Ekonomiese strategie vir Afrikaans

deur Henk Schalekamp 

Ekonomiese strategie vir Afrikaans


Toespraak gehou by die Afrikaanse Taalberaad, 8 Mei 2015

Geagte Dr. Langner, medesprekers en gaste.

Baie dankie vir die uitnodiging om vandag met u te gesels oor ʼn strategie vir Afrikaans in die ekonomie. Ek is eintlik ʼn agter die skerms ou wat verkies om Moses se arms in die lug te hou as wat ek self Moses moet wees, maar het ek my 10 000 ure spandeer om besighede te begin, uit te bou en suksesvol te maak. Deur my roeping en werksomgewing het ek ook die geleentheid gehad om myself te slyp vir vandag se toespraak oor Afrikaans en die ekonomie. Wat myself betref het die reis maar skaars begin, maar deel ek graag die dinge wat ek tot hier kon leer.     Gelukkig hoef ek nie vandag met u te gesels oor die feit dat Afrikaans sy merk reeds gemaak het nie, ons weet Afrikaans is net een van vier tale wat in die twintigste eeu moderniseer het, ons weet dat sakemanne soos Anton Rupert skatryk geword het deur die aanvanklike ideaal om iets vir die Afrikaner en Afrikaans te doen. Ons onthou dat reuse besighede soos ABSA, Sanlam, Universiteite en talle landbou koöperasies tot stand gekom het deur die Afrikaner gemeenskap wat hulself wou ophef deur besigheid in Afrikaans. Histories het Afrikaans en sy sprekers ʼn geskiedenis van swaarkry, opstaan en oorwin. Honderd jaar later het ons taal weer begin swaarkry. Vandag kry Afrikaans swaar in die besigheidswêreld vanweë die politieke omwenteling, maar wat Afrikaans en die ekonomie betref is daar ʼn veel groter krag wat bydrae tot haar stryd. Die Wêreld is vandag klein en vinnig as gevolg van die internet en vliegtuie, globalisering het tot gevolg gehad dat Engels as Wêreld besigheidstaal geweldige momentum opgetel het en daagliks word ons daarmee bombardeer.

ʼn Strategie vir Afrikaans in die ekonomie is ʼn uitgebreide en moeilike vraagstuk. Elke besigheid is uniek en het sy gedeelde, maar ook spesifieke uitdagings. Dit is dus nie moontlik om vandag ʼn kitsresep te gee wat oral net toegepas kan word nie. Ek gaan dus poog om vandag ʼn paar ankers en merkers uit te lig wat gebruik kan word deur die verskeidenheid in die ekonomie om Afrikaans te beskerm en uit te bou.

Voordat ek daarmee begin wil ek graag ʼn storie vertel van Afrikaans en besigheid. Dit is ʼn storie van hoop, ʼn storie van sukses en ʼn storie met ʼn paar lesse in. Dit is ʼn storie wat ons moet laat dink en koppe bymekaar sit, want dit is deel van die toekoms van Afrikaans.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) is ʼn maatskappy in die Solidariteit Beweging wat finansiële produkte aan die lede van die Beweging bied. In die vroeë 2000’s het SFD ʼn ooreenkoms met die Auto & General groep gesluit rondom die bemarking van ʼn Korttermyn produk aan Solidariteit lede. Die produk het bekend gestaan as Solidariteit Motor en huisinhoud versekering en is volgens ʼn uitgewerkte skedule aan nuwe en bestaande lede van Solidariteit bemark. Die reëls vir bemarking is streng aangesien die databasis Solidariteit se grootste bate is en ongedissiplineerde bemarking in enige databasis baie vinnig die lede kwaad maak. U kan maar net dink aan al die oproepe wat u ontvang in ʼn maand van een of ander plek wat iets aan u wil smous.

Die produk is geloods en het ons vinnig begin groei. In die proses het ons geleer dat die ledebasis van Solidariteit by uitnemendheid presteer teenoor ander databasisse in Auto & General deurdat die omset syfer van polisse hoër is en die vervallingskoers van bestaande polisse laer is as normaal. Die gevolg was ʼn vinniger groeiende versekeringsboek met besonder hoë lojaliteit.

Auto & General het dit opgemerk en het ons in gesprek begin tree oor wat die onderskeidende faktore is wat die SFD boek beter laat presteer het. Uit navorsing wat ons gedoen het, was die volgende drie punte van belang:

  1. Solidariteit se eie reputasie onder sy lede en die Afrikaanse mark was besonder goed. Die Solidariteit handelsmerk het bygedra tot die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die produk. Toe Solidariteit ongeveer 80 000 lede gehad het, het Prof. Lawrence Schlemmer bereken dat Solidariteit op daardie stadium ʼn ondersteunersbasis van nie-lede in die orde van 1 000 000 mense gehad het. Die koppeling van die naam met Solidariteit het dus geld in die sak beteken.
  1. Die Solidariteit motor en huisinhoud produk is voortdurend gekoppel aan die saak van Solidariteit. Geldmaak was dus nie die enigste motief vir die produk nie, maar geldmaak om instellings te befonds wat die Beweging uitbou en die Solidariteit saak bevorder het besonder baie tot die groei en behoud bygedra. Wanneer ʼn lid geskakel is oor die produk is hy nie net oor die inherente voordele van die produk vertel nie, maar ook vertel wat Solidariteit doen met die inkomste wat SFD daaruit verdien. SFD het dan ook in die afgelope jare reeds ruimskoots bygedra tot die befondsing van Sol-Tech, Akademia studiefondse en gemeenskapsinisiatiewe.
  1. Die Afrikaanse mark en in besonder die Afrikaner mark is ʼn lojale mark. Indien daar goeie diens en bystand is en die produk geloofwaardig en mededingend is. Bly Afrikaners by hul produk. Navorsing van 80/20 wat ons raakgelees het en later aangekoop is, het dit sonder enige twyfel aan ons uitgewys. Volgens die navorsing op daardie stadium was 79% van Afrikaanssprekendes lojaal aan ʼn handelsmerk, 77% glo tradisie hou mense bymekaar, 72% glo dit is belangrik om kulturele tradisie te behou, 79% verkies om in hul huistaal te lees, en 85% om te luister na en te praat met mense in hulle eie taal.

Die gesprek het gelei na ʼn punt toe waar Auto & General wou weet hoe ons meer polisse aan Solidariteit lede kan verkoop. Van Solidariteit se kant af wou ons baie graag meer verkoop, maar sonder om die dissipline in ons databasis bestuur prys te gee. Daar was ʼn werkswinkel gereël en vroeg in 2010 het die partye bymekaar gekom. Ons het die hele dag koppe bymekaar gesit en aan die einde van die dag het die idee wat ʼn Afrikaanse produk met ʼn Afrikaanse saak aan die 1000 000 Afrikaanse Solidariteit ondersteuners voorgestel het, weggestap met die wenprys. Ek en my vrou het die prys van ‘n aandjie uit baie geniet!

Na meer navorsing en koppe bymekaarsit, is Virseker gebore en vroeg in 2011 is Virseker geloods. Die produk is goed ontvang deur die mark en het ons vroeë tekens van sukses gesien. Virseker het vinnig gegroei en tot ons verbasing het dit begin voorkom of die nuwe kompetisie vir die Solidariteit produk bygedra het tot nuwe groei. Virseker het van krag tot krag gegroei en vroeg in 2014 reeds die 10 000 merk verby gegaan. Die Solidariteit motor en huisinhoud- en Virseker produk nader tans die gesamentlike merk van 25 000 polisse en verdien die Beweging reeds meer as R1 500 000 per maand aan inkomste.

Vandag kan ons sonder om te blik of bloos sê dat Virseker suksesvol is, en dat daar suksesvol geslaag is om meer polisse te verkry met ʼn hoër as normale vlak van lojaliteit. Maar wat is die essensie van wat Virseker suksesvol maak?

Waarom is Virseker suksesvol? Dit is nie ʼn moeilike of ʼn groot deurbraak nie, dit is die kombinasie van ʼn paar dinge wat Virseker as handelsmerk gevestig het in Suid Afrika:

  1. Mededingendheid is van kritieke belang. Die Auto & General groep is leiers in die korttermyn versekeringsmark en wêreldwyd toonaangewend gewees in die daarstel van direkte bemarkingsmodelle. Virseker as produk is enige dag net so goed as enige ander korttermyn produk in die mark.
  1. Diversifikasie is ʼn verdere deel van die Auto & General model, hulle beskik reeds lankal oor ʼn klomp huishoudelike produkte in Suid Afrika soos Budget, Hippo en First for women. Hulle verstaan dat die toekoms van kompetisie nie gaan om die massas nie, maar om die kleingroepies van nismarkte in ʼn massa saam te snoer. So is Virseker die eerste produk in Afrikaans gewees en het Virseker homself onderskei as die leier produk in die Afrikaanse mark. Mededingers volg tans en is dit ook duidelik in hulle advertensie strategieë. Orals waar Virseker adverteer, adverteer hulle in Afrikaans, die geleentheid is erken en is daar nou groot kompetisie daarvoor. Hulle bly tans volg en kon byvoorbeeld vandag dit nie regkry om hulle advertensies hier te wys nie.
  1. Virseker bevorder die Afrikaanse saak op meer as een manier. Met betrekking tot ʼn bemarkingsstrategie het Virseker begin om aksies en programme met groot Afrikaanse aanhang te borg. So het Virseker suksesvol die spasie in gewilde Afrikaanse programme soos Noot vir Noot en Boer soek ʼn vrou bekom en domineer hulle daar. Wat aksies betref was Virseker borg van die Huisgenoot skouspel en tans vir die uiters gewilde Afrikaans is Groot opvoering.

Belangriker as dit is Virseker se ondersteuning van die Afrikaanse saak en is die Virseker Trust gestig. SFD het die volle som van wat hulle uit Virseker kon verdien aan die Trust geskenk en het Auto & General ook ʼn bydrae gemaak. Die Virseker Trust se doel is die bevordering van opleiding in Afrikaans en het hulle reeds R10 000 000 geskenk aan Afrikaanse opleidingsinisiatiewe en sal gedurende die jaar ʼn verdere R5 000 000 bewillig.

Deur Virseker het ons bevestig dat daar steeds ʼn lewe vir Afrikaans in die ekonomie is. Vir Afrikaans se behoud is dit krities om sy plek in die ekonomie te beset en sy spiere daarin te bult en te oefen.

Om saam te vat sal ek graag by ʼn paar punte wil stilstaan oor wat moontlik in gedagte gehou kan word indien iemand Afrikaans in ʼn ekonomiese strategie wil gebruik. Sommige van die punte is voor die handliggend, maar julle sal verstom staan as ek ʼn paar minute spandeer aan sommige van die goedbedoelde idees waarmee ons te doen kry:

  1. Afrikaans is nie uit die oude doos nie.

Afrikaans is vars soos die vroeë oggend. Dit is nie ʼn taal van gister nie en hou by met die mense wat dit praat. Afrikaans is nie almal se vriend nie, maar niemand se vyand nie. Indien jy Afrikaans wil gebruik in ʼn poging om ʼn vroëere orde te herstel is die produk gedoem tot mislukking. Gebruik Afrikaans, maar gebruik hom soos hy vandag is vir vandag. Nostalgie, geskiedenis en dinge uit die verlede kan gebruik word, maar doen dit vanuit ʼn hedendaagse konteks.

  1. Afrikaans is nie ʼn besigheid nie.

Afrikaans staan nie in die sentrum van enige aanbod nie. Moenie probeer om Afrikaans te verkoop nie tensy jy ʼn woordeboek smous is nie. Afrikaans is ons taal wat ons kan gebruik op die markplein, maar ons verkoop haar aan niemand nie.

  1. Deur Afrikaans onderskei jy jouself.

Die nuwe groot is klein en Afrikaans is ʼn baie lekker geleentheid om ʼn nis bemarkingsstrategie te volg. Die nis is lojaal relatief wel-af en opgewonde oor hulle taal. Afrikaans is ʼn wonderlike geleentheid vir dienste en is die mark aan die ontwaak. Akademia is as voorbeeld onlangs versoek om te begin met Afrikaanse verpleegopleiding, omdat die diensverskaffers nie langer die vraag daarna in hulle hospitale kon ignoreer nie. Die graad is ontwikkel en wag ons op akkreditasie.

  1. Koppel jou besigheid aan die Afrikaanse saak.  

Om Afrikaans te gebruik in die opheffing van haar gemeenskap is deel van die historiese DNS van Afrikaners. Sanlam, Volkskas, Federale Volksbeleggings, Universiteite en talle ander is uit hierdie DNS gebore. Die saak gee aan die gebruikers van die diens of produk die geleentheid om goed te voel oor hulle deelname. Hulle verwesenlik hul hoër orde ideale deur deel te neem. Kommunikeer dit goed en betrek jou kliënte by die saak wat jy ondersteun dit sal jou verkope baie meer suksesvol maak.

  1. Besigheid eerste

Jou produk of diens moet in eie reg oor bepaalde mededingende eienskappe beskik. Daar moet ʼn bestaansreg wees vir wat aangebied word. Indien jy ʼn bank wil begin moet jou bank ten opsigte van regulatoriese vereistes, stelsels, kostes, produkte en dienste kompeterend wees met ander banke. Deur Afrikaans onderskei jy jou marksegment maar kan jy eers kompeteer wanneer jou aanbod mededingend is. Die Afrikaanse mark sal nie skroom om jou ʼn baie harde pakslae te gee indien jy sentiment en lojaliteit gebruik om te bemark, maar die besigheid, produk of diens nie in eie reg van gehalte is nie.

  1. Selfvertroue

Indien dit jou keuse is om Afrikaans te gebruik as taal in besigheid is dit absoluut noodsaaklik dat dit ʼn besluit is wat met selfvertroue geneem word en deurgevoer word. Afrikaans het as gevolg van ons verlede baie druk moes verwerk die afgelope 21 jaar. Afrikaans was die taal van Apartheid en Engels die taal van die struggle en liberation. Daar is binne die politieke bestel dus nie veel indien enige lojaliteit vir Afrikaans nie. Dit wil voorkom of daar selfs nie eers ruimte vir haar sprekers is nie.

Ons het meeste van die tyd te doen met ʼn sagte stryd teen Afrikaans, maar wat deur die aktiewe dryf na verteenwoordigendheid en gelykheid op haar knieë gedwing word. Dit is so vir besigheid en elke liewe sektor waar staatsinmenging deur wetgewing die afgelope twee dekades ons land transformeer het. Afrikaans moet nie reageer deur ʼn weerstandsbeweging nie, maar met selfvertroue aanspraak maak op haar plek in die ekonomie. Afrikaans kan in die kantoor, per e-pos, per brief, per kontrak, deur produkte en dienste haar plek volstaan, maar dit gaan selfvertroue en deursettingsvermoë verg.

Die Atterbury groep is vir my ʼn uitstekende voorbeeld hiervan. Dit is ʼn besigheid wat in hoofsaak bestaan uit Afrikaanse sprekers en het Louis van der Watt al vroeg die besluit geneem om Afrikaans as taal en ook die Afrikaanse kultuur in sy besigheid te behou. Die geskiedenis vertel ʼn storie van uitnemende sukses. Louis van der Watt het eenkeer die staaltjie vertel van Cyril Ramaphosa wat op besoek aan Atterbury openlik vir sy mense gesê het hulle moet by hierdie boere kom leer oor hoe om besigheid te doen. Die selfvertroue van hulle besluit saam met hulle prestasie het op die ou end toe mooi woordjies in stede van aanvalle tot gevolg gehad.

  1. Afrikaans en Engels

Afrikaans en Engels moet nie teenoor mekaar gestel word in besigheid nie. Dit is inteendeel in vandag se dae uiters belangrik dat Afrikaanse sakemanne en -vroue hulleself goed kan handhaaf in die rooinek taal.

Afrikaans is ʼn keuse vir effektiwiteit en marksegmentasie, maar kan nie teenoor Engels opgestel word nie. Afrikaans se aristokratiese ideale vind sy doelwitte deur die gebruik en uitbou van die taal in die ekonomie, maar in besigheid moet Afrikaans geld in die sak beteken deurdat dit jou aanbod ondersteun en jou besigheid se effektiwiteit verhoog. Afrikaans is nie bloot ʼn taal nie, dit is ʼn taal wat ook die draer is van geweldige kulturele energie. Hierdie kulturele energie kan vasgevat word met woorde soos hardwerkendheid, kreatiwiteit en kwaliteit. Wanneer jy toesien dat hierdie energie deur die taal jou besigheid binnekom is die gevolg prestasie, gaan vra maar weereens vir die Atterbury groep.

  1. Opleiding

Opleiding in Afrikaans is nie ʼn strategie vir besigheid nie anders as dat besigheid kan onderneem om mense wat in Afrikaans studeer het in diens te neem nie en dat Afrikaanse opleiding toenemend in die privaat sektor ʼn geleentheid gaan word nie.

Dit is wel ʼn voorvereiste vir die voortbestaan van Afrikaans as besigheidstaal. Indien ons die saak van opleiding in Afrikaans oor die volle spektrum daarvan gaan versaak, het Afrikaans geen kans op oorlewing in die ekonomie nie. Alles begin by opleiding en as ʼn besigheid nie kan Afrikaans wees nie, maar dit wil ondersteun, is dit die een enkele plek om by betrokke te raak.

Betrokkenheid kan op verskillende gebiede geskied deur studente in diens te neem, beurse beskikbaar te stel, skole en privaat universiteite finansieel te ondersteun of die ontwikkeling van kursusse te versoek en te borg.

Elke geslag is verantwoordelik vir die handhawing en uitbouing van Afrikaans, ons moet doen wat ons kan, maar deur opleiding bemagtig ons ons kinders om hulle kant eendag te bring.

  1. Beroepsliggame

Die vestiging van professionele Afrikaanse beroepsliggame het in die afgelope tyd tot stand begin kom. Dit is noodsaaklik vir hierdie liggame om die Afrikaanse mense in hulle professie te ondersteun deur dienste waarvan een die ontwikkeling en uitbou van professionele Afrikaanse taalbegrippe. Gelukkig het ons al ʼn paar en kan ek so vinnig dink aan die Vereeniging van regslui in Afrikaans, die Vereeniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers en die Vereeniging van Afrikaanse Rekenmeesters.

Mobiliseer jou professie en begin met hierdie belangrike taak om Afrikaans as professionele taal uit te bou.

Dames en here baie dankie dat u na my geluister het, dit is egter nou gelukkig tyd dat ek terugkeer na my gemaksone toe. Dit is waar ek op die markplein kan werk en help om Afrikaans sy plek te gee.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.