Die (ware) rus is elders – Christoff van Wyk

 

“Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.” Gen. 2:3

____________________________________________

President Andrzej Duda van Poland het verlede week nuwe wetgewing onderteken wat besigheidsure op Sondae verder gaan beperk en teen 2020 byna totaal verban. Die stap word vanuit verskeie oorde verwelkom omrede dit gesinne en families meer tyd sal gee om te rus en tyd saam te spandeer, maar is dit regtig vasgestelde rusdae wat ons nodig het of dalk ’n ander perspektief oor werk en rus, of dalk beide?

Werk lyk vandag baie anders as wat dit nog ooit in die geskiedenis gelyk het en daar is onder andere vier neigings wat daartoe bydra dat mense binne die Westerse kultuur besig is om hulself dood te werk.

Werksekuriteit

Niemand is meer onvervangbaar nie en daarom sal ons maar naweke ook werk, want daar is rekeninge om te betaal en die vrees dat ek moontlik my werk en inkomste kan verloor, spoor die meeste van ons aan om altyd nog ietsie ekstra in te sit.

Tegnologie

Ons kan vandag oral werk en daarom is ons heeltyd besig om te werk. E-posse, sms’e en whatsapps stroom onverpoosd na ons slimfone, en vasgestelde werksure is lankal iets van die verlede.

Meer verantwoordelikheid beteken ’n groter verwagting

Daar word gereeld ’n groot bohaai gemaak oor die enorme salarisse wat sommige bestuurders en hoofde van organisasies en besighede verdien, maar wat gewoonlik ook nie in ag geneem word nie, is dat daar tesame met die salaris ’n hoë verwagting gepaard gaan. Dus is dit nie ongewoon vir top uitvoerende bestuurders om 60 en meer werksure per week te hê nie.

Wat definieer ons?

In ’n tydperk, nie te lank terug nie, was dit jou rol in die gemeenskap, familie en gesin tesame met jou taal, kultuur, godsdiens en geslag wat jou as mens gedefinieer het. Dié opvatting het in ons moderne tyd ’n wesenlik verandering ondergaan. Prof. Danie Goosen skryf hieroor in sy boek Oor Gemeenskap en Plek: “Vanwee die invloed van die individualistiese opvatting oor die mens word toenemend geglo dat individue self kan besluit tot watter gemeenskap, kultuur, tradisie of godsdiens hulle wil behoort. Gemeenskap word dus toenemend as ’n funksie van die individu en sy keusevryheid verstaan.” Tesame hiermee is dit vandag algemene praktyk dat ons, ons beroep kies en dat die werk wat ons doen, ons tot ’n groot mate ook definieer en daarom word ons werk een van die allerbelangrikste aspekte van ons lewe. In vandag se tyd word ons hele bestaan tot ’n sekere mate gekoppel en geregverdig deur die werk wat ons doen. Werk het dus so ’n belangrike deel van ons menswees geword dat ons konstant besig is om ten koste van ons gemeenskap, familie, gesin, en uiteindelik ook ten koste van onsself, te soek na vervulling in ons werk. Dit veroorsaak gewoonlik dat ons die hele tyd moeg is, onvervuld bly en die hele tyd op soek is na iets.

Jesus van Nasasret het op ’n keer saam met sy dissipels deur ’n koringland geloop en omdat sy dissipels honger was, het hulle begin om koringare te pluk en die korrels uit te vryf om te eet. ’n Paar Fariseërs was hewig onsteld hieroor omrede dit op ’n Sabbat gebeur het en omdat Jesus wat homself as die groot leermeester van die Jode voorgedoen het dié ‘oortreding’ van hulle wette goedgekeur het. Jesus antwoord egter hierop deur te sê: “Die Seun van die mens is Here oor die Sabbat.” Jesus sê dus vir hulle, ‘Ek is die Here van rus’ en hier kry ons ook reeds ’n leidraad oor die plek oftewel persoon waar ware rus gevind kan word.

Die skeppingsverhaal vertel vir ons dat God op die sewende dag as’t ware teruggestaan het van sy skeppingswerk en daarna gekyk en gesê het dat dit alles ‘baie’ goed was en toe het Hy gerus. Ons weet egter dat die Bybel ook vir ons leer dat Hy ’n almagtige God is wat nie rus nodig het nie en daarom kan ons ook weet dat die rus waarvan hier gepraat word ’n ander tipe rus is.

Dit is ’n rus in die wete dat Hy perfek is en dat alles wat Hy doen ook perfek is. Sy seun Jesus Christus, wat Here van die Sabbat en by wyse van spreke, die Here van rus is, is ook perfek en die werk wat Hy op aarde gedoen het, was ook perfek.

As ek dus die evangelie van Jesus Christus aangeneem het, beteken dit dat God nie meer my foute en imperfeksies sien nie, maar dat Hy slegs die perfekte Jesus sien as Hy na my kyk. Dit beteken ook dat ek my nie in of deur my eie werk hoef te regverdig nie. Dit word dan vir my moontlik om ’n tree terug te gee van my lewe en my werk en alles waarmee ek elke dag besig is, en dan vanuit ’n ander perspektief daarna te kyk. God se perspektief.

Werk word dan ’n vervulling van my roeping in Christus binne die gemeenskap en plek waar Hy my geplaas het, en wanneer ek rus, kan dit met ’n diepe tevredenheid gepaard gaan in die wete dat ek in Jesus Christus perfek staan voor God.

Wetgewing of geloofsoortuiging kan my dus dwing om te stop met my alledaagse werk, maar dit beteken steeds nie dat ek besig is om die diepe sielerus te kry wat ek nodig het nie. Die ware rus is slegs te vinde in die persoon en werk van Jesus Christus.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Matt. 11:28

_________________________________________________________________________

 

*Die artikel is geskryf na aanleiding van ’n preek deur pastoor Tim Keller van die Redeemer Presbyterian Church (PCA) in Manhattan, New York, getiteld “Work and rest”.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.