Die Stockdale-paradoks en Afrikaners – Christoff van Wyk

Admiraal James Bond Stockdale (tweede van links) in die gevangenekamp in Hanoi, Noord-Vietnam. (Foto: www.achievement.org).


I never doubted not only that I would get out, but also that I would prevail in the end and turn the experience into the defining event of my life, which, in retrospect, I would not trade.” James B. Stockdale

——————————

Om in geloof te glo dat jy ‘n uitdaging eventueel te bowe sal kom ongeag wat gebeur, maar steeds ook die moed aan die dag te lê om die harde feite in die gesig te staar is ’n rare verskynsel, veral  wil dit voorkom onder sekere Afrikaners en Afrikanerorganisasies. In die Nuwe Suid-Afrika is hierdie paradoksale manier van dink egter onontbeerlik vir die oorlewing van Afrikaners.

Admiraal James Stockdale was ‘n offisier in die Amerikaanse weermag wat tydens die Vietnamoorlog gevange geneem is en vir byna agt jaar lank aangehou is. Stockdale wat tydens sy gevangenskap meer as 20 keer gemartel is skryf in sy boek oor hierdie ervaring as volg: “I never doubted not only that I would get out, but also that I would prevail in the end and turn the experience into the defining event of my life, which, in retrospect, I would not trade.”

Die bekende Amerikaanse besigheidskonsultant, Jim Collins het tydens sy navorsing vir sy boek, Good to Great, met Stockdale ‘n onderhoud gevoer en na aanleiding hiervan die sogenaamde Stockdale-paradoks neergepen. Collins het tydens sy onderhoud vir Stockdale gevra wie van sy mede-gevangenes nie oorleef het en sy antwoord was eenvoudig: “ …, the optimists. Oh, they were the ones who said, ‘We’re going to be out by Christmas.’ And Christmas would come, and Christmas would go. Then they’d say, ‘We’re going to be out by Easter.’ And Easter would come, and Easter would go. And then Thanksgiving, and then it would be Christmas again. And they died of a broken heart.” Hulle geloof was daar, maar nie hulle vermoë om die harde feite van hul situasie in die gesig te staar nie.

Wat kan ons as Afrikaners hieruit leer?

Eerstens, dat geloof die kern moet vorm van ons plan om in Suid-Afrika te oorleef. In dié verband is Afrikaners bevoorreg omdat ons ‘n ryk Christelike tradisie het waarop ons kan voortbou en nie nodig het om geloofspronge in die onbekende in te maak nie. Die Afrikanergemeenskap was van meet af ‘n Christelik-gelowige volk en dit is die God van die Bybel en ons onwrikbare geloof in Hom wat ons gebring het waar ons vandag is. Ons kan nooit hierdie geloof verloor nie, want dit sal die einde van Afrikaners beteken.

Tweedens, sal Afrikaners die vermoë moet aanleer om die harde feite in die gesig te staar en dan ten spyte daarvan ‘n vaste geloof te hê in ‘n positiewe uitkoms al is die spesifieke tyd wanneer dit gaan gebeur nie seker nie.

Dit blyk toenemend moeilik te wees. Ons sus gedurig onsself deur ons hoop te plaas op verkiesings of hofsake of selfs politieke leiers en hul partye. Dié verskynsels kom en gaan, maar dit is die mense wat hul hoop hierop plaas wat uiteindelik moed verloor en as’t ware doodgaan van ‘n ‘broken heart’.

Watter feite is daar wat ons eerder ignoreer? Dit sal elkeen vir homself op ‘n persoonlike vlak moet besluit, maar in die algemeen moet Afrikaners besef dat ons verloor het. Ons sit tans in die gevangenekamp met geen vooruitsig oor wanneer ons hier gaan uitkom nie. Ons het politieke mag verloor. Ons is besig om teen ‘n geweldige tempo ekonomiese mag te verloor. Ons is ook besig om ons mense te verloor deur immigrasie, lae aanwas en ook as gevolg van assimilasie veral onder die jeug.

Stockdale en sy medegevangenes het egter nie ledig rondgesit tydens hul gevangenskap nie. Hulle het onder andere hul eie morsekode ontwikkel om ongemerk te kommunikeer en mekaar moed in te praat, maar ook ‘n gedragskode ontwikkel wat toegepas is wanneer hulle gemartel is om sodoende die marteling so goed as moontlik te deurstaan. Hierdie en vele ander klein handelinge tesame met hul geloof het uiteindelik die momentum verskaf wat nodig was vir hierdie mans om aan te hou en uit te hou.

Uiteindelik is daar twee goed wat ons voor oë moet hou:

  1. ‘n Vaste geloof in die drie-enige God en dat dit sy wil is vir Afrikaners om in Suid-Afrika te oorleef; en
  2. Dat ons nie ledig kan rondsit nie, maar betrokke moet wees by aktiwiteite en organisasies soos die Solidariteit Beweging om sodoende elke dag positief by te dra tot ons einddoelwit.

 

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.