Vakansietyd is gesinstyd – Evelyn Ferreira

 

“In die polities korrekte tye waarin ons leef, het dit ongewild geraak om te sê ons “trek laer!”, maar ’n gesin wat die term reg verstaan, weet hoe om sy gesinseenheid te beskerm. Hy versterk homself voortdurend intern en die lede steun mekaar onvoorwaardelik, want waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit.”

 


“Ek het hulle daar tussen die varings gesien, Mamma!” roep my driejarige seun tydens een van ons gesinsvakansies ’n hele aantal jare gelede. Ons huur ’n houthuis met ’n groot stoep wat uitkyk op ’n varingwoud by Nature’s Valley. Aan die een kant die berg met sy digte plantegroei met huise versteek tussen die bosse en hoë bome en aan die ander kant die see. Jy stel jou voor die hemel kan miskien net so lyk. Dalk ’n ietsie mooier en nog meer fantasties.

Ja, dis ’n elfie en ’n paar feetjies wat hy van die stoep af tussen die varings gesien het. Ons het dan vir hom gesê hy moet op die uitkyk wees vir hulle. Ons praat vandag, amper vyf-en-twintig jaar later, nog met hom as jongman oor hierdie fantasie-ervaring. En hy wil dit net so onthou… presies so. Dit was vakansietyd, gesinstyd. Gesinsvakansies is mos onthoutye. Ons onthou die vroegoggende se saam see toe gaan en die terugkom so teen tienuur se kant vir ’n lekker groot ontbyt om dan weer vroegaand, as die son sak, die vuur aan te steek vir die aand se kosmaak. Dan was daar tafeltennis, rugsakstap op die vele bergpaadjies en saamkuier met die Transvaalse familie.

As kind was dit weer saam met my ouers ’n paar keer Jeffreysbaai toe. Ek wat ’n joernaal hou oor gebeure en ervarings – gewoonlik met ’n goeie skeut humor wat uitsluitlik bedoel was om my drie susters se siel uit te trek. Ek loop onlangs een van my “vakansiepublikasies” raak. My koerantjie het selfs ’n naam en die berigte is in eg joernalistieke styl geskryf! Met uitknipsels uit tydskrifte om as foto-“bewyse” te dien van gebeure. Ek onthou weer wie ek toe was en waaroor ek gedroom het. Party drome het nooit waar geword nie; ander is nogal nie ver van bewaarheid af nie. Ek onthou ons standaard gesinsgrappies en uitdrukkings wat tot vandag toe nog deel is van ons gesin se eiesoortige gesinstaal. En so bly gesinsvakansies een van die hoogtepunte uit my kinder- en jeugdae. Daarsonder sou ek nie die herinneringe gehad het wat ek vandag het nie en daarsonder sou ek nie gewees het wie ek vandag is nie. Die interessante is dat ’n mens nie alles in besonderhede onthou nie, maar jy weet dit was iets wat julle as gesin op ʼn besondere manier aan mekaar gebind het. Dit was nie net onthoutye nie, dit was veral ook vormingstye en tye waarin julle as gesinslede by wyse van spreke die “geledere gesluit” het.

Wanneer ’n mens oor ’n onderwerp soos hierdie skryf, is jou eerste reaksie om, soos ek, weg te spring en oor jou herinneringe te skryf. Daarna beland jy egter in die versoeking om die leser te waarsku teen dié dinge wat ’n gesin nie in vakansietyd behoort te doen nie. Hierna volg daar dan gewoonlik ’n aantal wenke van wat “die regte ding is om te doen”. Dis nou as gesinstyd vir jou belangrik is.

Maar wat is jóú unieke plek in die gesin waarvan jy deel is? Dis gesond om gereeld hierdie soort vrae aan jouself te stel. Daar is meer mense as net jyself by hierdie gesinsverbintenis betrokke en uiteraard het julle elkeen ’n verantwoordelikheid om hierdie bousteen van die gemeenskap maksimaal te laat werk. Maar dan nie noodwendig teen die moderne lewe se spoed nie. Inteendeel, vir gehalte gesinstyd moet jou spoed juis in vakansietye gebreek word!

Wat my by vakansietyd bring. Hier is geleentheid vir die gesin, wat in die vinnige maalstroom van ons tyd beweeg, om doelbewus af te skaal, rustiger te word en ’n slag weer verlore perspektief te herwin. Maar soms voel ek agterna die vakansie is verby en ek het steeds ’n hol kol op die maag. Die vakansie is verby en ons was maar net op ’n ander plek as die huis en dit het ons báie gekos! Ons het ’n paar nuwe dinge gesien, op ’n paar plekke gaan uiteet en miskien die jongste trekpleister op die een of ander vakansieplek gaan beleef, maar wat ons eintlik gedoen het, was om ons gejaagde lewe net op ’n ander plek te gaan voortsit. Of miskien was die vakansie júís lekker omdat ons iets “anders” op ’n ander plek gaan doen het. Wie weet? Wat wel waar is, is dat nie alle gesinsvakansies in die ware sin van die woord gesinsvakansies is nie.

Hoe kan ’n mens na ’n vakansie sê dat jy en die mense saam met jou ’n ware gesinsvakansie gehad het? As genoeg gesinstyd die maatstaf was, sal ons ’n paar vrae vir onsself wil beantwoord:

  • Wat beskou ons gesin as gesinstyd? Hiermee bedoel ek elke lid van die gesin. Of is dit net ’n mooiklinkende term wat ons gebruik?
  • Verstaan elkeen sy verantwoordelikheid teenoor die res van die gesin om “gesinstyd” te laat werk soos dit moet?
  • Het elke gesinslid die geleentheid wat vakansies as gesinstyd bied, benut en dit werklik geniet?
  • Wat van ’n Bybelse opdrag? Wat sê die Bybel oor die Christen en rus saam met sy gesin?
  • Het hierdie “gesinsvakansie” enige verskil gemaak? Het dit ’n verskil gemaak aan ons gesinsverhoudinge; het ek my kind of huweliksmaat of ouer beter leer ken en hy of sy vir my? Het ons groter waardering vir mekaar na afloop van die vakansie? Verstaan ons gesin ons rol as gemeenskap in die kleine nou beter?

In die polities korrekte tye waarin ons leef, het dit ongewild geraak om te sê ons “trek laer!”, maar ’n gesin wat die term reg verstaan, weet hoe om sy gesinseenheid te beskerm. Hy versterk homself voortdurend intern en die lede steun mekaar onvoorwaardelik, want waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit.

Daar is ’n magdom inligting en goeie wenke tot ons beskikking oor hoe sulke vakansies kan lyk. Afhangende van die gesinsamestelling, veral wat ouderdom betref, lees ek van saam kosmaak, pretpark- of dieretuinbesoeke, plaas toe te gaan (as jy bevoorreg is om dit te kan doen) of vir die plaasmense om ’n bietjie die stad te kom beleef, fliek, teater, waterpret, uitkamp, stories langs ’n kampvuur, baie lag, ver ente stap, om die see en die sand te geniet, om saam te sing as dit iets is wat julle geniet en veral as daar musikales in die gesin is wat ’n musiekinstrument of twee kan bespeel, om tyd te maak vir huisgodsdiens, om te praat oor tradisies en om rekord te hou van al die lekkerte met foto’s of ’n plakboek of, ja, ’n gesinskoerantjie! Kersvakansies en Paasvakansies bied weer die geleentheid om op die tradisie en ware betekenis van die Christus se geboorte, lyding, sterwe en opstanding te fokus.

En net toe jy dink ek laat die TV uit, toe is jy reg! Ek laat hom uit… Nou ja, as daar ’n rugbytoets is, kan ons maar seker gou by iemand anders gaan kyk wat die telling is!

Laastens, op dae soos Moedersdag het my ma, as ons haar gelukwens, gesê: “Dankie my kind, maar elke dag moet Moedersdag wees”. So behoort elke behoort by wyse van spreke soos ’n vakansie met “gesinstyd” te wees. Dit behoort ’n leefwyse te word ten spyte van die tempo waarteen ons leef. Miskien moet ons as gesin besluit hoe ons ons eie lewenstempo kan bepaal sodat vakansietye ’n opwindende voortsetting van gesinstyd is wat in elk geval in die gewone gang van sake by ons gesin ’n leefwyse is.


Evelyn Ferreira werk tans as konsultant vir die FAK. Hy het al diep spore getrap binne die onderwys asook die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld. Hy is ‘n begaafde musikant met ‘n voorliefde vir orrel en klavier asook koorsang. Sy meestersgraadstudie het gehandel oor die geskiedenis van die NG Gemeente Tulbag. Hy is tans besig met doktorale studies met ‘n kultuurhistoriese inslag. Sy onderwerp fokus op aanpassingspatrone by kultuurorganisasies in ‘n veranderende politieke en kulturele milieu. Hy is getroud met Marianne en hulle het twee seuns.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.