Die versplintering van die gedroomde nuwe staatskerk

deur Ds. Petrus Kriel 

Die versplintering van die gedroomde nuwe staatskerk


Die versplintering van die gedroomde nuwe staatskerk deur die verwerping van die voorgestelde nuwe belydenisgrondslag met die Belharbelydenis

1. Die versplintering van die gedroomde kerk

Lidmate en vergaderinge van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) het reeds sodanig die nuwe voorgestelde Artikel 1 van die Kerkorde van die Algemene Sinode verwerp, dat die Algemene Sinode nie meer hierdie artikel by sy volgende vergadering sal kan goedkeur nie.

Die stemming is tans nader aan ’n tweederdemeerderheid teen hierdie nuwe kerkwording, terwyl ’n tweederdemeerderheidstem vir die verandering nodig was. Verder is die wegblystem van die lidmate meer as tagtig persent.

Met hierdie oorweldigende meerderheid het lidmate en Streeksinodes die gedroomde nuwe kerk van die Algemene Sinode kerkordelik effektief beeïndig. Die verwerping van hierdie gedroomde kerk is heeltemal anders as wat die geestelikes dit wil probeer voorhou, nie verwerping van kerkeenheid nie.

Hierdie nuwe gedroomde kerk was reeds ontwerp en gereed vir stigting en organisering in die beleidsdokumente “Memorandum of Agreement between the URCSA and the DRC” en “The road map to Church unification: DCR-URCSA”.

Hiermee is daar ’n diep vervreemding tussen die lidmate en van die Streeksinodes aan die een kant, teenoor die Algemene Sinode (AS) en die geestelikes wat hierdie eenwording aandryf, aan die ander kant, blootgelê. Nie net stem Streeksinodes teen die AS se voorstel nie, maar in Sinodes wat ten gunste vir die verandering stem, stem lidmate en kerkrade met ’n meerderheid teen hulle eie Streeksinode se stemming. (Oostelike Sinode)

2. Die verwyt teen en veroordeling van lidmate deur geestelikes

Geestelikes in die NGK is in die openbaar besig om hulle onbegrip, afkeur, skok en verset oor hierdie vervreemding te verwoord. Lede van die Sinode van Namibië wat nee gestem het, word selfs gedreig dat hulle teenoor die uitvoerende bestuur van die Sinode verantwoording oor hulle nee-stem sal moet kom doen.

Lidmate en predikante word verwyt en veroordeel, want hulle sou net nee stem oor die pyn met dienslewering (deur die owerheid) (dr. Chris van Wyk, Oos-Kaap voorsitter); lidmate sou net stem teen die artikel omdat predikante en kerkrade die nodige inligting van lidmate weerhou het (dr. Braam Hanekom Wes-Kaap voorsitter); die lidmate sou die NGK irrelevant maak; wie teen die verandering stem sou teen kerkeenheid wees en sou die kerk weer na die apartheidsera terugvat (prof. Nelus Niemandt voorsitter AS).

In ’n gees van verset, stel dr. Andries Kritzinger (ASM) dat predikante aangemoedig moet word om geregverdig die Belharbelydenis vir lidmate te preek, al het lidmate dit nou kerkordelik verwerp. In dieselfde versetgees, het ’n protesgroep binne die Vrystaatse Sinode, nadat die artikel verwerp is, met teenbesluite gereageer waarin lidmate steeds die reg het om teen die belydenisgrondslag van die NGK ander belydenisse te handhaaf.

In ’n gees van anargisme het prof. Nelus Niemandt as voorsitter van die ASM teenoor die kerk waarvan hy voorsitter is, reeds openbaar verklaar en gesuggereer dat bemagtigde “leiers” ten spyte van lidmate se stemming sal aanhou druk uitoefen totdat “hulle” die verandering van Artikel 1 kan deurvoer; dat die wat ja gestem het, sal poog om binne die bestaande NG sinodes ander kategoriale sinodes te skep, met ’n ander geloofsgrondslag as die NGK se bestaande Sinodes; dat sinodes wat ja gestem het ’n eie streeksinode kan skep en dat sinodes wat ja gestem het uit die Algemene Sinodale verband van die NGK kan tree.

Ander NG geestelikes stel in hul onbegrip en woede dat die rede vir hierdie stemming van lidmate is omdat hulle nog rassisties sou wees, aan die verlede sou vashou en, nou veral, dat hulle nie vir ander Christene sou kan ruimte skep nie.

Die geestelike verwyt wat al meer en meer gestel word, is dat lidmate nie “evangelies”, geestelik en gelowig genoeg is om reg te stem nie. Hierdie gebrek in hul verhouding met God sou dan die rede wees waarom hulle nie ten gunste van die verandering stem nie.

Hierdie geestelike verwyt gaan nou selfs al só diep dat die reg van lidmate om oor geloofsake te mag stem, verdag gemaak word. Die tweederdemeerderheidstem volgens die kerkorde word nou deur geestelikes verdag gemaak asof dit ’n ongeestelike en wêreldse instelling is. (Dr. Chris van Wyk: “Hy kan nie glo dat die kerk waarin Christus moet regeer, met so ’n demokratiese stemproses werk nie. Kerkbode 6 Maart 2105). Dit sou nou in stryd wees met die ware geestelike instelling dat die “leiers” van die Algemene Sinode God se stem in hul byeenkomste hoor en dat die lidmate dit net moet volg. Veral omdat die geestelikes volgens hulle self die verandering só begripvol en deernisvol sal deurvoer, in hul eie woorde, “sonder dwang”.

3. Ongeërgheid oor die ontwrigting en disfunksionaliteit van die kerk se geloof

Wat in hierdie verwyte teen en verdagmakery van lidmate se geloof nie gestel word nie, is die innerlike teenstrydigheid wat die nuwe Artikel 1 binne die geloofsgrondslag van die nuwe kerk sou geskep het: dit sou lidmate wat dit só wou, aan die gesag van die Woord van God gebind het en terselfdertyd lidmate wat dit nie wou nie, weer van die gesag van God se Woord vrygestel het.

Hierdie vrysinnigheid teenoor God se Woord sou deel van die nuwe konstitusionele reg van lidmate, predikante en kerkvergaderinge van die nuwe gedroomde kerk wees. Die AS wou lidmate die vryheid gee om ’n geloofsbelydenis in Jesus Christus, wat volgens die Woord van God die waarheid is en deel van die kerk se belydenisgrondslag is, nie hoef te bely nie. Daarmee wou die AS lidmate die vryheid gee om nie aan die gesag van die Woord van God gebind hoef te wees ten opsigte van die Belharbelydenis nie, terwyl hulle ten opsigte van die ander belydenisse nie hierdie vryheid sou gehad het nie.

Die AS het hierdie vrystelling van die gesag van die Woord van God voorgehou as lidmate wat vir mekaar “ruimte” moes skep. Dit wil sê, ruimte om los van die Woord van God se gesag te wees.

Die ruimte om los van die gesag van die Woord van God te wees, is vrysinnigheid. Vrysinnigheid teenoor die Woord van God sou binne die nuwe geloofsgrondslag ’n geloofs- en kerkordelike reg gewees het. Die effek van hierdie vrysinnigheid as ’n konstitusionele reg, sou disfunksioneel ingewerk het op die hele belydenisgrondslag.

Want lidmate wat nie in die kinderdoop, die opstanding van die Here uit die dood en ander geloofsinhoude wat volgens die Woord van God die waarheid is, gebind wil wees nie, sou met kerklike en gemene reg op dieselfde “ruimte” binne die nuwe kerk kon aanspraak maak.

Die geestelikes is oor hierdie disfunksionaliteit in belydenisgrondslag ongeërg en gelate. Vir wat hulle wil bereik, is die geloofsgrondslag van die kerk gewoon net van minder belang. Hulle voel ’n ander groter belang aan. Die disfunksionaliteit in die geloof stel hul ligsinnigheid net ter syde of besweer dit met magspreuke oor hoe dit sal of nie sal wees nie.

Die rede vir hierdie ongeërgdheid is omdat die karakter van die nuwe kerk vir hulle nie soseer in die geloofsbelydenisse verwoord is nie, maar in die beleidstuk wat as “Memorandum of agreement between the URCSA and DRC” bekendgestel is in die verklaring van 9–10 April 2013 in Kempton Park. Dit is hul werklike belang.

Die aanvaarding van die Belharbelydenis, op enige moontlike wyse, maak nie saak hoe dit die belydenisgrondslag ontwrig nie, sou net die begin gewees het van die uitvoering van hierdie ooreenkoms: “4.1 We agree that the Confession of Belhar will be taken up in the confessional basis of the reunited church.”

4. Die nuwe inhoud en karakter van die gedroomde kerk

Die nuwe karakter van die gedroomde kerk is in hierdie memorandum verwoord en vasgelê, nie in Artikel 1 van die nuwe kerkorde, of in die Belharbelydenis nie, alhoewel Artikel 1 die deur oopmaak vir die Memorandum as die nuwe inhoud van die kerk.

Hierdie nuwe kerk se karakter is nie vir bespreking deur lidmate oopgestel of vir die goedkeuring van lidmate voorgelê in die huidige stemming nie. Dit is nêrens aan lidmate of predikante verduidelik dat hul stemming eintlik die uitvoering van hierdie ooreenkoms in die “Memorandum” sal sanksioneer nie.

Die karakter van die nuwe kerk het in hierdie memorandum en gepaardgaande verklaring vier fokuspunte, naamlik:

  • die aanvaarding van die Belharbelydenis,
  • die kerk se verbintenis tot ’n Afrika-visie,
  • die nuwe program van regstellende geregtigheid en
  • versoening deur liberaal-demokratiese waardes.

4.1 Die Afrika-visie. Die Afrika-visie vir die kerk word soos volg gestel: “2.3 From within our common faith in the triune God we commit ourselves to Africa, the continent where the Lord has placed us, and particularly to Southern Africa. We wish to take up this calling together to make a difference to the life threatening problems of our country.”

Die NGK het hom reeds in 2000 met die sogenaamde VAM-verslag verbind aan hierdie sogenaamde Afrika-visie vir die NGK. Hierdie is nie ’n visie vir die geografiese gebied waarbinne die kerk werk nie. Dit is ’n spirituele visie vir die geestelike aard en inslag waarmee die kerk homself nuut moet identifiseer: Afrika. Reeds in die VAM-verslag het die kerk sy verbintenis tot hierdie nuwe geestelike visie vir Afrika gestel as die alternatief op sy sogenaamde ou Westerse inslag.

4.2 Regstellende geregtigheid. Die program waarvolgens hierdie nuwe kerk gevestig moes word, word “regstellende geregtigheid” genoem. Hierdie woord beskryf die nuwe geestelike karakter van die gedroomde kerk.

In die Gereformeerde geloof is “regstellende geregtigheid” ’n nuwe woordskepping. Ten opsigte van die bestaande geloofsbelydenisse, is dit ’n totaal nuwe geestelike saak. Regstellende geregtigheid is die nuwe alternatiewe geregtigheid teenoor die regverdigmaking in Christus deur die geloof alleen, volgens die bestaande geloofsbelydenis.

Die regverdigmaking in Christus is om ingesluit te word en te deel in die heilsweldade van die Here. Hierdie geregtigheid is ’n gawe waarin elke gelowige leef en ander medegelowiges mee aanvaar word as reg in Christus. Daarom is dit die enigste daad waarin die kerk hierdie regwees in Christus deel en uitleef – alleen deur die geloof. Geloof in die regwees vir mekaar in Christus is ook die enigste werklike eenheid met mekaar in een kerk.

Regstellende geregtigheid is totaal iets anders. Hierdie nuwe alternatiewe geregtigheid is ’n soort geregtigheid wat deur mense geskep word deur vergoeding vir sondes van die verlede. Regstellende geregtigheid binne die nuwe kerk word soos volg voorgestel: “5.1.2 It restores imbalances of the past and imbalances in God’s creation and glorifies God through our restored unity and reconciliation.” 5.1.3 “We accept that restorative justice is a complex process which wil ask some sacrifices.” Deel van hierdie nuwe soort geregtigheid is 5.4 “… to conduct a property audit.” Die herverdeling van kerkeiendom is deel van die geestelikheid van regstellende geregtigheid.

Wat is “regstellende geregtigheid”? Dit is die vergeesteliking van die huidige staatsbedeling se regstellende aksie asof dit die regverdigmaking van die Woord is. Dit maak ’n gelykstelling tussen die politieke praktyk van regstellende aksie en die geregtigheid in Christus volgens die Bybel.

Dit vergeestelik eerstens die distansiëring van ’n politieke verlede as sou dit die sondebelydenis van die kerk wees en tweedens verbind dit die kerk tot die herverdeling van eiendom as ’n daad van geestelike offervaardigheid volgens die kerk se geloof.

Hierdie nuwe regstellende geregtigheid is die daad wat nou kerkeenheid sou skep. Kerkeenheid is nie meer eenheid in die geloof in Christus nie, maar eenheid in hierdie nuwe tipe geestelike bekering: jy moet jou bekeer van die verlede se “imbalances” en jou toekeer tot die “restore” of “imbalances” deur offervaardigheid.

Regstellende geregtigheid is nie regverdigmaking alleen deur Christus nie. Dit is regstelling van die mens se sonde deur die mens se bekering.

4.3 Versoening met die gemeenskap. Die “Memorandum” stel versoening as die posisie en taak wat die kerk binne die sekulêre gemeenskap moet opneem. Die kerk moet versoening in die sekulêre gemeenskap fasiliteer met al die sake wat teen versoening in die gemeenskap sou werk: “5.2.2 We accept the reality that conflict, bitterness, hatred, racism, etnicism, classism, sexism and a lot of emotional pain is still part of society. We must address some of the core reasons for conflict like: misunderstanding and poor communication, bad and corrupt leadership, language, culture, and religion, ideologies and the greed for political power, injustices, personalities, scare resources and imbalances in society.”

Die gemeenskaplike waardes wat in hierdie tipe versoening gevestig moet word, is volgens die “Memorandum” onder andere 2.3 “seeking and advocating justice for all; achieving reconciliation, which is more than mere tolerance for one another; opposing violence and abuse of power of all kinds in our society; promoting and embracing human dignity and gender equity.”

Wat is hierdie alternatiewe soort versoening wat hier as die inhoud van die nuwe kerk voorgehou word? Dit is niks anders nie as om die liberale demokratiese waardes van die nuwe staat te vergeestelik, as sou dit die waardes van die kerk van die Here wees.

Versoening is nou om in die sekulêre gemeenskap met mekaar een te wees in die liberale demokratiese waardes van die staat. Hierdie eenheid in die sekulêre gemeenskap is nou ook die gronde van ’n nuwe tipe kerkeenheid.

Hier vind ’n omkering van die plek en werking van eerstens Christus se versoening in die kerk en tweedens die naasteliefde van die kerk vir alle mense in die gemeenskap plaas.

Die posisie van die kerk in die wêreld is dié van naasteliefde volgens God se wet teenoor medegelowiges én ongelowiges; teenoor hulle wat jou goedgesind is én teenoor hulle wat jou haat. Die naasteliefde van die kerk is nie bedoel vir die opheffing van verskille en sondes binne die wêreldgemeenskap nie. Dit is juis bedoel as die lewensingesteldheid bínne die sondigheid van die wêreld en bínne die blywende onversoenbare waardes van die kerk met die waardes van die wêreldse gemeenskap.

Die plek en werking van naasteliefde, volgens God se wet in die gemeenskap, word in die “Memorandum” nou omgekeer en vervang met die plek en werking van die versoening wat Christus binne sy kerk net aan gelowiges skenk.

Versoening volgens die bestaande belydenisse gaan oor dit wat die gelowiges met Christus en met mekaar as gelowiges in Christus in sy kerk deel. Dit wat gelowiges met die wêreldgemeenskap deel, kan nooit versoening wees nie. Met die wêreldgemeenskap deel die kerk naasteliefde vir elkeen en almal.

Gelowiges kan hul versoening net op een manier met die wêreld deel en dit is deur die wêreld met die evangelie van Christus te konfronteer. Dit is die enigste “visie” van die kerk vir die wêreld.

Hierdie omkering van liefde na versoening as die posisie wat die kerk in die sekulêre wêreldgemeenskap moet inneem, volgens die “Memorandum”, maak dat die kerk nou ’n sekulêre roeping en visie kry. Die kerk moet nou totaal ander en nuwe waardes in die gemeenskap uitleef en vestig as die waardes van naasteliefde volgens God se wet.

Die waardes waarvolgens hierdie gedroomde kerk mense in die sekulêre gemeenskap nou met mekaar gaan versoen, is die waardes van die liberale demokrasie. Dit is nie meer die waardes van naasteliefde volgens God se wet nie. Om liberale waardes te fasiliteer, is iets anders as die uitleef van die waardes van naasteliefde volgens God se wet binne die sekulêre gemeenskap.

In die geestelike poging om “gay” verbintenisse as christelike huwelike te verkerklik, word hierdie verskil tussen ’n kerk wat naasteliefde volgens God se wet in die gemeenskap uitleef en die nuwe gedroomde kerk se fasilitering van liberaal demokratiese waardes in die gemeenskap op sy beste gewys.

Om “gay” huwelike te verkerklik, is die nuwe tipe versoening van die gedroomde kerk. Volgens die waardes van naasteliefde, volgens God se wet, is “gay” huwelike sonde, nie versoening nie.

Wat hierdie nuwe kerk met “gay” verbintenisse moet doen, is net een voorbeeld. Hy sal ook saambly moet verchristelik as ’n verbintenis wat nog net verkerklik moet word en nie meer sonde is nie. En dit sal met alle sosiale instellings gebeur – alle liberale waardes sal deur hierdie nuwe kerk as versoening vergeestelik word.

5. ’n Nuwe staatskerk in die plek van die ou staatskerk

Watter soort kerk is hierdie nuwe gedroomde kerk volgens die “Memorandum”?

Dit wys duidelik as ’n mens dit vergelyk met dit waarop die nuwe kerk die alternatief wil wees in die “Memorandum”: die ou apartheidskerk.

Wat het die “ou kerk” die apartheidskerk gemaak? Dit was geestelikes se poging om die kerk deel te maak van:

  • Die Afrikanervisie;
    Die program van eie aparte lewens, geriewe, kerke en state as Bybelse geregtigheid; en
    Die aanvaarding van vreedsame naasbestaan (versoening) deur die vestiging van eie kulture en volkswaardes deur die kerk.

Deur die gelykstelling van:

  • die Christelike kerk se sending as die Afrikaner se visie vir ’n Afrikanerstaat en eie state vir ander kulture (vergelyk die sending van die 40’ers en 50’ers met die Tomlinson-verslag); en
    die regverdigmaking in Christus deur die geloof alleen as die geregtigheid van ’n eie lewe en eie regte; en
    volkswaardes as Christelike waardes,

was die NGK saam met die ander Afrikaanse Kerke die staatskerk: ’n kerk beklee met die magte van die staat vir die doelwitte van die staat.

Dit wys ons wat hierdie nuwe gedroomde kerk van die “Memorandum” is: dit is die nuwe staatskerk wat as alternatief moet dien op die ou staatskerk.

Hierdie gedroomde nuwe staatskerk

  • vervang die Afrikanervisie met ’n Afrikavisie,
    vervang die geregtigheid van eie belange met regstellende geregtigheid en
    vervang die volkswaardes met die nuwe liberale demokratiese waardes van die nuwe staat.

Maar waar dit dieselfde is, is die feit dat die nuwe gedroomde kerk steeds ’n staatskerk is. Dit wil met die kragte, die reserwes en die sanksie van die staat die kerk wees wat die geestelike agent van die doelwitte van die staat is.

Om die nuwe staatskerk te wees, moet hierdie gelykstelling tussen die kerk se geloof en waardes, en die sekulêre geloof in die staat met sy liberaal demokratiese waardes plaasvind, nes die “ou kerk” dit gedoen het om die ou staatskerk te wees.

Die slagspreuk vir hierdie staatskerk is kerkeenheid. Maar kerkeenheid is nie die werklike doelwit van hierdie gedroomde kerk nie. Die eenheid van hierdie gedroomde staatskerk is die eenheid in die nuwe liberale demokrasie – die eenheid in vrysinnigheid, nie die eenheid in die geloof nie. Die kerk se geloofseenheid word vergeestelik as die manier waarop gelowiges nou een in hierdie nuwe staatskerk moet wees. Die staatskerk is egter nie die wyse waarop die kerk een in sy geloof, organisasie en naam is nie. Hierdie gedroomde eenheid is die kaping van die eenheid van die kerk vir die skep van ’n staatskerk.

6. Die simboliese betekenis van die Belharbelydenis vir die skep van nuwe staatskerk

Tydens die spesiale Sinodesitting van die Noordelike Sinode op 13 Februarie 2015 is in die vergadering daarop gewys dat die Belharbelydenis in die voorgestelde nuwe kerkorde, geen kerkregtelike betekenis het nie.

Die vrysinnigheid binne die artikel dat jy die belydenis kan aanvaar of los, maak dat dit in geen kerklike tug, dissipline of geskil enige regswaarde het soos wat al die ander geloofsbelydenisse het nie.

Die teendeel is eintlik waar vir die geskille wat hierdie vrysinnigheid gaan veroorsaak. Elkeen kan doen wat hy wil en daar is geen ander kerklike belydenis waarvolgens hierdie teenstrydige optredes hanteer kan word nie – predikante kan teen die besluite van kerkrade optree, en andersom. In hierdie kerklike geskille oor Belhar sal daar geen kerkregtelike uitkoms wees nie. Hierdie verset teen mekaar is nou ’n nuwe kerklike reg.

In die vergadering is uitgewys dat die keuse om Belhar op hierdie wyse te aanvaar, net ’n simboliese gebaar sonder kerkregtelike of gemeenregtelike krag is.

Prof. Nelus Niemandt het ter vergadering hierdie simboliese waarde van Belhar bevestig en hierdie simboliese waarde Maandagoggend op 15 Februarie in die koerant Beeld weer as die eintlike bedoeling van die nuwe kerkorde gestel.

Waarvan is die aanvaarding van hierdie belydenisgrondslag met al sy disfunksionele werking op die geloof van die kerk simbolies?

Dit is simbolies van die afskeid van die ou staatskerk en die aanvaarding van die nuwe staatskerk.

Daarom moet eerder van die Belharbekering as van die Belharbelydenis gepraat word. Die aanvaarding van hierdie simbool wys dat jy die ou staatskerk afgelê het en die nuwe staatskerk aanvaar as die ware kerk van die Here. Dit wys ook jou berou oor en regstelling van die oue deur die nuwe een te aanvaar.

7. Die verbrokkeling van die staat in die nuwe gedroomde staatskerk

Hoekom stem lidmate en sinodes teen hierdie nuwe Artikel in die kerkorde?

Dit is nie omdat hulle teen kerkeenheid in geloof én organisasie is nie. Dit is omdat die staat waarvoor die gedroomde nuwe kerk staatskerk wil wees, besig is om te verbrokkel.

Die huidige owerheid is besig om die instellings van die staat só te ontwrig en te plunder dat die staat as instelling op die pad van ’n mislukte staat is. In baie opsigte kan al van ’n gedeeltelik gekriminaliseerde staat gepraat word.

Die huidige owerheid is ook besig om die liberaal-demokratiese waardes van die nuwe staatsorde te vernietig in brute magsuitoefening. Die ineenstorting van kragvoorsiening, mediese dienste, belastinginvordering, regsuitoefening en polisiëring wys hierdie staat se disfunksionaliteit.

Vir hierdie staat wil die geestelikes die nuwe staatskerk skep.

Die krag wat hulle nodig gehad het vir ’n staatskerk, ’n funksionele regstaat, bestaan nie. Daarom val die meeste van hulle nou al terug op die noodsprong dat hierdie nuwe gedroomde staatskerk die agent en die waarborg moet wees vir ’n nuwe funksionele regstaat.

Vir ’n kerk om geloofwaardig staatskerk te kan wees, het hy ’n funksionele en geloofwaardige staatsorde nodig. En dit het verbrokkel! Mense kan nie meer in die droom van ’n staatskerk inkoop nie, want die werklikheid van ’n disfunksionele en gekriminaliseerde staat is elke dag deel van hul lewe. Hulle ervaar dit as daaglikse werklikheid dat hierdie nuwe staat van die staatskerk net ’n droom is.

Daarom is daar geen geloofwaardigheid in die simboliek van die Belharbelydenis nie: dat jy jou van die ou staatsorde na die nuwe sou moet bekeer. So asof hierdie dan dieselfde sou wees as ’n bekering van sonde na geregtigheid.

Die ongeregtighede van die ou staatsorde begin al bleker lyk teen die kriminaliteit en disfunksionaliteit van die nuwe staatsorde. En om die bekering tot die nuwe meer kriminele staat te glo as ’n bekering van verkeerd na reg, is net vir geen mens meer geloofwaardig nie.

8. Die versugting na ’n vrye kerk as geloofsgemeenskap, nie as staatskerk nie

Die geestelikes wat lidmate en vergaderinge verwyt en veroordeel vir rassisme, en ander ou sondes van die verlede, sal nie uit hul onbegrip vir lidmate se nee-stem en die magtige passiewe wegblystem kom nie. Hierdie geestelikes idealiseer ’n nuwe staatskerk en idealiste sal hulle bly. Paradigmas verander nie. Dit sterf uit.

Lidmate soek nie die ou staatskerk nie. Dit is absurd. Daar kan nooit weer só ’n tipe staatsorde wees nie en elkeen weet dit, gelowig en ongelowig. Niemand wil ook weer daarheen teruggaan nie, gelowig én ongelowig.

Lidmate soek ook nie ’n nuwe staatskerk nie. Hulle moet nou nog op elke moontlike vlak van die samelewing die gelag betaal vir geestelikes se gelykstelling tussen kerk en staat.

Om van hierdie lidmate te verwag om weer goedgelowig in te koop in ’n nuwe geestelike gelykstelling tussen kerk en staat, op so ’n wyse dat hulle weer eendag vir hierdie gelykstelling sal moet betaal, grens aan matelose minagting vir lidmate se insig.

Hoekom moet hulle weer vir die skuld van ’n mislukte staatsorde, maar hierdie keer een waarin hulle nie in die mag gedeel het nie, maar ’n uitgerangeerde minderheidsgroep is, verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar?

Daarom steur lidmate hulle ook nie meer aan die etikettering deur geestelikes wat hulle uitmaak as nie-ware gelowiges, rassiste, onevangeliese mense of te dom om te weet waarvoor hulle moet stem nie.

Hierdie kerklike veroordeling het nie meer die krag van ’n staatskerk wie se veroordeling deur die magte van die staat gerugsteun word, soos was dit in die ou bedeling gewerk het nie. Die nuwe staat vervolg nie meer die mense wat vandag deur die kerk veroordeel word nie.

Lidmate is in feitlik elke gemeenskap besig om kerklike werk en verbande oor alle grense heen te vestig, anders as waarvoor hulle beskuldig word. In hierdie uitreik, wys die werklike versugting wat hierdie nuwe staatsprofete nie kan herken nie – die soeke en poging om ’n kerk, vry van staatsmag of staatdoelwitte te wees.

Hierdie kerk as vrye geloofsgemeenskap is:

1. ’n Kerk wat Christus en sending as visie het en nie een of ander sosio-politieke visie soos “Afrikaners” of “Afrika” met maatskaplike en ekonomiese opheffing as “sending” nie.

2. ’n Kerk wat sy eie geloofsinhoud het en sy eie waardes volgens God se wet skep en uitleef. Nie net weer die waardes van nog ’n sekulêre wêreldse gemeenskap moet vergeestelik nie.

3. ’n Kerk wat uit die krag van sy geloof in die Here Jesus Christus leef, en nie in sy geloof so disfunksioneel is dat sy geloof opsioneel geword het nie.

4. ’n Kerk wat sy eenheid in geloof en organisasie vind in Christus se genaderyk en nie in die eenheid van die nuwe staat nie.

9. Net ’n ja-stem nodig vir die nuwe staatskerk

In die drif vir ’n nuwe staatskerk is al wat die geestelikes nodig het, ’n ja-stem. ’n Ja-stem vir ’n nuwe staatskerk.

Daarom is hulle so ongeërg oor die geloofsgrondslag van die kerk. Die geloofsgrondslag maak regtig nie saak nie. Net soos dit in die ou staatskerk regtig net nie saak gemaak het nie.

Daarom is daar al meer en al harder die oproep dat hierdie nuwe geloofsgrondslag net ’n pragmatiese en funksionele besluit is, waaroor daar nie met ’n waardelose gekibbel oor geloof vasgesit moet word nie.

Die nuwe staatskerk se karakter is nie vasgelê in die belydenisgrondslag nie. Dit is vasgelê in die “Memorandum of understanding”. Vir die uitvoering hiervan het geestelikes net ’n ja-stem vir Belhar nodig, maak nie saak hoe hierdie ja-stem lyk nie.

Dit is ook die laaste keer wat lidmate in die skep en bedryf van hierdie nuwe staatskerk inspraak sal hê. Geen lidmaat sal ooit weer ’n kans kry om die gelykstelling van kerk en staat in hierdie nuwe gedroomde kerk aan te spreek nie.

Die opstel en uitvoer van die “Memorandum” is met ’n selfbemagtigde mandaat verseker waarin geen lidmaat ooit weer inspraak sal hê nie: “On behalf of the Dutch Reformed Church (DRC) who hereby declares that he/she has been duly empowered and mandated by the DRC to accept and sign this document on behalf of the DRC.” (Memorandum)

Daarvoor is daar al reeds ’n nuwe waarde aan die besluite van die Algemene Sinode en daarom ook aan hierdie “Memorandum” toegedig: die Heilige Gees en bemagtigde geestelikes het saam besluit. Wie met hierdie gees sal verskil, sal volgens die nuwe kerk staatsvyande wees, deur die kerk só verdag gemaak word en deur die kerk só aan die owerheid en nuwe gemeenskappe blootgestel word.

10. ’n Staatskerk wat irrelevant is en niemand wil hê nie

Die verbrokkeling van die staatsorde deur die huidige regering maak hierdie dreigemente en verdagmakery van lidmate deur hul eie predikante futloos. Die mag van die staat wat hulle in hul verwyte van rassisme en agterlikheid teen lidmate probeer oproep, bestaan nie meer nie. Daar is nie meer ’n kerkstaat nie.

Meer, om staatskerk te kan wees, moet die owerheid en gemeenskap ’n staatskerk wil hê. Dit is die absurde van hierdie gedroomde kerk: dit moet ’n staatskerk wees vir ’n owerheid en ’n gemeenskap wat nie ’n staatskerk wil hê nie.

Om staatskerk te kan wees, moet die kerk die meerderheid van die mense wat mag vorm, verteenwoordig, soos wat die Afrikaanse kerke die meerderheidstem van die vorige staatsbedeling gevorm het. Selfs ’n verenigde NGK-familie sal vir die nuwe staatsorde in terme van getalle irrelevant wees. Die “invloedrykheid” en “relevansie” wat hierdie nuwe staatsprofete droom met hul nuwe kerk, is ’n hersenskim. Die owerheid en die gemeenskap het regtig nie hierdie nuwe gedroomde kerk nodig nie. Dit bly ’n klein minderheidsgroep teenoor die getalle van hulle wat die werklike sekulêre mag vorm. Niemand wil ’n nuwe kerkstaat hê nie.

Dit is die werklike krag wat ontbreek vir hierdie gedroomde staatskerk: ’n owerheid wat die Christelike kerk se getalle, sanksie en regverdiging nodig het. Die huidige een wil dit nie hê en sal dit nooit weer wil hê nie.

Elke lidmaat weet dit, al is hy volgens die geestelikes nie evangelies, gelowig of nie-rassisties genoeg nie. Hierdie wete in lidmate se gemoed maak dat hulle die gedroomde kerk verwerp. Niemand wil weer deur hierdie gelykstelling ’n verchristelike staat hê nie. As die vorige verchristeliking soveel onreg verskans het, hoeveel te meer sal só ’n nuwe gelykstelling, soos voorgestel in die “Memorandum”, nie met ’n disfunksionele en gekriminaliseerde staat verskans nie.

Die werklikheid van ’n verbrokkelende en nie-christelike staat het die nuwe gedroomde staatskerk versplinter. Dit is nie rassisme en onevangeliese onmenslikheid van lidmate wat in die pad van die gedroomde kerk staan soos geestelikes in hul onbegrip vir hul eie droom lidmate voor verdag maak nie.

11. Die werklikheid van ’n vrye geloofgemeenskap

Hiermee word die werklike nuwe vryheid en uitdaging van die veranderde gemeenskap en staatsorde gewoon net deur geestelike leiers wat staatskerke en kerkstate droom, misgekyk.

Binne ’n staat wat geen Christelike staatskerk wil hê nie, het die kerk die vryheid om ’n vrye geloofsgemeenskap te wees.

’n Geloofsgemeenskap met die volgende kenmerke:

1. Wat sy identiteit en roeping juis in sy geloof in en diens aan God vind, nie in nasionale visies nie.

2. Wat sy liefde volgens God se wet vry kan uitleef en nie belas is om sekulêre gemeenskapswaardes te moet verchristelik nie.

3. Wat nie weer die skuld van ’n sekulêre owerheid se onregte en ’n sekulêre gemeenskap se wetteloosheid as Christelike skuld moet dra nie.

4. Wat sy eenheid in geloof en organisasie vind net in wie Christus vir hulle is en net in hul geloof in Christus. Nie ’n eenheid wil vind in die liberale demokratiese waardes van ’n sekulêre mag op die ou bekende wyse van “Eendrag maak mag” nie.

5. Wat binne ’n orde leef wat die owerheid nie kan disfunksioneel maak of kan kriminaliseer nie – die orde van die genadeheerskappy van Christus oor sy kerk.

Dit is waarskynlik dat lidmate met hul nee-stem en wegbly-stem vir geestelikes die boodskap gee dat hulle al reeds besig is om hierdie nuwe kerk te leef, in teenstelling met geestelikes se gedroomde kerkstate en staatskerke.

Hierdie vrye geloofsgemeenskap het lidmate al reeds ’n werklikheid gemaak.

Lidmate ken die skaamte en die pyn van die ou staatskerk. Hoekom moet hulle die skaamte en pyn van ’n nuwe een weer op hulle neem? Een wat hulle opsy gestoot het en minag as irrelevant!

Hulle soek ’n ander soort kerk. Hulle ís reeds die ander kerk.

Dit is waarskynlik net die geestelikes wat met ’n nuutgevonde respek vir God se kerk, hierdie nuwe kerk sal moet ontdek. ’n Respek wat hulle nie regters oor die Here se kinders maak nie, maar weer dienaars van sy Woord sal maak.

Hierdie gelowige eerbied vir die Here se kerk en lidmate van die kerk bly geestelikes op die oomblik ontwyk in ’n aanmatigende geregtigheid oor lidmate wat vreemd is aan die geregtigheid wat alle gelowiges met Christus deel.

Hierdie minagting van die geestelikes vir lidmate wys die werklike eenheid in drif van die geestelikes met die sekulêre gemeenskap: hulle kan en wil nie deel wees van ’n kerk wat elke dag binne ’n sekulêre gemeenskap in die konflik staan en leef dat hulle lewe en waardes deur die wet van God gevorm word, maak nie saak hoeveel aanstoot dit vir die vrysinnigheid van mense gee nie.

Hierdie minagting wys ook daarin dat hulle almal wat nie een in hul staatskerk wil wees nie, veroordeel as gelowiges wat teen kerkeenheid is. Terwyl dit juis hierdie geestelikes is wat sal moet ontdek dat die gedroomde staatskerk nie die weg tot kerkeenheid is nie, maar nog die enigste obstruksie in die pad van kerkeenheid is.

’n Staatskerk met vrysinnigheid in sy geloofgrondslag as kerklike reg, is kerk vir ’n vrysinnige gemeenskap en owerheid. Dit is nie meer kerk vir die gelowige gemeenskap nie. Dit is die kerk ván die wêreld en nie meer kerk vír die wêreld nie.

Die lidmate het met hul nee-stem en wegbly-stem hierdie wêreldse geestelikheid verwerp omdat hulle ’n vrye geloofsgemeenskap wil wees – die kerk van die Here Jesus Christus in die wêreld.

Tags: , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.