Eiendomsreg: Die laaste loopgraaf vir selfstandige gemeenskappe

deur Christoff van Wyk 

eiendomsreg


In die Christelike Westerse tradisie was eiendomsbesit nog altyd gesien as ’n steunpilaar van enige ekonomie. Ons kry die gebod “Jy mag nie steel nie”, wat tog eiendomsbesit voorveronderstel. Jy kan nie iets steel indien iemand dit nie besit nie. Hierdie tradisionele sieninge word tans op onrusbarende wyse aangeval en verdien verdere ontleding.

Staat van afhanklikheid

Te midde van groot stilte in die groter media word die nuwe Wetsontwerp op die Onteiening van Eiendom op 2 Februarie 2016 deur die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke aanvaar. Hierdie wetsontwerp het ten doel om Artikel 25 van die Grondwet wat betrekking het op “eiendom” en onder andere die onteiening daarvan, verder uit te brei. Eiendom word dan ook in die nuwe wetsontwerp gedefinieer as “not limited to land and includes a right in such property”. Dus, enige eiendom, nie net grond nie,  en selfs die regte tot eiendom.

In sy kort inleidende boekie getiteld The Law skryf Frédéric Bastiat dat daar slegs drie fundamentele regte bestaan, nl. die reg op lewe, die reg op vryheid en die reg om eiendom te besit. Hierdie laaste reg wat hy noem, is juis so belangrik omrede ’n mens nie ’n bestaan kan maak sonder om iets te besit nie. Die boer moet byvoorbeeld grond en ’n trekker of bakkie of vee besit om sy lewensbestaan te voer; die ouditeur ’n kantoor en rekenaar; ensovoorts. Dus maak eiendomsbesit hier ’n fundamentele deel uit van voortbestaan in vryheid.

Wat is die alternatief? Geen eiendomsbesit. Dus voortbestaan in afhanklikheid. In Suid-Afrika se geval sal dit afhanklikheid van ’n ANC-regering behels. Hierdie vooruitsig behoort koue rillings deur enige persoon te stuur, en tog is daar duisende der duisende mense wat reeds afhanklik is van die Staat en nie ’n probleem hiermee het nie. Hoekom?

Verlies van tradisie in gemeenskap

Die einde-van-die-maand-toue wat by verskeie poskantore en ander dienspunte landswyd ontstaan, is geen nuwe gesig nie. Hierdie toue is die naakte gesig van bestaan in afhanklikheid. Dit herinner sterk aan die toue mense wat ons gesien het in die Kommunistiese Sowjetunie voor die val daarvan, toe kos en ander verbruikersprodukte skaars was. Die vraag ontstaan, hoekom het hierdie mense reeds hul selfstandigheid prysgegee vir ’n voortbestaan in afhanklikheid van die Staat, terwyl daar tog nog ’n groot mate van vryheid in Suid-Afrika is? Die antwoord lê myns insiens dieper as slegs kortstondige opportunisme of oorlewing.

Die tradisie van ou deugde soos “hardwerkendheid, verantwoordelikheid, geregtigheid, matigheid, moed en goeie oordeel” ontbreek skreiend by meeste tou-staners (ANC-ondersteuners), en dit is glad nie bedoel as ’n neerhalende opmerking of slegsê van ’n uitgesonderde groep nie. Inteendeel, die groterwordende afhanklikheid op die Staat op alle terreine wys tekenend na ’n ontbreking van die bogenoemde deugde in die breë Suid-Afrikaanse samelewing. Dus, wanneer individue ’n morele basis en fondament moet hê waarop hulle kan staan om sekere rigtinggewende besluite oor hulle eie lewe en denke te maak, is daar tans ’n lugleegte. Die vraag is of selfrespekterende Afrikaners tou-staners gaan word, of gaan hulle ’n voorbeeld word vir mede-Afrikaners en Suid-Afrikaners vir ’n terugkeer na tradisionele Christelike waardes?

Nie net teen nie, maar ook vir

Organisasies wat die regering teenstaan in hul strewe na ’n Kommunistiese Sosialistiese Staat, moet vanselfsprekend ondersteun word, maar dan moet daar ook ’n daadwerklike poging aangewend word om die lugleegte van rigtinggewende idees te vul met ’n lewensbeskoulike denkraamwerk. Die kern van so ’n denkraamwerk sal geskoei wees op die terugkeer na gemeenskap, gevorm deur Christelike tradisies en waardes.

Verskynsels soos die Onteieningswet is die simptome van ’n dieperliggende probleem van ontaarding en ontworteling van die individu uit sy plek in die gemeenskap waar ware selfverwesenliking, of anders gestel, die uitleef van ’n bevredigende lewe, hand aan hand gepaard gaan met vryheid. Ook die vryheid om eiendom te besit. ’n Groot gedeelte van Suid-Afrikaners het reeds hul vryheid prysgegee, heel moontlik in ’n soeke na selfverwesenliking, wat hulle tans nie in die ANC-staat kry nie. Die ontevredenheid is duidelik as ons sien hoe dit oorloop in daaglikse protesoptogte wat dikwels voortduur al word daar aan die eise voldoen. Hierdie mense soek iets meer en hulle gaan dit nie by die ANC-regering kry nie.

Kan ons rigting gee in hierdie verband, voor dit te laat is?

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.