Europa se duur les, ook van toepassing op Afrikaners

deur Christoff van Wyk 

‘n Lid van die spesiale taakmag staan wag waar nooddienste beseerdes behandel na die terreuraanval in Brussels

‘n Lid van die spesiale taakmag staan wag waar nooddienste beseerdes behandel na die terreuraanval in Brussels


Vlugte vanuit die Belgiese hoofstad Brussels het hervat na die terreur aanval wat 35 lewens gekos het. Die terugkeer na normaliteit geskied egter teen die agtergrond van ʼn Europa wat eenvoudig nie die vaagste benul het hoe om die terroriste kwessie of selfs die immigrante kwessie aan te spreek nie.

Pierre Manent gee in sy artikel ‘Repurposing Europe’, vanuit ʼn Franse oogpunt, ʼn skreiende analise van die Europese probleem. Europa wat eens deur die Christelike geloof gevorm is, het in die naam van die ‘Europese projek’ verval tot ʼn totaal humanistiese individualisme waar kultuurgroepe totaal gestroop is van enige vorm van geestelikheid en nasionale samebindende identiteit en nou rigtingloos voort strompel van die een uitdaging na die ander.

Europeërs het hul geloof in God afgesweer en daarmee saam die idee van ʼn nasie of ʼn volk.  Instede daarvan is die ideaal van ʼn verenigde Europa wat opgemaak word uit individue, met geen ware erkenning aan gemeenskappe of nasionale identiteit, aangehang as antwoord op die verskriklike gebeure van die twee wêreldoorloë. In hierdie projek is dit die regte van elke individu wat bo alles seëvier en word daar weggedoen met enige nasionale gemeenskaplike doelwitte en samehorigheid teenoor ʼn spesifieke land en sy mense.

Hierdie projek wat gedryf is deur verskeie politici het egter, soos wat in meeste lande tans gebeur, nie tred gehou met plaaslike gemeenskappe en hul probleme nie. ʼn Groeiende getal Europeërs is ongemaklik oor die huidige situasie in hul onderskeie lande en besef dat ʼn plaaslik kollektiewe poging nodig is om verskeie kwessies soos die immigrante, Islam en die ekonomie aan te spreek. Die huidige politieke leiers, na wie daar opgekyk word, is egter totaal onbekwaam om na behore hierdie probleme aan te spreek omrede hul steeds opereer op die vlak van ʼn Europese Unie denkraamwerk. Dit veroorsaak dat Europa en veral ʼn land soos Frankryk, polities verlam is om die groot plaaslike uitdagings aan te spreek.

Manent stel die vraag dan ook as volg: “What to do about our diminished collective capacity is the great political question of Europe.”

Manent se oplossing vir hierdie toestand lê in die herontdekking van ʼn nasionale identiteit wat slegs kan geskied indien daar ʼn terugkeer is na geloof in God en die Christelike denkraamwerk wat instrumenteel was vir die vorming van dié nasies wat tradisioneel bekend was as die Christendom. Hy gee ook ʼn spesiale verbintenis aan die idee van die verbond, soos in die Bybelse konteks, wat volgens hom die idee van ʼn volk of nasie daarstel. Dus, gee hy in geen onduidelike terme ʼn wekroep aan die Kerk om ʼn ‘terugkeer’ te maak. Slegs wanneer die ou nasies van Europa weer hul nasionale identiteite terugneem, met die Christelike geloof as grondslag, kan daar werklik, sonder vervreemding en haat, volgens hom ʼn plek gemaak word vir Islam in Europa.

Die Suid-Afrikaanse konteks

Suid-Afrika, net soos Europa, is opgemaak uit ʼn groot verskeidenheid kultuurgemeenskappe. Net soos in Europa loop ons ook deur onder ʼn geforseerde projek van saambondeling genaamd die ‘reënboognasie-projek’. Die projek het egter vinniger geflop as wat baie mense verwag het (al hoor jy steeds sommige hardnekkige denkers en wensdromers wat hieraan vasklou). Vanuit ʼn politieke oogpunt bly dit steeds ʼn sterk slagspreuk waarmee die land van Nelson Mandela verkoop kan word as ons geld soek in die buiteland of ons eie beeld wil poets, maar die realiteit is veel anders.

Vanuit ʼn Afrikaner perspektief het baie mense hul Afrikanerskap opgegee in ruil vir Suid-Afrikanerskap (asof die twee identiteite in spanning met mekaar is) om opgeneem te word in die ‘reënboognasie’. Groot is die ontnugtering dan gewoonlik as hulle uitvind dat die reënboog oorwegend swart is en dat daar nie soseer plek is vir wit nie. Hierdie ontnugtering vind toenemend plaas wanneer die realiteit van kader-ontplooiing, regstellende aksie en SEB tot hul reg kom.

Baie Afrikaners het heeltemal weggestap van die kollektiewe Afrikaner identiteit in ruil vir ʼn bestaan waarin individualisme hooggety vier en waar daar geen politieke of gemeenskapsbetrokkenheid meer is nie. Wanneer hierdie lewenstyl bedreig word deur swak dienslewering, misdaad of korrupsie wend mense hulself baie vinnig tot die reg en veral die Grondwet, net om weereens ontnugter te word deur die onmagtigheid van die regbank om die probleme aan te spreek.

Afrikaners verkeer dus toenemend, op meer as een vlak, in ʼn bestaanskrisis. Een van die kernpunte wat hierdie bestaanskrisis veroorsaak is ʼn self-ontkenning onder Afrikaners wat veroorsaak dat ons nie meer weet wie ons is en wat ons plek in die nuwe Suid-Afrika behoort te wees nie. Tesame met hierdie knellende vrae, is daar ook nog die probleme van demografie en geografie, iets wat die Europeërs nog nie pla nie, maar wat wel op die horison is vir hulle.

Kan ons as Afrikaners dalk aansluiting vind by Manent se antwoord vir Europa? Sal ʼn terugkeer na ʼn geloof in God (in plaas van die staat en die Grondwet) vir die Afrikaner ook antwoorde bring?

As die Afrikaner as gemeenskap weer vanuit sy tradisie en geloof homself kan vind, dan staan ons ʼn kans om ons eie probleme aan te spreek en dalk selfs ook met antwoorde vir Suid-Afrika se toekoms vorendag te kom. Daar is wel baie uitdagings, maar as ons op die punt kan kom waar ons vir onsself kan sê dat ons onbeskaamd Christen, Suid-Afrikaner, Afrikaner, Afrikaans, trots op ons herkoms en geskiedenis kan wees en dat geen van hierdie punte in spanning met mekaar staan nie en dat almal hiervan ons gevorm het wie ons is, dan het ons gevorder. Hierdie eerste stap van self-erkenning, begin by elkeen van ons en geen reg in die Grondwet of andersins kan dit vir ons gee of van ons wegneem nie.

Die politieke analis, Samuel P. Huntington het die volgende voorspelling gemaak: “It is my hypothesis that the fundamental source of conflict in this new world will not be primarily ideological or primarily economic. The great divisions among humankind and the dominating source of conflict will be cultural. Nation-states will remain the most powerful actors in world affairs, but the principal conflicts of global politics will occur between nations and groups of different civilizations. The clash of civilizations will dominate global politics. The fault lines between civilizations will be the battle lines of the future.”

Wat in Europa gaan gebeur weet ons nie, maar die ‘Europa projek’ net soos die ‘reënboognasie-projek’ is dood en hoe langer projekte soos hierdie op nasies en kultuurgroepe afgedwing word deur ontoegeeflike state, hoe groter is die kans dat Samuel Huntington se voorspelling vir ons toekoms, waar gaan word.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.