Die tegnologie van idees en die gevaar van vals persepsies – Christoff van Wyk


Die internasionale navorsingsmaatskappy Ipsos publiseer jaarliks die Perils of Perceptionverslag waarin die akkuraatheid van mense se algemene persepsies in 40 lande getoets word. Suid-Afrika het in 2016 die vierde plek behaal op die lys, met Indië wat aangewys is as die land wie se bevolking die mees onakkurate persepsies huisves. Die feit dat Suid-Afrika se bevolking so oningelig is oor algemene sake in die land, dui op ’n samelewing waar sekere persepsies maklik as die waarheid aanvaar word ongeag die feitelike korrektheid daarvan, en dié situasie kan ernstige gevolge inhou vir algemene verhoudings en vooruitgang indien dit nie aangespreek word nie.

Die bevindinge kan natuurlik te wyte wees aan verskeie faktore waaronder die lae peil van onderwys, asook die gehegtheid aan bygelowe, maar daar moet definitief ook rekening gehou word met die doelbewuste pogings deur politieke partye, die media en ander organisasies om feite te verdraai om sodoende hul agenda te dien.

Die organisasie Africa Check het ’n analise gedoen van sekere uitsprake deur president Jacob Zuma in sy 2017-staatsrede en bevind dat sekere stellings bloot onwaar was. Hy verwys onder meer daarna dat die regering sedert 1994 reeds 4 miljoen nuwe huise verskaf het. Die syfer is egter nader aan 3 miljoen met ’n addisionele 1 miljoen erwe wat van basiese dienste verskaf is. Dus verdraai hy die feite om die regering beter te laat lyk en die vraag is: hoeveel mense gaan werklik moeite doen om te bevestig of die stelling waar is?

Nog ’n stukkie insig waar die president sy feite verkeerd gehad het, was met betrekking tot die aantal wit mense wat topbestuursposte het. Hy beweer dat volgens die inligting wat deur die Employment Equity Commission ontvang is gedurende 2015-16, wit mense steeds 72% van top bestuursposte beklee terwyl Africans slegs 10% beklee. Die ware syfers word in die tabel hieronder weergegee:

TopbestuurSenior bestuurProfessioneel gekwalifiseerBevoegde tegnikus
Swart14.321.241.258.8
Wit68.958.13822
Indiër8.610.28.55.9
Bruin4.77.49.411.6
Buitelanders3.53.12.81.7

 

Die verdraaiing van feite, soos hierbo, skep valse persepsies onder mense wat aanleiding gee daartoe dat die regering se fel maatstawwe vir regstellende aksie geregverdig is en selfs groter ondersteuning behoort te geniet namate dit al hoe meer aanvaar word.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) se nuutste verslag oor rasseverhoudinge in Suid-Afrika behoort algemene leesstof vir alle Suid-Afrikaners te wees. Hiervolgens meen slegs 3% van Suid-Afrikaners dat rassisme ’n ernstige probleem is. Dit laat natuurlik die vraag ontstaan oor waarom die staat so voet by stuk hou dat ’n nuwe haatspraak-wet op die boeke moet wees, terwyl Suid-Afrikaners nie voel dis nodig nie.

Daar is verder bevind dat minder as 3% van mense meen dat regstellende aksie en swart bemagtiging hul ­lewe sal verbeter, terwyl net 1% glo dat grondhervorming hul beteraf sal laat. Te midde hiervan voer die president in sy staatsrede aan dat: “It will be difficult if not impossible, to achieve true reconciliation until the land question is resolved.”

Barry Schwartz is ’n bekende Amerikaanse sielkundige en in een van sy gewilde TED-voorleggings praat hy van ’n konsep wat hy noem idee-tegnologie. Hy voer aan dat die idees wat ons as mense huldig rakende ons omstandighede, juis besig is om ons lewens, asook ons samelewings en omstandighede te vorm. Dus, as ek arm is, sal my idees oor my armoede my realiteit vorm. Byvoorbeeld, as ek glo dis God se wil dat ek arm is, sal ek bid en hoop op uitkoms, maar as ek dink dat my armoede die gevolg is van onderdrukking deur ander, sal ek in opstand kom. Idees is vormend op ons realiteit en bepaal grootliks ons aksies. In hierdie verband gee tegnologie en vooruitgang in wetenskap ons tog ’n voorsprong deurdat ons ons idees kan toets, herformuleer en toepas waar nodig om die verlangde uitkoms te verkry.

Tegnologie van tasbare dinge wat nie werk nie, sterf genadiglik vinnig uit. Een voorbeeld hiervan is Mike Todd Jnr. se Smell-o-Vision wat reuke vrygelaat het op sekere oomblikke gedurende ’n film om vir die gehoor ’n lewensgetroue ervaring te gee. Dit was ’n reuse mislukking en is na een film gestaak.

Kommunistiese sosialisme aan die ander kant is baie gesond en lewendig, soos duidelik gesien kan word in lande soos Brasilië, Venezuela en Sjina. Waarom het hierdie idees wat reeds soveel dood en vernietiging veroorsaak het in die verlede nog nie uitgesterf nie? Vir die eenvoudige rede dat daar mense is wat glo dat hierdie idees waar is. Solank as wat daar mense is wat valse en vernietigende idees aanhang, sal hulle samelewings en instellings oprig wat hiervolgens funksioneer.

In Suid-Afrika kry die retoriek om wit mense te blameer vir alles wat verkeerd is, al hoe meer publisiteit. Slagspreuke soos “White privilege” word wyd en syd rondgeslinger en goedsmoeds aanvaar, sonder dat daar werklik gekyk word na die feite of meriete van die stellings wat veronderstel is om dit te staaf. Aktivistiese organisasies soos Open Stellenbosch, Black Management Forum en Black First – Land First is openlik oor hul anti-wit agenda en nieteenstaande die feit dat hierdie organisasies se ondersteuningsgetalle baie klein is, word hul boodskap dag vir dag gedra op meeste nuus- en media-kanale. Hoe lank sal dit duur voordat hierdie vernietigende anti-wit, links-liberale propaganda die massas oortuig?

En, ’n meer pertinente vraag is dalk, hoe verander ons dit?

Dit is nie ’n maklike taak nie. Veral as daar gekyk word na die demografiese en sosio-ekonomiese samestelling van Suid-Afrika. Hierdie uitdagings kan ons egter nie stuit nie. Indien ons werklik ’n toekoms vir onsself en ons kinders in Suid-Afrika wil hê, behoort ons onbeskaamd die waarheid na te streef en dit op alle vlakke te verdedig. Nie die waarheid soos wat ons dit op ’n subjektiewe manier verstaan nie, maar eerder ’n toeligting met feite. Ons doelwit in Suid-Afrika moet ten alle tye wees om in situasies, waar persepsies en feite so maklik verdraai kan word, die waarheid voor te staan, ten alle koste. Selfs ten koste van onsself. Slegs dan sal ons vordering maak, want dan sal ons probleme duideliker word, maar terselfdertyd ook ons oplossings.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.