Die verskillende Afrikaans van die Afrikaanse Bybelvertalings

1 Inleiding

Naude (2004:128) noem dat daar in die afgelope 110 jaar 35 uitgawes van 9 Afrikaanse Bybelvertalings verskyn het. Slegs enkele maande gelede het die Nuwe Testament en Psalms van die nuwe Direkte Vertaling van die Afrikaanse Bybel wat vir 2016 beoog word, verskyn. As een van die mees gelese boeke in bykans enige taal het die Bybel te verstane ’n merkwaardige invloed op taal. Daarenteen het veranderende taalomstandighede op hul beurt weer merkwaardige invloede op die taal wat in (nuwe) Bybelvertalings gebruik word.

In die onderstaande gedeeltes word na die verskeie Afrikaanse Bybelvertalings gekyk vanuit ’n sosiolinguistiese oogpunt, deurdat aspekte soos dialek, sosiolek, etnolek, geolek, variante, styl, kode en konteks (Van Niekerk & Olivier, 2014:313-314) aandag verdien, indirek in die studie betrek word. In §2 word ’n kort historiese oorsig oor die Bybel in Afrikaans gegee. In §3 word gekyk na die teorieë en filosofieë rondom die vertaling van tekste, met fokus op die benaderings wat in die onderskeie Afrikaanse vertalings gevolg is. In §4 word ’n verskeidenheid aspekte aangespreek waar merkbare verskille in die vertalings voorkom, te wete standaardisering, die taal- en volkseie, semantiek, spelling, en styl.

Die Bybels en Bybelvertalings wat in hierdie studie gebruik gaan word is die Duitse vertaling van 1534 (“Die Luther Bybel”), die Nederlandse Statevertaling van 1637, die vertalings van S.J. du Toit (1893-1908)[1], die Afrikaanse Bybels van 1933 en 1953 (“Die Ou Vertaling”), die “Nuwe Vertaling” van 1983, en die nuwe “Direkte Vertaling” waarvan die eerste proewe onlangs verskyn het, en volledig in 2016 die lig sal sien. Twee ander “nie-amptelike” (omdat dit nie deur die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap uitgegee word nie) Bybels word ook onder die loep geneem, te wete Die Boodskap (2002) en die Nuwe Lewende Vertaling (2006). Waar Griekse en Hebreeuse woorde (as bronteks) gegee word, is dit afkomstig vanaf die sagteware-program e-Sword. Hierdie sagteware maak gebruik van die woordeboek van Strong om die oertale te verklaar.

 

 

2 Geskiedenis van die Bybel in Afrikaans

Strauss (2013:48-49) identifiseer drie tydperke in verloop van die Afrikaanse Bybelvertaling (wat in 1933 sou kulmineer), ’n indeling wat ook deur Nienaber en Nienaber (1944:77-80) gebruik word. Die “stryd” – soos Du Plessis (1986:37) dit noem – wat in 1872 begin is om die Bybel in Afrikaans te vertaal, vorm in der waarheid deel van die Eerste Taalbeweging in die sin dat dit die weg vir laasgenoemde voorberei het. Pannevis was bekommerd dat die Statebybel onverstaanbaar was (en toenemend sou word) vir die Kleurlingbevolking aan die Kaap. Op sy beurt het C.P. Hoogenhout ’n Afrikaanse Bybel ter wille van die blankes bepleit (Nienaber & Heyl, 1963:7). Die eerste pogings tot die skryf van die Bybel in Afrikaans dateer ook uit 1878 met Hoogenhout se vertaling van die Evangelie van Markus. Die stryd was nie sonder hindernis nie, veral vanuit Afrikanergeledere. Die volk moes as ’t ware eers oortuig word dat hy sy eie taal het, en om hierdie rede is die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig (Van der Merwe & Posthumus, 1972:82-83). In 1885 en 1886 het die Vrystaatse en Kaapse sinodes van die NG Kerk hulle téén ’n Afrikaanse Bybel uitgespreek (Scholtz, 1980:12). Die belangrikste tekste uit hierdie tydperk is dié van S.J. du Toit (1893-1908), en die beweging se einde word algemeen met sy dood in 1911 vereenselwig.

Die tweede tydperk verloop ongeveer van 1914 tot 1923. Dit neem ’n aanvang met ’n pleidooi vir ’n moedertaalse Bybel van B.B. Keet op Stellenbosch, en eindig toe die gereformeerde Afrikaanse kerke besluit het om gesamentlik die Bybel vanuit die oorspronklike tekste te vertaal. Een van die redes ter ondersteuning van hierdie besluit was die feit dat die taal toenemend gestandaardiseer is, deurdat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1914 gestig is, welke liggaam se Taalkommissie in 1917 die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) gepubliseer het. In 1922 het die eerste proefvertalings verskyn, maar is ongunstig ontvang deurdat die taal nie suiwer Afrikaans was nie – te danke aan die vertalers se konserwatisme en vrees om te veel van die (ou, bekende, en ook beminde) Statevertaling af te wyk. Daarom dat dit deur sommiges (soos Langenhoven) as blote “Stompstert-Hollands” afgemaak is (Strauss, 2013:48).

Die derde fase duur tot en met 1933 toe die eerste Bybel in Afrikaans verskyn het, onder leiding van die vyf eindvertalers: drs. J.D. du Toit, J.D. Kestell, H.C.M. Fourie, E.E. van Rooyen, en B.B. Keet. Byna dadelik na die verskyning van die Bybel het die vertalers met ’n hersiening daarvan begin. Hier was ’n verbetering in die taal beoog (voorbeelde word in §3 gegee). Alhoewel die vertalers gemeen het dat die werk ongeveer twee jaar sou duur, het die hersiene weergawe eers in 1953 uitgekom – hoofsaaklik omdat die vertalers dit hierdie maal na-ure moes aanpak (Nienaber & Heyl, 1963:68).

In 1983 het ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling die lig gesien, waarby ander brontekste as in 1933 gebruik is. Sedertdien het verskeie “nie-amptelike”, lekker-lees Bybels ook uitgekom, waarvan Die Boodskap (2002) en die Nuwe Lewende Vertaling (2006) in hierdie studie betrek word. ’n Verdere nuwe vertaling word vir 2016 beplan, waarvan die Nuwe Testament in Psalms reeds in 2014 verskyn het. Die aard van al hierdie vertalings, die idees daaragter, die teoretiese benaderings, en die praktyk daarvan, word meer volledig in §3.1 en 3.2 hieronder bespreek.

 

 

3 Die Afrikaanse Bybel – ’n geskiedkundige oorsig

3.1       Teorieë en benaderings tot vertaling

To a large extent, therefore, I might say that the basic problem for the Bible translator is thus not: What does it mean? but, How does one say it?

(Nida, 1970:106).

Vertaling is ’n oefening wat al vir millennia geskied, maar die wetenskaplike bestudering van daarvan is iets wat eers in die twintigste eeu toenemende momentum verkry het. Swanepoel (1986a:19) beskou die oorsake hiervan as: die groot vordering gemaak op die gebiede van die linguistiek, sosiolinguistiek, en die semiotiek, sowel as die feit dat vertaling ontwikkel het tot ’n selfstandige wetenskap – nie meer ’n blote syvertakking van ander wetenskappe nie.

Die verskeie teorieë rondom vertaling, en die benaderings wat daarmee gepaardgaan, kan op verskeie maniere beskryf word. Swanepoel (1986b:43-48) groepeer al hierdie benaderings in bloot twee kategorieë, te wete die brontaal-georiënteerde en die doeltaal-georiënteerde. ’n Brontaal-oriëntasie het te make met ’n praktyk wat mik om die oorspronklike teks so letterlik as moontlik te vertaal. Hier kry mens te make met vertalings wat gemik is op byna absolute formele gelykheid (wat as ’t ware ’n teoretiese en praktiese onmoontlikheid is); en vertalings wat so letterlik moontlik poog te wees, maar sonder om die doeltaal geweld te wil aandoen. Ingevolge laasgenoemde is die oogmerk om die leser so na as moontlik na die oorspronklike teks te bring, maar met die formele en stilistiese kenmerke van die doeltaal. Te verstane is beide hierdie benaderings teksgesentreerd. ’n Doeltaal-oriëntasie daarenteen lê meer klem op die ontvanger (die leser) in die doeltaal, en die veranderde kommunikasie-konteks waarbinne die nuwe teks gaan funksioneer. Ook hier is daar twee variante, naamlik ’n vertaling gemik daarop om ’n “dinamiese ekwivalensie” teweeg te bring, waar die leser van die vertaalde werk dieselfde ervaring moet hê as die leser van die oorspronklike teks; en die parafrase, ’n vrye omsetting van die een taal na die ander, deurdat dele weggelaat of toegevoeg kan word wat volgens die vertaler gepas of nie sou wees vir sy beoogde lesers. Hierdie is op hul beurt weer lesergesentreerde benaderings.

Newmark (1988:45-47) volg ’n soortgelyk benadering, maar plaas die benaderings op ’n tweedimensionele kontinuum, wat soos volg uitgebeeld kan word:

sl emph

Figuur 1: ’n Tweedimensionele voorstelling, in die vorm van ’n “plat-V”, van brontaal- en doeltaalgeoriënteerde benaderings (Newmark, 1988:45).

3.2       Toepassing op die Afrikaanse vertalings

Die vraag is nou waar die onderskeie Afrikaanse Bybelvertalings op hierdie kontinuum val. Met die 1983-vertaling was die oorheersende konsep dinamiese ekwivalensie, in ’n tydperk toe linguisties-gebaseerde teorieë die terrein oorheers het (Snyman, 2003:177). Snyman (2007:177) maak verder melding van die ontwikkelings op die gebied van taal- en vertaalkunde die afgelope twintig tot dertig jaar, welke ontwikkelings wat nie inslag in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel kon vind nie. Die ontwikkelings is onder meer die volgende:

  • die linguistiek (primaat van die bronteks);
  • die proses van vertaling;
  • die resepsie van die vertaalde teks; en
  • die funksie van die vertaling in die doelkultuur.

Na aanleiding van versoeke van die onderskeie Afrikaanse kerke is daar in 2001 met die nuwe Direkte Vertaling begin. Hierdie proses is vooruitgeloop deur ’n ondersoek na die behoefte aan ’n nuwe vertaling, sowel as sekere proewe (Van Rensburg & Van der Merwe, 2007:270). Die Nuwe Testament en Psalms het in 2014 verskyn – die publikasie wat in hierdie skrywe gebruik word.

Kritzinger (2014) beskryf die rasionaal agter die 2016 Direkte Vertaling soos volg:

“Die vertaalopdrag wat opgestel is in medewerking met die kerke is “skep ’n goed verstaanbare bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.” Dit word verder omskryf as ’n vertaling wat ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks sover moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees. Verklarende voetnotas moet gebruik word om inligting te voorsien wat nie in die vertaling self voor die hand liggend is nie.”

Dus is die benadering met die 2016-vertaling nader aan dié van die Bybel van 1933 as met die 1983-vertaling.

Die aard van die onderskeie vertalings kan grafies soos volg op ’n lineêre spektrum uitgebeeld word:

meer formeel

Figuur 2: Verskeie Bybelvertalings op ’n kontinuum voorgestel; OAV – Ou Afrikaanse Vertaling, KJV – King James Version, NKJV – New King James Version, NIV – New International Version, NAV – Nuwe Afrikaanse Vertaling. Die Direkte Vertaling van 2016 sal ook meer na die linkerkant van die spektrum lê. (Bron: Van Rensburg & Van der Merwe, 2007:277).

4          Aspekte van taalgebruik

4.1       Standaardisering

Die Afrikaanse Bybelvertaling het ten nouste saamgehang met die standaardisering van die skryftaal, iets waarvan die Akademie se Taalkommissie reeds sedert 1915 werk gemaak het (Raidt, 1991:24). Theunissen (2013:55) noem dat die Bybel die voorbeeld gestel het vir die wyse waarop geskrywe en gepraat sou word, deurdat dit as ’t ware ’n grammatikaboek en skryfvoorbeeld was wat algemeen beskikbaar was. S.J. du Toit (soos aangehaal in Conradie, 1983:108) het reeds met sy Dri proewe in 1889 die invloed van ’n Bybelvertaling op standaardisering bespreek:

“Mar so ver as ’n taal volmaak kan wees, bestaan di volmaakheid juis daarin dat di bevolking o’ereenkom om soveul as mo’entlik is eenders te skrywe. Maar die volmaakheid moet jy ni eers in ’n taal hê voor dat jy di Bybel daarin vertaal ni. Mar omgekeerd, juis di Bybelvertaling breng di taal tot di eenvormigheid.”

Dit was reeds eeue gelede die geval. Steyn (2009:133) noem dat die vertalers van die Statebybel besluit het op die vorm gij vir enkel- en meervoud, eerder as die Hollandse hem/haar of die oostelike du, en dat dit dan die “doodsteek” vir du in die standaardtaal was. Die aanspreek vorm u is (ook deur sommige Bybelvertalers en proeflesers) as onafrikaans beskou, ’n Neerlandisme. Scholtz (1980:67-68) wys egter daarop dat hierdie vorm algemeen in Kaapse geskrifte sedert die 18de eeu voorgekom het, selfs in afgeleë distrikte en onder minder ontwikkelde Boere.

Die Bybel in Afrikaans het ’n soortgelyke invloed as die Statebybel gehad op ’n hele aantal verskynsels wat toe nog algemeen in die skryftaal voorgekom het (alhoewel nie in die spreektaal nie). Steyn (2013:83-89 en 2014:178-179) gee ’n aantal voorbeelde hiervan, seker die mees ooglopende die spelling. ’n Aantal vertalers het in 1918 met die taalkenners Smith en De Waal oorleg gepleeg, ingevolge waarvan voorkeur aan sekere vorme gegee is (waar wisselvorme nog in die AWS erken was). Dit sluit in ek eerder as ik; my, sy en syne eerder as myn en syn; soos eerder as soals, toe eerder as toen; en as eerder as als. Steyn (2014:175) noem dat die keuse van baie hierdie vorm veld laat wen het teen die (toe nog erkende) wisselvorme baje en baing. Die infinitiefvorm van woorde het nog in ’n paar geskrifte voorgekom, maar is gebruik deur S.J. du Toit in sy Bybelvertalings: werd, had, gaf. In die 1933-vertaling is had so te sê volledig vervang met gehad het, iets wat in 1953 volkome gebeur het.

Verder moet daarop gelet word dat baie van hierdie wisselvorme nie blote variasies was nie, maar meer bepaald geografiese verskeidenhede verteenwoordig. Vandag nog word die woord ook uitgespreek as ook, ok, en oek (Steyn, 2009:140). Laasgenoemde is die Bolandse vorm, en dis nie verrassend dat S.J. du Toit hierdie vorm in sy vertalings gebruik het nie. Hy het ook kwistig die woord ver (uitgespreek as vir) gebruik. Toe Eugène Marais as Transvaalse seuntjie in die Boland skoolgegaan het, het hierdie vir (“Lat wiet vir djou ma ek sal kom”) “hom in die krop gesteek” (Rousseau, 1974:19). Hierdie vir is ook in die 1933-vertaling opgeneem (“Voorwaar Ek sê vir julle…”), wat Marais toe as “Hotnotstaal”, ’n onsuiwerheid, afgemaak het. Die woord baie, hierbo bespreek, is ’n voorbeeld van ’n Transvaalse woordvorm, terwyl die baing, banja, banje en banjak slegs in die Kaap voorgekom het. Aangesien hierdie vorme veral ook deur die Kleurlingbevolking gebruik was, is dit as substandaard beskou. Hier is dus ook ’n geval waar ’n bepaalde etnolek, sowel as ’n sosiolek, ten gunste van ’n ander gebruik is (Raidt, 1991:255).

4.2       Styl en stylfigure

Conradie (1983:105-106) noem in sy bespreking van die verskeie Bybelvertalings dat daar verskillende “vorme” van taal bestaan, te wete verhewe en gekunstelde taal, formele of gestandaardiseerde taal (met inbegrip van skryftaal), beskaafde dog informele omgangstaal, plat taal, en banale spreektaal. Die “Afrikaanse Bybelstyl” is iets waarna pertinent gesoek moes word tussen al hierdie moontlikhede. Volgens G.S. Nienaber (in Conradie, 1983:106) moes dit

“’n harmonie teweegbring tussen die twee moontlikhede: aan die eenkant moet die uitdrukking so volks en natuurlik wees dat dit as eg en goed ervaar word, en aan die ander kant moet tog ook die presiese toon getref word, sodat dit die gees van waardigheid en verhewenheid van die Woord van God geabsorbeer het.”

In die Statebybel lui Hooglied 7:6 soos volg: “Hoe schoon zijt gij, en hoe liefelijk zijt gij, o liefde, in wellusten!” (1637). Die Afrikaanse Bybel het dit soos volg: “Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!” (1933). Wellus word nou enigsins getemper na genieting toe, maar die respekvolle trant word gehandhaaf deur die aanspreekvorm u. Daarenteen het die vertaling van S.J. du Toit (1905) heeltemal hiervan afgewyk, en die humoristiese resultaat was die volgende: “Hoe mooi is jy en hoe lifelik, o Liifste, om mé te fry!” Die Nuwe Vertaling is darem nie heeltemal só oorlams nie, maar die formaliteit van die ouer vertalings ontbreek: “Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste, met soveel wat geniet kan word” (1983).

Deist en Burden (1980:15-16) verduidelik dat die leser slegs oor een voorwaarde vir die verstaan van ’n teks voldoen wanneer hy oor die nodige verwysingsraamwerk of agtergrond van die teks beskik. Aangesien die leser die teks in die vorm van taal ontvang, is ’n bepaalde taalvaardigheid ook ’n vereiste vir volledige begrip. Van Rooyen (1986:92-95) noem dat letterlike vertalings maklik die betekenis van idiomatiese uitdrukkings leed kan aandoen. Die uitdrukking “stof van jou voete afskud,” wat in Markus 6:11 voorkom, is ’n letterlike vertaling wat in die Ou, Nuwe en Direkte Vertalings gebruik word. Dit is egter ’n ingeburgerde Afrikaanse idioom, so ’n direkte vertaling doen selfs ’n lesergesentreerde benadering geen leed aan nie. Daarenteen is daar idiomatiese uitdrukkings wat “na betekenis vertaal word”, en wat tot gevolg het dat die “evokatiewe” van die Ou Vertaling verlore gaan in die Nuwe. Psalm 121:1 lui: “Ek slaan my oë op na die berge” (1933), wat later word: “Ek kyk op na die berge” (1983, 2014). Tog is daar ook gevalle waar sodanige benadering wel veel eerder die “evokatiewe” kan verrig, soos die geval is in Amos 8:2. Dit het oorspronklik gelui: “En Hy sê: Wat sien jy, Amos? En ek antwoord: ’n Mandjie met somervrugte. Toe sê die Here vir my: Die einde het vir my volk Israel gekom; Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie” (1953). Dit word dan: “[E]n die Here het vir my gevra: Wat sien jy Amos? Ek het gesê: ’n Mandjie ryp vrugte. Toe sê die Here vir my: Die tyd is ryp vir my volk Israel, Ek sal hom nie meer spaar nie (1983).

4.3       Die taaleie

Een van die eindvertalers van die Bybel in Afrikaans, B.B. Keet, het in 1951 (pas voor die hersiene weergawe sou verskyn) genoem dat die 1933-vertaling nog nie suiwer Afrikaans genoeg was nie, en dat daar te veel ontlenings van Frans (via Nederlands) voorgekom het (Steyn, 2009:144). Voorbeelde van sodanige woorde is dan kaptein en offisier. Matthéüs 8:5-6 lui: “En nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar ’n kaptein na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne” (1933). Die hersiene weergawe lui: En nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar ’n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne” (1953). Interessant genoeg gebruik die Nuwe Vertaling die term offisier. Daarby word die kneg ’n slaaf, en ly hy nie hewige pyne nie, maar “verduur baie pyn” (1983). Laasgenoemde verteenwoordig die spreektaal van die 1980’s waarskynlik beter as “hy ly hewige pyne”. Die Direkte Vertaling lui: “Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het ’n hekatontarg Hom genader en Hom gesmeek met die woorde: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn”” (2014). Die term hekatontarg word dan met ’n voetnota beskryf as “’n Romeinse offisier wat bevel voer oor 100”. Die betrokke Griekse woord is ἑκατοντάρχος (hekatontarchos) wat korrek in die King James Bybel as centurion vertaal is (1611). Alhoewel die Luther-vertaling bloot praat van ’n Hauptmann (1534), gebruik die Statebybel hoofdman over honderd (1634). Waarom die Direkte Vertaling die woord hekatontarg gebruik (en as ’t ware skep!), is nie duidelik nie. Volgens hierdie benadering kon byvoorbeeld die woord παῖς (pais) dan ook vir kneg of slaaf gebruik gewees het. Dus blyk die 1953-vertaling die juisste te wees in hierdie verband.

4.4       Die volkseie

In die Statebybel praat Jeremia 17:11 van “een veldhoen eieren vergadert, maar broedt ze niet uit” (1637). Keet (in Steyn, 2009:138) vertel van die geval van ’n boer wat hierdie veldhoen maar as ’n skilpad beskou het, in sy verwysingsraamwerk die enigste dier van die veld wat nie self sy eiers uitbroei nie. Die Hebreeuse woord hier is קֹרֵא, qôrê, wat in die King James weergawe as partridge (1611) maar in die Lutherse vertaling bloot as ein Vogel vertaal is (1534). In Afrikaans word gepraat van “’n Voël wat eiers uitbroei sonder dat hy dit gelê het,” (1933) wat later word “’n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie,” (1983).

’n Meer tipiese Afrikaanse vertaling kom voor in Deuteronómium 24:5. Die teksvers in die Statevertaling lui: “Wanneer een man een nieuwe vrouw zal genomen hebben, die zal in het heir niet uittrekken, en men zal hem geen last opleggen; een jaar lang zal hij vrij zijn in zijn huis, en zijn vrouw, die hij genomen heeft, verheugen” (1637). In Duits sal die man “nicht in die Heerfahrt ziehen” (1534). Die Bybel in Afrikaans vertaal die vers soos volg: “As ’n man pas getroud is, hoef hy nie op kommando uit te trek nie”. In die Nuwe Vertaling lui dit egter: “Wanneer ’n man pas getroud is, mag hy nie saam met die leër optrek om te gaan oorlog maak nie” (1983). Waar ervarings op kommando vir die mense van 1933 nog bekend was, het die Afrikaners van 1983 nie meer op kommando gegaan nie, maar diensplig in die weermag verrig. Die Nuwe Lewende Vertaling (2006) praat ’n man wat nie “in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede [mag] gegee word nie,” terwyl Die Boodskap (2002) praat van ’n man “wat nie [opgeroep] mag word om in die weermag te veg nie” en “ook nie enige ander werk [mag] doen wat hom van sy huis af wegneem nie.”

Ook die diere word meer verafrikaans in die Afrikaans Bybel. Waar die Statevertaling in Deuteronómium 14:5 praat van “[e]en hert, en een ree, en een buffel, en een steenbok, en een das, en een wilde os, en een gems,” (1637), gee die Bybel in Afrikaans dit weer as “’n takbok en ’n gemsbok en ’n gestippelde takbok en ’n steenbok en ’n ribbok en ’n eland en ’n klipspringer” (1933). “[D]en kemel, en den haas, en het konijn” van vers 7 word “die kameel en die haas en die das”. Die Statebybel praat in vers 12 van “de arend, en de havik, en de zeearend” (1637), wat in Afrikaans “die arend en die lammervanger en die aasvoël” is (1933). In die Nuwe Vertaling word die diere in verse 5, 7 en 12 “takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok”; “die kameel, die haas, die dassie”; en “arende, lammervangers en visarende” onderskeidelik (1983).

’n “Volkseie” term in die Bybel wat al tot hewige polemiek gelei het, is baster, soos dit in Deuteronómium 23:2 voorkom: “Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs sy tiende geslag mag in die vergadering van die Here nie kom nie” (1933). Die Statevertaling lui: “Geen bastaard zal in de vergadering des Heeren komen; zelfs zijn tiende geslacht zal in de vergadering des Heeren niet komen” (1637). In Duits lui dit kein Hurenkind (1534) en in Engels bastard (1611). Die betrokke Hebreeuse word is מַמְזֵר (mamzêr), wat weergegee word as “[f]rom an unused root mian. to alienate; a mongrel, that is, born of a Jewish father and a heathen mother: – bastard.” Nou is dit duidelik dat ’n baster, ’n hoerkind, ’n Engelse “bastard”, en iemand met een ongelowige ouer nie dieselfde ding is nie. In Afrikaans is die betekenis van baster alombekend (Die WAT (1956:40) noem wel die betekenis van ’n onegte kind, maar noem dit “minder gebruiklik”). In hierdie opsig sluit dit aan by die mongrel waarvan Strong (in e-Sword) hierbo praat. Die Nederlandse bastaard se betekenis is “niet uit een wettig huwelijk geboren” (Van Dale). Giliomee (2004:23) skryf ook dat die Afrikaanse opvatting van baster nie verwys het na ’n kind buite die eg gebore nie, maar gewoonlik iemand met ’n blanke vader en ’n Khoi- of gekleurde ma – vandaar die benaming van die etniese groep “Basters” (van Rehoboth). In die vroeë dae van Kaap was buite-egtelike kinders gewoonlik van gemengde afkoms, aangesien blanke mans gewoon kinders by vrouens gehad het met wie hulle gewoonlik nie kon of wou trou nie (Heese, 2005:21-42). In só ’n geval was ’n bastaard dan ook ’n baster, en die Afrikaans term het inderdaad ’n nuwe en unieke ontwikkeling gehad. Daarby meld Van Jaarsveld (1968:361) dat die onderskeid tussen “Christen” en “Heiden” langsamerhand plek gemaak het vir ’n onderskeid in beskawingspeil, wat te verstane ook met kleur geassosieer is.

In aansluiting by die kontroversiële term baster, sê Naudé (2004:144) dat daar verskeie “beledigende terme” sowel as dié van ’n “seksistiese” aard in die Ou Vertaling voorkom. Woorde wat hy dan sodanig etiketteer is barbaar, uitlander, en heiden(e). Galásiërs 2:12 praat van heidene (1983), wat ook die geval is in die Statevertaling. In Duits is dit den Heiden (1534), en in Engels Gentiles (1611). Die Griekse woord is ἔθνος (ethnos) wat egter eerder na persone van ’n ander etniese groep, volk, of ras verwys. Derhalwe sou die begrip uitlander dalk meer gepas gewees het? Dit dui egter op die Ou Testamentiese opvatting dat ’n volksvreemde en ’n ongelowige tot ’n groot mate sinoniem is. Hierdie beskouing is grotendeels ook deur die Boerebevolking van veral die 18de eeu af gehandhaaf (Van Jaarsveld, 1968:361). Die term uitlander word wel in Deuteronómium 15:3 gebruik, wat in die ander tale as den vreemde (1637), einem Fremden (1534), en a foreigner (1611) weergegee word. Duidelik is dieselfde bedoeling hier teenwoordig. In die Nuwe Vertaling word die terme heiden en uitlander onderskeidelik vervang deur nie-Joodse gelowiges en nie-Israeliete (1983). Die Direkte Vertaling gebruik egter weer die term heidene (2014). Wat die sogenaamde “seksistiese terme” betref, is die woorde jou broer in Deuteronómium 23:7, jou broer in Jesaja 56:3, Joodse man in Handelinge 10:28, vry man in Galásiërs 3:28 (1933) onderskeidelik vervang deur mede-Israeliet, jou bloedverwant, Jood, en vry (1983). Die Direkte Vertaling keer daarenteen terug na die ou terminologie.

4.5       Betekenis

Seker die mees opvallende verskille in die Bergrede (sien bylaag B) in die onderskeie vertalings is die gebruik van die woorde “salig” en “geseënd”. Die Afrikaanse woord “salig” is afkomstig van die Nederlandse “zalig”, en nie die Afrikaanse etimologiese woordeboeke van Boshoff (1936), Boshoff en Nienaber (1967) of Van Wyk (2003) ag dit nodig om die herkoms of betekenis van die woord weer te gee nie. “Salig” word gebruik in die Statenvertaling, die Du Toit-vertaling, en die Ou Vertaling. Die “amptelike” vertalings van 1983 en 2016 gebruik die woord “geseënd”, terwyl die Nuwe Lewende Vertaling en Die Boodskap van die woord “gelukkig” gebruik maak. Selfs ’n oorsigtelike blik dui daarop dat die betekenisse van hierdie drie woorde drasties van mekaar verskil.

Die betekenis van “zalig” word beskryf as “het eeuwig heil deelachtig”, en “zalig verklaren” as “plechtig afkondigen dat iemand in de hemelse zaligheid is opgenomen” (Van Dale Woordenboek, 2006:999). Die Afrikaanse betekenis sluit hierby aan: “Wat in die teken staan van die ewige heil of verlossing, wat dit deelagtig is of daarop betrekking het”. Dit staan ook in die betekenis van “heilig” (WAT, 2013:69). Op sy beurt staan “geseënd” in die betekenis van “geloof, geprys”; “ryk aan seën”; “gelukkig, begenadig, ryk bedeeld, beweldadig” en “groot, oorvloedig” (WAT, 1957:174-175). Dit is duidelik dat “geseënd” in der waarheid niks met sieleheil of die ewige lewe te make het, soos dit in die ouer vertalings neerslag vind nie. “Gelukkig” dui weer op die blote “kenmerk [van] ’n tevrede gemoedstemming” of ’n “aangename gevoel” (WAT, 1957:125). Die hedendaagse konsensus blyk dus te wees dat Jesus nie sieleheil belowe het nie, maar eerder ’n mate van tevredenheid wat die betrokke persone geregtig is om te ervaar.

4.6       Spelling

Een van die ooglopendste verskille tussen die vertalings van 1933 en 1983 was die verskil in die spelling van name van plekke en mense. Met die eerste oogopslag reeds val die verskil op tussen Exodus en Eksodus, Matthéüs en Matteus, Thessalonicense en Tessalonisense en Timótheüs en Timoteus. Die Direkte Vertaling van 2014 vind as ’t ware ’n middeweg met Mattheus, Thessalonisense en Timotheus. Wat naamgewing betref, dui die Afrikaanse Bybel van 1933 (en soos hersien in 1953) deurgaans die betrokke lettergreep in die betrokke name aan wat die klem dra. Sodoende kan daar nie verwarring intree rondom die uitspraak nie. In Matthéüs 4 alleen kom die volgende voorbeelde voor: Galiléa, Násaret, Kapérnaüm, Sébulon, Náftali, Sebedéüs, Andréas, Dekápolis en Judéa. Tog was hierdie name sonder klem geskryf in die Statevertaling – Galilea, Nafthali, Zebedeus, Dekapolis, ens. Iemand onbekend met kanseltaal sou hom dus nou dadelik van die uitspraak kon vergewis. Hierdie benadering was veral gunstig deurdat selfs ooreenstemmende woorde (of name) nie dieselfde uitspraak “reël” sou volg nie. ’n Goeie voorbeeld is die verskil in klem in Fariseërs enersyds, en Galásiërs en Efésiërs (let op die aksentaanduiding) andersyds, of tussen Sebedéüs en Timótheüs. Die Nuwe Vertaling van 1983 en Direkte Vertaling van 2014 het weer afgesien van hierdie aksentuering (en ander skryftekens), wat onsekerheid van uitspraak by ’n leek in die hand kan werk.

Alhoewel daar nie spellingsverskille tussen nie-naam woorde in die vertalings van 1953, 1983 en 2016 (sowel as die nie-amptelike Bybels) voorkom nie, was een van die hersienings wat tussen 1933 en 1953 plaasgevind die opdatering van die spelling. Een voorbeeld hiervan is Jesus se disiepels (1933) wat later dissipels word (1953), om sodoende die standaard in die AWS te weerspieël. Sien in hierdie verband Bylaag B hieronder.

 

 

5 Samevatting

 

In die bostaande gedeeltes was geyk na die verskeie Afrikaanse Bybelvertalings, vanuit ’n sosiolinguistiese oogpunt, deurdat aspekte soos dialek, sosiolek, etnolek, geolek, variante, styl, kode en konteks aandag verdien, en direk of indirek in die studie betrek was. Waar daar eers ’n kort historiese oorsig oor die Bybel in Afrikaans gegee is, was daarna gekyk na die teorieë en filosofieë rondom die vertaling van tekste, met fokus op die benaderings wat in die onderskeie Afrikaanse vertalings gevolg is. Laastens was ’n verskeidenheid aspekte aangespreek waar merkbare verskille in die vertalings voorkom, te wete standaardisering, die taal- en volkseie, semantiek, spelling, en styl.

Wat duidelik uit die studie blyk is dat die filosofiese beskouing jeens vertaling, en die praktyk wat daaruit voortvloei, ’n merkwaardige invloed het op die eindproduk. Die Statevertaling en die Ou Vertaling enersyds, en die Nuwe Vertaling andersyds, verteenwoordig onderskeidelik die pole van brontaal- en doeltaaloriëntasies. Die nie-amptelike Bybels hel nog meer na laasgenoemde benadering. Daarenteen poog die 2016 vertaling om meer na die doeltaal te beweeg.

Voorts is die Bybel ook ’n sosiale boek, deurdat dit nie enkel deur individue gelees word nie, maar in gemeentes, skole en vergaderings gebruik word. Dit vorm die grondslag van mense se lewensbeskouings en die wyse waarop die maatskappy handel. Te verstane het die Bybel ’n groot invloed op die Afrikaanse taal gehad (en het dit nog steeds), maar die “sosiale” behoeftes van die lesers beïnvloed op hul beurt ook weer die taal wat in die Bybel gebruik word (die 1983-vertaling is ’n goeie voorbeeld hiervan). Die 2016-vertaling gaan kwalik die laaste in Afrikaans wees, en elke opeenvolgende weergawe sal van voor af polemiek veroorsaak. Hoe dit ook al sy – die sosiolinguistiese kant van die Bybel sal met elke nuwe vertaling (of blote oppering van die moontlikheid daarvan!) die grondslag van die debat vorm.

 

 

6 Bylae

 

  1. Psalm 23
  • De Statenvertaling (1637)

            Een Psalm Davids.

  1. De Heere is mijn herder, my en sal niets ontbreken.
  2. Hy doet my nederliggen in grasige weyden; hy voert my sachtkens aen seer stille wateren.
  3. Hy verquickt mijne ziele; hy leydt my in’t spoor der gerechticheyt, om sijns Naems wille.
  4. Al ginck ick oock in een dal der schaduwe des doots, ick en soude geen quaet vreesen, want ghy zijt met my; uwen stock, ende uwen staf, die vertroosten my.
  5. Ghy richt de tafel toe voor mijn aengesichte, tegen over mijne tegenpartijders; Ghy maeckt mijn hooft vet met olye, mijn beker is overvloeyende.
  6. Immers sullen my ’t goede ende de weldadicheyt volgen alle de dagen mijns levens; ende ick sal in het Huys des Heeren blijven in lengte van dagen.
  • J. du Toit (1907)

’n Psalm van Dawid

  1. Jehowa is myn Herder; my ontbreek niks ni.
  2. Hy laat my lê in ’n wy fan jeugdige gras; Hy ly my sutjiis langs waters om te rus.
  3. Hy versterk myn siil; Hy ly my in paje fan geregtighyd om syns naams wil.
  4. Al gaan ek deur di kloof fan doodskadewe, ek frees geen kwaad ni; want U is met my; uw knopkiri en wandelstok fertroos my.
  5. U dek ’n tafel foor myn aangesig foor di oog van myn teenstander; U salf myn hoof met oli; my beker is o’erlopend fol.
  6. Net goedhyd en barmhartighyd sal my folg al myn lewensdage, en myn woning sal wees in Jehowa’s huis fer lange dage.
  • Die Bybel in Afrikaans (1933)

            ’n Psalm van Dawid.

  1. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
  2. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
  3. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
  4. Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
  5. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
  6. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.
  • Nuwe Vertaling (1983)

            ’n Psalm van Dawid.

  1. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
  2. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.
  3. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
  4. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.
  5. U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.
  6. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.
  • Die Boodskap (2002)

            ’n Lied van aan Dawid opgedra is

  1. Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie.
  2. Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede. Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie. Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien.
  3. Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe. Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe. Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is.
  4. Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel.
  5. Soos ’n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor; hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk. U behandel my soos ’n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed.
  6. U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe; ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.
  • Nuwe Lewende Vertaling (2006)

            ’n Dawidspsalm

  1. Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie.
  2. Hy laat my rus in groen weivelde; na waters wat verfris, lei Hy my.
  3. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam.
  4. Wanneer ek loop in ’n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my.
  5. U berei vir my ’n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ’n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge.
  6. U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die Here so lank as wat ek lewe.
  • Direkte vertaling (2016)

            ’n Psalm. Van Dawid.

  1. Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie.
  2. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
  3. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.
  4. Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
  5. U dek vir my ’n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olyfolie; my beker loop oor.
  6. Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal bly terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.
  1. Die saligsprekinge
  • De Statenvertaling (1637)
  1. Ende Jesus, de scharen siende is geklommen op eenen berch, ende als hy nedergeseten was, quamen sijne discipelen tot hem.
  2. Ende sijnen mont geopent hebbende leerde haer, seggende,
  3. Salich zijn de arme van geeste: Want harer is het Coninckrijck der Hemelen.
  4. Salich zijn die treuren: Want sy sullen vertroost worden.
  5. Salich zijn de sachtmoedige: Want sy sullen het aerdrijck be-erven.
  6. Salich zijn die hongeren ende dorsten na de gerechticheyt: Want sy sullen versadicht worden.
  7. Salich zijn de barmhertige: Want haer sal barmherticheyt geschieden.
  8. Salich zijn de reyne van herten: Want sy sullen Godt sien.
  9. Salich zijn de vreedsame: Want sy sullen Gods kinderen genaemt worden.
  10. Salich zijn die vervolcht worden om der gerechticheyt wille: Want harer is het Coninckrijck der hemelen.
  11. Salich zijt ghy als u de menschen smaden, ende vervolgen, ende liegende alle quaet tegen u spreken, g om mijnent wille.
  12. Verblijt ende verheugt u, want uwen loon is groot in de hemelen: want alsoo hebben sy vervolgt de Propheten, die voor u geweest zijn.
  • J. du Toit (1895)
  1. En toe Hy di gróte troppe mense siin, klim Hy die berg op, en na-dat Hy gaan sit het, kom syn leerlinge na Hom toe; –
  2. en Hy ópen syn mond en Hy leer fer hulle en sè:
  3. Sálig di eenfoudige, want di Koninkryk fan di Hemele is hulle syne!
  4. Sálig di treurende, want hulle sal fertroos worde!
  5. Sálig di sagsinnige, want hulle sal die aarde be-ërwe!
  6. Sálig di hongerige en dòrstige na di geregtigheid, want hulle sal fersàdig worde!
  7. Sálig di barmhartige, want aan hulle sal barmhartigheid bewys worde!
  8. Sálig di reine fan hart, want hulle sal God siin!
  9. Sálig die frédeliwende; want hulle sal seuns fan God genoem worde!
  10. Sálig di wat ferfolg geworde is om die geregtigheid ontwil, want di Kóninkryk fan di Hémele is hulle syne.
  11. Sálig is julle, as di mènse fer julle sleg maak, en met leuëns fer julle uitmaak fer al wat sleg is, om My ontwil!
  12. Ferheug vir julle en wees baing bly, want julle loon is groot in di Hémele: want netso het hulle di próféte ferfolg, wat foor julle geléwe het.
  • Die Bybel in Afrikaans (1933)
  1. En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, kom sy disiepels na Hom toe;
  2. en Hy het sy mond oopgemaak en hulle geleer en gesê:
  3. Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  4. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
  5. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
  6. Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
  7. Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
  8. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
  9. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
  10. Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  11. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.
  12. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
  • Die Bybel in Afrikaans (1953)
  1. En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom;
  2. en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê:
  3. Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  4. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
  5. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
  6. Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
  7. Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
  8. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
  9. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
  10. Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  11. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.
  12. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
  • Nuwe Vertaling (1983)
  1. Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom,
  2. en Hy het hulle geleer en gesê:
  3. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
  4. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.
  5. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
  6. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.
  7. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
  8. Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
  9. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
  10. Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
  11. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.
  12. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”
  • Die Boodskap (2002)
  1. Eendag, toe Jesus sien hoe baie mense na Hom toe kom, het Hy teen ’n berg opgeklim sodat Hy hulle kon leer. Sy volgelinge het saam met Hom teen die berg opgeklim.
  2. Nadat Hy gaan sit het, sê Hy vir hulle:
  3. “Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld.
  4. Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog.
  5. Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort.
  6. Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat.
  7. Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.
  8. Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.
  9. Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.
  10. Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld.
  11. Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is.
  12. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.”
  • Nuwe Lewende Vertaling (2006)
  1. Toe Jesus die groot skare mense bymekaar sien, het Hy teen die berg uitgeklim. Toe Hy gaan sit, kom sy dissipels na Hom toe.
  2. Hy het hulle soos volg onderrig:
  3. “Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want hulle het deel aan sy koninkryk.
  4. Gelukkig is die treurendes want God sal self hulle trane afvee.
  5. Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees.
  6. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want hy sal hulle hartsverlange bevredig.
  7. Gelukkig is dié wat met deernis uitreik na mense in nood, want God sal aan húlle deernis bewys.
  8. Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.
  9. Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir julle sê: ‘Julle is mý kinders.’
  10. Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want hulle het deel aan sy koninkryk.
  11. Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.
  12. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”
  • Direkte vertaling (2016)
  1. Toe Jesus die skare sien, het Hy teen die berg opgegaan. Hy het gaan sit en sy dissipels het na Hom gekom.
  2. Hy het begin praat en hulle geleer en gesê:
  3. “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  4. Geseënd is die mense wat treur, want hulle sal vertroos word.
  5. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.
  6. Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.
  7. Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.
  8. Geseënd is die mense wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.
  9. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
  10. Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  11. Geseënd is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is.
  12. Wees bly en jubel omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”

 

 

 

Bibliografie

  • 1534. Die Bibel: Das ist die ganze heilige Schrift. Wittemburg: Hans Lußt.
  • 1611. The Holy Bible: Containing the Old Testament and the new. London: Robert Barker.
  • 1637. Biblia: Dat is: De Gantsche Heyliche Schrifture, vervattende alle de Canonijcke Boecken des Ouden en des Nieuwen Testaments. Leiden: Machteld Aelbrechtsdochter.
  • Bosman, D.B. 1928. Oor die ontstaan van Afrikaans. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.
  • Boshoff, S.P.E. 1921. Volk en taal van Suid-Afrika. Pretoria: J.H. de Bussy.
  • Boshoff, S.P.E. 1936. Etimologiese woordeboek van Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Pers.
  • Boshoff, S.P.E. & Nienaber, G.S. 1967. Afrikaanse Etimologieë. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
  • 1933. Die Bybel: dit is die ganse Heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.
  • 1953. Die Bybel: dit is die ganse Heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat. 2de hersiene uitg. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.
  • 1983. Die Bybel: nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
  • 2002. Die Boodskap: die Bybel in hedendaagse Afrikaans. Vereeniging: CUM.
  • 2006. Die Bybel: nuwe lewende vertaling. Vereeniging: CUM.
  • 2014. Nuwe Testament en Psalms: ’n direkte vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
  • Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. 2014. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik.
  • Conradie, C.J. 1983. Afrikaanse Bybelvertalings: ’n taal in wording. (In Sinclair, A.J.L., red. G.S. Nienaber: ’n huldeblyk. Kaapstad: Universiteit van Wes-Kaapland. p. 105-111).
  • Deist, F.E. & Burden, J.J. 1980. ’n ABC van Bybeluitleg. Pretoria: J.L. van Schaik.
  • De Villiers, F.T. 2002. Psalm 17:14: tekskritiek as kritieke eerstestap tot Bybelvertaling. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 43(1-2):39-47.
  • Du Plessis, L.T. 1986. Afrikaans in beweging. Bloemfontein: Patmos.
  • e-Sword. 2014. The sword of the Lord with an electronic edge. Software for Windows.
  • Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners: ’n geskiedenis. Kaapstad: Tafelberg.
  • Grosheide, F.W. red. 1955. Bybelse Ensiklopedie. Uit Nederlands vertaal deur J.H. van Wyk. Kaapstad: Verenigde Protestantse Uitgewers.
  • Heese, H.F. 2005. Groep sonder grense: die rol en status van die gemengde bevolking aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea.
  • Jordaan, G.J.C. 2004. Die 1933-Afrikaanse Bybelvertaling: nie ’n eerste nie. Die Kerkblad, Okt:40-41.
  • Kritzinger, G. 2014. verklaring van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika na aanleiding van ‘n petisie teen ‘n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=73:verklaring-van-die-bybelgenootskap-van-suid-afrika-na-aanlieding-van-n-petisie-teen-n-nuwe-afrikaanse-bybelvertalingantwoord-op-petisie-teen-hierdie-vertaling&catid=37:vraag-a-antwoord&Itemid=69 Datum van gebruik: 31Aug. 2014.
  • Langner, D., red. 2013. De Bijbel in het Afrikaans: gedagtes oor die Afrikaanse Bybel en die Afrikaanse gees met die tagtigste verjaarsdag van die Afrikaanse Bybel. Pretoria: FAK.
  • Mijnhardt, F.A. 2002. Afrikaanse Bybelkonkordansie. 9de uitg. Kaapstad: Lux Verbi
  • Naudé, J.A. 2004. Afrikaanse Bybelvertalings “vir Afrika”. Die vertalers en hulle kulturele agenda. Acta Theologica, 2004(1):127-146.
  • Newmark, P. 1988. A Textbook of Translation. Hertfordshire: Prentice Hall.
  • Nida, E.A. 1970. Formal correspondence in translation. The Bible translator, 21(3): 176-183.
  • Nienaber, P.J. & Heyl, J.A. 1963. Die Afrikaanse Bybelvertaling. Kaapstad: Nasou.
  • Nienaber, P.J. & Nienaber, G.S. 1944. Die opkoms van Afrikaans as kultuurtaal. Pretoria: J.L. van Schaik.
  • Otto, A.N. 2014. Sosiolinguistiek. (In Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik. p. 311-346).
  • Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.
  • Rousseau, L. 2005. Die groot verlange: die verhaal van Eugène Marais. 4e uitg. Pretoria: Protea.
  • Scholtz, J. du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
  • Sinclair, A.J.L., red. 1983. G.S. Nienaber: ’n huldeblyk. Kaapstad: Universiteit van Wes-Kaapland.
  • Snyman, A.H. 2003. Die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling in die lig van huidige tendense en behoeftes. Acta Theologica, 2003(1):175-193.
  • Steyn, J.C. 2009. Die Afrikaans van die Bybelvertaling van 1933. Acta Theologica Suplementum, 12:130-156
  • Steyn, J.C. 2013. Afrikaans en die Bybelvertaling van 1933. (In Langner, D., red. De Bijbel in het Afrikaans: gedagtes oor die Afrikaanse Bybel en die Afrikaanse gees met die tagtigste verjaarsdag van die Afrikaanse Bybel. Pretoria: FAK. p. 72-92).
  • Steyn, J.C. 2014. “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal.
  • Strauss, P. 2013. Die Bybel in Afrikaans: Bybelse Afrikaans word leeftaal. (In Langner, D., red. De Bijbel in het Afrikaans: gedagtes oor die Afrikaanse Bybel en die Afrikaanse gees met die tagtigste verjaarsdag van die Afrikaanse Bybel. Pretoria: FAK. p. 46-51).
  • Swanepoel, J. 1986a. Die vertaalproses. (In Van der Walt, J., red. In ons eie taal: die waarde en gebruik van die 1933/53 en 1983 Afrikaanse vertaling van die Bybel. Potchefstroom: PU vir CHO. p. 19-33).
  • Swanepoel, J. 1986b. Hoe kan ’n vertaling met die oorspronklike ooreenkom? (In Van der Walt, J., red. In ons eie taal: die waarde en gebruik van die 1933/53 en 1983 Afrikaanse vertaling van die Bybel. Potchefstroom: PU vir CHO. p. 35-49).
  • Theunissen, C. 2013. Die Bybel en die Afrikaanse letterkunde. (In Langner, D., red. De Bijbel in het Afrikaans: gedagtes oor die Afrikaanse Bybel en die Afrikaanse gees met die tagtigste verjaarsdag van die Afrikaanse Bybel. Pretoria: FAK. p. 52-55).
  • Van Dale Woordenboek. 2006. Van Dale Woordenboek Nederlands op groot formaat. Utrecht: Van Dale
  • Van der Merwe, C.H.J. 2012. The Bible in Afrikaans: a direct translation – a new type of church Bible. HTS 68(1):1204-1211.
  • Van der Merwe, H.J.J.M., red. 1972. Afrikaans: sy aard en ontwikkeling. Pretoria: J.L. van Schaik.
  • Van der Merwe, H.J.J.M. & Posthumus, M.J. 1972. Die opkoms van Afrikaans as kultuurtaal. (In Van der Merwe, H.J.J.M., red. Afrikaans: sy aard en ontwikkeling. Pretoria: J.L. van Schaik. p.67-97).
  • Van der Walt, J., red. 1986. In ons eie taal: die waarde en gebruik van die 1933/53 en 1983 Afrikaanse vertaling van die Bybel. Potchefstroom: PU vir CHO.
  • Van der Watt, J. 2004. Hoe akkuraat kan ’n Bybelvertaling wees? Gennaw in 1 Johannes 5:1-4 as voorbeeld. HTS, 60(3):1149-1171.
  • Van Jaarsveld, F.A. 1968. Nuwe geïllustreerde geskiedenis vir die Senior Sertifikaat: deel 1 – Suid-Afrikaanse geskiedenis. Johannesburg: Voortrekkerpers.
  • Van Niekerk, A. & Olivier, J.A.K. Pragmatiek. (In Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik. p. 275-310).
  • Van Rensburg, A. 2005. ’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: ’n perspektief op die teorie en praktyk. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. (Verhandeling – M.Phil).
  • Van Rensburg, A. & Van der Merwe, C.H.J. 2007. ’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: die praktiese aanvaarbaarheid van ’n nuwe vertaalmodel. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 43(1-2):270-283.
  • Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa.
  • Van Rooyen, H.F. 1986. Die vertaling van stylfigure in die 1983-vertaling. (In Van der Walt, J., red. In ons eie taal: die waarde en gebruik van die 1933/53 en 1983 Afrikaanse vertaling van die Bybel. Potchefstroom: PU vir CHO. p. 89-96).
  • Van Wijk, G.J., red. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.
  • WAT: woordeboek van die Afrikaanse taal. 1956. Eerste deel: A. Pretoria: Die Staatsdrukker.
  • WAT: woordeboek van die Afrikaanse taal. 1957. Derde deel: G. Pretoria: Die Staatsdrukker.
  • WAT: woordeboek van die Afrikaanse taal. 2013. Veertiende deel: S-Skooi. Pretoria: Die Staatsdrukker. Stellenbosch: Buro van die WAT.
  • Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk: woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Pretoria: Unisa.

[1] Uit Raidt, 1991.

Tags: , , , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.