Die rebellie van die weetgieriges – Johan Schoeman


Daar is ’n oorlog aan die gang, of dalk moet daar ’n soort oorlog kom – die oorlog van die weetgieriges teen die ‘kultus van die kenners’ soos sommige dit al genoem het. Onlangs het Daniel Lattier, vise-president van Intellectual Takeout in die VSA, dit oor die kwessie van die ‘selfleerder’ in die samelewing vandag. Lattier maak baie kritiese opmerkings oor die agteruitgang van hierdie praktyk in die Westerse wêreld, en verwys na opmerkings van Ravi Mangla in ’n artikel hieroor. Lattier en Mangla se argumente kom baie kortliks op die volgende neer:

  • Sonder ’n grootskaalse selfleerproses om die klassieke werke wat ons beskawing gevorm het te leer ken, staan die stoorkamer van die Westerse beskawing die kans om in ’n vergete museumitem te verander.
  • Daar bestaan feitelik onuitputlike geleenthede tot selfleer via die web. Dit word al makliker om jouself tot op ’n hoë vlak te leer, maar daar is min erkenning hiervan. Soveel meer moontlikhede vir selfleer bestaan dus, maar daar blyk al minder selfleerders te wees.
  • Menslike natuur laat dit lyk asof mense slegs presteer as daar ’n tasbare beloning is, en daar is nie baie beloning vir selfleer in die instellings van die moderne samelewing nie. Leer moet in ’n instelling plaasvind anders tel dit nie.
  • Hoe ver jy formeel gekwalifiseerd is en waar, is dikwels belangriker as die inhoud wat jy onder die knie sou hê.
  • Instellings van opleiding kom dikwels baie altruïsties voor, maar daar is dalk in sommige instellings ’n probleem. Mangla skryf:The problem with public advocacy campaigns urging kids to stay in school is that they treat education as a fundamentally passive pursuit. Jump through these hoops, however rote and arbitrary they may seem, and you will become a card-holding member of the professional class. If the aim truly is to develop a highly skilled and adaptable workforce, then we should be encouraging people to get educated through means as numerous and unusual as possible.”

Die bedoeling hier is glad nie om enige formele opleiding af te kraak of die waarde daarvan te onderskat of verdag te maak nie, nieteenstaande die toenemende politieke napratery, intellektuele gemak en blote oneerlikheid wat al meer kenmerkend van die akademie begin word. Gestruktureerde opleiding met behoorlike standaarde en evaluasie is nodig, maar vra in die moderne wêreld gereelde opdatering.  Dit kan geskied sonder die tussenkoms van instellings. Mens behoort kennis te neem van die waarde van verantwoordelike en voortdurende selfopleiding/ontwikkeling, of jy gegradueerd is of nie, met een voorbehoud: die gevare van bietjie kennis oor baie (net soos baie kennis oor min) is maklik raak te sien en kan deurdring selfs tot op die vlak van staatshoofde en hulle amptenary, veral as dit gepaard gaan met ’n bepaalde sielkundige profiel, ’n stewige ego, ’n bedenklike etiek en ’n goeie dosis selfmisleiding. Volgehoue skoling in vaardige verbandlegging deur doelgerigte selfleer is egter nie te versmaai nie, veral omdat dit juis salf aan die akademiese wonde hierbo kan help smeer en meehelp tot ’n uitbreiding van individuele kennis. Die ‘Wêreld Ekonomiese Forum’ doen ook in sy nuutste beplanningsdokumente ’n oproep tot lewenslange leer en maak ingrypende voorstelle oor hoe om die aard van leer/opleiding in te rig vir toekomstige sukses. In ’n onlangse artikel verwys Anthony Esolen op sy beurt na een resultaat van ’n gebrek aan ingeligte mense: “What is the worst thing about living near an open sewer? It is not that you sicken at the stench of it every time you leave your front door. It is that the noisome vapours are so pervasive, and you have lived with them so long, you no longer notice it. What is the worst thing about living in the rubble of a civilization? It is not that you shed a tear for the noble churches and courts and town halls you once knew … It is that you do not even suspect that such things existed.

As die skrywers hierbo bekommerd is oor die agteruitgang van die proses van selfleer en die resultate daarvan in die Westerse wêreld, wat is die situasie in Suid-Afrika? Ons is midde in ’n proses van Afrikanisering aan verskeie akademiese instellings wat selfs die mees liberaal-akkommoderende besture nou in hulle fondamente ruk en wat deel vorm van ’n groter proses van dekonsolidasie oor ’n breë samelewingsfront.  In ’n sekere sin bewys hierdie en ander gebeure juis dit wat hier genoem word – ’n ‘graad’ (verkieslik ’n gedekoloniseerde een waar jy die elemente kan uitsoek wat jou pas en ander kan afskryf, soos dit pas, sonder om te veel oor die redes vir hierdie ontuisheid hoef te sê) word gesien as alles, ’n panaseë vir sukses – kom wat wil en of jy nou persoonlik daartoe in staat is of nie. Hiermee saam gaan dit toenemend ook in sommige instellings van hoër opleiding nie soseer oor die inhoud van die inligting wat oorgedra word nie, maar hoe om dit te verpak sodat dit die beste kan verkoop of, ten minste, politieke korrektheid eerder as akademiese verantwoordbaarheid. Frank Furedi in sy boek, Where have all the intellectuals gone? bekyk die wêreld van die intellektueel en kom onder andere tot die slotsom dat kennis ’n blote produk/instrument geword het; dat diegene gekant teen vordering op grond van meriete eintlik probeer om mense se vrese vir moontlike mislukking te besweer en dat daar drie kenmerke van die Westerse wêreld is wat gerieflikheidshalwe geïgnoreer word, naamlik ’n dikwels noodlottige band tussen intellektuele en ideologie, die eienaardige aptyt vir meer kennis terwyl daar terselfdertyd met agterdog gekyk word na die vooruitgang daarvan en die verlies aan betekenisvolle debat wat lei tot ’n verdomming op kulturele en opvoedkundige terrein (hy noem bv. in die laaste geval die toenemende insidente van die vlei van studente in hulle prestasies ter wille van inklusiwiteit ten alle koste). Hierdie verteenwoordig sinvolle kwessies om te oorweeg wanneer die geleentheid daar is om nuwe strukture te vestig en die kans bestaan om nuut te dink oor die wyse van die akademiese aanbod en die inhoud van die aanbod self.

Die waarde van verantwoordelike selfopleiding, saamlopend met studie aan formele instellings, blyk duidelik – ’n skoling in dink vir jouself, maar dalk nou meer los van ’n (dikwels) akademiese ideologie; in gebalanseerde kritiese denke en die handhawing van ’n oop, transdissiplinêre ingesteldheid. Die toekomstige aard van werk maak dit onontbeerlik. ’n Oorsig van onlangse mediaberigte wat, afgesien van sensasie en soms onwaarhede dikwels ’n gebrekkige vermoë tot verbandlegging illustreer, asook sommige van die kommentare van die publiek op artikels in dieselfde media, maak hierdie kwessie dalk eerder ’n noodsaak as ’n blote idee. Gebeur dit nie is die uiteindelike uitslag van die ‘stryd om idees’ en die neerslag daarvan in die praktyk, ook in Suid-Afrika, eintlik nie moeilik voorspelbaar nie. Daarvoor sal die goedgelowige ‘kenners’ en hulle meelopers sorg. Ten slotte nogmaals Mangla, dié keer met ’n direkte boodskap (my vertaling): “… wat is meer bedreigend teen die status quo as ’n bevryde leerder?”


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.