Die vierperdewa

deur Dr. Alwyn Swanepoel 

Die vierperdewa


Sekere debatte hoef net lank genoeg aan te hou om by die binêre sis-geluide uit te kom: “Liberalis!” “Fundamentalis!” ’n Bekende werkswyse by die FAK is egter om nie te maklik by hierdie lis-tige brandmerke ingetrek te word nie. Die rede hiervoor, so voer alternatiewe modernes aan, is dat ons dalk te maklik die onderliggende probleem miskyk. Dit kan so maklik gebeur dat die twee pole ten diepste net teenoorstaande gevalle van dieselfde verdagte uitgangspunt is. Die bekendste voorbeeld hiervan is seker die holrug onderwerp van apartheid. Toenemend vra mense vandag daarom of grondiger besinning oor iets soos gemeenskapsfederalisme nie dalk die pro en anti-retoriek in nuwe bane kan stuur nie. Hierdie gesonde soeke na dieper sake wat polarisering moontlik kan ontsluit, is verfrissend en dring ons terselfdertyd ook om die bronne van ons gevestigde tradisies met nuwe moed op te soek.

Half-gehoor

By die opsoek van tradisies wat die toets van die tyd deurstaan het, word dit egter ook duidelik dat ’n aansluitende saak ons aandag vra. Dit is dat ons eerlik genoeg moet wees om na te gaan of ons reg laat geskied aan hoe ’n bepaalde tradisie intern sy eie vraagstukke en probleme probeer uitsorteer het. Uiteindelik sou ’n mens wel die harde vraag moes vra of ’n hele tradisie nie dalk op sand bou nie, maar dit kan eers gedoen word nadat daar deeglik geluister is. Gebeur dit nie, is ons gewoon in strooipop-land waar die opponente van ’n ander tradisie hulself eenvoudig nie herken in die karikatuur wat ons van hulle oprig nie. N.P. Van Wyk Louw se woorde aan diegene wat streng en omvattend wil dink, kan gerus maar weer afgestof word: “Streng dink is: logies dink met gebruikmaking van begrippe wat behoorlik krities ondersoek is. … min mense besef hoe verward die begrippe is waarmee hulle hul hele lewe werk – hoe vol van hul eie vooroordele, hoe half-gehoor en hoe verweef met verkeerde assosiasies; ‘n mens kan sê: hoe besoedel met emosionaliteit.”[1]

Dink byvoorbeeld aan iets soos die klassieke liberale tradisie. Vanweë die lading wat die woord liberaal in Afrikaans dra, kan diegene wat grondig vanuit hierdie tradisie werk hulself enersyds nie herken in dit wat sekere regse Afrikaners aan hulle toedig nie, maar andersyds ook nie in dit wat sekere linkse Afrikaners van hulle maak nie. Die verskil tussen denotasie en konnotasie speel ’n baie belangrike rol as jy nugterheid wil behou in sulke gesprekke. Ons gaan nie nou verder ingaan op die verskil tussen die klassieke liberale tradisie en die glibberalisme nie. Daarvoor is daar baie meer bekwames wat die woord kan voer. Ons gaan wel in op daardie ander gewraakte woord wat die teenparty graag gebruik om diegene wat nog aan substansie en permanente dinge glo, te brandmerk en te bevraagteken: fundamentalisme. Vanweë my eie agtergrond en belangstelling gaan ek dit benader met betrekking tot hoe die saak vandag dikwels in geloof en teologie hanteer word.

Ook wanneer ons die saak van fundamentalisme in die teologie van naderby beskou, is dit belangrik om eers te onderskei tussen bepaalde tradisies en die nabootsers daarvan. Doen ons dit nie, is een van die gevolge dat groot name soos Augustinus, Thomas Aquinas, Johannes Calvyn, en soveel ander figure betrek word in ’n f-tipering wat nie reg laat geskied aan die groot erfenis wat ons van hulle ontvang het nie. As jy jou vereenselwig met die belydenis van postmoderne vloeibaarheid sal jy miskien verplig wees om die groot geeste hierbo genoem, wel so te beskou, want hulle daag inderdaad diegene uit wat meen dat realisme net in jou kop en in konvensies bestaan. Hulle doen dit egter vanuit ’n ryk metafisiese onderbou en diegene wat te gemaklik met die woord “fundamentalisme” smeertogte onderneem, behoort eerder te vra of een van die gewilde mantras van vandag nie dalk toegepas moet word met drie vingers wat terugwys nie: Jou benoeming sê dalk meer van jouself as van dit wat jy probeer herbenoem. Want om die saak vir permanente dinge onbeskaamd op die tafel te plaas, beteken nog glad nie dat jy jou oog vir verskeidenheid hoef te verloor nie. Genoemde figure was deel van ’n ryk tradisie waar daar juis gevra is hoe vastheid en variasie lieflike danse kan uitvoer asook hoe konstansie en dinamiek saam met mekaar op reis mag gaan.

Gelaagde misterie

Om egter meer spesifiek te raak: Hoe het die groot geeste die Bybel gelees as dit dan nie as fundamentalisties beskrywe moet word nie? En hoe is dit in gesprek met die wetenskap van die dag gebring? Ons gaan vir eers net aandag gee aan hoe die Bybel gelees is, aangesien dit die eerste plek van misverstand is. Karikature begin alreeds hier en indien daar nie insig is in hoe die Skrif, die tradisie, die rede en ervaring deur die eeue ingespan is om raamwerke en interne kontroles vir geloofwaardige Bybellees te ontwikkel nie, is dit sinneloos om verder te vra hoe die gesprek van die teologie met die vakwetenskappe (let wel, nie “die wetenskap” nie) behoort te verloop. Die feit is dat die sogenaamde fundamentalistiese en primitiewe Skrifuitleg van die kerkvaders glad nie so eendimensioneel plaasgevind het as wat dit vandag soms voorgehou word nie. Inteendeel, dit was tot oorbodens toe vol van simboliese lading, dramatiese samehang, en van ontvouende en gelaagde betekenis en misterie. Die uitnemende voorbeeld hiervan is sekerlik die Middeleeuse Quadriga, ‘n teologiese metode van Bybelverstaan wat vandag nog baie peste en plae binne en buite die kerk kan uitroei.

Tydens die Middeleeue kristalliseer ’n uitlegmetode vanaf die vyfde eeu wat uiteindelik as die “vierperdewa” (Quadriga), bekendstaan. Volgens hierdie metode is daar vier basiese “perde” (betekenisse) in Bybelinterpretasie opgesluit: (1) die letterlike betekenis, (2) die allegoriese betekenis (d.w.s geestelik-simbolies-intertekstuele betekenis – iets waaroor daar vandag nog baie vertekening plaasvind), (3) die “tropologiese” betekenis (wat die morele implikasies van ’n teks uitspel) en (4) die “anagogiese” betekenis (wat die hoop aanvuur en die eskatologiese betekenis vervat). Dit was veral David Steinmetz se betoog, alreeds in 1980, wat mense weer begin bewus maak het dat hierdie viervoudige manier van Skrifverstaan in die vroeë kerk glad nie so lukraak was as wat dit soms voorgehou word nie.[2] Steinmetz se grootse woorde het ‘n standaardverwysing geword wat vandag nog dawer:

“Die Middeleeuse teorie van die gelaagde betekenis in die Bybelse teks, met al sy foute, het gefloreer omdat dit waar is, terwyl die moderne teorie van ‘n enkele betekenis, met al sy deugde, vals is. Totdat die histories-kritiese metode krities begin raak oor sy eie teologiese fondamente en ‘n verstaanteorie ontwikkel wat pas by die aard van die teks wat dit interpreteer, sal dit beperk bly, soos dit verdien, tot die gilde en die akademie – daar waar die vraag na waarheid eindeloos uitgestel kan word.”

Hierdie uitspraak bevat ’n wêreld van betekenis wat om ontleding vra, maar kom ons kyk nou eers net aan die hand van Steinmetz in meer diepte na die vier genoemde betekenisse. Die letterlike verstaan was gewoonlik die uitgangspunt. Dit is dan gebruik om die drie teologiese deugde – geloof, hoop, en liefde – met toepaslike betekenis te bedien. Die allegoriese sin het geleer wat die kerk behoort te glo en het gekorrespondeer met geloof. Die tropologiese sin het mense geleer wat hulle behoort te doen en dus ooreengestem met liefde. Die anagogiese sin het verwys na die toekoms en die kerk se verwagting en so ooreengestem met hoop. Hierdie hermeneutiese teorie het die kerk gehelp om selfs ’n moeilike gedeelte soos die einde van Ps. 137 direk te kon bid.

Die belang van hierdie hermeneutiek is in die vorige eeu weer op geloofwaardige wyse met krag laat herleef in die werk van die geleerde en reformerende Rooms Katoliek, Henri de Lubac.[3] Ook ’n hedendaagse gereformeerde hermeneutikus soos Vern Poythress, is nie bloot afwysend teenoor die Middeleeuse Quadriga nie.[4] Juis omdat hy met ’n multi-perspektiwiese benadering werk, kan hy gekwalifiseerde waardering hê vir die menigvuldige perspektiewe wat in hierdie benadering opgesluit lê:

“Dit beteken dat in die besonder gevra kan word of gedeeltes ‘n verwantskap het met onmiddellike proposisionele waarheid (letterlike betekenis), met morele toepassings (psigiese of morele waarheid), met die vervulling in Christus en die Kerk (geestelike/allegoriese betekenis), of met die belofte van die hemelse Jerusalem waarna ons geskiedenis lei (anagogiese betekenis). Die feit is dat vele gedeeltes tot ‘n sekere mate al vier hierdie dimensies vertoon, tesame met ander dimensies, as ons hulle sien in die konteks van die hele kanon van die Bybel. Die allegoriese benadering sou nie so lank kon oorleef het as dit nie ’n greintjie van die waarheid gehad het nie.”

Die bekende hermeneutici, Robert Grant en David Tracy, wys daarop dat baie Franciskane al vier betekenisse as van gelyke waarde beskou het, maar dat iemand soos Thomas Aquinas die letterlike betekenis as die basis vir die ander drie beskou het.[5] Dit is waarskynlik veral die verwording van eersgenoemde benadering wat die argwaan van Protestante op die hals gehaal het. Die insiggewende van Thomas Aquinas se benadering is egter dat die letterlike enersyds voluit gehandhaaf is, maar andersyds nie opgestel is teenoor die geestelike en simboliese betekenisse nie. Die letterlike het begelei aan die hand van die trajek van die Godsopenbaring, maar op so ’n wyse dat die letterlike en die simboliese mekaar veronderstel het. Dit het dus ’n unieke weg bewandel waarop die kritiek teen iets soos fundamentalisme wel deeglik ondervang is. Waarom? Om die vraag te beantwoord moet ons eers probeer uitmaak wat die kern van geregverdigde kritiek op die fundamentalisme is.

Hermeneutiese medisyne

In sy kern kom die geldige kritiek teen die fundamentalisme daarop neer dat dit ’n benadering is wat die letter en nie die gees van ’n saak nie, verabsoluteer. Verder is die fundamentalisme daaraan skuldig dat die konteks van ’n saak nie in berekening gebring word nie. Daar is ook nie ’n onderskeid tussen beginsel en toepassing en tussen dit wat beskrywend en dit wat voorskrywend is nie. Daar vind dus ’n totale verletterliking van die teks op die oppervlakte plaas. Die gevolg hiervan is ’n rigiditeit wat maklik dwingend werk en waar selfs geweld nie uitgesluit is nie. Die gees en bedoeling en simboliese meerwaarde kom dus ook kwalik of hoogstens geforseerd in so ’n omgewing aan die orde.

Die geniale van die Middeleeuse metode, in sy beste gedaante natuurlik, was dat dit juis ’n weg was wat ’n korrektief gebied het op beide die fundamentalisme se eensydige verletterliking van die teks, sowel as die moderne Skrifkritiek met sy sogenaamde mities/simbolies/mitologiese interpretasies van die Bybel. Laasgenoemde is enige dag nog meer onbekwaam om reg te laat geskied aan die interpretasie van die Woord van God, juis omdat die simboliese en metaforiese benaderings naïef rondswem in ’n neo-liberale meta-teks waaraan daar, bewus en onbewus, trou gesweer word. En wie fyn oplet, sal merk dat hierdie nuwe groot teks, soos ons seker moes vermoed het, ook baie letterlik hanteer word. Die simboliese en letterlike het mekaar nog altyd veronderstel en daarom is dit net eerlik om na te gaan waarna die simboliese (terug)verwys. Dit is daarom ook belangrik om ’n stewige onderskeid tussen fundamenteel en fundamentalisme te maak. Die woord fundamenteel verteenwoordig een van daardie onontwykbare werklikhede. Met ander woorde, dit is nie óf nie, maar waaroor jy fundamenteel is. Vra die kinderlike waarom-vraag maar net ver genoeg terug aan die slimste breinsellige bleeksiel in jou geweste, en jy sal gou-gou hoor: Fundamentele daarom-klanke begin iewers by die derde regressie oor die walle stroom, sterker as ‘n stoere Evangelikaal wat sweer by sy King James versie.

Diegene wat belangstel om van teologiese amnesie vry te kom, kan gerus Steinmetz se genoemde artikel gaan lees. Hiermee saam is daar ook ’n belangrike artikel van die teoloog, Peter Leithart, wat sterk aanbeveel kan word by die voetnotas.[6] Hier is ’n aptytwekker uit die laaste twee paragrawe van sy betoog. Dit verteenwoordig die tipe hermeneutiese medisyne wat die teologie kan sterk maak om op eie voorwaardes deel te neem aan die gesprek met die filosofie en die vakwetenskappe:

“In ‘n kerk waar die letterlike sin van die Skrif afgelag word as mite, eis die Quadriga ernstige aandag op vir ware geskiedenis asook vir die grammatiese, sintaktiese, en semantiese kenmerke van die teks waarin hierdie einste geskiedenis opgeteken is. En tog, waar baie ongeregverdig tevrede is met net die letterlike sin, toon die Quadriga dat die letterlike sin ‘n toegang verleen tot die komplekse patroon van die Skrif, wat die tapisserie van die geskiedenis self is. In ‘n situasie waar die kerk se rol soms geminimaliseer word, leer die Quadriga dat die kerk se verhaal die verhaal van die Bybel is, aangesien die kerk aan Christus behoort en sy liggaam op aarde is (1 Kor. 12:12). In ‘n kerk wat geplaag word deur antinomianisme (wetteloosheid), roep die Quadriga op om aandag te gee aan die opdragte van die Skrif. In ‘n kerk wat aan die anderkant net soveel deur moralisme (wettisisme) geplaag word, dwing die Quadriga ons om te sien dat die indikatief van in Christus te wees deur sy Gees, altyd voorafgaan en die enigste fondament vir ware gehoorsaamheid is. Waar eskatologieë ondergerealiseer is, dring die Quadriga aan dat Christus alreeds die realisering van Israel se hoop is; waar eskatologieë oorgerealiseerd is, wys die Quadriga konstant na die heerlikheid wat nog kom. Dit sou te ver gaan om te sê dat die Quadriga al ons hermeneutiese siektes genees, maar dit genees wel ‘n ontsaglike aantal daarvan. En nie net hermeneutiese siektes nie. Die Quadriga is nie net ‘n metode van lees nie, maar ‘n praktiese teologie en ‘n spiritualiteit, ‘n historiografie, ‘n etiek, en ‘n politiek, ‘n manier om ons sintuie te oefen om Christus nie net oral in die Skrif te sien nie, maar oral en in alles.”

Chronologiese snobisme

Wie bogenoemde nog steeds as fundamentalisme afmaak, het dalk nodig om self ’n naam te kry. Die teologie wat in te veel universiteite en koerante deurskemer kan in baie opsigte as korrelasie-teologie getipeer word. Korrelasie-teologie munt uit daarin om diegene wat die teks van die neo-liberalisme bevraagteken, af te maak met die f-woord. Heelwat teoloë wat deesdae die dagblaaie haal, ly ook opsigtelik erg aan dit wat C.S. Lewis chronologiese snobisme genoem het. Daar word uit die hoogte neergekyk op die tradisie en selfs woorde soos primitief word ingespan, sonder om te besef dat die inspan van hierdie woord alreeds weggee dat die spreker waarskynlik self in die wurggreep van die modernisme is. Ongelukkig kom korrelasie-teoloë dikwels weg met hul poging tot karaktermoord en selfs Bybelmoord vanweë die feit dat spreker en gehoor al erg vermink is deur middel van die Skrifkritiek. Die historisering van die Teks word mos darem nou al vir dekades as dogma aan universiteite verkondig. Korrelasie-teologie kan baie vorme aanneem, maar uiteindelik kom dit basies daarop neer dat die gesag van die openbaring van God eers gekorreleer moet word met die nuwe gesagsbasis wat dikwels onuitgesproke gehandhaaf word: Die sogenaamde konsensus van die elite se beskouings in die sosiale wetenskappe. Wie hierdie weg bevraagteken, word gewoon beskou as iemand wat nog nie verlig geraak het nie. Die groot vraag is egter: Van watter lig praat ons?

Daar is natuurlik ’n sin waarin die wedersydse gesprek tussen teologie en egte vakwetenskap altyd gevoer moet word, maar die hoe-vraag maak al die verskil. Wanneer dit gebeur dat teoloë te naïef is om die metafisiese grondvrae aan die orde te stel wat in beginsel nooit deur die vakwetenskappe self beantwoord kan word nie, is die uitkoms voorspelbaar: Die gesag van die sosiale wetenskappe swaai die septer en die teoloë wat veronderstel was om die koningin van die wetenskappe se naam hoog te hou, klink soos skoothonde van die polities korrekte godin. Die verwarde gebruik van Bybeltekse en Bybelkritiek swem dan ook behoorlik in die strome van seën wat die nuwe sosiologiese drinktenks vir ons gebring het. Soos dit ook met bose kringlope gaan, het die korrelasie teoloë van ons dag iets wat baie sterk in hul guns tel. Afrikaners lei vanweë blootstelling aan hierdie spyskaart alreeds aan wanvoeding en het dikwels nie die middele om effektief weerstand te bied nie. Tot ’n groot mate het ons mense ongeletterd geraak met betrekking tot kennis van die Bybel, asook die ryk tradisie van interpretasie waarbinne die groot geeste van die kerk dit gelees het.

Die herwinning, suiwering en uitbouing van die Quadriga bied ’n goeie kuur, nie net vir die uitkenning en uitdaging van die nuwe veronderstelde meta-tekste nie, maar ook vir die groot fout van fundamentaliste. Dit is van ‘n ander aard as dit waaroor hulle meestal geroskam word. ’n Bekende prediker het dit goed verwoord toe hy in Engels daarmee gesinspeel het. Hy het gesê dat fundamentaliste te dikwels al die “fun” uit fundamentele oortuigings haal. Die veelsydige Quadriga kan, juis hiermee, baie help.

[1]  N.P. van Wyk Louw, uit die essay “Filosofeer,” in Maskers van die Erns, 1955.

[2]  David C.Steinmetz, “The Superiority of Pre-CriticalExegesis”,

http://home.zonnet.nl/chotki/superiority_of_pre.htm

[3] Vgl. De Lubac se meerdelige werk, Medieval Exegesis. Alhoewel die Protestantisme voorbehoude op ’n verwronge Quadriga gehad het, is dit baie minder die geval met De Lubac se gesuiwerde weergawe daarvan. Dit is byvoorbeeld opmerklik dat die behoudende Protestantse boekwinkel, Good Neighbours, wat deeglike keurwerk doen, wel hierdie werk van De Lubac op die rak het.

[4] Vgl. Poythress se publikasie, Science and Hermeneutics – Implications of Scientific Method for Biblical Interpretation.

[5]  Vgl. Grant en Tracy se boeiende kort werkie, A Short History of the Interpretation of the Bible.

[6] Vgl. Peter Leithart, “Rehabilitating the Quadriga” by

https://theopolisinstitute.com/rehabilitating-the-quadriga/

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.