Hoe belangrik is Afrikaans in die huidige Suid-Afrika? – Prof. Heilna du Plooy

NP van Wyk Louw Afrikaans liefde

Foto: judithkamffer.com


Hierdie artikel word geplaas met toestemming van prof. Heilna du Plooy en met erkenning aan die Gereformeerde Kerk se maandelikse tydskrif, Die Kerkblad, waar hierdie artikel eerste verskyn het. Prof. du Plooy is verbonde aan die Navorsingseenheid: Tale en Literatuur van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Identiteit en die werking van taal

Wanneer ’n baba gebore word, neem so ’n mensie aanvanklik bloot sintuiglik waar, beelde en kleure, lig en donker, geluide, temperatuur, sag en hard, koud en warm. Die inligting is egter amorf en intuïtief: dit is eers wanneer die kind taal aanleer dat hy die kennis en inligting waaroor hy beskik en wat hy verwerf, prakties kan gebruik en daaroor kan kommunikeer. Dit is asof taal die inligting in die brein en selfs in die onderbewuste struktureer en dit bruikbaar maak. Daarom sê psigoanalitici dat die mens se psige en onderbewuste soos sy taal gestruktureer is. Hierdie strukturering sluit in sowel die woordeskat, dit wil sê die name van dinge, as die verhoudinge tussen dinge en die assosiasies wat aan die woorde wat die konsepte aandui, kleef. Hierdie strukturering maak konseptualisering moontlik en verskaf die instrumente, die woorde, én die taalpatrone, die sintaksis, waarmee die mens sy psigiese inhoude hanteer en waarmee hy dus sy werklikheid beheers.

 

Dit is op grond van hierdie werking van die verhouding tussen psige en taal dat aangedring word op die waarde van die eerstetaal, oftewel die moedertaal, in onderrig. Die kind kan nuwe inligting en konsepte laat aansluit by bestaande konseptualisering en daarop voortbou. Die eerste taal wat mens leer en wat jy dominant gebruik, is daarom ook ’n onmiskenbare en onontkenbare aspek van jou identiteit, van jou menswees self.

 

Hoe meer gesofistikeerd ’n taal is, hoe meer kan die taal doen en hoe meer help die taal om mense se verstandelike vermoëns te ontwikkel. Mense maak die taal en die taal maak die mense. Hoewel die aanleer van meerdere tale mense se vermoëns uitbrei en vergroot, het navorsing ook bewys dat dit die beste en selfs noodsaaklik is as die basiese konseptualisering in een taal goed gevestig is voordat ’n nuwe taalsisteem funksioneel en effektief gebruik kan word. Dan word die tweede en derde taal ’n uitbreiding en ’n verryking.

 

Die huidige debat oor Afrikaans is ’n suiwer politieke debat wat wetenskaplike inligting oor taal, oor taalontwikkeling, leer en taalbeleid soos dit internasionaal verstaan word, buite rekening laat. Die taal het ’n instrument geword in ’n politieke magspel wat alle fasette van ons lewe wil oorheers. Die stemme wat taalwetenskaplike en taalpsigologiese inligting aan die orde probeer stel, word gerieflikerwys nie gehoor nie.

 

Dit is egter wêreldwyd ’n aanvaarde aanname dat taalregte ’n basiese mensereg is en dat geen mens van sy taal ontneem mag word nie. Die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm hierdie reg, maar die politieke wil om dit in die werklikheid waar te maak, ontbreek.  Die een se reg om in sy moedertaal te leef, te studeer en te werk, word oorheers deur ’n meerderheidsaandrang op ’n ander taal. Hierdie felle debat laat mense oorreageer en bring hulle daartoe om pragmaties te dink, maar die prys wat daarvoor betaal word, is onuitspreeklik groot.

 

 

Die status van die taal

’n Taal se status word bepaal deur drie faktore, die statistiese feite en gegewens, die siening van die sprekers van die taal oor die taal en oor hulleself, en die siening van mense van buite oor die taal en die sprekers van die taal. Afrikaans vaar uitstekend op die eerste punt: daar is tussen 6 en 7 miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans en nog ongeveer 5-6 miljoen mense wat dit as hulle natuurlike tweedetaal beskou (in Noorweë is daar net 5 en ’n half miljoen Noorweërs wat Noorweegs praat). Van die moedertaalsprekers van Afrikaans is meer as die helfte nie wit nie, sodat dit inderdaad en funksioneel ’n multikulturele moedertaal is. Die taal kan alle hoë funksies vervul, in die onderwys, in die reg en die ekonomie, in die wetenskap van alle dissiplines en dit beskik oor ’n dinamiese literatuurskat van hoë gehalte. Die taal ontwikkel steeds in al sy variante en beskik as ’n besonder soepel moderne taal by uitstek oor die vermoë om te groei en alle nuwe terreine van bestaan te kan verwoord.

Tog verkies baie mense tans, op grond van pragmatiese redes en onder politieke druk, om hierdie feite te ignoreer en Afrikaans al hoe minder te gebruik sonder om te besef wat hulle daarmee prysgee.

Afrikaanssprekendes  het in die tweede plek nog altyd baie positief gevoel oor Afrikaans, maar tans is baie mense geneig om die taal prys te gee, weer eens dikwels uit politieke korrektheid of op grond van een of ander oordrewe skuldgevoel. Dit is wel ’n ander debat, maar ’n taal op sigself kan tog nie skuldig wees weens die historiese gedrag van sommige van sy sprekers nie (niemand het nog ooit daarop aangedring dat Duits of Engels van die aardbol af verdwyn weens misdrywe op politieke vlak en in oorloë in die verlede nie).

Die derde punt is egter Afrikaans se groot probleem: mense buite die taal gebruik dit tans as ’n politieke instrument en kry inderdaad baie politieke myle daaruit om Afrikaans te verketter en te stigmatiseer ter wille van hulle eie politieke magstrewes.

Indien Afrikaanssprekendes van alle kleure en uit alle gemeenskappe nie self vir Afrikaans in die bres tree deur die taal te gebruik op sosiale vlak en in die werksplek in elke bedryf en beroep nie, kan die taal kwyn en inderdaad sterf.

Dit is naïef om te dink dit kan nie gebeur nie. Daar sterf elke dag iewers op die aarde ’n taal omdat daar nie meer sprekers van die taal is nie. As Afrikaans nie meer op universiteitsvlak as wetenskaptaal gebruik word nie, ontwikkel die taal nie die nodige nuwe woordeskat nie en is nie meer in staat om daardie funksie te vervul nie. Dieselfde geld die kerk en die hof en die ekonomie. En as Engels die enigste taal vir universiteitstudie is, sal die hoërskole binne enkele jare ook Engels as medium begin gebruik om die leerlinge vir die volgende fase van studie voor te berei.

Dink daaroor dat die reaksie teen Afrikaans gemotiveer word dat dit voor 1976 op swart kinders in skole afgedwing is. Binnekort kan die situasie ontstaan waar Engels (op indirekte wyse, maar nogtans) weer op Afrikaanse kinders afgedwing word soos vroeër ook al in Suid-Afrika gebeur het. Soos wat Frans in ’n stadium op Vlaminge afgedwing was en Engels op die Skotte en Walliesers. Hierdie soort dwang lok onvermydelik eventueel ’n reaksie uit. As ons nou weer toelaat dat draketande gesaai word, sal ons self die geweld van die toekoms moet maai.

 

Hoe hanteer mense die huidige problematiek?

Wat is die verlies as Afrikaans kwyn en eventuaal as ’n taal met hoër funksies verdwyn? Afrikaans in al sy variante dra ’n baie groot deel van bepaalde aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, nie net deur sy mense nie, maar inderdaad in sy woordeskat en in sy idiome en uitdrukkings. Dit is die taal wat op hierdie land se bodem ontwikkel het en op ’n unieke manier in alle streke die land en sy verskynsels en gebeure benoem. Taal is nie net ’n identiteitsdraer soos in die eerste paragraaf verduidelik is nie, dit is ook ’n kultuurdraer. Afrikaans is ook uniek omdat hy verskillende kulture se kultuur dra en hierdie kulturele variante in sy taalvariante weerspieël. Tans bestaan hierdie dinamiek nog en groei selfs – in die onlangse sensus was Afrikaans die enigste taal waarvan die aantal sprekers gegroei het: daar was 800,000 méér mense wat Afrikaans as hulle moedertaal aangedui het as in die vorige sensus. Nogtans skram baie mense daarvan weg om Afrikaans te gebruik, of om die gebruiksmoontlikhede daarvan te beskerm (waarvoor moderne tegnologie soos tolktoerusting wel bestaan) en sommige is selfs skaam vir die taal.

In alle multikulturele en multitalige moderne state word tale beskerm, onder meer in Kanada en België. Kanada het selfs wetgewing wat sy multikulturaliteit beskerm en beskou dit as een van die land se grootste bates. Ons Grondwet gee ons die reg op taalkeuse, maar as mense nie meer hulle eie taal kies nie, hulle kinders in Engelse skole sit, of verkies om hulle godsdiens  in Engels  te beleef (wat dikwels dan vervlak tot ’n Amerikaanse slagspreukgodsdiens), dra hulle self by tot die kwyning van ’n uiters kosbare bate vir enkelinge en vir die land. Waar taalverlies vir Afrikaanse skrywers ’n rampsalige gedagte is, sal dit verder ook vir die volgende twee tot drie generasies ’n intense vervreemding van verskeie Afrikaanse gemeenskappe in die land teweegbring, vervreemding van die sosiale en politieke lewe in die land en ook ’n kerklike vervreemding. Dit is herhaaldelik in studies aangetoon dat taalverlies vervreemding teweegbring.

As jy twyfel oor die geldigheid, waardigheid en vermoë van Afrikaans, gaan koop ’n paar resente Afrikaanse romans, lees Afrikaans poësie, lees rubrieke, historiese en populêr-wetenskaplike boeke in Afrikaans en onthou dat jy deel van hierdie erfenis en veral deel van hierdie ontwikkelinge vir die toekoms is. Vertaal eerder ’n slagspreuk voor jy die Engels vir vriende aanstuur en maak self vertalings van al die anderstalige name wat langs die strate die bestaan van Afrikaans ontken. Werk doelbewus aan die verbetering van jou eie en jou kinders en kleinkinders se Afrikaanse taalvermoë. En onthou dat jou taal sowel ’n individuele as ’n kollektiewe identiteitsdraer en ’n landsbate is waarop jy geregtig is en waarvoor jy medeverantwoordelik is, nie net omdat taal deur die Grondwet beskerm word nie, maar omdat jou bydrae daarin en daardeur prinsipieel vereis word.

Mense hoef en moet nie agressief of  depressief wees oor Afrikaans nie.  As die Afrikaanssprekende mense van hierdie land met waardigheid oral waar dit nodig is op die status en erkenning van hulle taal aandring en bly aandring – selfs met verbetenheid, maar steeds met waardigheid –  kan hulle inderdaad daaraan meewerk om die taal uit te bou en funksioneel te hou. Wat nie moet gebeur nie, is dat mense die taal begrawe voordat hy dood is, dat hulle op grond van ideologiese of religieuse sentiment die taal, wat nie aan enkelinge behoort nie maar aan baie soorte mense in die land, prysgee en opoffer, dat hulle deur prematuur moed op te gee, deur hulle apatie en kleinmoedigheid juis dit wat hulle vrees, ’n werklikheid laat word.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.