Die soetste taal met ’n bitter nasmaak

deur Ds Schalk Strauss 

12745895_1004541592950976_5711888043762984057_-xsn


In die 1979-uitgawes van die FAK se sangbundel, kry ons seker een van die mooiste liefdesverklarings vir ons moedertaal in die woorde van die bekende toonsetting van CF Visser se gedig O Boereplaas. In die laaste strofe kry Visser dit reg om menige Afrikaanssprekende se hartsgeheime te laat uitmond in die woorde:  “O moedertaal, o soetste taal! Jou het ek lief bo alles. Van al die tale wat ek hoor, niks wat my siel ooit so bekoor. O moedertaal, o soetste taal! Jou het ek lief bo alles!”

Die probleem met hierdie liefdesverklaring is dat dit in ons land soms grens aan verbode vrugte. Afrikaanssprekendes is soos ’n jong seun wat vir die eerste keer sy hart op ’n meisie verloor. Hier in sy hart komponeer hy sy liefdesverklaring strofe vir strofe, maar hy durf dit nie sê nie, want hy weet hierdie verhouding is hom nie beskore nie, omdat sy ouers reken hy is nog te jonk daarvoor. Openlike liefdesverklarings teenoor die Afrikaanse taal het die nuwe taboe geword in die Suid-Afrikaanse huishouding. ’n Buite-egtelike verhouding wat kan lei tot steniging deur die polities-korrekte elite.

Taal het ’n politieke speelbal geword. In ʼn koerant artikel die week sê die EFF onder andere dat hulle die Universiteit van Pretoria onregeerbaar sal maak indien die taakspan wat die universiteit se taalbeleid moes hersien, nie teen Vrydag aankondig dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf word nie. Die taalstryd op die Universiteit van Stellenbosch is ook nog lank nie uitgewoed nie aangesien sommige beweer dat taal gebruik word om ’n sekere groep van die samelewing uit te sluit. Voorstanders van hierdie verandering, soos die EFF en organisasies soos Open Stellenbosch, wil graag sien hoe Afrikaans druipstert by die deur uitgeskop en vervang word met Engels. Ironies genoeg sal taal dan steeds gebruik word om bepaalde groepe uit te sluit.

Die Afrikaanse taal word deesdae deur sommige beskou as sinoniem met die vyand. Taal word gebruik om mense te kategoriseer en selfs te marginaliseer. Indien jy as Afrikaanssprekende ’n bydrae wil lewer in hierdie land, word jy stilgemaak omdat Afrikaanssprekendes se aandrang op die gebruik van hulle moedertaal bloot gesien word as ’n voortsetting van apartheid en blanke oorheersing. Taal word selfs gebruik om mense as rassiste te etiketteer. Ons moedertaal, wat veronderstel is om vir ons die soetste taal te wees, het ’n bitter nasmaak gekry.

Die vraag is vanoggend of dit vir gelowiges nodig is om onder die las van hulle skuldgevoelens te swik wanneer hulle hul moedertaal besig? Het God bedoel dat ons moedertaal soos ’n meulsteen om ons nekke moet hang, of het Hy dalk ’n ander doel daarmee as dit waarvoor ons dit vandag aanwend? Handelinge 2 help ons om God se bedoeling met taal beter te begryp.

In Handelinge 2 is Lukas besig om vir ons te vertel wat gebeur het tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Terwyl die dissipels almal saam in gebed verenig was, het God sy Gees op hulle uitgestort. Die oomblik toe dit gebeur, het daar ’n wonderwerk plaasgevind. Die dissipels het begin om die evangelie te verkondig en elkeen wat daar teenwoordig was, het die Blye Boodskap in hul eie taal gehoor. Die wonder hiervan is dat Grieks op daardie stadium die lingua franca was. Selfs die Jode het dit verstaan en gepraat. Dit sou dus nie snaaks gewees het indien die evangelie in Grieks verkondig is nie. Inteendeel, vanuit ’n moderne oogpunt beskou, sou dit dalk baie meer effektief gewees het omdat Grieks so wyd gepraat en verstaan is. God verras ons egter wanneer Hy kies om nogeens dinge anders te doen.

Wat hieruit vir ons duidelik is, is dat God nog nooit bedoel het dat taal ’n politieke speelbal moet wees nie. Nee, die uitstorting van die Heilige Gees beklemtoon juis die feit dat wanneer jy ’n Christen word, dit nie jou volks- of taalidentiteit ophef nie. God heilig ons taal. Dit beteken dat Hy dit afsonder en reserveer vir ’n bepaalde doel. Daardie doel word duidelik uit die wyse waarop die dissipels die gawe van taal gebruik het. Lukas sê dat hulle oor die groot dade van God gespreek het in die tale van almal wat daar teenwoordig was. God het dus taal geheilig om in diens van die evangelie te staan. Ook die Afrikaanse taal is geheilig sodat ons daarmee die groot dade van God kan verkondig. Dit is geheilig sodat ons dit kan inspan binne die massakoor wat sing ter ere van ons Verlosser, Jesus Christus.

Op die oomblik lyk dit asof taaldiversiteit besig is om mense uitmekaar te dryf in ons land. Wanneer taal egter gebruik word vir dit waarvoor God dit bedoel het, behoort mense oor taalgrense heen eintlik nader aan mekaar te beweeg sonder om mekaar se motiewe te wantrou. Ons moedertaal, ons soetste taal, hoef nie ’n bitter nasmaak in ons monde te laat wanneer ons dit gebruik nie, want dit is die taal waarin ek bid en dit is die taal waarin ek my jubels laat opstyg uit die stof. Dit is die taal waarin ek my dankb’re psalme tot God sing en Hom verheerlik in my lof. Laat ons danklied as verloste vandag in ons moedertaal, tongklap lekker op ons lippe dans.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.