Gemeenskapsinstellings – ’n Skans teen oorweldigende staatsmag

deur  Christoff van Wyk 

np-van-wyk-louw-gemeenskap1


Afrikaners het die afgelope eeu, onder andere in twee slagysters getrap. Eerstens het hul afgewyk van hul tradisioneel, desentralistiese republikeinse gedagte (soos in die Boererepublieke van ouds) in ruil vir ’n meer sentralistiese staat waarvan die eerste tree gegee is met die Uniewording in 1910. Tweedens het hul dié sentralistiese staatstelsel, tydens die oorgang van apartheid na demokrasie, net so oorhandig aan ’n swart meerderheid wat hul in wese, ten spyte van baie beloftes, nie goedgesind was nie. Afrikanergemeenskappe het dus vir ’n tyd lank eers stadig hul politieke mag verloor en toe in 1994 bykans oornag.

Om hierdie situasie vir Afrikaners om te keer, is onmoontlik binne die bestaande opset. Daar moet dus na alternatiewe opsies gekyk word, nie slegs vir Afrikaners se voortbestaan in Suid-Afrika nie, maar vir alle kultuurgroepe.

Verlede jaar het Johann Rupert in ’n toespraak tydens ’n geleentheid van die FW de Klerk-Stigting daarna verwys dat die regering nie ’n land so kompleks soos Suid-Afrika kan regeer sonder die hulp van die burgerlike samelewing en die privaat besigheidsektor nie.

Tans sien ons dat die vryheid van die burgerlike samelewing en private sektor toenemend ingeperk word deur ’n staat wat al hoe meer mag in homself sentraliseer deur middel van wetgewing en die koöptering van voorheen vrye organisasies en instellings. Ongelukkig misbruik die staat hierdie mag om sy eie sosialisties-kommunistiese ideologie af te dwing, met verrykende gevolge op vele terreine.

Die vraag ontstaan nou, wat kan die burgerlike samelewing en die privaat sektor hieromtrent doen? Of, is meeste van ons besig om vir die staat te wag om ons uit die gemors te kry waarin ons is?

Kan gewone individue regtig weer ’n verskil maak?

Die kort antwoord hierop is, ja.

Maar dit gaan vereis dat ons ’n ander paradigma sal moet aanneem met betrekking tot die aanvaarde verhouding tussen staat en individu soos vervat in ons huidige bestel. Dit gaan moeilik wees, maar dikwels in ’n krisistyd is daar nie ’n ander uitweg nie, en ons is definitief nou in ’n krisis.

Die huidige formaat van politiek waarin ons as Suid-Afrikaners ons bevind, blyk al hoe meer problematies te wees. Die demokratiese omwenteling wat postapartheid plaasgevind het, met stemreg vir almal, het ’n illusie geskep dat probleme ‘reg’-gestem kan word. Hierdie indruk is versterk deur aanvanklike blyke van sukses en stabiliteit. Maar die krake het mettertyd begin wys. Afrikaners en ander minderhede het met skok verneem dat ten spyte van verskanste regte soos vervat in die Grondwet, politieke mag nou soms die botoon voer en selfs op ongrondwetlike wyses teen hulle ingespan word.  Die beskerming wat die Grondwet moes bied oor kwessies soos taal en kultuur is glad nie meer gewaarborg nie.

Onder die meerderheid swart Suid-Afrikaners, en veral die jeug, vind ons tans ’n onrusbarende getal gewelddadige opstande wat plaasvind en waaroor die meeste deesdae nie eers meer berig word nie. Vir hierdie miljoene mense het die beloofde werk en die ‘beter toekoms vir almal’ nog nooit gerealiseer nie, al het hulle ‘reg’ (lees ANC) gestem. Dus, in konklusie, kom die populêre slagspreuk van ‘Vote for change’ eintlik maar net neer op hoogstens ’n verandering in die regerende politieke party, en los dit Jan en alleman steeds magteloos.

Robert Nisbit, die bekende Amerikaanse sosioloog, het in sy voortydige werk Quest for community, die volgende geskryf: “The real conflict in modern political history has not been, as is so often stated, between State and individual, but between State and social group.”

Ek stem met hom saam, al maak die stelling aanvanklik nie sin nie.

Lord Acton se uitsonderlike werk History of freedom behoort in hierdie verband meer lig te werp. Hy skryf die volgende: “It (die Staat) recognizes liberty only in the individual, because it is only in the individual that liberty can be separated from authority, and the right of conditional obedience deprived of the security of limited command.”

Wat Lord Acton hier sê, en wat ook aansluit by Robert Nisbit, is dat die staat oor die algemeen (en ook spesifiek in Suid-Afrika) moeite daarmee maak om alle vorme van gesag wat gesetel is in gemeenskapsinstellings soos gesinne, kerke, skole, universiteite en dies meer, te vernietig of te neutraliseer. Die rede hiervoor is omdat dit baie makliker is om mag te vervreem van die individu wat deur sy illusie van vryheid dit weggee (bv. deur die reg om te stem), in teenstelling met sterk gemeenskapsinstellings wat in ’n baie groter mate die verteenwoordigende wil van individue versinnebeeld.

’n Groot deel van die oplossing lê dus daarin om tradisionele instellings soos die gesin, die kerk, die skool, universiteite en ander instansies van vry assosiasie weer te begin opbou en versterk. Hierdie tipe gemeenskapsinstellings behoort die kern te vorm van ’n nuwe denkraamwerk rondom die terugwin van mag vanaf die staat.

Ons sien vandag dat meer en meer gemeenskaps- en burgerlike instellings tot stand kom en dat daar werklik sukses behaal word. Maar, daar moet steeds meer gedoen word omrede die stig van nuwe gemeenskapsinstellings en die mobilisering van gemeenskappe rondom hul eie belange, teen die grein ingaan van die huidige sosiale en kulturele diskoers.

In ons moderne kultuur van hiperindividualisme is ons wys gemaak dat solank ek as individu oor sekere regte beskik wat grondwetlik of andersins verskans is, ek veilig gaan wees. In praktyk het dit nie so uitgewerk nie en alhoewel ons die gevolge hiervan al hoe meer aan ons lywe voel, is die natuurlike reaksie steeds staats-/polities georiënteerd in plaas van gemeenskapsgeoriënteerd.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die nuutgestigte atletiekassosiasie FASA (Forum for Athletes South Africa). Dit is ’n organisasie met vrywillige lidmaatskap wat poog om weer ’n stem te gee aan Suid-Afrikaanse atlete wat deur swak staatsinstellings ontneem is van hul regte en potensiaal. Hierdie tipe organisasie staan presies in lyn met die argumente vir gemeenskapsinstellings soos hierbo uiteengesit.

Indien ons dus waarlik ’n verskil in ons land wil maak, gaan dit van ons as gewone burgers verg om uit ons gemaksones te beweeg en betrokke te raak by gemeenskaps- en burgerlike organisasies. En waar hierdie organisasies nog nie bestaan nie, sal ons hulle moet stig en daadwerklik begin verantwoordelikheid neem vir ons eie toekoms.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.