Die ontwikkeling van kritiese denke kan gevaarlik wees – Dr. Jeanette de Klerk-Luttig


Die artikel word hier geplaas met die toestemming van die skrywer en met erkenning aan Netwerk24 waar dit oorspronklik gepubliseer is.  


Die Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga moet gelukgewens word omdat sy dapper genoeg was om die ANC- Presidentskandidaat Nkosazana Dlamini-Zuma te kritiseer oor haar onaanvaarbare en onverantwoordelike opmerkings oor negatiewe propaganda teen die ANC in oudmodel C-skole. Dit is duidelik dat die voornemende presidentskandidaat nou volstoom besig is om stemme te werf en sy skroom nie om dieselfde patroon van populistiese onwaarhede as ons huidige president te gebruik nie. Sy fokus tans sterk op die platteland waar die Zuma-ondersteuners meestal stimuli-arm, onkritiese lofsangers en blindelingse navolgers is. Minister Motshekga het die bewerings dat skole ’n anti-ANC-propagandaveldtog voer en leerders daarom dink dat die ANC korrup en nutteloos is, verwerp en dit beklemtoon dat daar duidelike riglyne is wat in skole geleer mag word en wat nie. Waar daar wel geïsoleerde voorvalle van propaganda of politieke agendas in skole voorkom, word daar dadelik teen die betrokke onderwysers opgetree. Onderwysers is deeglik daarvan bewus dat hulle tydens skoolure ’n polities neutrale standpunt moet inneem.

Toegang tot inligting, ook inligting van politieke instellings en sisteme, asook die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede wat mense in staat stel om self sinvolle keuses te kan maak tussen kompeterende beleide en partye, is van die belangrikste voorvereistes vir ’n gesonde demokrasie. Kritiese denke is ’n voorvereiste vir verantwoordelike burgerskap in ’n demokrasie. Dit stel mense in staat om te onderskei tussen leuen en waarheid, tussen valse propaganda en bewysbare feite en dit is ’n onontbeerlike voorvereiste vir die verwydering van gewetenlose magshebbers. Hoe groter die eiland van kennis, kritiese denke en kundigheid, hoe langer is die kuslyn van respek, insig en vertroue.

Wat Nkosazana Dlamini-Zuma dalk nie besef nie is dat die “kids” se persepsies dat die ANC oneffektief en korrup is, nie die gevolg van ’n propagandaveldtog teen die ANC is nie. Dit is grotendeels die gevolg van die feit dat skole, veral oudmodel C-skole, leerders se kritiese denke ontwikkel en van hulle verwag om krities evaluerend te dink. Leerders word van jongs af voorberei vir ’n demokratiese samelewing omdat hulle in skole aangemoedig word om selfstandig en krities te dink en hul opinies te lug al verskil ander van hulle.

Kritiese denke word in elke leerarea in skole ontwikkel en is ingebed in die kurrikulum. Die volgende doelwitte in die Nasionale Kurrikulum Graad R-!2 wys hoe ’n belangrike rol die ontwikkeling van kritiese denke speel:

  • ’n Aktiewe en kritiese benadering tot leer moet aangemoedig word, eerder as om te leer sonder om te begryp.
  • Probleme word geïdentifiseer en opgelos en besluite word geneem deur kritiese en kreatiewe denke.
  • Inligting word versamel, ontleed, organiseer en krities evalueer.

In Afrikaans en Engels Eerste Taal word, volgens die Nasionale Kurrikulum (Leeswerk), van graad 10- tot 12-leerders verwag om insig te hê in: die verskil tussen feite en opinies, direkte en geïmpliseerde betekenis, die effek van weglating en selektering op betekenis, die verhouding tussen taal en mag, emotiewe en manipulerende taal, vooroordeel, diskriminasie, stereotipering, voorveronderstellings en die doel van insluiting of weglating van inligting.

Volgens die Nasionale Kurrikulum moet graad 12-leerders in Lewensoriëntering (Burgerskap) o.a. die volgende kan doen: Hulle moet die rol wat elektroniese en gedrukte media in ’n demokratiese samelewing speel, evalueer, asook die mate waartoe mediaverslaggewing ’n demokratiese samelewing weerspieël en hulle moet ’n kritiese analise van media en veldtogte kan maak.

Talle eksamenvrae verwag dan ook van leerders om ’n kritiese evaluering van ’n verskynsel te maak, die plusse en minusse, die voor- en die nadele teen mekaar te kan opweeg en tot ’n logiese gevolgtrekking te kom.

Dit is baie duidelik dat ’n hoë graad van onafhanklike, kritiese denke van leerders verwag word en mens kan nie help om te wonder waarom die Jeugliga se ondersteuners nie meer daarvan gebruik maak nie. Leerlinge het, met die feitelike gegewens tot hul beskikking danksy ons vrye media/pers, nie intellektuele gimnastiek nodig om tot ’n verdoemende gevolgtrekking te kom oor die effektiwiteit en die moraliteit van die huidige ANC-regering nie. Hulle gaan beslis nie met oogklappe deur die lewe nie en is nie polities naïef nie.

Vir die Zumas is die ontwikkeling van kritiese denke op skool en universiteit gevaarlik, want die gevolge daarvan is dat die getal leerders en studente wat besef dat die koning nie klere aanhet nie en daarom nie vir ’n moreel kaal koning of vir sy vorige vrou gaan stem nie, besig om hand oor hand toe te neem. Vir ons president en sy kornuite is goed ingeligte burgers wat selfstandig en krities-evaluerend kan dink, ’n wesenlike bedreiging. Want mense wat selfstandig en krities kan dink, sing nie saam in die lofsange vir priesters van eiebelang en stem nie vir aanbidders van eie agendas nie. Hulle eet nie ongeverifieerde stellings vir soetkoek op nie en val nie vir ongekwalifiseerde veralgemenings, valse analogieë en populistiese propaganda nie. Hoe minder kritiese denkers daar is, hoe meer mense is saamdansers en napraters van ons president en sy gewese vrou. Is dit dalk die dieperliggende rede waarom president Zuma nie van “learned Blacks” hou nie? Nkosazana Dlamini-Zuma sal vinnig moet besef dat sy nie maar net kan weier om kritiese vrae soos die een oor waarom sy presidensiële beskerming geniet, te antwoord nie. Sy gaan in haar veldtog toenemend gekonfronteer word met vrae deur selfstandige, kritiese denkers wat reeds op skool denkvaardighede ontwikkel het.

Die ironie van haar toespraak is dat minister Naledi Pandor, minister van Wetenskap en Tegnologie en ’n vorige minister van Basiese Onderwys langs haar gesit het en die heel tyd instemmend geknik het vir die goedkoop politiek wat oor skole en universiteite kwytgeraak is. En ons weet dat sy van beter weet.

 


Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is verbonde aan die kantoor vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.