Godsdiens in ons skole – Prof. Danie Goosen

Die Afrikaanse ouergemeenskap is gereed om in die maande wat kom sterk weerstand te toon teen pogings om die Christelike grondslae van ons skole te verwyder. Uit die reaksie vanuit verskillende oorde is dit duidelik dat ons mense oorweldigend ten gunste van die behoud van dié grondslae is.

En laat daar geen twyfel wees nie, die FAK ondersteun ons ouergemeenskap ten volle. Die FAK staan nie ‘neutraal’ ten opsigte van die godsdienstige grondslae van ons skole nie. Inteendeel, ons weet dat opvoeding die heel beste vanuit dié grondslae geskied. Daarom is dit ook vir ons van die grootste belang dat die Afrikaanse ouergemeenskap sy stem oor hierdie aangeleentheid sal laat hoor.

Nogtans is daar enkele sake wat in die maande wat kom deeglik in ag geneem sal moet word. Dit hou verband met die prinsipiële uitgangspunte ten grondslag van die gesprek (en wat ongelukkig nie altyd in die openbare gesprek gehoor word nie). Indien hierdie uitgangspunte in ag geneem word, kan dit ons goeie en legitieme saak ondersteun:

  1. Ten grondslag van die gesprek staan ’n oeroue teoretiese vraag, naamlik die vraag na die verhouding tussen godsdiens en wetenskap, geloof en rede, kerk en skool. Hoe moet hierdie verhouding bedink word?

Ons gaan uit van die standpunt dat die stryd rondom godsdiens aan ons skole die beste gevoer sal word indien genoemde vraag vanuit die tradisie van gebalanseerde teologiese denke beantwoord word. Wat is dié antwoord?

As dit bondig opgesom kan word, kan ons sê dat dié verhouding tot sy reg kom wanneer sowel die verskil as die samehang tussen geloof en rede, godsdiens en skool, gerespekteer word. Hiervolgens verskil geloof en rede nie net nie, maar is hulle tegelyk ook wedersyds van mekaar afhanklik.

Waarom? Ook daarop kan bondig geantwoord word: Indien die geloof van die rede losgemaak (of radikaal geskei) word, loop dit die risiko om ernstig verskraal te word. Geloof verval dan dikwels in ’n blote emosie, maar dikwels ook in ’n irrasionele fundamentalisme.

Maar die teenoorgestelde is ook waar, indien die rede van die geloof losgemaak word, loop dit eweneens die risiko om verskraal te word. Die rede verloor dan sy sin vir die onverklaarbare, en verword dikwels tot ’n blote magsinstrument waarmee ons die natuur na willekeur manipuleer, boelie en verrinneweer.

As ons hierdie enigsins teoretiese uitgangspunte binne die konteks van die skole-kwessie kan vertaal, kan ons sê dat ons skole die beste gedien sal word as genoemde verskil én samehang gerespekteer word. Alhoewel skool en godsdiens nie dieselfde is nie (en die verskil tussen hulle gerespekteer moet word), het hulle mekaar tegelyk nodig. Sonder hulle samehang word beide verskraal.

Sonder ’n godsdienstige grondslag loop ons onderwys die risiko om rigtinglose mense op te lewer wat slegs hul eie private belange opsoek; en sonder ’n grondslag in die redelike loop ons skole eweneens die risiko om werklikheidsvreemd te word en in ’n geslote enklave terug te trek.

  1. As die gesprek oor die toekoms van die Afrikaanse skole vanuit bogenoemde uitgangspunt vertrek, kan twee uiteenlopende (maar onderling aansluitende!) standpunte in die gesprek vermy word.

Ons verwys na sowel die sekulêre (dikwels selfs ateïstiese) standpunt van diegene wat vyandig staan teenoor die godsdienstige grondslae van ons skole; en diegene wat – in antwoord op die sekulêre standpunt – hul toevlug tot een of ander vorm van godsdienstige geslotenheid (of fundamentalisme) neem.

Vanuit bogenoemde uitgangspunt beoordeel, kan daarop gewys word dat sowel die ‘sekulêre’ as die ‘godsdienstig-geslote’ standpunt dieselfde denkfout begaan, naamlik om telkens klem te lê op slegs óf die rede óf die geloof (in plaas daarvan om sowel hul verskil as samehang te respekteer.)

Trouens, daar kan met reg daarop gewys word dat genoemde twee standpunte (die sekulêre en die godsdienstig-geslote standpunte) vandag juis op mekaar teer: Hoe sterker die een op die voorgrond tree, des te sterker word sy teenpool opgeroep om homself daarteen te verdedig. So hou die sekulêre standpunt en die godsdienstig-geslote standpunt mekaar in stand.

’n Tipiese voorbeeld hiervan is die polemiek wat die sogenaamde ‘nuwe ateïsme’ veroorsaak: Hoe sterker die godsdienstig-geslote standpunt word, des te sterker word die ateïstiese standpunt verkondig (en andersom). Hierdie gebeure rus op ’n verkeerde vooronderstelling, naamlik dat hierdie houdings alternatiewe vir mekaar sou verteenwoordig. In werklikheid is hulle spieëlbeelde van mekaar. Beide aanvaar immers ’n skerp skeiding tussen ‘geloof’ en ‘rede’. Hul verskil slegs oor watter een van die twee kragte uitgesonder moet word.

Bykans elke argument wat tans vanuit sekulêre kringe teen die Afrikaanse skole gevoer word, word juis deur hierdie uitgangspunte gevoed. Hul argumente teer op die verkeerde insig dat die Christelike grondslae van die skole noodwendig met een of ander vorm van godsdienstig-geslote standpunt saamval.

Wat is ons punt? Die FAK is daarvan oortuig dat ’n apologie vir die Christelike grondslae van ons onderwys die heel beste sal geskied indien dit in ’n gebalanseerde opvatting van die verhouding tussen ‘geloof’ en ‘onderwys’ gegrond is.

  1. Ons het goeie rede om te dink dat talle van die argumente wat in die volgende maande gehoor sal word, sal draai rondom die belangrikheid van die gedagte van ‘keusevryheid’ – hetsy die keusevryheid van die beheerliggaam (veral by diegene wat die Christelike grondslae wil handhaaf) of die keusevryheid van die individu (by diegene wat ’n neutrale houding van skole verwag).

Nou, dit is waarskynlik onvermydelik dat keusevryheid in die ‘stryd om die skole’ ’n belangrike rol sal speel. Keusevryheid het immers een van die heel belangrikste ideologiese slagspreuke van die hedendaagse wêreld geword. Letterlik alles word ’n funksie van my eie keuse, vanaf my verbintenis tot ’n bepaalde familie, taal, kultuur en godsdiens tot en met die soort produk wat ek van die rakke koop. En in hierdie geval die keuse om onderrig met of sonder Christelike uitgangspunte te ontvang.

Afrikaanse skole moet egter onthou dat dit hier oor veel meer as net ons keusevryheid handel. Alhoewel ons nie die belangrikheid van ons keusevryheid onderskat nie, gaan dit hier nie net oor ons keuses nie, maar oor die veel belangriker vraag na ons wese, ons identiteit, of ons bestaan as sodanig. Laasgenoemde is nie net kragte wat ek kies nie, maar eerder kragte wat my stempel, vorm en maak. Alvorens ek enige keuse uitgeoefen het, het hulle reeds my wese gevorm.

Ons kan sê dat genoemde dinge (ons godsdienstig-kulturele erfenis) kragte verteenwoordig wat ons keuses voorafgaan, en selfs moontlik maak. Dit is immers in en deur genoemde erfenis dat daar hoegenaamd iets soos ‘keusevryheid’ na vore kon tree. Indien ons dus maak asof ons keusevryheid hierdie kragte voorafgaan (wat gebeur wanneer alles in die argument rondom ons keusevryheid draai), onderskat ons wat werklik hier op die spel is, naamlik ons wese.

Kortom, die saak waarom dit hier gaan, handel nie net oor ons keusevryheid nie. Ten diepste gaan dit oor die vraag: ‘wie is ons’? En dit is ’n vraag wat ons keusevryheid voorafgaan.

  1. Die grootste swakpunt in die sekulêre standpunt lê in die aanspraak dat dit skole wil hê wat godsdienstig ‘neutraal’ is, en dat hulle ‘verdraagsaamheid’ nastrewe. Ons hoop dat in die gesprek oor die toekoms van ons skole hierdie swakpunt deeglik aan die kaak gestel sal word.

In weerwil van wat sekulêre voorstanders van ’n godsdienstig-neutrale skool ook mag voorgee, is daar nie iets soos ’n godsdienstig-neutrale standpunt nie. Dit is ook van die sekulêre standpunt self waar! Alhoewel hulle vanuit ’n standpunt ‘buite-om’ die godsdiens wil praat, is dié standpunt self godsdienstig van aard! Waarom? Omdat ’n saak soos die neutrale ‘buitekant’ vir alle praktiese doeleindes self as godsdienstige verwysingspunt optree ingevolge waarvan alle ander standpunte beoordeel word.

Hier het ons met ’n volledige kontradiksie in die sekulêre standpunt te doen. Sonder uitsondering maak volledige sekulariste teen die godsdienstige grondslae van ons skole beswaar, omdat dit ‘onverdraagsaam’ teenoor die andersdenkendes (of ongelowiges) sou wees. Maar in die mate waarin hulle eie standpunt self godsdienstig-teologies van aard is, in daardie mate dwing hulle – alles in naam van verdraagsaamheid! – juis hul eie standpunt aan andere op.

Die werklik kritiese vraag is daarom ook nie wat die verhouding tussen die tradisionele Christelike en die sekulêre aan ons skole moet wees nie, maar eerder die vraag hoe die veelheid van godsdienstige standpunte (soos die Christelike meerderheid en die ‘sekulêre’ minderheidstandpunt) binne een en dieselfde skool tuisgemaak kan word.

En die antwoord daarop moet gesoek word in sowel ’n respek vir die Christelike identiteit van die meerderheid (en die behoefte om dit te handhaaf) as vir diegene (onder meer die sekulêre identiteit) wat per geleentheid daarvan verskoon wil word.

  1. Dit bring ons by ’n laaste punt. Dit is nou reeds duidelik dat die gesprek oor die toekoms van ons skole grootliks binne die raamwerk van die grondwet sal afspeel. Voor- en teenstanders van die behoud van die Christelike aard van ons skole gaan hulle op verskillende artikels in die Grondwet beroep. En dit is ook goed so.

Maar die saak waarom dit hier gaan, is veel meer as slegs ’n grondwetlike kwessie. Die wese van ons godsdienstig-kulturele erfenis is immers hier op die spel. Wanneer ’n hofstryd oor hierdie saak gevoer gaan word, sal die hele saak binne die ruimte afspeel wat die staat daarvoor bied. Daarmee loop gemeenskappe die risiko om dit in die hande van die staat te plaas. Kan dit bekostig word?

Gemeenskappe is die draers van ons godsdienstige-kulturele erfenisse. Vanuit die perspektief van ons gemeenskappe beoordeel, kan daar nie toegelaat word dat die toekoms van dié erfenisse uitsluitlik in die hande van die staat gelaat word nie. Trouens, ten diepste is ons gemeenskappe self vir ons godsdienstig-kulturele erfenis verantwoordelik. Daarom is dit so belangrik dat die stem van ons gemeenskappe in hierdie saak gehoor word. Indien ons gemeenskappe swyg, is daar die dreigende moontlikheid dat die staat daarin die geleentheid sal sien om sy eie – homogeniserende en sogenaamd neutrale – stempel op ons skole af te dwing.

Tags: , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.