Die noodsaak van objektiewe geskiedskrywing en interpretasie – Evelyn Ferreira

Foto: SA History Online


Die debat oor wat nou eintlik die “regte geskiedenis” van Suid-Afrika is, heers al vir jare. Kyk ’n mens na titels van gesaghebbende werke wat al oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf is, bestaan daar ’n wye verskeidenheid. In 2018 is die oproepe tot die noodsaak van ’n “gebalanseerde” geskiedenis van Suid-Afrika egter steeds hoorbaar. ’n Geskiedenis wat kinders op skool moet leer sodat hulle die Suid-Afrika van vandag beter kan verstaan. Dit ten spyte van pogings wat al deur historici aangewend is om gehoor aan bogenoemde versugting te gee. Die geykte vraag wat dan maar weer ter sprake kom, is natuurlik: “Uit watter perspektief?” Want die stemme kom vanuit alle kante van die spektrum.

Die woord “gebalanseerde” is met die wegspring al problematies. Beteken dit dat die geskiedenis so geskryf moet word dat dit almal tevrede stel? Sou dit beteken dat sekere feite verswyg moet word en ander weer meer beklemtoon moet word sodat die leser moet hou waarvan hy/sy hoor? Wat my by die vraag bring oor die objektiwiteit van geskiedenis as vakdissipline. Beskik iemand inderdaad oor die vermoë om objektief om te gaan met feite wat hom/haar gemaklik of ongemaklik laat? Die deurwinterde historikus sal dadelik sê dat dit nie moontlik is nie, maar dat daar op ’n wetenskaplike wyse daarna gestrewe kan word. Amper soos die gelowige wat na volmaaktheid strewe hoewel hy weet dat hy dit nie in hierdie ondermaanse sal kan bereik nie. Hoewel akademici en mense wat in die wetenskaplike metode van geskiedskrywing opgelei is, sekerlik die mense is wat “vertrou” behoort te word met die waarheid oor die verlede, is daar vandag ook ’n groot aantal “kundiges” wat hulle weergawe van die geskiedenis aan die publiek opdis. En hulle word geglo! Onder hulle is uiteraard sommige politici wat dit al vir jare misbruik vir politieke gewin. Die jongste gronddebat is ’n klassieke voorbeeld van hoe dit gedoen word. Selfs Jan van Riebeeck word by die hare bygesleep!

Miskien moet ’n mens dan maar weer teruggryp na wat historici al vir jare oor hul vakgebied gefilosofeer het. Ja, miskien moet ons weer vra wat die noodsaak van geskiedenis nou eintlik is. Dit kan dalk verdere lig werp op ons uiters ingewikkelde situasie in Suid-Afrika. ’n Eenvoudige antwoord op die vraag oor die noodsaak van geskiedenis sal dadelik wees dat die vraesteller homself moet verbeel of indink wat die gewone lewe sou wees in ’n maatskappy waarin niemand enige geskiedenis geken het nie. Marwick stel dit mooi as hy sê: “Imagination boggles, because it is only through knowledge of its history that a society can have knowledge of himself.” Professor Levi Strauss sê: “Those who ignore history condemn themselves to not knowing the present, because historical development alone permits us to weigh and to evaluate in their respective relations the elements of the present.” Miskien het Cicero dit die beste uitgedruk toe hy gesê het dat om nie te weet wat gebeur het voordat jy gebore is nie, is om vir ewig ’n kind te bly. Die groot probleem kom natuurlik by die interpretasie en dikwels herinterpretasie van hierdie historiese feite. Wat eers veronderstel was om feite te wees, word dikwels “nuwe” feite vir almal om aan te wend soos nodig. Reeds sedert die 19de eeu het selfs van die beroemdste historici die geskiedenis vereng tot staat en politiek. Dit het uiteraard ’n teelaarde geskep vir baie subjektiewe interpretasies van die geskiedenis deur veral politici en magshebbers van die dag.

As multikulturele land saamgestel uit die geskiedenisse van ’n groot aantal gemeenskappe, was die uitdaging vir historici nog altyd om in die Suid-Afrikaanse konteks elke gemeenskap se unieke “eie” geskiedenis, asook die geskiedenis wat elke gemeenskap met ander gemeenskappe gedeel het, te boekstaaf en dan ’n “objektiewe” weergawe van ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse Geskiedenis te probeer saamstel. Die vraag is egter aan wie die interpretasie van hierdie geskiedenis toevertrou moet word ten einde die geloofwaardigheid daarvan te verseker. Na my mening lê hierdie verantwoordelikheid grootliks by historici wat objektiwiteit nastreef as deel van hul taak as wetenskaplikes. Die verskillende benaderings tot geskiedenis as vakdissipline kompliseer natuurlik sake, maar die historikus wat sy sout werd is, sal hierdie uitdaging tot objektiwiteit met die nodige erns opneem. Dit is wetenskaplikes soos historici wat hopelik kan verseker dat die mense van Suid-Afrika bewaar word van ’n “nuwe geskiedenis” wat sy seile elke nou en dan na die politieke winde van die dag moet span.

Marwick is reg as hy sê dat ons nie geskiedenis kan ontsnap nie. Ons lewens word volgens hom regeer deur wat in die verlede gebeur het en ons besluite deur wat ons glo in die verlede gebeur het. Sonder die kennis van geskiedenis sal die mens en gemeenskappe “soos bote sonder ’n stuur op die ongekarteerde oseaan van tyd” ronddobber. “Man must know his past, and so he must know the infinite richness and variety – in arts and science as well as social organisation and politics – of his past.”

En dan nou Suid-Afrika? Beskik mense oor die kennis, die ware feite, of steun ons net op interpretasies van die geskiedenis soos dit dikwels deur sommige politici en ander sogenaamde “meningsvormers” aan die publiek gebied, ’n mens wil amper sê “opgedis”, word? ’n Mens kry dikwels die indruk dat baie mense weens “akademiese luiheid” dit aan ander oorlaat om vir hulle te vertel wat hulle geskiedenis nou eintlik is en wie hulle dus ook in die proses is. Ons behoort mekaar daagliks op te roep tot ’n groter kritiese ingesteldheid teenoor wat oor Suid-Afrika se geskiedenis kwyt geraak word. Soos die historikus wat objektiwiteit nastreef, behoort ons moeite te doen om die feite te weet. Alleen dan kan daar verantwoordelik geïnterpreteer word.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.