Die prys van ‘n gebalanseerde toekoms – Johan Schoeman

np-van-wyk-louw-mark-kultuur

Foto: wearecurrent.co.uk

Enkele jare gelede publiseer die bekende Amerikaanse politieke filosoof Michael Sandel sy boek What money can’t buy met die veelseggende subtitel, The moral limits of markets. Hierdie boek beskryf op ’n baie leesbare wyse Sandel se analise van een van die mees kommerwekkende kenmerke van die moderne wêreld, naamlik die feit dat daar baie min oorgebly het wat nie gekoop of verkoop kan word nie. Hy bied in die boek ’n ontleding van hoe omvattend ‘die mark’ geword het in gemeenskappe vandag – só omvattend dat hy praat van ons huidige era as een van “market triumphalism”. Hy sê:

“There are some things money can’t buy, but these days, not many. Today, almost everything is up for sale.”

Sandel bespreek ’n hele aantal voorbeelde van waar die mark die samelewing binnegedring het, en die prentjie wat hy skets is somber. Van betalings deur gevangenes vir beter geriewe in die tronk tot die verkoop van plekke in toue om toegangskaartjies te kry, betaling vir die reg om beskermde wild te jag asook die verkoop van bloed en advertensies in klaskamers, dui sy argumente aan dat die moderne bestaan self grootliks ’n verhandelbare kommoditeit geword het – iets om te koop en te verkoop en, nog meer onrusbarend, dat hierdie toedrag van sake blykbaar sonder probleem deur die gemeenskap aanvaar word. Die meeste van Sandel se voorbeelde kom vanuit ’n Amerikaanse konteks, maar nie almal nie. Sandel vra aan die einde van sy ontleding ’n dringende openbare debat oor die kwessie van ‘kommodifisering’ van ons bestaan. In kort, dus, en as ons Sandel (en ander) glo: baie min dinge (en mense) het vandag nie ’n prys nie. Dit bly veelseggend dat sy analises eintlik nie regtig opslae gemaak het nie, soos ons ook plaaslik sou kon van getuig, só asof dit eintlik die vanselfsprekende en aanvaarbare weergee.

In sommige Franse intellektuele kringe het kommentaar oor hierdie verskynsel ook aandag gekry. Só skryf Michel Houellebecq in sy pertinente styl hieroor (soos vertaal deur Gavin Bowd): “… om te verbruik en verbruik te word …. Ons leef in ’n markgemeenskap, dit wil sê ’n beskawingsruimte waar menslike verhoudings in die geheel en so ook die verhouding tussen die mens en die wêreld in die geheel bemiddel word deur ’n eenvoudige wiskundige bewerking wat aantreklikheid, nuwigheid en die prys/kwaliteit–verhouding in ag neem.” In so ’n samelewing is dit noodsaaklik om “die rakruimtes van die sosiale hipermark in te rig”, om toe te laat, deur middele soos argitektuur en terapeutiese tegnieke, dat goedere en mense vrylik kan vloei, “bevry van die kettings van behorendhede, getrouhede, rigiede gedragskodes, is die moderne individu sodoende gereed om sy plek in te neem in ’n sisteem van algemene onderhandeling waarbinne dit moontlik geword het om op ’n eenvoudige, ondubbelsinnige wyse ’n handelswaarde aan hom toe te ken.” Ek wonder wat die handelaar in Egipte, wat vir my genoem het dat niks in sy winkel ’n prys het nie, maar dat die prys van ’n artikel is wat ek en hy ooreenkom dit is (’n billike prys), hieroor te sê sou gehad het?

Meer onlangs verskyn ’n herdruk van ’n artikel van Russell Kirk waar hy dit oor iets soortgelyk het, alhoewel hy nie soseer die klem op die geldelike sy van dinge laat val nie. Kirk gee sy artikel die titel The humane businessman en het hy dit oor die mate waartoe besigheidsmense in die VSA ook ‘menslik’ is. Kirk maak ’n belangrike onderskeid tussen humanisme en humanitarisme. Hy argumenteer dat Amerikaanse sakemanne wel goeie humanitariste is (hulle gee veel in die lyn van skenkings en hulp aan minderbevoorregtes), maar dat hulle die beperkte deugde en selfs gevare van humanitarisme miskyk as hulle hulself nie bedien van sommige insigte van die humanisme nie. In kort, sê Kirk:

  • In die 19de en 20ste eeue, en deur die tegnologiese rewolusie daarvan, neem effektiwiteit, pragmatisme en vooruitgang effektief oor by die geesteswetenskappe, medebepaal dit wat geld in die geesteswetenskappe en lei dit tot ’n nuwe dinamika in menslike bestaan.
  • Morele, kulturele en intellektuele kapitaal kan jou lank dra, maar moet uiteindelik weer aangevul word, anders is betekenisloosheid die gevolg. Hierdie aanvulling is vandag in die sakewêreld die uitsondering op die reël.
  • Stelselmatig neem die dringendheid van massa-ontspanning oor by massaproduksie, en om dit reg te kry is spandering en die groots-moontlike versameling van ‘dinge’ aan die orde van die dag.
  • Tog, geestes- en menswetenskappe (van kwaliteit) het insigte van groot waarde vir die sakewêreld: ordelike en gedissiplineerde denke, die sinvolle bedink van alternatiewe, skoling in verbeeldingskrag, die bou van persoonlike verhoudings. Dit word egter grotendeels geïgnoreer of ontken in sakebedrywighede en die opleidingsfasiliteite daarvan, waar mense dikwels afstudeer sonder enige begrip van grondliggende beginsels of goeie smaak.

Dit is egter Kirk se gevolgtrekkings ná bogenoemde opmerkings wat regtig van waarde is. Hy sê:

“We can hope that some of our businessmen will begin to pay some heed to the springs of imagination and reason and open their minds to our intellectual heritage. Professor Wilhelm Röpke, the Swiss economist and social philosopher, recently suggested that nowhere is the gulf between the man of property and the man of intellect wider than in the U.S. This is a perilous condition.

By die lees hiervan vra mens jou onwillekeurig af tot watter mate dit van toepassing is op Suid- Afrika? Mens moet egter versigtig wees. In Suid-Afrika en elders waar die ekonomiese model aantreklik is, maar die maatskaplike een nie noodwendig nie, met die gevolg dat jy die eienaardigste redenasies en stellings teëkom, moet mens nie soek na logiese argumente nie – dekolonisasie beteken byvoorbeeld glad nie die omvattende afwys van alles Westers nie. Inteendeel, mens kan blykbaar gemaklik teenstrydige standpunte huldig en ’n geïdealiseerde bestaanswyse met ’n bepaalde kulturele inhoud tegelyk volhou en haat, sonder dat dit ’n probleem verteenwoordig. Kirk se heel laaste sin is egter die belangrike een – dat hierdie ’n gevaarlike toestand verteenwoordig.

Ek vermoed egter daar is ook ’n ander kwessie hier ter sake. Kirk self raak daaraan wanneer hy sê: “More than a generation ago, G. Lewes Dickinson, a British man of letters who happened to be an ardent socialist, informed his friends that they could count upon the conquest of businessmen without a struggle; it would simply entail, said Dickinson, a slow, half-conscious detachment of all of them who have intelligence and moral force from the interest and active support of their class.”

Kirk verwys hier na ’n gebrek aan sentiment of balans in sake-doen; dus, na sakemanne wat bloot wins en transaksies najaag, sonder om ook die wêreld van die kultuur, geskiedenis en tradisie en die waardes daarvan ernstig te neem (en nee, jy besweer dit nie deur geld te gee vir maatskaplike kwessies as deel van die sosiale verantwoordelikheid van besighede nie – dus nie humanitarisme nie). Ironies genoeg is dit juis hierdie sakemense wat finansieel die beste in staat is om hierdie balans te help befonds en in stand te hou. Selfs universiteite, wat ook juis hierdie balans moet en effektief kan verdedig, ontsnap nie hieraan nie. Só verklaar die president van ’n staatsuniversiteit in die VSA byvoorbeeld op ’n stadium (Kirk se woorde): “Daar is geen vlak waartoe ons nie sal daal, solank dit wil lyk asof die publiek dit wil hê nie.” Klink die strekking hiervan in ’n moderne Suid-Afrikaanse konteks bekend?

Die vraag is nou: as ons kyk na Suid-Afrika en byvoorbeeld die huidige ‘kapingsgedrag’, wat beslis nie nuut is nie, hoeveel staan vandag steeds tou om gunste te onderhandel met diegene wat hulle in ’n oogwink sou kelder; hoeveel is suksesvol sonder hierdie gunsbedel en hoe, en wie het regtig die kuns van balans met integriteit bemeester? Universiteitsbesture, kulturele instellings en sakemanne moet ook dié keer aan die dink kom. Hulle het dalk selfs ’n antwoord op ’n opmerking van Kirk oor hoe goedbedoelende maar naïewe geleerdes en sakeleiers eers ondersteuners en toe slagoffers geword het van sentimentele sosiale kollektivisme, veral wanneer laasgenoemde die mag bekom het met eersgenoemde se hulp. Dié twee benaderings skuld hulle ondersteuners nou nog, en veral sedert die vernietigende oorloë en vergrype van die 20ste eeu enersyds en die Suid-Afrikaanse verval andersyds, ’n goeie antwoord hieroor. Hierdie antwoord, of gebrek daaraan, is die prys van die toekoms.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.