Gedagtes oor ons leier-lied – Dr. Alwyn Swanepoel

Daar is ’n lied wat Afrikaners dikwels sing, maar meestal net die koorgedeelte daarvan: “Ons kort ’n leier, wie is ons leier, waar is ons leier?” Die vraag duik egter toenemend op: Het ons nie méér as ’n nostalgiese koortjie en nuwe aanspraakmakers nodig nie? Eintlik is daar al ’n redelike konsensus onder diegene wat ’n ander moderniteit voorstaan, dat hierdie leier-lied rehabilitasie nodig het. ’n Hele aantal teoretiese en praktiese verse is alreeds geskryf om ons hiermee te help. Wat hier volg is ’n versameling en verwerking van bepaalde klanke wat tans in die wandelgange van alternatiewe modernes ruis.

  • Die eerste saak op ons agenda, is om die hele leier-lied grondig te relativeer. Dit doen ons deur ’n ander lied eerste te sing: “Moet op prinse nie vertrou nie.”
  • ’n Goeie dosis nugterheid kom hierná aan die beurt. Daar is iets wat baie nodiger is as ’n leier. Dit is ’n voortreflike tradisie en idee-raamwerk. Hiermee saam benodig ons nie ’n leier nie, maar eerder baie leiers op elke vlak wat deelneem aan die gemeenskaplike raamwerk. Jy, liewe Jan, is die een wat ’n goeie leier op jou gebied moet wees.
  • ’n Leier, los van ’n idee-raamwerk, is so nuttig soos ’n Springbok losskakel op ’n sokkerveld. Dit is baie beter om ’n idee-tradisie te vestig waaruit baie leiers na vore kan tree as om ’n briljante enkeling te hê wat hoogstens skade-beheer kan toepas. Die ou waarheid geld steeds: As ’n stelsel totaal afhanklik is van die regte persoon of mense wat in beheer is, moet dringende vrae oor die raamwerk gestel word.
  • Idee-raamwerke en tradisies het altyd die manier om lyf te kry. Leiers besef dit en is daarom baie bewustelik besig om bepaalde instellings te vorm en te help hervorm. Die bouplan rym of harmonieer gewoonlik met iets wat klink soos katedrale, met ander woorde iets wat gerig is op die nageslag en die eeue.
  • Goeie leiers weet dat hulle tradisies bewandel wat groter as hulself is. Hulle kan egter ook vanuit die tradisie verbeeldingryk met idee-raamwerke omgaan en het ’n oor het vir verskillende stemme in ’n lewende tradisie. Juis so vind skeppende vernuwing plaas.
  • Leiers het, naas baie ander kosbare kenmerke, spreek en/of skryfgawes, maar hulle maak nie staat op demagogie nie. Hulle werk juis aan stelsels en strukture wat nie so maklik deur spreekvosse en breedsprakiges ingepalm kan word nie.
  • Idee-raamwerke en ’n lewende tradisie is baie meer as naïewe ideologie. Ideologie wat bloot met dis-hoe-dit-is redenasies werk, is kannonvoer vir Marxmannetjies. Die hermeneute van suspisie ontbloot graag enige kontekskondisionering en verskuilde belange.
  • Leiers wat net die vorige status quo wil handhaaf, kan nie in gesprek tree met Marxiste nie, maar ook nie met die wêreld en die eeue nie. Hulle val pens-en-pootjies in die slaggatte van eiebelang, die potpadda-sindroom, en van versmalling van ’n lewende tradisie.
  • Die wyse waarop ons vrykom van naïewe ideologie is hoë definisie Bybelstudie, egte tradisie, en blootstelling. Die blootstel begin by die Bybel en die Heilige Gees en dit is die Christen-leier se eerste opdrag (vgl. Jos. 1 en Ps. 1). Die Bybel interpreteer ons, meer as wat ons die Bybel interpreteer. Leiers wat die Bybel in gemeenskap met die kerk van die eeue onder leiding van die Heilige Gees lees, kan nie bly wat hulle was nie. Dit veroorsaak groeiende dink- en doengewoontes, ook genoem goeie en groeiende tradisie. Kopskuiwe is nie uitgesluit nie, maar dit gebeur net geloofwaardig in ’n lewende tradisie wat die kenmerke van Godvresenheid dra.
  • Die blootstelling aan God se genade strek ook verder. Naas kopskuiwe mag dit ook bepaalde lyfskuiwe inhou – blootstelling aan geseënde mense, groepe en gebiede wat naby en wat ver is. Omdat leiers nie terugdeins van blootstelling aan God se genade nie, deins hulle ook nie terug van die terreine van sy besondere, maar ook algemene genade nie. Leiers is nie oikofobies (bang vir die eie) nie, maar hulle is ook nie zenofobies (bang vir die vreemde) nie. Laasgenoemoede sin moet verder ontgin word.
  • Leiers is nie oikofobies nie. Om jouself bloot te stel moet jy weet waarvandaan jy kom. Jy moet jou eie tradisie diepgrondig kan waardeer en dit by die naam kan noem. Oor die amptelike naam in eie kring kan ons praat, maar dit behoort baie te klink soos VKTA – die Verbeeldingryke Klassieke Tradisie onder Afrikaners. Hierdie tradisie, in sy breedste moontlike sin, maak op ’n eie wyse graag gebruik van die beroemde tien kenmerke wat Russel Kirk geïdentifiseer het en pas dit op ons eie konteks toe. Googeloer dit gerus.
  • Leiers is ook nie zenofobies nie. Die verantwoordelike blootstel aan onbekende ruimtes is soms die enigste manier waarop ons uit bepaalde breingroewe en vasgehaakte deuntjies kom. ’n Lewende tradisie is voortdurend in gesprek met die eeue en met onbekende opinies en strukture. Daarom is leiers wat weet waar hulle staan nie bevrees om in gesprek met ander te tree nie.
  • Leiers kom nie skielik na vore nie. Hulle het baanrekords. Dawid sou nie kans gesien het vir Goliat as hy nie reeds met die beer en die leeu slaags was nie. Spoedig het die baanrekord deur God se beskikking meer publiek geraak. Baanrekords gaan nou wel oor die verlede en nie oor die hede nie, maar gee tog dikwels belangrike aanduidings van die wortel waaruit die vrugte gedra word.
  • Gepraat van baanrekords, laat ons nie die voor die hand liggende mis nie. Die vereistes vir ouderlinge is baie goeie riglyne vir die keuse van leiers. Daar was ’n tyd dat mense gereken het dat een van die eerste vereistes vir ’n leier, geloofwaardige ouderlingskap was. Waarom het ons hierdie nugtere denkwyse versaak? Het dit dalk iets te doen met dualistiese besopenheid?
  • Leiers moet kan vlieg, bo-oor allerhande kleinlikhede, maar veral bo-oor naywer. Hulle moes al deur die meule gegaan het oor daardie groen saak wat selfs in die binnekring van die Here Jesus uitgebreek het: die vraag na wie nou eintlik die grootste is. Naywer word nie getoets ten opsigte van hulle wat swakker as jy vaar nie, maar ten opsigte van hulle wat beter as jy vaar. Die hoëres loer op die hoëres en leiers moet weet hoe om vry te bly van hierdie besmetting. Hulle moet ook besef dat die die glybaan van admirasie na afguns besonder glad en steil is. En kom ons sê dit reguit: Twee van die ironiese tekens dat ons nie vry van die besmetting is nie, is dikwels die volgende vroom frases: “ek gee nie om wat ander sê nie” en “dit gaan vir my hier oor niks anders as die beginsel van die saak nie.”
  • Leiers weet hoe om te inspireer voordat hulle instruksies deurgee. Hulle weet dat konserwatiewe en liberale wettisisme beide benoudheid veroorsaak. Inspirerende leiers is daarom vreugdevolle vegters wat ook kan veg vir vreugde. Skril tone en skel ondertone is gewoonlik sterk aanduiders dat die werwingskrag nie verder sal strek as die die plaaslike “fan club” nie.
  • Leiers begryp die verskil tussen beginsel en toepassing en tussen vastheid en variasie. ’n Beginsel is vas en oral en altyd geldig, maar toepassings nie. Toepassings en metodes kan varieer, sonder om noodwendig die beginsel prys te gee. Of jy nou vir iemand jou hoed afhaal of dit net oplig as jy iemand groet, maak nie soveel saak nie. Dát jy wel groet maak baie meer saak. Leiers wat toepassings verabsoluteer, snap dikwels nie die diepere beginsels nie en het oorgegaan van tradisie na tradisionalisme.
  • Ware leiers streef na 4D-visie op hul tradisie. Hulle lees oor vorige leiers van die tradisie (1D); hulle lees die leiers self (2D); hulle lees die leiers se bronne (3D); en hulle ontwikkel insig in vorige leiers se posisies in die denkstrome van die geskiedenis (4D). Hulle is bereid om te luister, te studeer en te besin totdat die eeue, tesame met hul eie konteks, vir hulle oopgaan. Hulle verstaan daarom die kuns om agter bepaalde toepassings van bepaalde tydvakke en leiers terug te vra na die onderliggende strome wat ter sprake is.
  • Leiers is nie lakeie van utopia-beheptes nie. Hulle bewandel die weg van reformasie eerder as revolusie. Hulle besef dat ware herstel ’n lang pad is, vol van inkrementele skuifelpassies Hulle ly nie aan koorsdrome van een of ander hemel op aarde wat hierdie kant van die graf net om die draai is nie.
  • Leiers is strategies. Dit is deel van hul werksbeskrywing. Hulle begryp ook die verskil tussen strategie en taktiek. Strategiese leiers is baie dun gesaai. Dit vra beginselvaste mense wat ook die konteks korrek kan lees. En konteks gaan nie net oor die onmiddellike situasie nie, maar ook oor die situasie anderkant die horison.
  • Leiers het werwingskrag, ook buite die kring van plaaslike sikofante. Hulle kan hul visie so uiteensit dat mense ver verwyderd van die binnekring, steeds aanvalle van resonansie beleef.
  • Leiers besef dat sogenaamde buite-die-boks denke baie maklik maar net in die volgende voorspelbare boksie kan beland. Hulle het wel ’n waardering vir nuwe modelle wat moontlik ou dooie punte kan deurbreek, maar redeneer hieroor eerder vanuit ’n lewende tradisie as naïef in diens van ’n verdagte tradisie.
  • Leiers besef dat oortuiging dikwels nie te doen het met logika nie, maar met persepsie. Wanneer mense eers aan ’n bepaalde persepsie of paradigma vashou, verbind hulle gewoonlik die kolletjies heel logies binne daardie raamwerk. Die eintlike uitdaging is dus om die persepsie deur oortuiging ten goede te verander. Leiers begryp dat jy hiervoor – naas etos, logika en patos – ook metafore, narratiewe en simbole in liefdevolle diensbaarheid moet inspan. Uiteindelik wil leiers nie net deugdelike norme promoveer nie, maar daarmee saam ’n hele tradisie van sang, stories, grappe, kookkuns, boustyle, omgee, en verwonderingskrete.
  • Leiers weet dat Christus se gesag die maatstaf is. Insig in gesag loop hand aan hand met geloof wat Christus eer (vgl. Mat. 8:10). As jy nie bevele kan gehoorsaam nie, is dit ook nie gepas dat jy bevele gee nie. Dit loop ook hand aan hand met die kenmerk van diensbaarheid. Hoe kan dit anders as Christen-leiers besef dat Christus nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Mk. 10:45).
  • Leiers begryp dat hoogmoed die vinnigste pad na ondergang is (Spr. 16:18). Hulle begryp ook dat mense wat ly aan verskuilde hoogmoed, maklik werklikheidsvreemd is. Die rede is eenvoudig: Wanneer ons onsself in die sentrum van alles opstel, is ons nie in lyn met hoe God die wêreld geskape het nie.
  • Leiers begryp ook dat enige ideologiese afgod in die sentrum van ons lewens daartoe lei dat ons uit voeling is met Hom wat eintlik op die troon is. Wanneer die lewende God nie in die sentrum staan nie, raak enigeen, ook leiers, vinnig uit pas met die werklikheid.
  • Leiers begryp dat daar veral drie groot afgode is wat enige voortrekker kan kelder: mag, geld, en begeerte. (vgl. Jak. 1:14-15). Leiers wat nie hul hart beter as hul huis bewaak nie, word maklik deur een van die bekende driemanskap oorrompel (Spr. 4:23).
  • Tyd vir ’n kragtige cliché: Die enigste leiers wat nie val nie, is hulle wat baie tyd op hul knieë deurbring.
  • Tyd vir ’n aanhaling: As jou dade ander aanspoor om meer te droom, meer te leer, meer te word, is jy ’n leier – John Quincy Adams.
  • Tyd vir borrelbars: Leiers is bereid om ook volgelinge te wees. Hulle lei net wanneer dit nodig is. Hulle stel nie daarin belang om soos Diótrefes altyd die eerste te wil wees nie (vgl. 3 Jn. 1:9).
  • Leiers moet dikwels bereid wees om te ly. Die rede is dat hulle dikwels sien wat ander nie sien nie; juis daarom dat hulle leiers is; juis daarom die verguising van leiers in die geskiedenis wat dikwels eers agterna geëer word, soms eers deur die volgende geslag(te). Juis daarom dat die volgende geslag weer so maklik die fout met hul eie leiers maak wanneer hulle vashaak by die vorige leiers se deurbrake. En die nuwe leiers bou voort, werk nie met geykte formules nie, maar poog eerder om die werklikheid met wysheid te betrag. Hulle sien, uit genade, iets van die groter prentjie, en verduur dikwels verguising wat gepleeg word in die naam van ’n vorige leier.
  • Leiers kom op baie fronte na vore. Ons het skynbaar vergeet dat jeugleiers se eerste naam ouers is. Daar is ook plaaslike leiers, provinsiale leiers en nasionale leiers. Daar is ook leiers wat uitstyg bo die eeue. Niemand kan hierdie waardigheid, en lyding, en mynveld van versoeking, vir hom- of haarself opneem nie. Dit word van Bo geskenk en die uitnemendste leiers streef juis nie na hoë dinge nie, maar voeg hul by die nederiges. Hulle besef dat daar ’n toekoms is waar laastes eerstes en eerstes laastes sal wees. Hulle blom daarom eerder waar hulle geplant is en laat hul weg aan Hom oor wat die beste weet. Ware leiers, op enige vlak, besef dat die grootste maatstaf in die toekoms lê – wanneer Christus sal sê of nie sal sê nie: “Mooi so … oor weinig was jy getrou…”
No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.