DIE REBEL – EN DIE SOEKE NA ’N MIDDELGROND – Prof. Danie Goosen

James Dean, die ‘Rebel without a cause’                                                                                                Foto: Bisous Magazine


Anders as die rewolusionêr, wat met die verlede wegdoen en eensydig klem plaas op die toekoms, soek die rebel sowel die waarheid op wat in die verlede opgesluit lê as in die hoop op ’n nuwe toekoms. Beide is belangrik, sowel die waarheid van die verlede as die hoop op die toekoms. In hierdie sin het ons vandag die stem van die rebel nodig, meer as ooit.

_________________________________

Standpunte wat die FAK in die openbaar inneem, word dikwels deur die soeke na ’n middelgrond gekenmerk. In plaas daarvan om ekstreme standpunte in te neem, word eerder na ewewig gestrewe.

Verstandige mense weet dat dit die heel beste benadering is. Ewewig gaan met geloofwaardigheid gepaard, terwyl ekstreme standpunte ons goeie saak benadeel.

Maar dit bring ons by ’n belangrike vraag: Wat van die rebel in die hart van elkeen van ons? Gaan die rebel nie vanweë die klem op die middelgrond verlore nie?

Ons het ’n ander standpunt hieroor. Anders as wat dikwels aanvaar word, voer ons hieronder aan dat die egte rebel deur die soeke na die middelgrond gekenmerk word. Die tuisgrond van die rebel is juis die middelgrond.

Op grond waarvan sê ons dit? Alvorens ons hieronder breedvoeriger daarby stilstaan, kan ons nou reeds so daarop antwoord:

Rebelle word veral gekenmerk deur hulle opstand teen onreg. Rebelle, kan ons sê, kom telkens in opstand teen magte wat voorkom dat elkeen kry wat hom of haar na regte toekom.

Byvoorbeeld, in vele opsigte was die vroeëre stryd rondom Afrikaans ’n rebellie teen onreg. Ons vroeër taalstryders het hulle op ’n rebelse wyse teen pogings verset om Engels op almal af te dwing en so Afrikaans van haar regmatige plek in die openbare lewe (ook aan die universiteitswese) te beroof.

Maar wat is dan die verband tussen die houding van die rebel en die soeke na ’n middelgrond? Ons kan dit so antwoord: Rebelle se opstand teen onreg vooronderstel dat daar na regte ’n balans tussen verskillende kragte behoort te wees (soos ’n balans tussen verskillende tale), en dat onreg gepleeg word wanneer dié balans versteur word. Ten diepste poog rebelle om die balans te herstel. Slegs so, sê egte rebelle, kan reg geskied.

Sonder dié vooronderstelling by rebelle (‘sonder balans geskied onreg’) kan hulle kwalik wees. Sonder ’n opstand teen onreg in genoemde sin loop rebelle die risiko om slegs ’n rebel ter wille van die rebelsheid self te wees. Maar daarmee gaan die egte rebel verlore. ’n Voorbeeld van laasgenoemde is James Dean, die akteur uit die vyftigerjare, wat bekend geword het as ’n rebel without a cause.

Alvorens ons egter ’n bietjie meer inhoud aan die argument gee, is dit nodig om eers kortliks by die rebelle uit ons geskiedenis stil te staan. Rebelle is immers volop in ons verhaal.

Rebelle in ons geskiedenis

Die rebelle-nuk het reeds vroeg sy kop onder ons mense uitgesteek. Sonder hulle sou ons geskiedenis veel armer gewees het.

Ons eerste rebel het reeds in 1707 na vore getree toe Hendrik Bibault rebels teenoor die onsimpatieke amptenary uitgeroep het, “Ek is ’n Afrikaner.” Tydens die kort bestaan van die destydse ‘republieke’ van Swellendam en Graaff-Reinet is Bibault se rebelle-gees voortgesit. Soos Bibault het dié twee klein dorpies teen die onregverdige amptenary aan die Kaap in opstand gekom.

Daarby het dit nie gebly nie. Buiten dié voorbeelde was daar ook die Slagtersnek-rebellie van 1815 en – ’n eeu later – die Rebellie van 1914. Tydens die afloop van laasgenoemde het Jopie Fourie onsterflikheid as rebel verwerf nadat hy op bevel van Jan Smuts gefusilleer is.

Maar ook ons literêre verbeelding is met rebelle besaai. Dink maar – om slegs enkeles te noem – aan fiktiewe karakters soos Bart Nel in Jan van Melle se gelyknamige boek, of die jong rebel, Diederik Versveld, in Dolf van Niekerk se Die son struikel.

 

In Dan Sleigh se onlangse werk, 1795, speel William van Rheede van Oudshoorn eweneens die rol van ’n tipiese rebel. William kom teen die dwaasheid van die Kaapse owerheid in opstand. Pieter Fourie, die veel bekroonde Afrikaanse dramaturg, verwys nog onlangs in ’n radio-onderhoud na homself en die karakters in sy dramas as tipiese rebelle. Tydens die onderhoud lê hy ook ’n verband tussen die rebelle Jopie Fourie en Steve Biko.

Die meeste van ons rebelle kom teen onreg in bogenoemde sin in opstand. Bibault en sy latere geesgenote voer telkens aan dat die owerhede nie aan elkeen gee wat hom of haar toekom nie. Ten grondslag van hulle rebelsheid lê daarom ook iets soos die gedagte van die middelgrond. Hoe anders sal die rebelle immers weet dat die owerhede die dinge skeeftrek en sommige ten koste van andere bevoordeel? Dit is op grond van dié wete dat hulle hoegenaamd teen die ordes rebelleer. Ons kan sê dat die gedagte van die middelgrond by hulle as ’n soort (meestal onuitgesproke) norm optree met behulp waarvan hulle oor hulle toestand oordeel.

Die rebel by Ernst Jünger

Om hierdie punt verder te illustreer, sou ons onsself op ’n veelheid van bekende rebelle uit die Europese verlede kon beroep het. So sou ons onder meer na die Frans-Algerynse skrywer, Albert Camus (1913-1960), kon verwys. Camus het immers in menige opsigte self die verpersoonliking van die rebel in die twintigste eeu geword. Camus se beroemde werk, Die Rebel uit 1951, is steeds ’n lesenswaardige getuienis hiervan.

Ons wil egter nie by Camus stilstaan nie. Vir ons doeleindes is dit slegs belangrik om daarop te wys dat die latere Camus skerp van sy eertydse vriend, Jean-Paul Sartre, verskil het. Dit het rondom die verskil tussen die rewolusionêr en die rebel gedraai. Terwyl Sartre die rewolusionêr bo die rebel gekies het, het Camus eerder die rebel as die rewolusionêr omhels. Ons keer hieronder weer na hierdie verskil terug. Dit hou ten nouste verband met die feit dat die rebel deur ’n sin vir die middelgrond gekenmerk word, terwyl die rewolusionêre juis die middelgrond prysgee.

Ter wille van ons doeleindes wil ons egter eerder na Ernst Jünger (1895-1998), ook een van die grootste rebelle uit die vorige eeu, verwys. Wat was volgens Jünger die wese van die rebel?

As jong man het Jünger van sy ouerhuis weggeloop om by die Franse Vreemdelingelegioen aan te sluit. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy aan verskeie groot veldslae deelgeneem; is hy verskeie kere ernstig gewond en ontvang hy onder meer die Pour le Mérite, die hoogste toekenning vir dapperheid. Jünger se eerste groot werk, Storm van staal (1920), word as van die mees uitsonderlike beskrywings van dié selfvernietigende oorlog beskou. Jünger het daarna oor die ongelooflike tydperk van sowat 70 jaar nog talle literêre, politiek-kulturele en outobiografiese werke gepubliseer, selfs tot kort voor sy dood in 1998.

In ’n kort maar kragtige werk, Die Woudpad, wat soos Camus se Die Rebel ook in 1951 gepubliseer is, dink Jünger na oor wat die rebel vandag kan beteken. Volgens Jünger word rebelle (of woudlopers, soos hy graag na rebelle verwys het) gekenmerk deur hul opstand teen hedendaagse state en groot besighede wat die balans tussen dinge skeeftrek – deur onder meer alles met behulp van tegniese en burokratiese instrumente te beheer.

Volgens Jünger lei dié beheer daartoe dat die vryheid van gemeenskappe vernietig word. In plaas daarvan dat gemeenskappe self vorm aan hul wêreld gee, maak die staat en groot besigheid ons soos robotte wat slaafs hulle voorskrifte moet navolg. Rebelle is daarom noodsaaklik, skryf Jünger, om vir die vryheid van gemeenskappe in te tree.

Anders as wat hierdie magte voorgee, is ons nie outomate wat soos geoliede masjiene funksioneer nie. Alhoewel die klem op die funksionele belangrik is, kom ons as mense eers regtig anderkant die eis om funksionaliteit tot ons reg. In die woorde van Jünger: “Ons lewe eers regtig wanneer ons deur die funksionele (voorskrifte van die staat en groot besigheid) gebreek het.”

Trouens, ons kom eers tot ons reg wanneer ons – anders as robotte – vry aan die vorming (Jünger skryf van die ‘gestaltegewing’) van ons gemeenskappe deelneem. Rebelle kom in opstand teen ordes wat poog om ons van dié vryheid te ontneem. En wat ons tot blote ratte in ’n groot masjien reduseer.

Rebelle en rewolusionêre

Ter afsluiting verwys ons na die verskil tussen die ‘rebel’ en die ‘rewolusionêr’ wat hierbo ter sprake gebring is. Ook vanuit hierdie onderskeid beoordeel, blyk die samehang tussen die rebel en die soeke na die middelgrond.

Terwyl rebelle in opstand kom teen die miskenning en onreg wat ekstreme standpunte veroorsaak, word rewolusionêre juis deur ekstreme standpunte gekenmerk. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die verskillende wyses waarop rebelle en rewolusionêre oor die invloed van die verlede op die hede oordeel.

Rewolusionêre strewe daarna om volledig met die verlede te breek. Volgens hulle is die verlede eenvoudig boos. In plaas daarvan om vorme van kontinuïteit met die verlede op te soek, moet nuwe politieke, ekonomiese en sosiale ordes eerder uit die as van die verlede verrys, sê die rewolusionêr.

Die Franse Rewolusie is die mees tipiese voorbeeld hiervan. Volgens die Franse rewolusionêre was alles uit die ou monargie boos, daarom moes dit letterlik onder die valbyl geplaas word. Sonder ’n skoon lei, het hulle aangevoer, kan daar nie iets soos ’n nuwe era aanbreek nie.

Ook onder ons was daar enkele rewolusionêre. Alhoewel dit nie naastenby met die Franse rewolusie vergelyk kan word nie (en dit ook nie tot geweld aanleiding gegee het nie), kan die Voëlvry-beweging tydens die tagtigerjare as ’n soort adolessente rewolusie onder Afrikaners beskryf word.

Soos by alle rewolusionêre bewegings was ook die Voëlvry-beweging deur ’n verset teen die verlede gekenmerk. Alles vanuit die verlede (nie net apartheid nie, maar ook die etos ten grondslag van onder meer kerk, skool en gesin) moes van die tafel afgevee word. ’n Totale nuwe begin is in die vooruitsig gestel.

Die onlangse film oor die Voëlvry-beweging, Johnny is nie dood nie, beeld dit op ’n uitstekende wyse uit. Dinge soos kerk, skool en gesin was as verdrukkend en selfs fascisties ervaar. Liewer daarsonder as daarmee, was die onderliggende boodskap.

Maar dit bring ons by die belangrike vraag wat telkens ten opsigte van die rewolusionêr gevra moet word. Was die rewolusie wat die Voëlvry-beweging wou wees, suksesvol? Terugskouend word dit deur ten minste twee reuse ironieë gekenmerk.

Eerstens, dat dié beweging nie tot geweld aanleiding gegee het nie, kan juis toegeskryf word aan die onbewuste invloed wat gemeenskapsinstellings uit die verlede soos kerke, skole en gesinne op hulle uitgeoefen het. Ondanks die feit dat daar met dié instellings (dikwels tereg) die draak gesteek, gespot en hulle selfs verag is, het die ou etiese en andersoortige lewenswaarhede wat nog vanuit hulle uitgestraal het, gesorg dat die rewolusionêre energie in die voeë van ’n relatief onskuldige karnaval weggevoer is.

Tweedens, ondanks die feit dat die einste ‘rewolusionêre’ hulself  so teen die verlede verset het, het hulle tegelyk ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse musiekerfenis gelewer. In plaas daarvan om dus met verlede weg te doen, het hulle juis – terugskouend – ’n belangrike rol gespeel om ons verlede te verryk. Historici kan daarna verwys as die onbedoelde goeie gevolge wat rewolusies vir tradisies het.

Dit bring ons ten slotte by die rebel. Rebelle word nie gekenmerk deur die rewolusionêre obsessie om met die verlede weg te doen nie.

Rebelle erken die onreg wat in die verlede gedoen is. As daar onreg gepleeg is, moet dit reggestel word, sê hulle. En met ‘regstel’, word bedoel dat die balans tussen kragte herstel moet word.

Rebelle maak egter beswaar teen die onreg wat gepleeg word wanneer die verlede met een haal van die tafel gevee word. Alles uit die verlede word nie deur onreg gekenmerk nie. Inteendeel, ons kan op talle dinge uit die verlede trots wees. Soos juis die gees van die rebel wat onder meer in proto-republieke soos Graaff-Reinet en Swellendam aanwesig was.

Rebelle is egter nie aan die verlede verknog nie. Ook hulle is toekomsgerig. Anders as rewolusionêre heg rebelle egter nie oordrewe verwagtinge aan die toekoms nie. ’n Eensydige klem op ’n utopiese reënboog-toekoms kan, soos juis met rewolusies, tot enorme geweld en lyding aanleiding gee – en, helaas, tot nuwe vorme van onreg.

Anders as die rewolusionêr, wat met die verlede wegdoen en eensydig klem plaas op die toekoms, soek die rebel sowel die waarheid op wat in die verlede opgesluit lê as in die hoop op ’n nuwe toekoms. Beide is belangrik, sowel die waarheid van die verlede as die hoop op die toekoms. In hierdie sin het ons vandag die stem van die rebel nodig, meer as ooit.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.