans te wees wat aan die bestuur van die universiteit is. Sou die beweging egter eendag daarin slaag om die bestuur van die universiteit te suiwer van die huidige bose invloede, moet ons wel vra wat hulle poog om dan te doen?

Nimmereindigende struggle

Die antwoord blyk duidelik uit die Latynse aanhaling op hul webblad a luta continua wat beteken, die struggle sal aangaan. Dieselfde wat met Cecil John Rhodes se standbeeld gebeur het, mag ook gebeur as daar transformasie op die universiteit toegepas word om te dink dat dit die probleme gaan oplos. Waar die bestuur van die Universiteit van Kaapstad gedink het dat hulle die struggle gaan stop deur aan die beweging se eise te voldoen deur ontslae te raak van die Rhodes-standbeeld, het die teenoorgestelde plaasgevind. Die struggelaars moes gou ’n nuwe iets kry om teen te struggle. “Struggle sal ons struggle al het ons niks om teen te struggle nie, sal ons wel iets moet vind, want a luta continua is ons motto.” Die struggle moet immers aangaan.

So het dit ook gebeur. Die verwydering van die Rhodes-standbeeld het ’n nuwe vyand na vore geroep. Die kapitalisme was die volgende vyande waarteen gestruggle moes word in die vorm van die Fees Must Fall–beweging. Universiteitsfooie moet val! Hier kan ons nou weer struggle. Na die groot toegewing wat die Minister van Onderwys gemaak het, naamlik dat die fooie van 2016 nie sal styg nie, sou optimiste gehoop het dat die universiteite vir eers uitgelos sou word. Nee, ook die kompromie het die studente tot groter dade aangespoor. Dit was spoedig nie meer genoeg dat fooie moet val nie. Gratis onderwys was die nuwe eis en die debat het in 2016 reeds in dié rigting beweeg.[5]

Waar laat dit ons in 2016? Indien daar nog toegewing gemaak word, selfs die grootste denkbare toegewings soos dat ons in Suid-Afrika geen universiteitsfooie moet hef nie, gaan dit noodwendig beteken dat die struggle gaan ophou? Selfs indien daar aan die mees radikale eise van die huidige studentebeweging toegegee word, moet ons nie dink dat hulle met hul eise gaan ophou nie. Hoe groter die sukses wat hulle behaal, hoe groter die volgende waagstuk. Daarom behoort dit geen verrassing te wees dat die Fees Must Fall–veldtog na die skielike sukses baie vinnig hoër eise begin stel het nie.

Oor die wenslikheid van gratis universiteitsstudies is daar wel vrae wat gestel kan word. Is dit wenslik om alles in die lewe verniet te kry of sit daar nie ook meriete in om vir iets te werk nie? Gaan studente wat gratis kan studeer, die erns van hul studies besef? Op dié vrae kan ons nie nou verder ingaan nie, maar ek wil dit waag om te sê dat ons nie moet dink dat die studente gaan ophou om te struggle al sou gratis onderwys aan hulle geskenk word nie.

Die rede waarom dit gesê kan word, is omdat die struggle-ideologie diep in Suid-Afrika se politici en jong geslag ingegraveer is. Dit kom voor asof die jong geslag daarna streef om te struggle soos hul voorgangers, wat nou aan die stuur van die ANC sit. Struggle word ’n doel opsigself. Struggle word dan ’n ideologie wat ’n mens blind maak om die werklikheid te sien soos dit werklik is. Die struggle-ideologie maak jong studente daarvoor blind dat ’n mens hard moet werk om ’n graad te kry, ’n werk te kry en daarna lewenslank daarmee moet aanhou. Lees ’n mens van die ontstaansgeskiedenis van ’n universiteit soos die PU vir CHO, kom ’n mens tot die besef dat die universiteit deur roepingsbewuste mense opgerig is. Dieselfde kan vir baie ander universiteite gesê word. Dit is tragies dat instellings wat deur jare se harde werk opgebou is, juis nou vyandig word teenoor die gemeenskappe wat verantwoordelik was vir hul oprigting.

Opbou-mentaliteit

Die Afrikaanse gemeenskap het goeie rede gehad om na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog in ’n struggle–mentaliteit te verval. Tog het die gemeenskap te werk gegaan om iets aan hul toestand te doen. Skole en universiteite is met groot opofferings gebou, kerkgeboue is met geld van koeksisters betaal, besighede wat die belange van die Afrikaanse gemeenskap gedien het, het ontstaan. Dit is alles moontlik omdat verantwoordelikheid vir hul eie omstandighede aanvaar is. Die swaarkry wat hul getref het, is nie net op die rekening van die Engelse geplaas nie, maar hul geloof in God het dit vir die Afrikaners moontlik gemaak om in te sien dat selfs die onderdrukking van die Engelse deur God beskik is met ’n bepaalde doel. Die Engelse word vandag nog onthou vir dit wat aan die boere gedoen is, maar daar het vergifnis plaasgevind. Die Afrikaanse gemeenskap het vorentoe beweeg en verantwoordelikheid vir sy eie lot aanvaar. Dalk kan die struggle-studente iets leer van die wyse waarop die Afrikaanse gemeenskap te werk gegaan het om na hul struggle teen die Britse moondheid hul gewere neer te lê en hul grawe op te tel? Ora et labora was hul leuse. Dit beteken: Bid en werk. Na hul struggle het hulle begin werk om te bou wat afgebreek is en om te bou aan ’n beter toekoms. Dit is baie moeiliker om te bou as om te breek. Die tragiek van die gebeure wat vandag plaasvind, is dat eeu oue instellings wat deur harde werk gebou is, dreig om in ’n baie korter tyd afgebreek te word.

Die stryd TEEN Afrikaans

Die onlangse botsing tussen die EFF en Afrikaanse studente op TUKS dui op twee verskillende lewensvisies wat lynreg met mekaar bots. [6] Die Afrikaanse studente wil net in hul eie taal studeer en wil graag hul eie taal beskerm teen diegene wat meen dat hul dit nie mag doen nie. Vir die EFF is hul stryd teen Afrikaans weer kenmerkend van ’n antigesindheid. Afrikaans was eens op ’n tyd met die onderdrukking van apartheid vereenselwig en nou moet alle verwysings na Afrikaans ook op kampus verwyder word. Die een groep studente wil werk en daardeur iets in die lewe bereik, terwyl die ander groep hulle wil verhoed om dit te doen.

Die EFF moet ook so radikaal as moontlik probeer optree om daardeur politieke steun van die radikale ANC jeug te steel. Daar is hoofsaaklik politieke motiewe wat hulle aanvuur. Dat die Universiteit van Pretoria nou aan die protesbeweging se eise gehoor wil gee, voorspel niks goed vir die toekoms van Afrikaans op TUKS nie. Indien Afrikaans op TUKS met die jare verdwyn, moet ons nie verbaas wees as daar nuwe vyande gevind word om teen te struggle nie. Daarom is dit belangrik dat daar nie net toegegee word in die stryd nie. Sou dit wel gedoen word, sou die volgende struggle-vyand spoedig verskyn.

In dieselfde asem is dit tragies dat die NWU die standbeeld van Totius so diplomaties verwyder het. [7] Toe ’n groep PUK-studente ’n kring om die Totius-standbeeld gemaak het om dit te beskerm teen moontlik vandale het dit ’n boodskap van hoop vir ander uitgestuur. Die Afrikaanse studente op die PUK het opgestaan, maar toe neem die bestuur die Afrikaanse studente se baken van hoop weg.  Sou dit die probleme op die NWU oplos? Nee, ook hier sal daar ’n volgende struggle-vyand gevind moet word. As die Totius-standbeeld so maklik kon val, hoekom moet daar nou met die struggle opgehou word? Die verwydering van die Totius-standbeeld word beskou as ’n oorwinning vir die struggelaars. Gou sal hulle weer op die toneel verskyn met nog meer radikale eise.

Weg vorentoe?

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat ’n kompromie nie die gewenste resultate gaan oplewer nie.   Cecil John Rhodes, Totius en Afrikaans is net simbole van dieperliggende rassespanning wat toeneem in Suid-Afrika. Die Afrikaanse gemeenskap sal sy stem oor die saak moet dik maak, sonder dat jong studente slagoffers word van kampusgeweld.

Waarheen ons moet streef, is om ’n omgewing te skep waarin Afrikaanse studente in vrede kan leer om hulself voor te berei vir hul lewensroeping. Al sou Afrikaans op kampus afgeskaf word, gaan Afrikaanse studente waarskynlik nog teikens bly van politieke geweld. Die stryd is nie teen Afrikaanse studente nie, anders sou daar mos geen rede vir opstand by universiteite wees wat reeds Engels is nie.

Dit laat die Afrikaanse gemeenskap met die plig om alternatiewe sentrums vir die toekoms te skep waar Afrikaanse studente in vrede kan studeer. Daar moet ruimte gemaak word vir studente wat graag wil studeer en eendag graag wil werk om dit te kan doen. Die studente wat wil struggle sal aanhou struggle, maar dit is nie te sê dat studente wat wil studeer altyd die geleentheid hiervoor sal hê nie. Die Afrikaanse gemeenskap het die verantwoordelikheid om seker te maak dat daar vir die huidige studente en die volgende geslag wel die geleentheid sal wees om in Afrikaans te kan studeer.

Kom ons bewaar wat gebou is, en bou wat gebreek word

My raad aan die Afrikaanse studente sou wees om aan te hou met studeer te midde van die moeilike omstandighede. Gaan sê jou sê oor Afrikaans op kampus, maar bly steeds hard werk aan jou studie. Bly by ora et labora. Dit is jou slagspreuk en was ook die slagspreuk waarmee die universiteite waarby jy tans studeer, gebou is. Wie weet, dalk is dit ook die slagspreuk waarop nog Afrikaanse universiteite in die toekoms gebou gaan word?

Die man wat ’n huis afbreek weet nie hoe om die huis weer te bou nie, maar die man wat die huis gebou het, kan ’n puinhoop weer opbou. Kom ons bewaar dit wat deur die voorgeslagte gebou is. Kom ons bou weer iets op dit wat afgebreek word, wat die volgende geslag kan bewaar. A luta continua, ja die struggle sal aangaan, maar hierteen stel onsora et labora. Ons sal bid en werk en bou.

[1]  http://www.economist.com/news/middle-east-and-africa/21693278-students-are-throwing-colonial-art-pyre-whiteness-burning

[2] Goudswaard, B., Van der Vennen, M. & Van Heemst, D.  2007.  Hope in troubled times: A new vision for confronting global crises. Grand Rapids: Baker Academic.

[3]  https://www.facebook.com/RhodesMustFall/info?tab=page_info

[4]  http://rhodesmustfall.co.za

[5]  http://mg.co.za/article/2015-10-28-free-university-education-is-not-the-route-to-social-justice

[5]  http://www.news24.com/MyNews24/can-south-africa-afford-free-education-20160122

[6]  http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/studente-moet-hulself-kan-beskerm-se-afriforum/

[7]  http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/totius-beeld-van-puk-kampus-verwyder/

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.