Die liturgie van ‘n volk

deur Dr. Attie Louw 

Die liturgie van n volk


Sondagoggende, op pad kerk toe, ry ons verby die groot winkelsentrum van ons dorp en die gholfbaan. Teen 9 uur die oggend begin die parkeerterrein voor die winkelsentrum reeds tekens van ’n goeie besigheidsdag toon en op die gholfbaan stap daar reeds oral groepies spelers rond met hulle gholfsakke. Die verkeer lyk soos ’n Maandagoggend, oorvol, stadig en raserig. In die kerk lyk dinge nie baie goed nie. Die meeste kerkgangers is middeljarig en ouer en daar is min kinders. Die agterste banke is vol, maar voorlangs lyk dit maar leeg. Dinge was nie altyd so nie. Vroeëre jare het Sondae ’n heilige gevoel gehad van rus en stilte.

In die nuwe Suid Afrika van die afgelope 20 jaar het ons mense, nasate van die Geuse van die 16de eeu, die Franse Hugenote, en Bloedrivier, dramaties versekulariseer en ontkerk. Soos apartheid op die agtergrond geskuif het, het die meeste van ons mense se geloof daarmee saam ook op die agtergrond geskuif, met ’n drang om alles van voor 1994 te negeer en te verdoem, asof die wêreld in 1994 geskape is.

Ons ry soms ’n ander pad van die kerk af terug huis toe deur die ou deel van die dorp, verby die ou Hervormde Kerk uit die Z.A.R. se dae. Die kerk grens aan die ou kerkplein wat tans afgekamp is agter ’n groen palissade heining om leeglêers uit te hou. Agter die kerkplein is die Z.A.R. se ou Pos- en Telegraafkantoor, ’n statige ou wit gebou, met ’n hoeksteen wat toon dat dit in 1896 geopen is. Voor die kerk oorkant die straat is die stadsaal en munisipale kantore, gebou in die vroeë dertiger jare van die vorige eeu.

’n Mens kan jou goed indink hoe dit meer as honderd jaar gelede voor die Boereoorlog was. Die Hervormde kerk was die middelpunt van die dorp met twee groot oop ruimtes, naamlik die markplein aan die voorkant, en aan die agterkant Kerkplein. Hier was die hart van die dorp, ruimtelik, argitekturaal en sosiaal, geleë op die kruising van die twee groot strate deur die dorp. Dit was nie net die geval van ons dorp nie. Die hele Suid Afrika was op daardie stadium ruimtelik om kerke gestruktureer. Dorpe is op eweredige afstande uitmekaar ontwikkel sodat mense binne redelike afstand van ’n kerk kon bly. Hier in die Wes-Transvaal en die Oranje-Vrystaat is al die dorpe ongeveer 50 km uit mekaar, sodat geen mens meer as ‘n dagreis per perd van enige dorp af gebly het nie.

Sedert 1910 het dinge na die stigting die Unie van Suid-Afrika drasties verander. Die stadsaal en regeringsgeboue het nou die ruimtelike en sosiale middelpunte van die dorpe geword. Baie gou het die industrieë bygekom wat die gesigseinder van die dorpe weer drasties verander het.   Die bordjies is weer in die laaste twee tot drie dekades van die vorige eeu verhang toe die winkelsentrum gaandeweg die ruimtelike en sosiale middelpunt van elke dorp of voorstad geword het. Die ou dorpskerne, waarvan die meeste ou statige kerke het, het gaandeweg begin verval met taxistaanplekke, sypaadjiesmouse en misdaad.

Hierdie verskuiwings dui op drastiese veranderinge in die samelewing, hoofsaaklik veranderinge in die religieuse inhoud van die samelewing. Daar is ’n asimmetriese, wedersydse beïnvloeding tussen die sosiale, kulturele en ekonomiese eienskappe aan die een kant en die religie van die samelewing aan die ander kant. Die een beïnvloed die ander, maar dit is die religie wat die ander eienskappe van die samelewing orden en rig.

Ek kan die begrip religie as volg verduidelik. Ons bewussyn is altyd op iets gerig met ’n bepaalde intensie en aandag. Al ons intensies vind egter plaas teen die agtergrond van beide ’n idee van die oorsprong en aard van onsself, dinge en die totale werklikheid en ’n idee van die finale intensie of hoogste goed vir onsself, dinge en die totale werklikheid. Ons kan die idee van die hoogste goed die telos noem. Hierdie idees van ’n oorsprong en ’n telos is ook op samelewingsvlak teenwoordig, wat vanweë die aard van die twee idees, die samelewing rig en orden. Beide toon ’n transendentale karakter wat die hier en nou oorskry. Die oorsprong van dinge het altyd ’n mitiese karakter, terwyl die telos ’n eskatologiese karakter het. Die eskatologiese karakter dui altyd op ’n toestand van finale rus waarin die goed van dinge gemanifesteer word. Hierdie twee idees is altyd ’n funksie van geloof, vanweë die feit dat die twee dinge nóg gesien kan word, nóg bewys kan word.

Religie is vanweë die inherente sosiale aard daarvan, meer as ’n persoonlike geloof. In sy oorspronklike Latynse betekenis beteken religie die binding van mense aan die gode sodat daar ’n gemeenskap tussen die mense en gode kan bestaan.   Hierdie gemeenskap moet deurlopend bevestig en herbevestig word in die vorm van sekere handelinge of ’n liturgie. Enige liturgie is ook sakramenteel van aard aangesien dit die mense deelname aan sekere eienskappe van die gode gee.

Europa het sedert die Slag van die Milviese Brug by Rome in 312 n.C. geleidelik ál meer ’n Christelike samelewing geword, sodat die Middeleeue in wese ’n Christelike beskawing was. Die telos van die Middeleeuse gemeenskap was Christus self. Die lewe op aarde is as ’n reis gesien sodat die mens eendag met Christus verenig kan word in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hierdie telos het duidelik na vore gekom in die sentrale posisie wat die kerk in die gemeenskap ingeneem het. Die kerk, basilika of katedraal was altyd die sentrale fokus punt in enige stad of dorp, terwyl die stadshuis altyd ’n sekondêre posisie ingeneem het. Dit was die Kerk wat aan die Middeleeuse Europa sy eenheid, ten spyte van al die interne oorloë, gegee het. Dit was verder die Kerk en die Woord van God wat aan die politiek grense gestel het en rigting gegee het. Dit was ook deur die Kerk dat die Nagmaal die sentrale liturgie en sakrament van elke Middeleeuse samelewing was.   Met die oorwinning van Konstantyn by die Slag van die Milviese Brug in 312 n.C., het hy dadelik die heidense tempelrituele met die Nagmaal as die sentrale liturgie van die Ryk vervang. Die tweede belangrike sakrament was die doop waardeur elke lid ván die gemeenskap tót die gemeenskap toegelaat is.

Utrecht 17

Die Nederlandse stad Utrecht in die 17de eeu. Let op die sentrale aard van die Buurkerk wat uit die 13de eeu dateer

Hierdie was dan ook die geval met die vestiging van Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap. Die Kerk was altyd die sentrale fokuspunt van die Kaapse gemeenskap met die Nagmaal as die sentrale liturgie. Hierdie situasie aan die Kaap het verander met die regering van De Mist van 1803 tot 1804 toe die Kaap aan Nederland terug gegee is. Hy het in Julie 1804 godsdiensvryheid aan die Kaap toegestaan en net daarna aan landdroste en heemrade die reg gegee om huweliksbevestigings te doen. Hierdie klink na stappe in die regte rigting, maar dit was die eerste stappe om die moderne staat in Suid-Afrika te vestig waar die Kerk ondergeskik aan die staat gestel word, soos ons hieronder sal sien. Ná die tweede Britse besetting het die Engelse koloniale regering sedert 1820 hierop voortgebou.

Die Voortrekkers het egter vierkantig in die ou tradisie gestaan. Ek glo dat die Voortrekkers hulleself eerstens en bo alles as ’n geloofsgemeenskap gesien het en eers daarna as ’n politieke gemeenskap. Die eerste kerkraad is 3 maande voor die eerste burgerraad by Blesberg in 1836 verkies. Soos in die ou tradisie was die kerk die middelpunt van elke dorp wat die Voortrekkers gevestig het, met die Nagmaal as die sentrale liturgie van die gemeenskap. Tydens die nagmaalsnaweek het mense bymekaar gekom, is handel gedryf, ouers gevra, paartjies in die huwelik bevestig, kinders gedoop en is gekuier. Die Nagmaal het op ’n konkrete wyse aan die Voortrekkersamelewing sy besonderse gestalte gegee.

kerkplein

Nagmaalsnaweek op Kerkplein, Pretoria, in die 1890’s

 Met die vestiging van die die Unie van Suid Afrika in 1910 is die moderne staat oor die hele Suid-Afrika, wat deur De Mist aan die Kaap begin is, voltooi, met die uitsondering van algemene stemreg vir almal. Die groot kenmerk van die moderne staat is dat elke lid van die samelewing in ’n direkte verhouding met die staat staan en op ’n gelyke vlak met mekaar tot die staat staan. Die staat funksioneer hier soos ’n god deurdat dit alles, insluitend die Kerk, aan hom ondergeskik maak. In plaas daarvan dat die indiwidu sy of haar primêre identiteit in die familie en sy of haar betrokke geloofsgemeenskap vind, is burgerskap van ’n betrokke staat nou sy of haar primêre identiteit.

Die groot stryd in die 20ste eeu was die vraag wat die oorsprong en telos van die moderne staat eintlik moes wees. Was dit die volk, soos hier by ons, die produksie van materiële goedere soos in Marxisme of die handel dryf soos in kapitalisme? Dit is hierdie vraag wat die Franse Rewolusie, die Napoleontiese Oorloë, die Amerikaanse Burgeroorlog, die Anglo-Boereoorlog, die Russiese Rewolusie, die Tweede Wêreldoorlog, Viëtnam, Kambodja, en SWAPO en die ANC se terreurveldtogte onderlê. Die moderne staat is letterlik in die bloed van sy burgers gedoop.

Soos reeds genoem is een van die belangrikste kenmerke van die moderne staat die feit dat die verhouding tussen die Kerk en die staat op sy rug gedraai word. Volgens die Christelike Tradisie het die prins altyd na die Kerk gekyk vir morele leiding en die Kerk het homself altyd die reg voor behou om die prins onder sensuur te plaas. Die prins moes op sy beurt weer die Kerk met sy swaard beskerm. Die idee van die (post)modernisme om die staat en die Kerk te skei beteken dat die Kerk nou sy besonderse posisie t.o.v. die staat en die samelewing verloor het. Die staat kon nou sy eie telos bepaal soos wat die mode van die tyd dikteer.

Die Nagmaal as die sentrale liturgie in die samelewing is in die moderne staat deur die stembus en die parlement vervang. Hierin was die paradoks van die ou Suid-Afrika en die Afrikanervolk in die 20ste eeu geleë. Terwyl ons ons daarop geroem het dat ons ’n Christenvolk was, was die sentrale fokuspunt en liturgie van ons volk nie Christelik nie. Waar die indiwidu in die Christelike Tradisie gesien is as iemand wat op sy aardse weg na God op pad is en daarom primêr ’n lid van ’n geloofsgemeenskap is, was die indiwidu in die nuwe bedeling primêr as lid van ’n volk gesien, wat alle ander assosiasies van so ’n indiwidu oorspan. Die Kerk was dus in wese net ’n aspek van die volk wat ingespan is om die volk as ’n volk te definieer.

Die verlede is in die poging tot volksbou heeltemal geherinterpreteer. Jan van Riebeeck, die Franse Hugenote en die Groot Trek is nou as momente in die oorsprong en ontwikkeling van die volk gesien. Die Gelofte van 1838 is nou geherinterpreteer as die seël van goedkeuring wat God op die nuwe volk in wording geplaas het. Die hele aard van die Voortrekkergemeenskap wat homself eerstens as ’n geloofsgemeenskap en daarna as ’n burgergemeenskap gesien het, is nou gedekonstrueer. Die Voortrekkermonument, wat as die sentrale middelpunt van die volk gesien is, se sentrale boodskap, nl. die inskripsie op die sarkofaag Ons vir jou Suid-Afrika, is die offer van die self aan die staat, nie aan God nie.

Die veranderinge na 1994 was aan die een kant die voltooiing van wat in 1804 begin is, en aan die ander kant was dit die verkrummeling van die oorsprong en telos van die projek wat in 1910 begin is. Die oorsprong en telos van die ou Suid-Afrika was ’n bietjie dun om werklik die storms en drange van die tyd te weerstaan. Om C.S. Lewis te parafraseer – sou ’n mens ’n sekondêre ding om watter rede ook al primêr plaas, sal jy verseker al twee verloor. Om die oorsprong en telos van die moderne staat bó die van die Christendom te plaas is om die oneindige en onbeperkte goedheid van God ondergeskik te stel aan ’n uiters beperkte vlietende ding.

Met die nuwe Suid-Afrika het beide die idee van die volk en die geloof in God verdamp. Die feit is dat die Christendom ’n gemeenskap só radikaal deursuur, orden, en rig dat ’n verlies daarvan so ’n gemeenskap as ’n blote leë dop los sonder enige diepte of krag. Die nuwe oorsprong en telos na 1994, waarvan die nuwe liturgie in winkelsentrums en op gholfbane en sportvelde plaasvind, is beide leeg en ongelooflik vlak. Dit is gegrond op die idee van die selfgenoegsame indiwidu vir wie die lewe bloot om die materiële dinge in die lewe en ’n narsistiese selfbevrediging gaan. So ’n gemeenskap met so ’n leë oorsprong en telos kan nooit ’n ware gemeenskap wees nie. ’n Goeie voorbeeld is Pretoria-Oos. Hier woon die grootste konsentrasie van Afrikaners in die wêreld. Daar is geen spoor van Afrikaans of die Afrikaner se ryk kultuur daar te vinde nie. Daar is wel ’n oormaat van reuse winkelsentrums vir die leë hedonistiese liturgie van sy inwoners. Is dit nie moontlik die rede waarom elke poging tot verset teen die verdukkende bedeling na 1994 in wese gefaal het nie of waarom ons leierloos is nie? Ons sal hieroor baie mooi moet besin.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.