Internasionale moedertaaldag – FAK

Artikel geneem uit ‘ink’, die FAK se digitale taalskrif. 

Internasionale moedertaaldag is ’n dag wat wêreldwyd jaarliks op 21 Februarie gevier word om die bewustheid van taalkundige en kulturele diversiteit en veeltaligheid te bevorder. Dit is op 17 November 1999 deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) aangekondig.

Die dag het ontstaan as internasionale erkenning van Taalbewegingsdag, wat sedert 1952 in Bangladesj (voorheen bekend as Oos-Pakistan) herdenk is toe ’n aantal studente, insluitend studente van die Universiteit van Dhaka doodgemaak is deur Pakistanse polisie in Dhaka gedurende die proteste van die Bengaalse Taalbeweging.

Die viering van Internasionale moedertaaldag het normaalweg ’n tema wat óf aangedui is in die formele program wat feesvieringe bepaal by Unesco se hoofkantoor óf meer eksplisiet in die media. Vanjaar se tema is: Linguistiese diversiteit en veeltaligheid tel vir volhoubare ontwikkeling

Ons het by Maroela Media en afrikaans.com gaan uitvind hoe hulle hierdie dag vier:

Maroela Media vier Internasionale Moedertaaldag

Vir Maroela Media is dit uiters belangrik dat kinders in Afrikaanse skole toegang moet hê tot Afrikaanse inhoud op Wikipedia, omdat ons die belangrikheid van moedertaalonderrig op skool op die hart dra. Daarom pak Maroela, in samewerking met Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, weer vanjaar ’n Wikipedia-projek aan waarmee ons beoog om ’n groot hoeveelheid artikels wat handel oor onderwerpe wat verwant is aan die skoolkurrikulum op die Afrikaanse Wikipedia te publiseer, vertaal en/of op te dateer.

Verder kan jy gerus ook Maroela Media se nuuswebwerf dop hou vir treffende en inspirerende meningstukke uit die penne van ’n paar kenners oor die belangrikheid van jou moedertaal. Hulle sal verduidelik waarom jou moedertaal steeds onontbeerlik in vandag se tyd is.

Afrikaans.com vier ook Internasionale Moedertaaldag

Afrikaans.com se interaktiewe lekker-lees Moedertaalonderrig-blad is beskikbaar! Hier beantwoord ons jou vrae oor hoekom moedertaalonderrig so belangrik en broodnodig is vir toekomstige sukses, vertel jou meer oor veeltaligheid en besweer sommer ook ’n paar bekommernisse en mites oor moedertaalonderrig. Ons nooi jou uit om jou vrae te vra sodat ons die kundiges kan raadpleeg en saam met jou ons kennis oor hierdie belangrike onderwerp kan uitbrei in ons strewe na suksesvolle opvoeding en opleiding vir ons kinders in ’n veeltalige, multikulturele land. Besoek gerus http://www.afrikaans.com/leer/lekker-leer/moedertaalonderrig

Wat ons alles doen:

  • Radio-advertensies op relevante Gemeenskapsradiostasies
  • TV-onderhoud met prof. Irma Eloff (Akademie vir Wetenskap en Kuns) op Groot Ontbyt. Sy is ook ’n beskermvrou vir Afrikaans.com en die onderhoud word tussen 07:15 en 07:45 op Groot Ontbyt uitgesaai.
  • RSG-geselsprogram Praat Saam op 21 Februarie.
  • Afrikaans Aktueel, ons gemeenskapsradioprogram fokus elke week op ons Moedertaalboodskappe  en die programme is aflaaibaar op Afrikaans.com. Luister na Conrad Steenkamp (Afrikaanse Taalraad) wat mites bestry met feite. Gaan na http://www.afrikaans.com/misc/luister-hier om hierna te luister.
  • Verskeie advertensies in tydskrifte en koerante in samewerking met Netwerk24.
  • Verskeie redaksionele advertensies op verskeie webblaaie..
  • Twee muurprojekte gedurende Februarie. Lees meer oor ons muurprojek by http://www.afrikaans.com/news-headlines/waarsitlekka/muurkuns
  • Talle leerders het nie gereelde toegang tot Afrikaanse boeke nie en van die skole se hulpbronne is ook dikwels skraps. Met die muurprojek skep ons ’n bewustheid en word leerders aangemoedig om Afrikaans te geniet en te gebruik. Vanjaar se muurkuns bestaan uit helder prente waarmee laerskoolleerders hulself kan vereenselwig en beeld die woorde visueel uit. Die kunswerk het veral ten doel om leerders se verbeelding en ’n liefde vir lees en stories aan te moedig. Ons probeer ook om deur skenkings ’n leeskultuur aan te moedig en die betrokke skole se biblioteke aan te vul met ’n biblioteek-in-’n-boks.
  • Sodra die mure geverf is word die voltooide muur met ’n spesiale program onthul. Leerders word aangemoedig om aan die program deel te neem en die program is telkens daarop gerig om te inspireer en leerders daaraan te herinner dat elkeen van hulle sukses kan behaal – solank hulle in hulleself glo en hard werk.

Die twee skole waarmee ons vanjaar afskop is Liebenberg Primêr (21 Februarie) en Riverlands Primêr. Albei is skole in Malmesbury.

Moedertaaldag by die FAK

Die FAK se hart klop op 21 Februarie met so tikkie ekstra liefde vir Afrikaans. Om moedertaaldag te vier, is verseker ’n voorreg, maar ook ’n bewusmaking oor die kragtige invloed wat taal op ’n gemeenskap het. Op Moedertaaldag gaan die FAK by Laerskool Louis Leipoldt kuier om die jeug meer te vertel oor hoekom ons moedertaal belangrik is en waarom ons Moedertaaldag vier. Die skool bied ook ’n kompetisie aan waar die leerders liedjies vanuit die FAK-Sangbundel opvoer – so word daar reeds op ’n jong ouderdom ’n liefde gekweek vir Afrikaanse musiek. Die FAK bevorder ook deurlopend Afrikaans met kreatiewe projekte soos die Internasionale Afrikaans-Ekspo, Sing in Harmonie, Wisseltrofees en sertifikate vir die Afrikaanse klaskamer, Gedigtekompetisies en selfs met die FAK-Sangbundel! Laat weet ons gerus hoe vier jy moedertaaldag en stuur ’n e-pos na [email protected]

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.