Die ontpolitisering van Afrikaans deur ‘n Nasionale Strategie vir Afrikaans

Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009

Dit is inderdaad in die hoogs gepolitiseerde omgewing van die nuwe SA nie heeltemal so maklik om te praat oor ‘n onderwerp soos “Die ont-politisering van Afrikaans” nie. As Afrikaans by hierdie onderwerp betrek word, word dan by implikasie gesê dat die gebruik van Afrikaans deur sommige mense reeds as ‘n politieke daad beskou word. Dit het onlangs duidelik na vore gekom in die staat se reaksie op mnr. Cerneels Lourens, ‘n prokureur van Brits in die Noordwes-Provinsie, se aansoek om die nasionale talewet ingestel te kry. Die direkteur-generaal van die nasionale Dept. Kuns en Kultuur het in sy hofstukke gesê dat die staat nie verkwalik kan word as Afrikaans nie dieselfde status as Engels het nie. Dr Danny Titus (2009) haal mnr. Wakashe soos volg hieroor aan:

Government has taken notice of the dominance of English, particularly in the business and scientific community, and has recognised that for the development of the people of the country it is in the best interest that English be used as one of the official languages for government purposes. The applicant is essentially seeking for government to elevate Afrikaans to the level of English even though Afrikaans has not been able to establish a wider usage by the business and scientific community. Government cannot be held responsible for the fact that Afrikaans has failed to achieve a status equivalent to that of English.

Dit is interessant dat dit die standpunt is van die regering wat nie sover wil gaan om die Nasionale Talewet ingestel te kry nie. Die punt is juis dat die nienakoming van die staat se grondwetlike verpligtinge – om naamlik ‘n konteks te skep waarin meertaligheid kan gedy en waarin tale in die land (ook Afrikaans!) gerespekteer en bevorder moet word – tot hierdie soort uitspraak lei. Dit is interessant dat Afrikaans hier by name genoem word en nie ook die Afrikatale nie, want dit is juis hierdie soort siening wat daartoe lei dat Afrikatale nie soos verwag is, weer groei nie.

Prof Ampie Coetzee (2009) het onlangs ook gesê dit kom vir hom voor asof die dood van Afrikaans voor hande is. Die reaksie was dat dit nie waar is nie en ook nie sal kan gebeur nie, want daar is dan grondwetlike waarborge vir tale. Die dilemma is dat die grondwetlike waarborge nie nagekom word nie, soos duidelik blyk uit talle hofsake sedert 1995 waarin Afrikaans en ook ander tale se taalregte geskend is. Ampie vra heel tereg hoekom moet daar elke keer hof toe gegaan word as ‘n reg vir Afrikaans opgeëis wil word?

Maar wanneer ‘n organisasie ‘n klag lê oor die ondermyning van Afrikaans, moet die klag hof toe gaan, en dan waarskynlik ook appèlhof toe. Wie betaal? Ons kla dan maar net. Ons oueres is ook klaar baklei: vanaf 1875 was dit opdraand vir die erkenning van Afrikaans.

Prof Vic Webb wys in ‘n vroeë artikel (1997: 227) daarop dat die taalsituasie in SA al lank gepolitiseerd is:

‘Dit geld veral vir Afrikaans wat onder die vorige bewind sterk bevoordeel is, en wel in so ‘n mate dat dit geassosieer is met apartheid en dat dit beskou is as taal van die onderdrukker.’

Die geskiedenis is hieroor ook duidelik en wys uit dat Afrikaans die stigma dra (gedra het?) van die onderdrukkende taal, en hiermee is ‘n mens pens en pootjies in die politiek van SA. ‘n Joernalis, J Rantoa, het in 2005 in die Cape Times gesê Afrikaans verdien geen spesiale behandeling nie:

“So, what is special about Afrikaans? Why is this language being treated as something special and accorded a status higher than the other 10 official languages of this country? The truth is that there is nothing special about Afrikaans. It is a language like any other. The only ‘special’ thing about it is that it was the official language of a racist regime which tried, unsuccessfully, to ram it down the throats of all South Africans. Other than this infamous historical significance, Afrikaans is not special and should be treated as such.”

Prof Christo van Rensburg het wel reeds in 1989 uitgewys dat ‘n taal nie die gevolge kan dra vir die foute van sy sprekers nie. ‘n Taal kies nie sy sprekers nie, maar die mense wat dit gebruik, kies dit omdat daar kommunikasie moet wees. Dit geld vir enige taal. Ampie Coetzee sluit weer hierby aan:

In Afrikaans is daar dinge gesê, en Afrikaners het dinge gedoen, in die verlede wat afskuwelik was. Maar dis nie Afrikaans die taal nie. Hoeveel keer moet dit gesê word? Ek is seker van die aggressie teen Afrikaans bestaan uit onkunde oor ‘n taal. As daar ideologieë ontstaan in ‘n spesifieke taal, is dit nie die taal self wat dit doen nie. Daar kan dus geen diskriminasie teen enige taal wees nie. As Afrikaans gesien is as die taal van die onderdrukker, dan is Engels, Duits, Frans, Russies ens ook die tale van onderdrukkers. Dít is ook al oor en oor gesê.

Miskien moet ons nou ‘n slag hierdie saak agter ons kry en aangaan met dit wat ons as sprekers van die taal met die taal wil doen in die post-1994 Suid-Afrika. Die gevaar is dat ons so verstrik kan raak in die verlede dat ons nie die moontlikhede van die toekoms eens begin ontgin nie. By ‘n onlangse konferensie oor sosiale samehorigheid op Stellenbosch (vgl. Venter 2009) het prof Russel Botman, rektor van US, gewaarsku teen die neiging om vas te val in die verlede omdat ons so vasgevang is tussen twee lande, te wete die land van die verlede en die land van die more. “Ons stry met die verlede en die toekoms. Ons hoor so baie van die land in die verlede, tog so min oor die land van more. Ons kan nie voortbeweeg as ons nie tussen dié lande vassit nie.” Tydens dieselfde geleentheid het dr. Mamphela Ramphele gesê dat ons wel op ‘n manier van die ‘psigologiese littekens’ van die verlede (bedoelende apartheid en die skade wat dit in die land en in menseverhoudinge veroorsaak het) ontslae behoort te raak en ons kan dit doen deur te praat oor die verlede – “Om oor dié spoke te praat, is ‘n essensiële stap om hulle te laat rus. Gesprekke is nodig.” Dit is ook die geval tydens hierdie Roots-konferensie. Op hierdie wyse begin ons die foute van die verlede verwerk en kan ons aanbeweeg sonder om regtig die verlede agter te laat.

In 2000 het ek by ‘n kongres in Berkeley in die VSA, voorgestel dat ons behoort te begin beweeg in die rigting van ‘n objektiewe geskiedenis van Afrikaans – ‘n geskiedenis waarin ons die volle verhaal van Afrikaans moet vertel (met sy vratjies en vrot kolle en al). Dit sal inhou dat ons ook gebeure in perspektief begin plaas en ook moet begin wegbeweeg van die persepsie dat Afrikaans ‘n verdrukkende taal is. Ons weet van Soweto 1976, maar die vraag is altyd of Afrikaans werklik die druppel was wat die spreekwoordelike emmer laat oorloop het? Toe ek by die bogenoemde kongres sê dat ons die volle verhaal van hierdie tragiese gebeure moet vertel, naamlik dat hoofsaaklik aspekte soos o.a. Bantoe-onderwys en die paswette (vgl. Steyn 1980, 2000; Pienaar 2004), ook daartoe bygedra het, is ek daarvan beskuldig dat ek politiek praat.

Hierbo is pas gesê – en dit is elders al by herhaling gesê – dat ‘n taal nie die skuld kan vat vir die foute van sommige van sy sprekers nie. Gerrit Brand het in ‘n meningstuk gesê dat daar ook onthou moet word dat nie alle ‘blankes skuldig was aan apartheid nie’ (Brand 2009). Die feit dat ‘n minister gesê het dat Afrikaans gebruik moet word as medium van onderrig in Soweto (Steyn 2000, Pienaar 2004), impliseer nie dat alle Afrikaanse sprekers so dink nie en dat alle Afrikaanse sprekers noodwendig onderdrukkers is nie. Dit was wel die vonk wat die politieke kruitvat laat ontplof het en die geskiedenis wys wat die uitkoms van die hele proses was. Die woede was toe gemik teen die wit sprekerskorps van Afrikaans. Daar was dus kollektiewe woede teenoor alle wit mense wat Afrikaans praat (Brand 2009). Afrikaans is wel ook gebruik om SA te bevry – die geskiedenis wys dit ook uit (vgl. ook Steyn 1980, Brand 2009). Ronel van Oort, ‘n doktorale student van my, het onlangs ‘n studie hieroor voltooi, ‘n studie oor die verdelende, maar ook gedeelde verlede van Afrikaans en hoe ons te werk kan gaan om nou na die toekoms te begin kyk. Oor hierdie studie is ek opgewonde, want hierin kry ons ‘n aanduiding van hoe ons vorentoe kan gaan.

Wat probeer ek dus vir u sê? Ek sê dat Afrikaans se verlede nie altyd ewewigtig geoordeel word nie en dat ou koeie nog konstant uit die sloot gehaal sal word (vgl. Carstens 1994), soos in die woorde van Rantoa en van mnr. Wakashe hier bo. Die tyd is waarskynlik nou ryp om hierdie verlede agter ons te begin sit sodat ons kan aangaan om te besin oor Afrikaans se rol in die SA van 2009, oor die Afrikaans van 2059, soos in die studie van Ronel van Oort (2008) uiteengesit .

Ek wil daarom vir die res van my spreekbeurt kortliks verslag doen oor ‘n proses waarby ek betrokke is en wat ten doel het ‘n inklusiewe Afrikaans, ‘n Afrikaans wat verteenwoordigend is van sy volle sprekerskorps. Hierdie proses, wat bekend staan as ‘n Nasionale Strategie vir Afrikaans, het ‘n aanvang geneem in September 2003 en nou, meer as ses jaar later, kan met vrymoedigheid gesê word dat daar reeds ver op hierdie pad gevorder is. Ons is natuurlik nog nie daar dat ons kan sê hierdie beweging betrek die volle sprekersgemeenskap van Afrikaans nie, maar daar is goeie vordering in daardie verband. Eers as die regses van ons tyd spontaan hierby betrokke raak en glo aan ons doelwitte en meewerk aan die waarmaak van ons strewes, kan ons praat van ware versoening.

Dr. Christa van Louw het in September 2003 tydens ‘n FAK-simposium in Pretoria gesê dat so ‘n nasionale strategie kan dien as instrument van versoening in die histories verskeurde Afrikaanse gemeenskap. Dit moes nie net ‘n strewe bly om Afrikaans te bevorder nie, maar dit moes ‘n strewe word wat die Afrikaanse gemeenskap sou saamsnoer om die ideaal van ‘n waarlik inklusiewe liggaam wat Afrikaans se belang die beste sou dien (die hele proses sedert 2003 is deeglik opgeteken in ‘n reeks boeke onder redaksie van Karel Prinsloo – vgl. Prinsloo (red.) 2004, 2006a, 2006b, 2008a, 2008b). Die proses is vorentoe geneem deur ‘n Voortsettings­komitee, wat in die loop van 2004 die historiese Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad (in Augustus 2004) op Stellenbosch gereël het. Die vertrekpunt vir die beraad was ‘n taalbestekopname (algemeen bekend as die taaloudit) wat gegewens versamel het oor Afrikaans se sterk en swak punte en aan die hand waarvan gepraat en besin is.

Die beraad self was ‘n sukses, maar dit was duidelik dat die verlede nog nie begrawe was nie toe daar wrywing ontstaan het aan die einde, en dit was tussen wit en bruin. Agterna beskou, was dit waarskynlik die keerpunt in die proses wat ons gebring het tot waar ons vandag met die Afrikaanse Taalraad (ATR) is. Daar is hard met mekaar gepraat en dit was duidelik dat daar agter die skerms hard gewerk sou moes word om verskille uit die weg te ruim (vgl. Carstens 2006).

Ek kan self getuig van ‘n uiters openbarende gesprek met Christa van Louw in November 2004 wat aan die een kant my eie skromelike onkunde oor die gevolge van apartheid openbaar het en my beskaamd gelaat het oor die aandeel wat ek daaraan gehad het, maar ook gehelp het om mekaar reguit in die oë te kyk. Ek moes leer om te luister en dit was die boodskap wat ek kon uitdra: kom ons praat oor die verlede en probeer sodoende mekaar verstaan deur te luister na standpunte en wrewel. So bou ons op individuele vlak ook versoening en hiervandaan kan dit uitsprei na ander, na die wyer gemeenskap (Brand 2009). Dit sluit aan by dr. Ramphele se siening dat ons moet volhou om oor die spoke te praat, want dit is reeds ‘n belangrike stap om hulle te laat rus.

Twee jaar lank het ons hard gewerk om die klowe te oorbrug en ‘n mens kan waarskynlik sê dat daar met die aanbied van die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad (in Februarie 2007) in Pretoria al ‘n mate van versoening plaasgevind het. In hierdie proses is ‘n taalplan opgestel wat as riglyn gedien het vir die bestuur van die proses. Uit die taalplan het die interimliggaam, die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), ontwikkel wat die proses bestuur het tot en met die uiteindelike stigting van die ATR in Mei 2008 in Wellington.

Die ATR het pas in Augustus 2009 sy eerste algemene jaarvergadering in Pretoria gehou en daar kan gerapporteer word dat die ATR stewig op koers is om die taak te verrig wat aan hom opgedra is deur meer as 40 Afrikaanse organisasies – word ‘n liggaam wat die volle Afrikaanse sprekersgemeenskap verteenwoordig en praat dan namens die versoende Afrikaanse gemeenskap. Op die laaste bestuurs­vergadering van die ATR is indringend besin oor hoe ons as liggaam die versoening sigbaar gestalte kan gee en ek kan vandag berig dat ons op positiewe stappe in hierdie verband besluit het. Ons glo dit sal help om politieke grense te help oorbrug en die fondament van versoening te bou. Ons hoop dat deur ons beskeie bydrae daar ‘n heelmaakproses sal deurloop. Ons kan nie en gaan ook nie vergeet wat in die verlede skeefgeloop het nie – soos prof Nico Botha, teoloog van UNISA, sê (Botha 2009): ons moet nie toegee aan die versoeking om óf net in die verlede te leef óf net na die toekoms te kyk nie. Die vraag is hóé ons die verlede onthou sodat ons dit as basis kan gebruik vir ‘n toekomsvisie. Ons moet dus waak teen verknegtende herinnering en eerder fokus op verlossende herinnering. Dit het die potensiaal om mense te bevry en te verander “as hulle begin onthou wie hulle eintlik met mekaar en vir mekaar kan wees in Suid-Afrika”.

Ek het vandag aan u iets probeer vertel van die hartseer verlede van Afrikaans, van die stigma wat steeds daar lê, maar ek het ook vertel van wat ons as ATR gaan doen om seker te maak dat daar werklik versoening in eie geledere plaasvind. Ek dink ons doen goed vir die kort tyd van ons bestaan, en ek is seker u sal dalk ook so dink na wat ek vandag oorgedra het. Die verlede sal altyd met ons wees en ons sal moet leer om dit te hanteer. My pleidooi namens die ATR is dat ons nie noodwendig die onregte moet vergeet nie (ons kan en durf ook nie, want dit het ons verdeel as taalgemeenskap), maar die ATR glo ook dat ons ook vorentoe moet kyk en gefokus moet bly op ons rol in die SA van vandag, en die SA van 100 jaar vorentoe. Ons moet aan Ampie Coetzee bewys dat hy verkeerd is dat die einde van Afrikaans in sig is en dat dit moontlik is om in Nico Koopman (2009) se woorde ‘n waarlik “transformerende Afrikaans” tot stand te bring. Kom ons lééf dus die politiek reg! Kom ons maak ‘n bydrae om die Afrikaanse taalgemeenskap weer heel te maak.

Flip Buys het by geleentheid gesê:

“Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelik­heid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheids­vennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan ‘n afhanklikheids- of onttrekking­sindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie.”

Daar wag dus werk op ons. Die ATR pak hierdie uitdaging moet erns en met oortuiging aan en ons kom vra die lede van die Afrikaanse gemeenskap en ook die buitelandse verteenwoordigers wat hier aanwesig is, om dit saam met ons te kom doen.

======================

Geraadpleegde bronne

  • Botha, N 2009. “Om weer heel te maak.” Beeld, 28/09/2009, bl. 12.
  • Brand, G 2009. “Het verzoeningsdiscours in Zuid-Afrika.” http://www.litnet.co.za Onttrek 07/09/2009.
  • Carstens, WAM 1994. Om ou koeie uit die sloot te grawe: is daar lesse te leer uit die verlede? – Enkele kantaantekeninge. Literator 15(2): 16-33.
  • Carstens, WAM 2006. Die breë Afrikaanse debat (1994-2005): enkele temas en inisiatiewe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(2). Supplement Moedertaalonderrig]
  • Coetzee, A 2009. Minderheidstale – verdwynende take. Die gedagtes van ‘n bittereinder. http://www.litnet.co.za Onttrek 15/05/2009
  • Du Plessis, H & LT du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 Opstelle. Pretoria: HAUM-Opvoedkundige Uitgewery.
  • Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.
  • Koopman, N 2009. Transformerende Afrikaans. Die 3de Mathews Phosa-lesing by die Afrikaanse Taalmuseum, 12 Augustus 2009.
  • Pienaar, L 2004. “Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans”, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaanslewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik. (bl. 133-141)
  • Prinsloo, Karel (Projekleier) 2004. Verslag van ‘n taaloudit oor Afrikaanse taalprojekte, verenigings en energieë, 2004. Verslag gereproduseer deur Rapport en versprei tydens die Afrikaanse Taalberaad in Stellenbosch, 25-27 Augustus 2004.
  • Prinsloo, Karel (red.) 2006a. Op pad na ‘n Taalstrategie vir Afrikaans. Verslag gereproduseer deur Content Solutions en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart 2006.
  • Prinsloo, Karel 2006b. “Towards a language strategy for Afrikaans: the process before, during and after the Afrikaans Language Indaba of 2004 in Stellenbosch”, in: Webb, Vic & Theodorus du Plessis (eds) The politics of language in South Africa. Pretoria: Van Schaik.
  • Prinsloo, Karel (Projekleier) 2007. Opname oor Afrikaanse projekte en aktiwiteite op ‘n plaaslike munisipale vlak in Suid-Afrika, 2006. Ongepubliseerde navorsingsverslag versprei by die Tweede Afrikaanse Taalberaad, gehou in Pretoria op 23 en 24 Februarie 2007.
  • Prinsloo, Karel (red.) 2008a. Die Afrikaanse “ons’’ en die nodigheid van ‘n Afrikaanse Taalraad. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, April 2008.
  • Prinsloo, Karel (red.) 2008b. Die Afrikaanse Taalraad kom tot stand. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, November 2008.
  • Rantoa, J 2005. “Government should do away with Afrikaans medium schools.” Cape Argus, 23/02/2005.
  • Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
  • Steyn, JC 2000. “As jy op my liddoring trap, gaat ek jou slaat, vir ou goete ook.” Beeld, 16/06/2000, p. 11.
  • Titus, D 2009. Reaksie op Nico Koopman se “Transformerende Afrikaans”. http://www.litnet.co.za Onttrek 18/09/2009
  • Van Oort, CP 2008. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: ‘n inklusiewe perspektief en implementering in ‘n lesreeks. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.
  • Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaanslewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik.
  • Van Rensburg, MCJ 1989. Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrekpunte vir ‘n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989.
  • Van Rensburg, MCJ 1992. “Die demokratisering van Afrikaans”, in: Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 181-199)
  • Van Rensburg, MCJ 1999. “Afrikaans and Apartheid. International Journal for the Sociology of Language
  • Van Rensburg, MCJ e.a. 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik.
  • Venter, M 2009. “Laat die spoke nou met rus.” Die Burger, 18/09/2009, bl. 13.
  • Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik.
  • Webb, VN 1997. “Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika.” Ons Erfdeel 40(2): 225-236.
  • Webb, VN 2001. “Die bevordering van Afrikaans”, in: Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001. Taallandskap. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 164-176)
No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.