Dit is tyd om die vertroue te hernuwe

Wedersydse erkenning en respek tussen mense en groepe is noodsaaklik as ons ’n sukses van die toekoms wil maak. Alhoewel daar ’n lang lys van al die talle positiewe dinge in ons land opgenoem kan word, is daar ’n paar ernstige kwelpunte wat almal wat hierdie mooi land liefhet baie bekommer. My siening is in kort dat dit tyd geword het dat die vertroue tussen mekaar hernuwe word, omdat ons land tans gekenmerk word deur groeiende wantroue, oplaaiende teleurstelling en selfs ’n opbouende woede oor alles wat verkeerd gaan. Maar soos u almal weet is ons by Solidariteit oplossingsgerig, en kla ons nie net nie, ons doen iets aan dit wat ons pla of wat in die pad staan van ons mense en ons land se voorspoed en vooruitgang.

Daarom wil ek vandag by ’n paar punte stilstaan:

  • Vraag: is ons ’n land van verontregtes en gegriefdes?;
  • Oorsake van die vertrouenskrisis tussen die regering en die burgers;
  • Die gevolge van hierdie vertrouenskrisis;
  • Die hernuwing van vertroue tussen die regering en minderheidsgroepe;
  • Solidariteit se beoogde rol om iets hieraan te doen.

  1. Is ons ’n land van verontregtes en gegriefdes?

Ek maak die sterk stelling dat dit lyk of ons land tans gekenmerk word deur ’n groeiende wantroue, oplaaiende teleurstelling en selfs ’n opbouende woede oor alles wat verkeerd gaan. Dit geld vir bykans alle gemeenskappe. Laat ek ’n paar voorbeelde noem:

  • Baie swartmense in veral klein dorpe voel kwaad oor swak- of geen dienslewering;
  • Talle armes en werkloses voel die regering laat hulle in die steek en die “rykes” (werkendes) dra deels die skuld van hulle ellende;
  • Baie witmense voel die regering regeer die land in die grond in op hulle belasting rekening;
  • Jong witmense voel hulle word benadeel deur AA sonder dat hulle ooit bevoordeel was;
  • Landsburgers van alle rasse voel dat die regering hulle nie beskerm teen geweldsmisdaad nie;
  • Werkers voel hulle kry bykans niks vir al hulle belasting nie, en moet al meer vir al minder dienste betaal terwyl die regering hulle swaar verdiende geld gereeld uitmors;
  • Die Sakelui voel die regering maak dit al moeiliker vir hulle om suksesvol voort te bestaan, terwyl veral sosialistiese vakbonde dit onmoontlik maak om werk te skep;
  • Talle Afrikaners ervaar dat die regering hulle teiken vir benadeling en hulle grondliggende belange ondergrawe;
  • ’n Groot groep sosialiste voel weer verontreg omdat hulle voel dat die regering se beleid vinniger en sterker na links moet beweeg;
  • Daar is onderlinge wantroue tussen rassegroepe, wat aangeblaas word deur gewetenlose politici soos Malema wat deur die ANC gesteun word.

Natuurlik kan hierdie lysie langer of korter gemaak word afhangende van elkeen se persoonlike standpunte, en vanselfsprekend kan daar ook baie positiewe punte genoem word. Maar die feit is dat positiewe dinge nie altyd gesien en opgemerk word nie, maar dat negatiewe dinge almal reguit raak.

Die punt is dat al hierdie en ander knelpunte en vraagstukke besig is om ‘n groeiende vertrouenskrisis tussen die regering en verskillende groepe burgers te skep, en dat daar onder lede van alle gemeenskappe ‘n oplaaiende teleurstelling is met wat in die land gebeur.

Daar is vir my hoofsaaklik 5 redes vir hierdie groeiende vertrouenskrisis:

1.1 Staatsverswakking

Die eerste rede is die algemene verswakking van die staat, wat al minder van sy belangrikste kernfunksies doeltreffend kan uitvoer. Hieronder tel die persoonlike veiligheid van die burgers, goeie openbare onderwys en –gesondheidsdienste, noodsaaklike infrastruktuur, bestuur van lewensbelangrike hulpbronne soos water, tegniese- en beroepsopleiding, asook munisipale bestuur en algemene landsadministrasie. Hierdie verskynsel van staatsverswakking is goed ondersoek en dokumenteer deur die Dinokeng Scenario’s en boeke soos Brian Pottinger wat dit die “demodernisering” van Suid-Afrika noem.

My bekommernis is dat hierdie verswakking nie die onvoorsiene gevolge van ANC-beleid is nie, maar dat die ANC direk daarvoor aanspreeklik is deurdat hulle nie na 1994 oorgeskakel het vanaf ‘n struggle-beweging na ‘n demokratiese politieke party nie. Met ‘n struggle kultuur kan jy ‘n land oorvat, maar jy kan hom nie daarmee regeer en bestuur nie. Die eise van struggle en regeer is botsend en direk teenstellend. Jy kan veral nie soos die NDR voorskryf die struggle voortsit met staatsmag nie. Dan is jou politieke kultuur disfunksioneel, en institusionaliseer jy daardie disfunksionele kultuur in jou staatsbestuur, en dan lyk die land soos hy lyk.

1.2 Waarde vir belastinggeld

Werkende mense in Suid-Afrika betaal geweldige hoë belastings, maar kry bitter min daarvoor. Nadat ‘n werker sy of haar belasting betaal asof ons dienste van die staat af daarvoor gaan kry, moet ons weer betaal vir duur privaat dienste soos medies, pensioen, veiligheid, onderwys- en opleiding en tolpaaie. Almal is bereid om die armes te help, maar dan moet dit doelmatig bestee word om hulle op te hef, en nie om hulle armoede net te verlig maar hulle daarin te hou nie. Daarom is ons bekommernis dat welsyn werkskepping vervang het as die kern van die stryd teen armoede, omdat kontant en gratis dienste aan 15 miljoen mense ‘n wenresep by die stembus is- al hou dit mense teen ‘n groot koste vir die belastingbetaler arm.

1.3 Demokratiese uitsluiting

In die vorige bedeling was SA ’n Afrikanerstaat, met min ruimte vir die meerderheid. Nou is Suid-Afrika in ‘n Afrikastaat getransformeer, met min ruimte vir die minderheid. Waar swart vakbonde byvoorbeeld vroeër deur die wet verbied is, word die wet se meerderheidsbeginsel nou misbruik om vakbonde wat hoofsaaklik minderheidsgroepe verteenwoordig te probeer uitskakel. Minderheidsgroepe beleef al meer van wat die Kanadese filosoof Charles Taylor “demokratiese uitsluiting” noem, waar die meerderheid hulle getalle misbruik om die grondliggende belange van minderhede weg te stem, soos byvoorbeeld hulle werks-, taal- of onderwysregte. Hulle beleef waarteen die kenner van multi-etniese samelewings Donald Horowitz gewaarsku het: “gewone meerderheidsregering sal in ʼn land soos Suid-Afrika slegs een soort rasse- of etniese oorheersing vir ʼn ander verruil”. Vir baie lede van minderheidsgroepe voel dit of die ANC soos ‘n faksieregering teen ons regeer – dat demokrasie maar net ‘n geldige rookskerm is vir oorheersing.

Die Amerikaanse Politieke Wetenskaplike, Timothy Sisk, sê dat dit die rede is waarom minderhede ‘n demokrasie nie as vryheid beleef nie, maar as “strukturele oorheersing deur die opponerende meerderheid”. Daarom het selfs die VN al in 2004 in ‘n gesaghebbende verslag ernstig gewaarsku teen “kulturele uitsluiting”, waar die minderheid se instellings, waardes en lewenswyses nie erken en gerespekteer word nie, of waar hulle geteiken word op grond van hulle identiteit- soos nou met die “Kill a Boer” saak waar die ANC vir Malema ondersteun. Die President het in sy Staatsrede gesê dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid betekenisloos is. Maar politieke vryheid sonder kulturele vryheid is maar net so betekenisloos.

1.4 Armoede en ongelykheid

Dit is noodsaaklik dat armoede en ongelykheid in die land opgelos word, en Solidariteit sal alle werkbare planne hieroor steun. Maar die geskiedenis bewys dat die enigste oplossing hiervoor is om die land se werksmag te vergroot deur meer mense in diens te neem. Daarvoor moet die ekonomie groei, en om dit te vermag moet daar meer besighede kom en die bestaandes moet ook groei en meer mense aanstel. Uitgediende Sosialistiese resepte gaan ongelukkig nie die armes optrek nie, dit gaan net die reeds oorlaaide groep werkendes verder aftrek en die hele land verarm.

Ja, by Solidariteit bots ons soms met besture en is ons partykeer anti-bestuur, maar ons is nooit anti-besighede nie, ons is pro-besighede. Besighede verskaf werk, betaal salarisse medies en pensioene, lei mense op, verskaf broodnodige dienste en produkte, betaal belasting en ontwikkel die land. Vakbonde soos Solidariteit is daar om te sorg dat ons lede regverdig behandel word, en nie om die besighede met ‘n klassestryd te vernietig nie! Ja ons verskil met die uiterste kapitaliste en beveg uitbuiting, maar daar is nie ‘n alternatief vir ‘n gebalanseerde markekonomie nie. Ons steun dit nie omdat dit foutloos is nie (soos die ekonomiese krisis gewys het!), maar omdat dit die enigste stelsel is wat kan werk.

Armoede kan net opgehef word deur die produksievermoë van die ekonomie en van werkers te verhoog, nie deur bloot verbruik te verhoog deur welsyn nie. Daarom is die voorsiening van ekonomiese infrastruktuur en ‘n goeie opleidingstelsel die enigste langtermyn oplossing vir armoede. 5 Miljoen werkers se belasting kan nie onbepaald vir 50 miljoen mense sorg nie.

1.5 Transformasie

Sosialiste wêreldwyd wou in die geskiedenis nooit die werklikheid net verbeter nie, maar wou dit totaal herskep, met die staat as drywer van hierdie omwenteling. Hierdie oorgeesdriftige oorskatting van die staat se rol en vermoë is een van die groot redes agter die mislukking van die Sosialistiese projek in die wêreld, en veral op ons vasteland. Na 16 jaar se Transformasie van die staat, is die land se probleme soveel groter maar die staat se vermoë om iets daaraan te doen soveel kleiner, dat die doelwitte van die politici en die vermoë van die staat om dit uit te voer al ver uitmekaar gerek het.

Maar enige teenstand teen Transformasie as hoofprojek van die regerende ANC word met woede aangeval- al is hierdie teenstand in landsbelang. Soos Van Zyl Slabbert in sy boek “Duskant die Geskiedenis” gesê het:

Die strategiese briljantheid van die begrip “transformasie” lê daarin dat weerstand daarteen met min moeite afgemaak kan word as moreel verwerplik: Hy wat transformasie teenstaan, so word geargumenteer; veg vir die behoud van onregverdig verkreë voorregte en vir die voortgesette agtergeblewenheid van swart Suid-Afrikaners wat wêreldwyd erken word as die slagoffers van gevoellose wit brutaliteit.

Ons siening is dat die land ‘n Grondwetlike staat is, en nie ‘n Transformasiestaat nie. Politieke beleidsrigtings soos Transformasie moet dus binne die raamwerk van die Grondwet vertolk word, en dis nie die Grondwet wat binne die raamwerk van Transformasie vertolk moet word nie.

2. Gevolge van Vertrouensbreuk

Daar bestaan ‘n soort “Kontrak” tussen enige regering en sy burgers. Dit behels dat die burgers die regering toestemming gee om oor hulle te regeer en instem om die owerheid te gehoorsaam en belasting te betaal, mits die regering sy deel van die kontrak nakom deur die land goed te regeer, belasting verantwoordelik te gebruik, en sy kernfunksies soos veiligheid behoorlik nakom. In die lig van bogenoemde, is my onvermydelike gevolgtrekking dat die regering nie meer sy deel van die kontrak nakom nie, en dit die rede is vir die vertrouensbreuk met baie van sy burgers. Die ANC se ondersteuners het wel kanale om hulle griewe in die party te hanteer, maar minderheidsgroepe is demokraties uitgesluit en kan nie hulle vertrouenskrisis langs “normale” kanale hanteer nie. Die bewys hiervoor lê byvoorbeeld in die tallose gesprekke tussen verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies met die ANC en die regering, wat sonder uitsondering op niks uitgeloop het nie. Ook ander strategieë soos die NNP wat in die ANC opgegaan het, het niks opgelewer nie. Hierdie vertrouenskrisis is besig om onder adere Afrikaners as minderheidsgroep maar ook die land te benadeel.

Hierdie vertrouenskrisis lei tot 5 groepe reaksies:

  • Onttrekkers: hierdie mense het nie meer vertroue in die staat nie, en leef soos geprivatiseerde burgers wat net na hulle eie belange omsien;
  • Landverlaters: van broodnodige hoogs-geskooldes wat totaal vertroue in die staat verloor het (Vertrouensbreuk), en nie net in die regering nie.
  • Opstandiges: hulle kom byvoorbeeld in opstand teen swak dienslewering;
  • Oorlewendes: hulle dryf maar net saam met die stroom en fokus op oorlewing;
  • Opbouers: hulle is lief vir die land, al hou hulle nie van die regering nie reageer hulle opbouend (praat en doen) deur byvoorbeeld Selfdoeninstellings te skep soos Solidariteit.

3. Hernuwe die vertroue met ’n Nasionale Dialoog

Ek wil terugkeer na die filosoof Charles Taylor. Hy het gesê dat tussengroep vertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar as werk-in-proses gesien moet word. Dit is volgens hom baie belangrik dat dit gereeld hernuwe moet word, omdat vertroue na ‘n verloop van tyd begin taan en kwyn, met negatiewe gevolge vir die land en alle betrokkenes. My siening is dat dit nou die tyd geword het om die vertroue tussen groepe in Suid-Afrika te hernuwe met iets soos ‘n Nasionale Dialoog. Maar om te verseker dat dit nie maar weer net in ‘n doellose gepraat ontaard nie, bestaan daar twee voorwaardes vir so gesprek:

  • Die eerste is dat wedersydse erkenning en respek vir mense, gemeenskappe, kulture en menselewens ononderhandelbaar is. Die ANC se ondersteuning van Malema se haatspraak het tot groot wantroue teenoor hulle gelei in die Afrikaanse gemeenskap. Ek wil dit duidelik stel dat ons uit ons pad sal gaan om vertroue te herbou, maar dat ons nie bereid is om op ons knieë te kruip nie. Ons kan nie met mense praat wat ons as kultuurgemeenskap voëlvry verklaar asof daar niks fout is nie. Ons eergevoel en selfrespek sal dit nie toelaat nie;
  • Die tweede is dat daar nie maar net geluister word na mekaar se sienings nie, maar iets aan die probleme gedoen word. Ons is moeg om te praat oor die probleme soos onbillike affirmative action, geweldsmisdaad, Afrikaanse skole en universiteite, en die kriminalisering van ons geskiedenis sonder dat daar iets aan gedoen word. Dit lyk of daar ‘n totale onvermoë by die ANC teenwoordig is om verby hulle eie nou-ideologiese en rassegrense te kyk en om die belange van almal in die land in ag te neem. So gesprek met die ANC en die regering moet dus nie net ‘n eensydige verduideliking van regeringsbeleid en ‘n begrypende geluister na ons bestaanskrisisse wees nie, maar moet uitloop op ‘n ooreenkoms of ooreenkomste byvoorbeeld in die vorm van ‘n Opvolg- of ‘n Kulturele Skikking wat wel in werking gestel word en nie maar net op die rak bly lê nie.

Ons wil graag hê die land moet suksesvol wees, want ons en ons kinders bly ook hier. Ons wil graag help om die land suksesvol te maak, maar dan moet ons nie uitgesluit of uitgeskuif word nie. Ons wil graag met die regering saamwerk, maar dan moet ons mense nie doodgewens of –gesing word nie.

4. Solidariteit en die Solidariteit-beweging se rol in die skep van oplossings

Waar Solidariteit fokus op die belange van ons lede in die werksplek, fokus die Solidariteit-beweging op die belange van ons lede en hulle gemeenskappe buite die werksplek. Zimbabwe het vir ons geleer dat werkerregte afhang van burgerregte, en nie in isolasie kan oorleef nie. Daarom het die Hoofraad ook ‘n strategie ontwikkel waarvolgens ons met ‘n hele netwerk van vennote en vriende saamwerk om ons doelstellings te bereik. Hier werk ons met ander vakbonde saam, (bv Num met die Aurora krisis, Consawu en ‘n groep Weskaap vakbonde), maar ook met organisasies op kulturele gebied soos die FAK, onderwysgebied soos die SAOU, Fedsas en Aros, en talle ander gebiede wat ons lede se belange raak. Ons het ook as die ABN-groep organisasies ‘n gesamentlike Scenariobeplanning onderneem, en is tans besig om oplossings vir die probleme wat nagevors is te ontwikkel. Die doel hiervan is om die bestaansvoorwaardes vir ‘n volhoubaar-suksesvolle bestaan van ons kultuurgemeenskap in Suid-Afrika te skep, sodat ons blywend kan help om die land suksesvol te maak.

Waar ons ‘n paar jaar gelede gevoel het of ons alleen staan, word ons in hierdie tyd bykans oorweldig deur ondersteuning. Hou veral in gedagte gehou dat Solidariteit ‘n “80%” organisasie en beweging is, wat nie die uiterste van die spektrum aan weerskante kan verteenwoordig nie. Daarom voel ons baie tevrede daarmee dat daar byna 50 000 mense in 2010 by ons beweging aangesluit het, dat ons nou sowat 160 000 mense verteenwoordig, en dat ons gemiddeld 5 000 aansluitings per maand bykry. Wie het ooit kon dink dat daar ooit ‘n tyd sou kom waar ons ‘n ongelooflike 25 voltydse administratiewe personeellede nodig sou hê net om al die nuwe aansoeke om lidmaatskap te verwerk!

5. Slot

Ek sluit af. Die ANC kan nie alleen die land se probleme oplos nie. Ons wil graag op ‘n opbouende manier help om oplossings vir ons land en ons kultuurgemeenskap se probleme te ontwikkel. Daarom steek ons ons hand in vriendskap na President Zuma en sy party en alliansie toe uit. Dis ‘n oop hand, nie ‘n gebalde vuis nie, maar beslis ook nie ‘n pleitende bedelhandjie nie. Ons het respek vir die Owerheid, maar ons het ook ons selfrespek. Ons glo baie sterk aan versoening, maar verwerp die verskraling daarvan tot ‘n blote inlywing by die meerderheid. Ons besef dat minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar. Maar as die regering nie vir ons kultuurgemeenskap ook omgee nie, aanvaar ons die verantwoordelikheid vir ons eie toekoms.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.