Fokus op die Suid-Afrikaanse gesin – Flip Buys

FAK NP van Wyk Louw Familie

Ons leef in ’n tyd van groot veranderings en selfs omwentelings in ons land en in die wêreld. Hierdie omwentelings het ’n groot uitwerking op ons mense, op ons kerke, op ons gesinne en op ons kinders. Ons beleef nou waarvan die Amerikaanse toekomskundige Alvin Toffler gepraat het as die komende “Toekomsskok”. Toffler (1978: 404) het toekomsskok beskryf as die onvermoë om by ’n té vinnige pas van verandering by te hou. Vir hom is die gevaar dat die pas van verandering in die samelewing vinniger versnel as die vermoë van mense en gemeenskappe om daarop te reageer – totdat hulle by die punt kom waar hulle totaal beheer verloor.

Miskien klink dit in hierdie stadium na ’n oordrywing, maar as ons sien dat net een derde van die kinders in ons land in ’n “normale” gesin met albei biologiese ouers grootword, sal u beter begryp waarom daar ernstige kommer oor ons gesinne bestaan. Dan word dit ook duidelik hoekom krisisse soos geweldsmisdaad nie die grootste probleem in ons land is nie, maar waarskynlik veel eerder die skrikwekkende gevolg van die grootste probleem in ons land, naamlik die verbrokkeling van die tradisionele huisgesin. Ons stukkende land is die gevolg van ons stukkende gesinne, en ons gaan nie ons land heelmaak sonder om ons gesinne heel te maak nie. Dat die verbrokkeling van die tradisionele gesin ’n wêreldwye verskynsel is wat veral die moderne Weste ook teister, verander niks aan ons probleem nie. Die feit dat dit in Suid-Afrika saamloop met baie ander knelpunte[1] is waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat dit hier te lande so ’n sterk geweldskarakter aangeneem het.

Die grootste omwenteling in die samelewing gebeur voor ons oë, maar is nie maklik om raak te sien nie. Dit is die massa-toetrede van die vrou tot die arbeidsmark wat die wêreld soos ons dit vroeër geken het, totaal omskep het (Castells; 01: 225). Hierdie omwenteling – wat deur Rosabeth Moss Kanter van die Harvard Sakeskool beskryf word as die grootste enkele bevolkingsverskuiwing in die afgelope halfeeu – het ’n diepgaande omwenteling van die gesin, werk en die arbeidsmark tot gevolg gehad (Castells; 01: 156). Die oorsaak van die massale verskuiwing van vroue van die huis na die werksplek is ’n sameloop van ekonomiese, maatskaplike en tegnologiese kragte, en die gevolge is op talle terreine merkbaar – ongelukkig veral op huwelike, gesinne en kinders. Hierdie oorsake kan kortweg as die “nuwe ekonomie” opgesom word. In 1970 het daar byvoorbeeld net 51,1% van vroue in die VSA gewerk, maar teen 1994 het dit tot 70,5% toegeneem (Castells, 159). Niemand wil die vrou weer “terug huis toe” probeer stuur nie, maar die gevolge van hierdie verskuiwing moet gehanteer word om te keer dat dit soos die sosioloog Manuel Castells voorspel, die einde van die gesin beteken. Maar kom ons kyk bietjie dieper na die redes hiervoor, sodat ons dan die gevolge kan ontleed en oplossings daarvoor kan soek.

 

  1. Redes vir die massa-toetrede van vroue tot die arbeidsmark

Daar is veral twee groot redes vir die groot trek van vroue na die werksplek, waarvan die een as ’n stootfaktor (stok) en die ander as trekfaktore (wortels) beskryf kan word (Reich, 02: 160).

Die belangrikste stootfaktor was dat die verdienste van die manlike werksmag sedert die sewentigerjare begin afneem het, en dat baie vroue moes begin werk om die pot aan die kook te hou. Hierdie afname in mans se verdienste het saamgeloop met die oorgang van die ou nywerheidsera met sy vaste en veilige produksieberoepe na die inligtingsera met al sy onsekere en swakker betalende “ou ekonomie”-werksgeleenthede. Terselfdertyd was daar ’n groot toename in die algemene welvaart van mense, met ’n oorvloed wonderlike nuwe produkte en dienste, bekostigbaar gemaak deur ontwikkelings soos maklike krediet en skuld, wat begeertes soos ’n towerstaf in behoeftes verander het. Dit alles het die standaarde en lewensgehalte van mense laat toeneem, wat sienings en verwagtings oor die minimum aanvaarbare lewenstandaarde laat styg het. Dit het tot gevolg gehad het dat selfs mense met bogemiddelde verdienstes die noodsaak begin voel het dat die vrou voltyds moet werk.

Maar die keersy hiervan was dat die nuwe ekonomie nou opwindende nuwe beroepsmoontlikhede vir vroue geopen het, waar dit vroeër beperk was tot diensberoepe soos onderwyseres, verpleegster en administratiewe poste. Saam met hierdie veranderings is diskriminasie teen vroue in die samelewing en werksplek stelselmatig uitgefaseer, en die groter opleidingsgeleenthede en beter vergoeding was ’n groot trekkrag vir ’n hele geslag vroue. Die nuwe ekonomie met sy groot spektrum van nuwe beroepe het nuwe wêrelde vir die vrouegeslag geopen, en binne enkele jare was daar in Amerika meer jong dames as mans op universiteit.

In Suid-Afrika groei die deelname van vroue sterk, en hulle maak reeds 41% van die arbeidsmag uit. Die groot druk op vrouebemagtiging soos regstellende teikens beteken dat die beroepsvordering van vroue baie vinniger sal versnel as in ander lande (Postma, 04: 341). Mag ons net nooit die sukses van vroue (en mans!) so eendimensioneel meet as welvaart en beroepsukses nie! Dis nie net lewenstandaard wat tel nie, maar ook lewensgehalte.

 

  1. Impak op vroue, gesinslewe en kinders

Soos verwag kon word, het die nuwe ekonomie en die nuwe geslag vrouewerkers ’n groot invloed op die gesinslewe en gevolglik op kinders gehad. Vanselfsprekend is daar baie positiewe gevolge, soos dat gesinne ’n beter inkomste het om vir hulle kinders te sorg, en dat vroue ’n kans kry om hulle roepings uit te leef. Maar daar is ’n ander kant. Topberoepe vereis bykans alles van ’n mens, en soms is dit selfs alles of niks. Dit plaas onmenslike druk op vroue wat terselfdertyd beroepsvrou, ma, huisvrou én vroulief moet wees. Soms moet vroue tussen hierdie rolle kies, maar in die praktyk moet werkende vroue dit balanseer en prioritiseer. Amerikaanse studies het getoon dat die gemiddelde werkende vrou in totaal meer as 80 uur per week by die werk en die huis werk (Rifkin, 96: 234).

Die vraag is of vroue, mans, gesinne, die kerk, werkgewers en die samelewing in die algemeen al genoegsaam aangepas het om hierdie (dekades lange) nuwe uitdagings te verwerk? Die werksplek is oorspronklik vir manlike werkers ontwerp, en het nog nie orals by die nuwe (vroulike) werksmag aangepas nie. Dis interessant dat mense se waardes en gesindhede saam met die ekonomie verander het. In die laat sewentigs het die meeste mense gevoel dat vroue nie finansieel tot die huishouding behoort by te dra nie. Teen die eeuwending het twee-derdes van mense gemeen dat die vrou beslis behoort by te dra (Reich, 02: 164). Net so het twee-derdes van mense in die sewentigs gevoel dat dit die beste is as die man werk en die vrou na die huis en kinders omsien, maar teen die eeuwending was hierdie persentasies net mooi omgekeerd.

Terselfdertyd het die “bevryding” van die vrou en die gelykmaking van die vorige patriargale gesagsverhouding ook nie net voordele vir vroue en gesinne gehad nie. Geslagsverhoudinge het saam met gesagsverhoudinge verander, huwelike het verbrokkel, die tradisionele gesin is aan die kwyn, en ander vorme van huishoudings het ontstaan. Die moderne opgeleide en finansieel onafhanklike vrou maak die rolle gelyk, wat soms druk plaas op huwelike.

Maar nie net gesinswaardes verander nie. Die verspreiding en groei van liberale en sekulêre staatstelsels het ook mense se sienings en waardes verander. Die opkoms van aktivistiese sosiale bewegings soos die feminisme en gayregte-bewegings het byvoorbeeld heteroseksualiteit as norm in die gedrang gebring, en in Suid-Afrika word sulke huwelike nou ook erken en sulke pare mag selfs kinders aanneem.

 

  1. Die tradisionele gesin as minderheidsleefstyl

Die tradisionele gesin word in die meeste eerstewêreldlande ’n minderheidsleefstyl (Castells, 01: 155). In die VSA is net ’n kwart van alle huishoudings getroude mense met kinders, en die persentasie neem nog verder af as net biologiese ouers met hul eie kinders ingereken word. Dit is hoekom sosioloë soos Castells meen dat as huidige neigings voortduur die gesin, soos ons dit tradisioneel ken, kort voor lank gaan verdwyn (Castells, 01: 156).

Die opbreek van die tradisionele (“patriargale”) gesin het gelei tot ’n toenemende aantal huishoudelike strukture wat mense organiseer om hul lewens te deel en kinders te hê (Castells, 01: 221). Waar die gesin dan nie verdwyn nie, lyk dit totaal anders. Meer as 90% Amerikaners trou nog, maar skei makliker. Enkelouergesinne kom al hoe meer voor, veral waar vroue die broodwinners is, met “vervrouliking van armoede” as een van die gevolge. Mense bly makliker saam, verander makliker van lewensmaats, of bly saam sonder om kinders te hê. Kortom, hersaamgestelde gesinne of huishoudings raak al meer algemeen. Dit is belangrik om te besef dat die tipe “informele verhoudings” makliker opbreek, wat normaalweg ’n groter impak op kinders en mense se leefwyse het.

In die VSA beland 55% van die huwelike in die skeihof, terwyl egskeidings tussen 1970 en 1990 meer as verdubbel het in Brittanje, Frankryk, Kanada en Mexiko. In die Skandinawiese lande word sowat 50% van kinders buite die huwelik gebore (Castells, 01: 149), wat bygedra het tot die toename in enkelouerhuishoudings, wat in sekere lande al op 30% staan. Net 7% van Amerikaanse gesinne kan nog as tipies tradisioneel gesien word waar die pa werk en die ma by die huis na die kinders kyk.

In Suid-Afrika lyk die prentjie nie beter nie, alhoewel dit sterk op rassegronde verskil. Daar is egter ’n nypende tekort aan betroubare navorsing oor die onderwerp, wat gevolgtrekkings bemoeilik.

Kortliks kom dit daarop neer dat die tipiese huishouding oor die afgelope 25 jaar verander het vanaf getroud met kinders na ongetroud sonder kinders (Reich, 02: 160). Maar dit is nie net omdat mense se waardes verswak het nie; die nuwe ekonomie en die gepaardgaande veranderings wat dit meegebring het, het baie daarmee te doen.

Rus ons samelewing mense genoegsaam toe om die eise van die nuwe ekonomie te hanteer? ’n Dringende en noodsaaklike opvoedingstaak is hiervoor nodig, ter wille van ons kinders en ons gesinne.

 

  1. Krimpende gesinne

Die moderne vrou kry groeiende beheer oor of, wanneer en hoeveel kinders sy wil hê as gevolg van die vooruitgang in die mediese wetenskap (Castells, 01: 135). Dis vir die meeste vroue in ontwikkelde gemeenskappe deel van haar regte om beheer oor haar lewe en haar liggaam te hê. Geboortes vind al meer buite die tradisionele huwelik plaas, en vroue het minder kinders en stel die geboorte van hulle eerste kind al later uit (Castells, 01: 139). Waar vroue vroeër hulle kinders in hul twintigs gehad het, skuif dit nou aan na die dertigs. Die duidelikste krisis van die tradisionele gesin is die geweldige afname in vrugbaarheidskoerse in moderne lande en gemeenskappe, tot onder die vervangingskoers (Castells, 01: 152). Daarom het die meeste van hierdie lande programme soos kindersubsidies om mense aan te moedig om meer kinders te hê, met wisselende welslae. Die maatskaplike kindertoelaes in ons land lei aan die ander kant hoogs waarskynlik tot ’n groter groei in die deel van die bevolking waar armoede reeds hoogty vier.

Die feit is dat die massa-toetrede van vroue tot die betaalde arbeidsmark gesinne laat krimp het omdat vroue minder en later kinders het (Reich, 01: 165). Hierdie neiging sal waarskynlik voortduur, en bykans 20% van vroue in Amerika het nie meer kinders nie. Die meeste van hierdie mense is gelukkig getroud, maar het bloot net ander belangstellings. Die geboortekoerse onder ongetroude vroue het saam met die van getroude vroue gedaal.

Die hoofrede vir hierdie afname in kinders is die botsende eise wat die nuwe ekonomie aan werkende vroue stel, teenoor dit wat kinders nodig het in terme van sorg, aandag en geld. Koud en klinies gestel: kinders pas nie gerieflik in by die eise van die nuwe ekonomie nie (Reich, 01: 170). Daar is dus maklik ’n botsing tussen werk en gesin.

In Suid-Afrika neem die vrugbaarheidskoerse ook so drasties af by die ontwikkelde gemeenskappe, en sit ons met ’n bevolkingsínploffing binne-in ’n bevolkingsontploffing. Dit het vanselfsprekende gevolge, omdat ’n bevolkingsafname onder Afrikaners ook ons instellings soos kerke laat krimp.

 

  1. KINDERS IN KRISIS

Die nuwe ekonomiese revolusie het nie net vroue, gesinne en huwelike ’n omwenteling laat ondergaan nie, maar het ook kinders se lewens totaal verander. Die belangrikste gevolg is dat min klein kindertjies vandag hulle ma’s se voltydse aandag kan geniet (Castells, 01: 225). Die gemiddelde aantal ure wat ouers by hulle kinders spandeer, het tussen 1960 en 1986 met tien tot twaalf ure per week afgeneem. Die afname in ouertoesig het ’n “verlatingsindroom” by kinders geskep en gelei tot ’n toename in kinderdepressie, jeugmisdaad, drank- en dwelmmisbruik, en tienerselfmoord (Rifkin, 96: 234).

Die volgende probleem is natuurlik kindersorg, en veral behoeftige vroue se kinders beland soms in ’n krisis of word verwaarloos, wat die gevaar van ’n armoedesiklus kan vergroot. Die ma moet noodgedwonge werk om haar kind te kan voed, maar terwyl sy by die werk is, word die kind verwaarloos of selfs alleen by die huis gelaat. In die VSA is daar al meer as 7 miljoen kinders alleen by die huis op sekere tye, en in opnames is daar bevind dat meer as ’n derde van jongmense al na hulleself moet omsien (Rifkin, 96: 234).

Dagsorg en gemeente-gebaseerde kleuterskole is van die praktiese maniere waarop kerke kan help om hierdie krisis te verlig.

 

  1. Die betekenis van ’n gesin

Daar is reeds gesê dat daar groot druk is op die moderne vrou om haar vier rolle as werknemer, huishoudster, ma en vrou te balanseer en te prioritiseer. Maar onderliggend aan die amptelike definisie van ’n gesin is daar vier maatstawwe wat ons normaalweg as vanselfsprekend aanvaar (Reich, 02: 174). Dit is dat daar verwag word dat gesinslede lewenslank aan mekaar verbonde moet wees, dat hulle baie tyd saam en onder een dak deurbring, dat daar kinders gebore word, en dat gesinslede mekaar met liefde, sorg, aandag en geld bystaan. Hoewel die meeste gesinne nog in wisselende mate aan hierdie maatstawwe voldoen, loop elke neiging nou in die teenoorgestelde rigting. Verhoudings is meer tydelik, mense spandeer minder tyd saam, paartjies het minder kinders, mense ondersteun mekaar minder, en sorg en aandag word nou al gereeld na dagmoeders en sielkundiges “uitgekontrakteer”. Verleng ons hierdie neigings vorentoe, raak dit steeds duideliker dat die term “gesin” in die toekoms iets totaal anders kan beteken (Reich, 01: 174).

Daar is ’n groot en groeiende aandrang op korter werksweke en ’n beter balans tussen werk en gesinslewe, in so mate dat byna 80% van Amerikaners in ’n opname aangedui het dat hulle meer vrye tyd bo bevordering sou verkies (Rifkin, 96: 233).

Maar wil mense regtig ’n beter balans tussen werk en gesin hê soos ons dikwels hoor? Oppervlakkig gesien ten minste wil mense hierdie tipe gejaagde lewe hê, want hulle kies dit immers vrywillig. En stadigaan verander hulle houdings oor die lewe volgens die keuses wat hulle daaroor gemaak het.

Maar gesinne bly belangrik vir suksesvolle lewens. Jerry Muller sê selfs dat gesonde gesinne “menslike kapitaalfabrieke” is wat kinders lewenslank ’n voorsprong gee!

 

  1. Stukkende gesinne lei tot ’n stukkende gemeenskap

Prof. Koos Vorster sê in sy boek (Vorster, 07: 169) oor Christene se houdings oor die gesin dat sosioloë, psigoloë en ekonome deesdae meer geredelik erken dat hierdie ontwikkelings skadelik is vir groot getalle mense. Volgens hom het die veranderings in gesinspatrone gelei tot ’n verswakking in die welsyn van kinders, en ook tot ’n “vervrouliking” van armoede en verwantskappe.

Vorster waarsku tereg teen die stelselmatige vernietiging van die huwelik en die gesinslewe, en sê dat dit ons land se maatskaplike bestendigheid kan ondermyn (Vorster, 07: 182). Die statistieke wys ongelukkig ons is klaar daar.

 

  1. Die Christelike gesin as antwoord op die krisis

In die lig van die werklikhede van die nuwe ekonomie en die moderne mens, is die besluite wat mense oor die huwelik, gesin en kinders neem heeltemal rasioneel (Reich, 02:175). Daar moet egter meer diepliggende vrae gevra word, naamlik of die nuwe ekonomie en al die welvaart wat dit meebring, die prys werd is wat ons huwelike, ons kinders en ons gesinne daarvoor moet betaal? Sou ons regtig al hierdie keuses gemaak het as ons geweet het wat presies die gevolge vir ons gesinslewens sou wees? Wanneer raak die prys te hoog? Waarskynlik as ons kinders en ons huwelike (vir wie ons welvarend wil wees) die slagoffers van ons strewe na beroeps- en finansiële sukses is.

Vorster kom tot die gevolgtrekking dat Christelike kerke ’n verantwoordelikheid het om die kernwaardes van die huwelik en die gesin te bepleit en te beskerm, al loop dit direk teen die etos van die postmodernistiese wêreldbeskouing en selfs die waardes van ’n moderne liberale demokrasie (Vorster, 07: 180). Christene moet op alle lewensterreine gehoorsaam aan God wees, ook ten opsigte van die huwelik en gesinslewe in die moeilike moderne omstandighede.

Hy meen verder dat die Christelike siening van die huwelik en die gesin hierdie twee instellings ten goede kan verbeter (Vorster, 07: 170). Hy waarsku teen ’n relativering van sienings oor die huwelik en gesin, en meen dat gewaak moet word teen ’n pragmatiese situasie-etiek waar Christelike morele waardes uiteindelik totaal sal verdwyn en die weg baan vir totale verwêreldliking.

 

  1. Gevolgtrekking

Die tradisionele gesin is onder groot druk as gevolg van veranderings in die ekonomie en in die waardes en rolle van mense. Daar word nou al selfs in sekere teologiese kringe stemme gehoor dat die huwelik as instelling uitgedien is en dat ons moet kyk na alternatiewe “huishoudings” (Landman, 2010). Die probleem is dat feitlik alle sulke oproepe van mense kom wat die saak bekyk vanuit ’n suiwer ekonomiese, menseregte- of ander hoek wat die volwassene as uitgangspunt het. Ons mag egter mos nie net kyk na volwassenes se begeertes nie, maar moet eerstens ons kinders se behoeftes in aanmerking neem.

Dis moeilik om te bepaal of ons kinders se probleme spruit uit ons volwassenes se probleme, en/of ons volwassenes probleme het wat spruit uit hulle kindertyd.

Baie ongelowiges mag miskien nie glo in God of die Christelike huwelik nie, of dat daar so iets soos die Duiwel of die sonde is nie. Maar as mens kyk na die hartverskeurende gevolge van gesinsverbrokkeling, moet hulle erken dat dit verbasend ooreenstem met die gevolge van die sonde waarteen die Bybel ons so dikwels waarsku

Daarom wil ek die stelling maak dat daar oorgenoeg navorsing en bewyse is dat die beste vorm van menslike verhoudings vir mans, vroue en kinders – die Christelike huwelik is.

Maar om Christelike huwelike en gesonde gesinne in die moderne tyd te laat werk, gaan werk kos! Dit lê veral op die terrein van kerke, werkgewers en gemeenskapsorganisasies.

 

Moontlike praktiese oplossings

  • Kan “gesonde gesinne” ’n nuwe rol vir diensbare Christelike vroue en mans wees?
  • Die Kerk moet sy regmatige plek as belangrikste bron van waardes opeis, en leer om sy uitwaartse openbare rol met selfvertroue te speel.
  • Kerklike leierskap moet gesien en gehoor word. Laat Die Lig in die openbaar skyn!
  • Daar moet opnuut ’n bewustheid van die belangrikheid van die gesin gekweek word, byvoorbeeld deur gesinsberade.
  • Navorsing oor die uitdagings en oplossings vir die moderne gesin is dringend nodig.
  • Leiding en voorligting aan vroue, mans en gesinne oor gesinne in die nuwe ekonomie.
  • Suid-Afrika het “waardeneutraal” of selfs “waardeloos” geword, en Christelike gesins- en ander waardes moet op die markplein van idees en waardes veg vir staanplek. Suksesvolle Christelike waardes moet aktief met selfvertroue bevorder word.
  • Predikante moet preek en praat oor gesonde gesinne, werk/gesinsbalans en meer kinders.
  • Bepleit kindervriendelike belastingstelsels.
  • Bevorder “gesinsvriendelike” en meer menslike werksplekke, byvoorbeeld buigsamer ure vir ma’s.
  • Beroepsvoorligting vir jong dames kan hulle lewens verander.
  • Ondersoek gesamentlike dagsorgsentrums en kleuterskole deur kerke en werkgewers.
  • Werk saam met vennote aan oplossings.

 

Slotwoord

Die belangrikste is dat die ekonomie daar vir die mens moet wees, en nie die mens vir die ekonomie nie.

 

Bibliografie

  1. Building youth resilience to crime and violence. Centre for Justice & Crime Environment.
  2. Castells, M. The Power of Identity Volume 2. The Information Age: Economy, Society and Culture. Blackwell, Massachusetts.
  3. Child headed families up 25%. South African Institue of Race Relations.
  4. Landman, C. [Beeld By] Johannesburg : Media 24, 2010.
  5. Postma, N. Fast Tracking Woman in Business. South Africa 2010. The Story of our Future. The Good News (Ltd) Pty. Rivonia.
  6. Reich, R.B. The Future of Success. Work and Life in the New Economy. Vintage, London.
  7. Rifkin, J. The End of Work. G.P Putnum’s Sons, New York.
  8. South African Child Gauge. 2008/2009.
  9. South African Children: Future social capital vs failure and despair. [Aanlyn] nisc.co.za.
  10. South African Institute of Race Relations. Fast Facts. July & September, 2009.
  11. The Changing face of the South African family. Sunday Times. 12 July 2009.
  12. Toffler, A. Future Shock. Pan Books, London.
  13. Vorster, J.M. Christian Attitude in the South African Liberal Democracy. Potchefstroom : Potchefstroom Theological Publications, 2007.

[1] Staatsverval, vinnige verstedeliking, werkloosheid, ongelykheid, ekstremisme.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.