Geluk en gemeenskap – Prof. Danie Goosen

Foto: www.storybox.com.au


Hierdie artikel het eerste verskyn in die Orania Beweging se tydskrif ‘Rede’ en word met erkenning hier geplaas.


Volgens die VN se Wêreld Gelukkigheidsverslag wat onlangs vrygestel is, is Denemarke die “gelukkigste land in die wêreld.” Vandat die VN die eerste keer dié verslag in 2012 vrygestel het, is dit die derde keer dat Denemarke die eerste plek beklee.

Maar watter norme het die VN gebruik om tot hierdie gevolgtrekking te kom? Op grond waarvan oordeel die VN-verslag dat die Dene gelukkig is?

Nou, die bedoeling hieronder is nie om die bevindinge van die VN-verslag volledig in twyfel te trek nie. Sommige van die redes waarom die Dene gelukkig is, is immers baie betekenisvol. Kom ons kyk na slegs twee sodanige redes:

Eerstens, volgens die VN-verslag word die Dene deur ’n sterk sin vir gemeenskap gekenmerk. Dene reik uit na mekaar, sê die verslag. Nog meer, hulle sorg vir mekaar. Daarin lê een van die grootste redes vir hul geluk opgesluit.

Met betrekking tot hierdie saak bestaan daar goeie gronde om met die VN-verslag saam te stem. Om die waarheid te sê, enigiemand wat ’n sin vir gemeenskap het behoort dié rede as baie betekenisvol te beskou. Dit bevestig immers ’n saak wat gemeenskapsdenkers telkens beklemtoon: Wanneer mense vanuit hulle kulture geabstraheer en soos in die hedendaagse neo-liberale kultuur verindividualiseer word, word mense in eensaamheid en ongelukkigheid gedompel.

Kortom, gemeenskapsdenkers sê vandag tereg dat jou deel-wees-van ’n bepaalde gemeenskap of gemeenskappe ’n belangrike voorwaarde vir jou ervaring van geluk is. Die VN-verslag bevestig hierdie belangrike punt.

Tweedens, volgens die VN-verslag is ekonomiese welvaart nie die belangrikste oorsaak van geluk nie. Alhoewel ekonomiese welvaart nie onbelangrik is nie, is jou same-syn (of jou deel-wees-van ’n bepaalde gemeenskap of gemeenskappe) ’n veel belangriker maatstaf.

Ook hierdie saak is vir gemeenskapsdenkers van groot betekenis. Vandag beklemtoon ’n wye spektrum van gemeenskapsdenkers dat ekonomiese welvaart, ondanks die belangrikheid daarvan, nie die hoogste plek in die ranglys van maatstawwe beklee nie. Om tussen jou eie te wees, is belangriker as om te besit.

Daarmee sê ek nie, om die punt effens anders te herhaal, dat ons tussen die twee moet kies nie. ‘Gemeenskapsidentiteit’ en ‘ekonomie’ sluit nie mekaar uit nie. Inteendeel, geluk word deur beide moontlik gemaak, deur sowel ’n sin vir gemeenskap as goeie ekonomiese praktyke.

Bogenoemde gunstige opmerkings beteken egter nie dat die VN-verslag sonder probleme is nie. Alhoewel dit vir ons doeleindes onnodig is om hier in enige verdere detail by die verslag self stil te staan, moet genoem word dat die probleme daarin veral blyk uit die soort gemeenskapsbeskouing wat ten grondslag daarvan lê. Ter wille van ons doeleindes kan dit as die ‘emotiewe’ opvatting van gemeenskap beskryf word. Ons staan kortliks daarby stil. In die proses onderskei ons dit van wat as die ‘objektiewe’ opvatting van gemeenskap beskryf kan word. ‘Geluk’ beteken by elkeen van hierdie opvattinge iets wesenlik anders.

Wat word met die emotiewe opvatting van gemeenskap bedoel? Sonder om hierdie standpunt te veel geweld aan te doen, kan gesê word dat gemeenskap (en die geluk waartoe dit aanleiding gee) ’n saak van subjektiewe gevoelens is. Volgens die emotiewe opvatting speel gemeenskap daar af waar ek myself in gemeenskap met andere voel.

’n Voorbeeld van ’n emotiewe gemeenskap is wanneer ’n vreemdeling geld bedel en ek uit simpatie my kleingeld aan hom gee. In die oomblik dat die geld gegee word, voel ons beide ’n soort gemeenskap met mekaar aan: Ek vereenselwig my vir die oomblik met sy lot, en hy toon dankbaarheid daarvoor. As gevolg daarvan kan ons beide ook ’n sekere geluk ervaar.

Kenmerkend van die emotiewe gemeenskap is dat dit buite-om ’n gedeelde tradisie, kultuur- of taalgemeenskap kan afspeel. Nog meer konkreet, tipies daarvan is dat dit buite-om tradisionele gemeenskapsinstellings soos gesinne, skole, universiteite, regerings, kerke, ensovoorts, kan gebeur.

Trouens, vanuit ’n emotiewe gemeenskapsperspektief beskou, lê dinge soos gedeelde tradisies en tradisionele gemeenskapsinstellings ’n ‘egte’ gemeenskapsgebeure aan bande. Waarom? Want, lui die antwoord, genoemde dinge word deur allerlei gebruike, gewoontes, deugde en reëls gekenmerk. ’n Egte gemeenskapsgevoel daarenteen, sê die emotiewe opvatting, word deur ’n sekere spontaniteit gekenmerk. (Ek het immers nie noodwendig vooraf beplan om die geld te gee nie). Dit is ’n spontaniteit wat verlore gaan wanneer tradisies en hulle instellings die toneel betree.

Geen wonder dat gemeenskapstrukture deur die emotiewe opvatting as sekondêre en daarom ook dikwels as oortollige verskynsels beskou word. Gemeenskap in die egte sin van die woord kan ewe goed daarsonder gebeur.

In aansluiting by impulse wat reeds by iemand soos Jean-Jacques Rousseau uit die 18de eeu sigbaar is, het die emotiewe opvatting van gemeenskap in die sestigerjare van die vorige eeu tot ’n soort historiese hoogtepunt uitgegroei. Kenmerkend van die hippie-era was daarom ook ’n diepe wantroue in tradisionele instellings, omdat dit spontaniteit inperk, ‘outentisiteit’ beduiwel en in die pad van ons geluk staan. Daarom moet daarmee weggedoen word. Dit moet met ’n informele gevoelsopvatting van gemeenskap vervang word.

Alhoewel die sestigerjare lank nie meer met ons is nie, het talle eertydse hippies intussen hulle gewig by die neo-liberale wêreld ingegooi. Een van die talle gevolge is dat die emotiewe opvatting van gemeenskap steeds met ons is.

Hieraan knoop ’n laaste opmerking oor die emotiewe opvatting van gemeenskap. Kenmerkend daarvan is dat dit nie enige verduideliking gee van hoe ’n sin vir gemeenskap aan die nageslag oorgedra kan word nie. Gemeenskap speel eerder in die oomblik af. Hoe dit verder as die oomblik kan strek, val buite hulle gesigsveld. Geen wonder nie dat die emotiewe gemeenskap eintlik onhistories van aard is. In vele opsigte tree dit buite die geskiedenis en die samespel tussen verlede, hede en toekoms wat die geskiedenis altyd weer kenmerk.

Hopelik is die implikasie vir die tema van geluk uit hierdie enkele opmerkings duidelik. Ons kan dit voorlopig (maar nog ietwat abstrak) so saamvat: Ingevolge die emotiewe opvatting is geluk nie iets wat in en deur middel van tradisies en tradisionele gemeenskapstrukture moontlik gemaak word nie. Geluk is eerder ’n gevolg van dit wat spontaan in die oomblik afspeel.

Hierdie kort bespreking bring ons by die objektiewe gemeenskapsopvatting. Ons verwys ook na die plek wat geluk daarin inneem.

Alhoewel die objektiewe opvatting van gemeenskap nie iets soos spontane gemeenskapsvorming ontken nie, plaas dit die klem op tradisie en tradisionele gemeenskapstrukture. Gemeenskap word hiervolgens in en deur objektiewe dinge soos gedeelde tradisies (onder meer gedeelde godsdienstige, kulturele en ekonomiese tradisies) en in die besonder deur die gemeenskapstrukture van tradisies moontlik gemaak.

Gemeenskap is hiervolgens nie in die eerste plek ’n kwessie van gevoel nie. Gemeenskap word eerder deur die beoefening van ’n magdom van gebruike, gewoontes en deugde eie aan tradisies en hul veelheid van gemeenskapstrukture moontlik gemaak.

’n Tipiese voorbeeld hiervan is die wyse waarop gesin- en skoolstrukture die ruimte skep waarbinne gemeenskap tot stand gebring word. In gesinne en skole word individue ingelei in wat dit beteken om ‘in gemeenskap’ met andere te wees. Uit ons gesinslewe leer ons hoe om ons plek tussen grootouers, ouers, susters en broers vol te staan; uit ons skole leer ons iets soortgelyk uit ons verhoudinge met onderwysers, medeleerlinge en vriende.

Gesinne en skole, kan ons sê, is by uitstek strukture waardeur ons as gemeenskapswesens gevorm word. Sonder hierdie strukture is gemeenskap kwalik denkbaar. Ironies genoeg is dit ook waar van die emotiewe of spontane gemeenskap. Sonder gemeenskapstrukture sou laasgenoemde nie moontlik gewees het nie. En sou ek met ander woorde nie myself spontaan met die lotgevalle van onder meer armes verbind het nie. Dit is omdat ek in dié strukture met hul talle gebruike, gewoontes en deugde opgevoed is dat ek ook hoegenaamd myself spontaan met hulle lotgevalle kan vereenselwig.

In die mate waarin die emotiewe opvatting konsekwent deurgevoer en daar dus met objektiewe gemeenskapsinstellings sou weggedoen word (soos wat die destydse hippies onder meer bepleit het), in daardie mate word ’n sin vir gemeenskap jeens ‘andere’ juis verongeluk. Laasgenoemde is ’n insig wat in die VN-verslag oor geluk ontbreek. En die rede daarvoor? Omdat dit ideologies gesproke nog onder die invloed van die sestigerjare en die daaropvolgende neo-liberale era staan.

In die laaste deel van hierdie artikel staan ons nader by die verband tussen gemeenskap in bogenoemde objektiewe sin en geluk stil.

In die Klassiek-Christelike tradisie is gemeenskap inderdaad deur ’n objektiewe opvatting gekenmerk. Ook in ons tyd is daar verskeie denkers wat so ’n opvatting van gemeenskap handhaaf. Hannah Arendt, Alasdair MacIntyre en David Schindler is slegs enkele voorbeelde daarvan. Volgens hulle word gemeenskap deur ons deelname op ’n veelheid van ‘gemeenskapsverhoë’ moontlik gemaak.

Gemeenskappe word as gevolg van dié deelname aan die nageslagte oorgedra. Ook as gevolg van dié eienskap verskil die objektiewe opvatting van die emotiewe opvatting van gemeenskap. Laasgenoemde opvatting word nie, soos wat reeds hierbo genoem is, gekenmerk deur ’n bemoeienis met die oordrag van gemeenskap nie. Gemeenskap speel net in die oomblik af.

Maar hoe het dié tradisies oor die verband tussen gemeenskap en geluk nagedink?

Hier is dit belangrik om tussen twee soorte geluk te onderskei, naamlik geluk wat ons sonder ons eie toedoen ontvang, en geluk wat uit ons uitnemende handeling spruit. In die Klassiek-Christelike tradisie was daar altyd ’n noue samehang tussen hierdie twee vorme van geluk. Ons verduidelik:

Volgens die Klassiek-Christelike tradisie is geluk in die eerste plek nie iets wat ons aan ons eie inisiatief kan toeskryf nie. Geluk in die mees wesenlike sin van die woord is eerder iets wat ek buite-om my eie inisiatief ontvang. In die hart hiervan staan die Christelike skeppingsgedagte (wat in die Klassieke denke nog nie volledig aan die bod gekom het nie): Geluk is die gevolg van die feit dat ek die skepping as ’n geskenk vanuit die Goeie, die bron van alles, ontvang het. Geluk val hier met dankbaarheid saam. Geluk is ten diepste ’n uitdrukking van my dankbare antwoord op die geskenk wat die skepping self is, en nie iets wat ek vanuit my eie bronne opgewek het nie.

Daarby het die Klassiek-Christelike tradisie dit egter nie gelaat nie. Dit het ook ’n verdere vorm van geluk onderskei. As ons bogenoemde geluk (dit wil sê die geluk wat ons as’t ware toeval en wat dus nie aan ons eie inisiatief toegeskryf kan word nie) Geluk 1 kan noem, kan ons ook van ’n Geluk 2 praat. Waarna verwys dit?

Volgens die tradisie, tree Geluk 2 daar na vore waar ons in antwoord op die goeie skepping en by wyse van uitnemende handeling die goeie in alles wat ons doen, najaag. Geluk 2 tree met ander woorde daar na vore waar ons die goeie onderliggend aan byvoorbeeld die gesinslewe, die onderwys, die ekonomie, die landbou, ensovoorts, najaag. Wanneer ons dit uitnemend doen, val ’n tweede geluk ons te beurt.

Tussen die twee vorme van geluk bestaan daar ’n intieme band. Trouens, volgens die tradisie, sluit hierdie twee vorme van geluk in ’n soort sirkelbeweging bymekaar aan. Ons kan dit so formuleer:

Die sirkelbeweging waarvan hier sprake is, is ’n beweging sowel vanuit die Goeie asook ’n terugkeer daarna. Geluk 1 is ’n gevolg van die feit dat ons ons werklikheid uit die Goeie ontvang het. Geluk 2 daarenteen spruit uit ons uitnemende nastrewe van die goeie (nie net die goeie in alles wat ons doen nie, maar uiteindelik ook die Goeie self, die bron van alle dinge).

Volgens die tradisie kan die werklikheid self met ander woorde as ’n sirkel van geluk beskryf word. Of nog beter, ’n uitkringende spiraal van geluk. In die beweging vanuit en terug na die Goeie word geluk immers steeds meer uitgebrei en vermenigvuldig – in so ’n mate dat die ganse werklikheid einde ten laaste deur ’n grondliggende vreugde gekenmerk word. Geen wonder dat Augustinus na aanleiding daarvan die kosmiese geheel van dinge as ’n musikale gebeurtenis beskryf het nie.

As sodanig verskil die Klassiek-Christelike tradisie op ’n wesenlike wyse van hedendaagse denkers, wat na die ganse werklikheid as ’n koue, verlate en leë werklikheid verwys – ’n werklikheid wat nie vreugde ontlok nie, maar eerder totale onverskilligheid. Dit is egter ’n storie vir ’n ander keer.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.