Kultuur is g’n stokperdjie nie

deur Andries Vrey 

Kultuur is gn stokperdjie nie


Toespraak gehou by die Afrikaanse Taalberaad, 8 Mei 2015

Gedagtes rondom ‘n eietydse kuns- en kultuur-strategie vir Afrikaans

Inleiding

Sedert die aanvaarding van die uitnodiging van Dr. Langner en die FAK om by hierdie konferensie as spreker op te tree, met die versoek dat ek my bepaal by die moontlike daarstel van ‘n eietydse Afrikaanse kultuurstrategie, het ek myself dikwels betrap waar ek, selfs in korporatiewe raadsale, raakpunte vind tussen my alledaagse doen en late en elemente wat, volgens my, krities sou wees tot só ‘n strategie. Dit is tog nou maar eenmaal die geval dat, hoewel ons elkeen ‘n antwoord op elke denkbare probleem het wanneer ons saam op die gholfbaan, of om ‘n braaivleisvuur vergader, ‘n opdrag of versoek soos hierdie dikwels die spreekwoordelike sneller is wat ‘n mens se denke omtrent ‘n bepaalde saak stuur, en interne argumentvoering lei na voorheen onverkende gebiede.

Kultuur, en dan in aansluiting by my eie ervaringsveld meer spesifiek die kunste, is nie aspekte wat in afsondering beskou moet word nie – dit is kritieke elemente waarsonder ‘n strategie vir Afrikaans nie suksesvol kan wees nie.

Hiervoor moet ek die FAK as’t ware bedank – wyl ek my daagliks bemoei met die stand van kuns en kultuur, en die vele uitdagings rondom die bestuur daarvan, het die uitnodiging om vandag my eie sienings met u te deel my genoop om weer eerlik, en in diepte, te besin oor die toekoms van kuns en kultuur in Afrikaans. Ek bied egter verskoning aan vir die herhaalde verwysing ná die uitvoerende kunste, maar my ondervinding en kundigheid beperk my tot hierdie aspek van die kulturele lewe en ek sou nie gemaklik wees om myself as kundige oor ander aspekte uit te laat nie.

Die uitnodiging het my ook herinner aan ‘n opdrag om ‘n strategie te formuleer wat ek ‘n hele klomp jare gelede as junior bestuurslid ontvang het. Ofskoon die woord ‘strategie’ aan my bekend was, en ek natuurlik sonder veel moeite ‘n redelike beskrywing van ‘n strategie sou kon gee, het ek my by oplegging van die taak, eerstens tot ‘n betroubare bron gewend, nl. die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Aldus die H.A.T. is ‘n strategie die, ‘…wyse waarop ‘n mens volgens beplanning jou doel gaan bereik’.

By my herbesoek aan dié verklaring was dit duidelik: Dr. Langer en die FAK se uitnodiging gaan my ‘n hele paar nagte wakker hou (ek’s nie seker of ek dr. Langner dáárvoor moet bedank nie?).

‘n Gesprek omtrent ‘n eietydse strategie vir die Afrikaanse kultuur sou dus vereis dat daar eerstens ondersoek ingestel moet word na ‘n doel, oftewel ‘n doelwit, en tweedens, vereis dit uiteraard dat verwys moet word na ‘n plan wat gevolg sal moet word om daardie doelwit/doel te bereik.

My eie ervaring laat my egter nie toe om myself as kundige uit te spreek omtrent kultuur in die breë nie, in sover ek slegs ervaring het van my eie, persoonlike kultuur. In beginsel is ek ook sterk gekant teen die gebruik om ‘kuns’ en ‘kultuur’ byna sonder uitsondering in dieselfde asem te noem as een en dieselfde ding. Dié beskouing van kuns en kultuur strek geensins tot voordeel van enigeen van dié twee komponente nie, en mag dalk selfs deels verantwoordelik wees vir die spanning wat dikwels heers tussen praktisyns in hierdie arena’s. Om die kunste alleenlik vanuit ‘n kulturele oogpunt te beskou is myns insiens ‘n té behoudende gebruik en kan maklik (sonder dat dit noodwendig die oogmerk is) vervreemding en verdeling tot gevolg hê in ‘n taalgemeenskap wat nie homogeen is nie – Afrikaans is immers, in hierdie gesprek, die enigste gemene deler in ‘n hele aantal uiteenlopende kulture. Dieselfde geld vir die gebruik van die term kultuur wanneer na die kunste verwys word.

Hierdie stelling ten spyt is daar egter ‘n verwantskap tussen die terme kuns en kultuur in sover kultuur verwys na die identiteit-vormende elemente binne ‘n bepaalde gemeenskap waarmee lede van daardie gemeenskap hulself identifiseer (in die breër Afrikaanse gemeenskap is taal natuurlik een van hierdie elemente). Hierteenoor is die kunste bloot gereedskap vir die bemagtiging van ‘n gemeenskap of kultuur wat hul in staat stel om uiting aan hul identiteit (kultuur) te gee, om hulself uit te druk en te laat geld. Sonder die kunste kan geen gemeenskap hul identiteit te volle uitleef nie.

Kultuur mag dalk bepaal wíé ek is, maar sonder die kunste sal dit byna onmoontlik wees om ander te laat besef wíé ek is.

Die getroue H.A.T. beskryf kuns o.a. as, “…vermoë om wat in die gees lewe op so ‘n wyse tot uitdrukking te bring dat dit individueel en persoonlik is”.
Die kunste bied dus aan ons hierdie vermoë om dit wat ons is (wat in ons gees lewe) tot uitdrukking te bring op ‘n persoonlike en individuele wyse, menende in die konteks van ons eie identiteit en/of kultuur. En Afrikaans, as sekerlik die belangrikste bousteen in die uiteenlopende kulture binne Afrikaanse taalgemeenskappe, se toekoms kan dus sonder twyfel nie beredeneer, bespreek of oorweeg word indien ons nie die kunste betrek by ‘n toekomsstrategie vir Afrikaans nie. ‘n Toekoms vir Afrikaans kan gewis nie bestaan of verseker word indien ons nie die sprekers van Afrikaans bemagtig om dit wat in hul leef op persoonlike en individuele wyse tot uiting te bring nie. Die kunste bied aan al die kultuurgroepe wat Afrikaans deel van hul kultuurgoedere ag ‘n geleentheid om hulself te wees. Daarsonder sal kultuur, en sonder twyfel Afrikaans as komponent van die onderskeie kulture, se toekoms nie baie rooskleuring wees nie.

‘n Taalgemeenskap wat die kunste na waarde ag, en deur die kunste sy sprekers (ongeag kultuur) bemagtig om uiting te gee aan hul kulturele identiteit, is ‘n gemeenskap wat in ‘n veranderende wêreld steeds gebonde sal bly aan hul kultuur (en dus ook hul taal), synde dit die enigste medium sal wees waardeur sprekers hulself (dit wat in hul gees lewe) werklik sal kan laat geld.

‘n Ander mistasting is ‘n beskouing van die kunste as eksklusief abstrakte konsep. In gesprekke met veral jongmense is dit opvallend dat die kunste beskou word as die eksklusiewe domein van die uitvoerende of skeppende kunstenaars. Op die vraag, wat is die kunste?, is die antwoorde byna dikwels tekenend van ons gemeenskappe se onkundigheid omtrent die wyse waartoe die kunste (as herleier van identiteit en kultuur) in elkeen se alledaagse bestaan figureer en behoort te figureer.

Die kunste is ‘n akteur op die verhoog. Dis ‘n skrywer se werk. ‘n Werk van ‘n skeppende kunstenaar, ‘n sanger.
Hierdie is die antwoorde wat ons byna sonder uitsondering aanhoor wanneer ons gehore pols oor die definisie van die kunste.

Dis natuurlik nie geheel verkeerd nie, uitvoerende praktisyns in die uitvoerende en skeppende kunste besig hulself inderdaad met die kunste, maar dit is ‘n té eng beskouing om reg te laat geskied aan die wyse waarop die kunste vervleg is met byna alles wat ons doen. Die akteur, sanger, skilder en skrywer het nie alleenreg op die kunste nie. Hul is wel die uitgelese groepe mense wat die kunste (die vermoë om hul identiteit, dít wat in hul gees is) op professionele platforms aan te bied, maar die ontvangers van hul aanbiedings – die gehore, lesers en aanhoorders – sou g’n sin daarvan kon maak of aanklank daarby vind sou hul nie self toegerus wees met die gereedskap om uiting te gee aan hul eie identiteit nie. Kuns gee konteks aan almal. Om ‘n spieël voor ‘n blinde persoon te hou het geen doel nie – die blinde is nie toegerus met die gereedskap (sig) om hom of haar visueel te verbeeld nie. Sonder kuns is ons almal blind vir ons eie beeld, en kan ons onsself (dit wat in ons gees lewe) op geen individuele of persoonlike wyse tot uiting bring nie.

Die kunste, in enige kultuurgroep, se tuiste is beslis nie beperk tot die bladsye van letterkundige werke, verhoë van konsertsale en teaters óf die doek van die skilder nie. Die kunste is aanwesig, én broodnodig, in elke aspek van ons lewens wat geraak word deur ons identiteit (kultuur), en ek is nie bewus van ‘n enkele deel van my lewe waarin my eie identiteit, my kultuur, nie deurslaggewend is in my optrede en gevolglik, my welstand nie.

Wanneer ek ‘n meningstuk lees deur Flip Buys, dan weet ek – die geskrewe woord was die gereedskap wat hy gebruik het om sy identiteit uit te druk in argument. Wanneer Dr. Dirk Herman aan die woord is in ‘n TV-nuus-insetsel, is dit enersyds die kunste, die vermoë om taal noukeurig en met vaardigheid te gebruik, as gereedskap wat hom in staat stel om sy identiteit (wat in sy gees lewe) op persoonlike wyse uit te druk.

Géén aspek van ons bestaan word nie deur ons kultuur (diverse kulture binne die Afrikaanse taalgemeenskap) reguleer nie en sonder die kunste, as hulpbron, sou ons nie in staat gewees het om werklik te wees nie.

Die pad tot hier…

Die stand van die kunste en kultuur in Afrikaans vandag is sonder twyfel die gevolg van ‘n historiese aanloop wat, sonder om te veel tyd af te staan aan die verlede, verdeel kan word in die pre- en post ’94 era’s. Hoewel die pre-94 bedeling, met ‘n nasionalistiese beskouing, die kunste ondersteun het, het die bewindhebbers se eie beskouing van kuns en kultuur as onlosmaaklike elemente tot gevolg gehad dat slegs ‘n bepaalde kultuurgroep binne die breër taalgemeenskap bemagtig is om deur die kunste ‘n stem te vind – en selfs hierdie stem is deur beperkende wetgewing aan bande gelê. Hierdie beleid kom ons vandag duur te staan – hoewel in die meerderheid is die kreatiewe stem van die bruin en swart Afrikaanssprekendes nie tot sy volle potensiaal ontwikkel en ondersteun nie. Wyl daar gedurende die pre-94 periode byna ondergronds ongelooflike werk na vore gekom het uit hierdie kulture binne die taalgemeenskap, is dit werklik eers gedurende die afgelope 20 jaar waarin dié gemeenskap se kreatiewe stem duidelik na vore kom. Afrikaans word tans op verstommende wyse verryk deur die stemme uit kultuurgroepe wat voorheen gemarginaliseer is in ‘n eng beskouding van kuns en kultuur.

Met die koms van demokrasie is staatsondersteuning byna oornag onttrek en het spesifiek belanghebbers vanuit die Afrikaner-kultuur reaktief tot aksie oorgegaan en is die Afrikaanse kunstefees gebore. Wat vermag is, is niks minder as ‘n wonderwerk nie – die vernaamste feeste het vandag ‘n gesamentlike omset van ongeveer R200-miljoen, en sowat 97% van alle geleenthede binne die Afrikaanse uitvoerende kunste-industrie word deur die feeste geïnisieer en befonds. Selfs meer indrukwekkend is dat ongeveer 70% van produksies en aanbiedings in Engels (daar word tans weinig geskep in enige ander amptelike taal) wat oor die afgelope 5 jaar toekennings vir uitnemendheid ontvang het, vertalings is van Afrikaanse werke wat deur die Afrikaanse feeste geïnisieer en/of befonds is.

In die gees van die nuwe demokratiese bestel het die stigters en besture van Afrikaanse kunstefeeste sedert 1994 heelwat hulpbronne beskikbaar gestel om te verseker dat die feeste verteenwoordigend is van die breër Afrikaanse taalgemeenskap. In sommige gevalle het politieke korrektheid dalk selfs tot nadeel van die feeste geseëvier. By nabaat blyk dit egter dat hierdie benadering, natuurlik gelees teen die agtergrond van die diskriminerende en onderdrukkende aard van die pre-94 tydperk, die kunste-landskap gedoem het tot ‘n byna eiendelose stryd gekenmerk deur oor-en-weer kritiek en wantroue. ‘Afrikaans-vir-almal’ het die progressiewe gesprek in die kuns en kultuur omgewing gestuit deur nie ag te slaan op die spesifieke behoeftes van uiteenlopende kultuurgroepe nie. Taal, as gemeenskaplike faktor, is gewis nie die groot gelykmaker nie – binne diverse kultuurgemeenskappe, waarin taal slegs ‘n enkele kultuurelement is, sou ‘n benadering van erkenning en viering van diversiteit (natuurlik onderbou deur wedersydse respek) moontlik veel meer kon bydra tot die kuns en kulturele skatkis van Afrikaans sedert 1994, as wat vermag is met ‘n goedbedoelde maar onpraktiese model van ‘oppervlakkige enersheid’.

‘n Uitstekende voorbeeld hiervan is die ATKV se Rieldans-kompetisie. Die riel is ‘n bepaalde kunsvorm waardeur ‘n bepaalde kultuurgroep uiting gee aan hul identiteit. Ofskoon die kompetisie en meegaande geleenthede inklusief is in sover dit bywoning betref, is die realiteit dat die deelname daarvan beperk sal wees tot bepaalde kultuurgroepe. Daar word nie gepoog om ook, as ‘n syvertoning ruimte te skep vir volkspele en township-pantsula nie. Die Rieldans-kompetisie, onder die meesterlike leiding van die ATKV bars uit sy nate, groei teen ‘n verstommende tempo en ek, wat Afrikaans in gemeen het met hierdie kultuurgroepe, verlustig my ook in die rykdom van vele kulture binne die taalgemeenskap en die mate waarin kuns hierdie gemeenskappe in staat stel om uitdrukking te bied aan hul identiteit.

‘n Kultuurgroep, binne ‘n demokratiese bestel, mag en kan beslis sy reg tot taal en kultuur opneem, sonder om ‘n ander groep van dieselfde te ontneem. Die vraag behoort beslis nie te wees, waarom Xhosa, Zoeloe en ander inheemse tale nie op Afrikaanse platforms verteenwoordig word nie? Die werklik vraag behoort te wees, waarom is daar, ná 21 jaar van demokrasie, steeds geen platforms geskep vir hierdie kultuurgemeenskappe nie? Gegewe die feit dat kuns en kultuur in Afrikaans vandag grootliks bedryf word sonder enige owerheidsteun kan daar beswaarlik aangevoer word dat dié kultuurgroep, wat hierdie inisiatiewe vanuit sy eie geledere skep, organiseer en befonds, ‘n eksklusiewe ruimte binne die breër kulturele raamwerk geskep het. Tog is dit die argument wat gevoer word – natuurlik vanuit ‘n polities ideologiese raamwerk wat ook onlangs wou verseker dat bv. streeksdemografie geïgnoreer word by die implemtering van rasgebasseerde indiensnemingsbeleid.

Afrikaanse gemeenskappe en kultuurgroepe het, onder die grondwet, die volste reg om hul kultuur te vier. Dit sal ‘n katastrofe wees indien Afrikaanse kultuurgroepe dié reg sondermeer opgee ter wille van ‘n oppervlakkige, vrees-gedrewe, polities korrekte inklusiwiteit wat eindelik nie net Afrikaans nie maar alle deelnemende taal- en kultuurgroepe ondermyn. Dié reg gaan egter gepaard met ‘n plig om as burgers ook ons vaardighede, kapasiteit en hulpbronne te deel en aan aan te wend tot voordeel van ander taal- en kultuurgroepe op platforms waardeur dié groepe bevoordeel kan word, en dit is inderdaad (byna eksklusief) vanuit die Afrikaanse geledere dat hierdie tipe burgerlike samewerking gedryf word.  

Faktore vir oorweging by die formulering van ‘n kultuur-strategie

Synde dit sekerlik, gegewe die diverse kulture wat in Afrikaans ‘n taal-tuiste vind, verwaand sal wees om te poog om ‘n enkele deurlopende plan en doelwit voor te skryf, beperk ek myself graag tot die volgende waarmee ek in my ervaringsveld konfronteer word en wat ek glo nodig is om in ag geneem te word by die daarstel van ‘n kultuur strategie vir Afrikaans.

Die volgende doelwitte moet, myns insiens, voor oë gehou word:

  1. Die relevansie van die kunste

Stellings soos hierdie gaan dikwels ongetoets ten spyte van die wyse waarop die kunste sedert 1994 floreer in ‘n bestel waarin weinig ondersteuning van die owerhede    ontvang word. In my opinie het hierdie sienings hul ontstaan te danke juis vanweë die algemene indruk dat die kunste (natuurlik gebruik ek dié term in die breedste sin van die woord) ‘n afsonderlike, losmaaklike komponent van ons kulturele-samestelling is.    Die “kunste” verwys nie na spesifieke vaardighede wat ‘n eksentrieke groepie mense    in ‘n sameleweing (met vreemde klere en ‘n voorliefde vir verbode middels) besit, en iets wat slegs teen betaling vir vermaak aangebied word nie. Die “kunste” (in hierdie beskouing) is ‘n noodsaaklike stel vaardighede waaroor elke mens beskik, maar wat ontwikkel moet word, ten einde individue in staat te stel om hul identiteit op ‘n persoonlike en individuele wyse uit te druk en hulself binne só ‘n raamwerk te laat geld. Die wiskundige, loodgieter en vegvliënier het die kunste netso nodig in sy of haar mondering as die liedjieskrywer, akteur of woordsmid.

  1. Erkenning en viering van die diversiteit van die kultuurgroepe binne die Afrikaanse-taalgemeenskap

Ek is terdeë bewus dat my eie beskouing in hierdie verband verkeerdelik interpreteer     sou kon word as ‘n pleidooi vir afsonderlike kulturele ontwikkeling, en hoewel dit nie die geval is nie, moet ek dit kategories stel dat my eie ondervinding my gelei het na die oortuiging dat ‘n ‘one-size-fits-all-‘, of ‘n Afrikaans-vir-almal-benadering nie        noodwendig die oplossing is nie. Ná bykans 21 jaar is die felste kritiek binne die kuns en kultuur omgewing afkomstig vanuit Afrikaanssprekende kultuurgroepe wat ‘n alles-in-een benadering bepleit – en selfs met al die pogings, en die suiwerste van motiewe, blyk dit dat dit ‘n ideaal is wat onmoontlik is om te behaal.

My kollegas in die Wes-Kaap vind dit dikwels makliker, a.g.v. die streeksdemografie, om inhoud te skep wat relevant is tot verskeie Afrikaanssprekende kultuurgroepe, en  waar dit moontlik is, is dit natuurlik soms ‘n werkbare model. Die realiteit is egter dat selfs in die Wes-Kaap die kritiek t.o.v. inklusiwiteit ook nie taan nie.

In Potchefstroom, waar ek werksaam is, word daar met groot moeite (dikwels ook met onbesonne polities korrekte ideale) gepoog om inhoud te skep vir Afrikaanse  kultuurgroepe wat gewoon nie in wesenlike getalle in die opvangsgebiede voorkom nie. Dit dien absoluut geen doel anders as om mettertyd tot verengelsing te lei nie,       aangesien pogings om geforseerde absolute verteenwoordiging na te streef in die spesifieke omgewing nie sal kan gebeur in Afrikaans nie. Selfs in gemeenskappe  waar demografie breër Afrikaanse verteenwoordiging moontlik maak is die kritiek  steeds (ná 21 jaar) dat dit nie genoeg is nie. Wat die kritici eintlik probeer verwoord     (ongelukkig manifesteer dit dikwels in rasgebasseerde, politiese stellings) is juis dat  dit wat aangebied word, die kuns, nie binne die bepaalde konteks uiting gee aan die spesifieke groep se identiteit nie. Kultureel voel hul verwyderd van die inhoud, terwyl  die aanbieders in antwoord sal wys op die realiteite (dikwels finansiëel wanneer skaal   nie teenwoordig is nie) wat hierdie benadering meebring.

‘n Kritiese doelwit sou dus, myns insiens, wees om die diversiteit binne die Afrikaanse taalgemeenskap te erken, omarm, dit te respekteer en dit te ontwikkel binne ‘n breër kunste-konteks maar tot voordeel van die onderskeie kultuurgemeenskappe.

Ek verwys in hierdie verband graag weer na die ATKV Rieldans-kompetisie  –  ‘n uitstekende voorbeeld van hoe die kunste in ‘n kultuurspesifieke-omgewing gedy, sonder dat die motiewe daaragter enigsins bevraagteken kan word.

  1. Toeganklikheid
  • ‘n Massiewe struikelblok wat in die toekoms oorkom sal moet word is die toeganklikheid van kuns en kultuur vir die breë Afrikaanssprekende gemeenskap (met spesifieke verwysing na die jeug). Indien ons nie die jeug toerus met die vaardighede en gereedskap om hul uit te druk in die konteks van hul eie identiteit nie, dan moet ons dit nie verrassend vind indien die jeug as’t ware wegstap van hul  identiteit nie.
  •  In my eie gemeenskap, waar ons steeds toegang geniet tot ‘n openbare skool van gehalte is dit die realiteit dat die skool vanjaar (soos ook verlede jaar) nie ‘n enkele  sent begroot vir die aankoop van nuwe boeke vir die biblioteek nie. Op ‘n kongres  waar daar ook gepraat word oor toekomsstrategieë vir die politiek, ekonomie en onderwys hoor ek u sê dat daar ander, groter prioriteite is, maar ek kan nie sterker verskil van só ‘n stelling nie. Wyl die geletterdheid van ons jeug beslis rede tot kommer is, en ‘n strategiese plan inderdaad benodig word om lees- en   skryfvaardighede te verbeter, moet u uself afvra: wat sal hierdie kinders lees, en  waaroor sal hulle skryf as kuns en kultuur nie sentraal staan in enige toekomsstrategie vir Afrikaans nie?
  • Ekonomiese-, politiese- en opleidingsstrategieë kan slegs slaag indien ons gemeenskappe toegerus word met die nodige gereedskap om hul binne hul bepaalde  dentiteit uit te druk. Daarsonder sal daar geen aktiewe, deelnemende burgerlike samelewing bestaan nie. Die vele debatte en soms ongewenste kommentaar en       kritiek wat tans, vanuit Afrikaanse gemeenskappe, aan die orde van die dag is, spruit   myns insiens juis uit gemeenskappe se ongemak met en onvermoë om hul identiteit uit te leef – die verdagmaking van spesifieke kultuurgroepe, as deel van ‘n heersende polities onbeholpe bestel, dra natuurlik by tot hierdie ongemak om ‘n identiteit uit te leef.

Die doelwitte in praktyk

Ten einde bg. doelwitte (en sekerlik ander doelwitte bekom uit konsultasie met rolspelers vanuit verskillende kultuurgemeenskappe) te bereik, sal dit beslis nodig wees om ‘n pragmatiese benadering van samewerking, gesprekvoering en uitbreiding te volg. Daar is tans soveel liggame en instansies wat die bevordering van Afrikaans ter wille is, en hulself daarmee besig hou, dat dit byna onmoontlikheid geraak het om op grondvlak daadwerklike bevordering te bewerkstellig – om die waarheid te sê, waar ek aan die begin van my betrokkenheid by die kunste nog by vele van hierdie organisasies betrokke was as lid, en vele kongresse en berade bygewoon het, het ek my geesdrif en moed verloor soos ek mettertyd beleef het hoe vele van hierdie organisasies nie daarin kan slaag om hul agenda’s skoon te kry nie. Op beraad na beraad, kongres na kongres word dieselfde wesenlike punte bespreek, maar van vordering is daar weinig te sien.

‘n Ander aspek wat aangespreek sal moet word (binne hierdie organisasies) is uiteraard verteenwoordiging – daar verloop tans nie ‘n enkele vergadering waar verteenwoordiging en ongelukkigheid met samestelling nie ter tafel gelê word nie (dikwels met die gevolg dat die vergaderings verdaag sonder dat ‘n enkele agendapunt onder die loep kom) – myns insiens ‘n teenproduktiewe gevolg van pogings om ten alle koste verteenwoordiging te bewerkstellig, eerder as die wedersydse uitruil en beskikbaarstelling van kapasiteit en hulpbronne/kundigheid, en deurlopende gesprekvoering in gedeelde forums.

Relevansie

Geen inisiatiewe om Afrikaans strategies te posisioneer in die toekoms kan geslaagd wees indien daar nie verseker word dat die Afrikaanse taalgemeenskap bemagtig word om met selfvertroue hul kulturele identiteit uit te leef nie. Doelbewuste verengelsing “ter wille van oorlewing” is sekerlik een van die grootste uitdagings om te oorkom.

  • Vernuwe bestaande kultuurorganisasies (spesifiek jeugorganisasies) en skep sulke organisasies in gemeenskappe (kultuurgemeenskappe) waar daar moontlik nie tans organisasies is wat die gemeenskap se identiteit positief verteenwoordig nie. In hierdie konteks kan ‘n iets-vir-almal-benadering netso verteenwoordigend wees as ‘n een-vir-almal-benadering.
    Die Voortrekker beweging is ‘n goeie voorbeeld: hoewel ek nie self ‘n verbintenis met dié beweging het nie, en self ook maar die relevansie en agenda van die Voortrekkers bevraagteken het, was ek onlangs aangenaam verras om te sien hoe die Voortrekkers vernuwe het (sedert my tyd as lid) en die jeug met eietydse kwessies konfronteer. Dit bied ‘n uitstekende geleentheid aan die jeug om hul kultuuridentiteit in ‘n hedendaagse konteks te ondersoek en uit te leef.

(Natuurlik is die Voortrekkers nie ‘n geskikte voertuig vir noodwendig alle gemeenskappe nie, maar dan moet daar ná behoeftebepaling vir so gemeenskap ‘n relevante organisasie/groep op die been gebring word – uiteraard kan die Voortrekkers (byvoorbeeld) ‘n waardevolle rol speel om sulke nuwe groepe van hulp te wees.);

  • Ondersoek moet gedoen word na bestaande programme ter ondersteuning van die kunste om te verseker dat die programme steeds relevant bly – in sekere gevalle moet daar ook oorweeg word om programme en projekte vanuit die verlede weer op die been te bring.
    ‘n Voorbeeld is o.a. die eertydse Kampustoneel – kampustoneel was die ontwikkelingsruimte vanwaar ons grootste hededaagse dramaturge en skrywers hul buiging gemaak het (heelparty van hulle studente in studievelde buite die geestes- en sosiale-wetenskappe). ‘n Organisasie soos die ATKV doen uitstekende werk met ‘n rits projekte gerig op skoliere (o.a. tienertoneel, debatskompetisies ens), maar daar is tans ‘n besliste behoefte aan daarwerklike uitbreiding van programme gerig op tersiêre instellings (nie slegs sg. Afrikaanse instellings nie). Vanweë die huidige politieke woelinge rondom Afrikaanse tersiêre onderrig en die politiese aanslag in hierdie verband is dit die ondervinding van organisasies in veral die uitvoerende kunste dat dit op hierdie stadium is dat ons die jeug ‘verloor’ – Afrikaanssprekende studente steek dikwels hul kop in die sand, volg ‘n benadering van ‘bly onder die radar’ om die politieke byenes te vermy, maar sodoende word hul nie toegerus of toegelaat om hul identiteit te volle, op konstruktiewe wyse tot voordeel van die breër gemeenskap, uit te leef nie;
  • Terwyl ek, soos reeds genoem, ‘n absolute renons het in die voortdurende gekla omtrent die rasgebasseerde samestelling van organisasies, het ek wel kommer omtrent die samestelling van besluitnemers- en belangegroepe in sover dit die ouderdom van betrokkenes betref. In heelwat vergaderings van hierdie organisasies kom die skynbare apatie van die jeug ter sprake – die onbereidwilligheid om deel te neem. Die realiteit is egter eenvoudig: die jeug neem gewoon nie deel nie omdat hulle nie die relevansie t.o.v. hul eie omgewings kan insien nie. Strukture moet dus ruimte skep vir die jeug en meer geredelik bereid wees om jongmense tot die besluitnemingsstrukture van organisasies te betrek;(Ek dien o.a. in ‘n organisasie waar ‘n raadslid vanweë sy ouderdom werklik geen meer logiese of samehangende bydrae kan lewer nie, maar word jaar na jaar as raadslid herkies a.g.v. sy jarelange verbintenis met die organisasie.)

 

    

Viering en erkenning van diversiteit binne die Afrikaanse-taalgemeenskap

Dit is inderdaad tyd om te besef dat ons in Afrikaans geseënd is met ‘n rykdom van diversiteit, en dat ons dit in sy geheel moet kan vier en bevorder, maar dat dit nie noodwendig altyd onder dieselfde vaandel – of selfs dak – gedoen kan word nie. Verdagmaking van organisasies en individue dien geensins die belange van die onderliggende kultuurgroepe of die kunste in die breë nie.

  • Ervaring, kundigheid, kapasiteit en hulpbronne kan tot voordeel van verskeie organisasies aangewend word ten einde die behoeftes van alle gemeenskappe te dien. Waar bepaalde gemeenskappe beperkings in die gesig staar (die realiteit is dat historiese ongelykhede bepaalde gemeenskappe benadeel het) is die gees van samewerking en hulpverlening tot voordeel en bevordering van die onderskeie kulture (ook hul spesifieke kunsvorme) veel belangriker as die oppervlakkige insluiting (‘window dressing‘) ter wille van ‘n onwerkbare allesomvattende eenheid;
  • Skep geleenthede vir interaksie tussen kuns en kultuurorganisasies verteenwoordigend van verskillende gemeenskappe, kulture en kunsvorme – om werklik die geleentheid te skep vir individue om hulself ten volle binne hul eie kultuur uit te leef, is dit noodsaaklik dat hul ook toegelaat word om hul kultuur te beoefen en beskou binne die breër gemeenskap (om te weet wie jy is moet jy sekerlik weet hoe ander lyk).
    Die FAK kan, as oorkoepelende liggaam, ‘n uiters belangrike rol speel in hierdie verband – nie slegs as fasiliteerder vir gesamentlike en gemeenskaplike inisiatiewe nie, maar in die lewering van o.a. steundienste en die ontwikkeling van databasisse t.o.v. kundigheid, kapasiteit en hulpbronne;
  • Afrikaans móét Afrikaans bevorder – die grootste druk t.o.v. ondersteuning en befondsing wat kunste- en kultuur organisasies tans ondervind is nie die gevolg van die doelbewuste swak lig en verdagmaking van Afrikaanse gemeenskappe (spesifiek die Afrikanergemeenskap, maar ook die Wes-Kaapse bruin gemeenskappe) deur die owerhede en regerende party nie. Afrikaans ly tans veel meer onder ongegronde, onnodige verdagmaking vanuit eie geledere – en natuurlik ook lede van die Afrikaanse gemeenskap (ook binne die kunste en kultuur-omgewing) wat deur o.a. ondeurdagte uitsprake die beeld van Afrikaans skaad.

    

Toeganklikheid

Die realiteit vandag is dat ‘n bitter lae persentasie Afrikaanssprekendes (uit alle kulture) toegang het tot selfs die mees elementêre vorm van die kunste – wat natuurlik meebring die die kunste nie werklik as hefboom vir die uitdrukking van identiteit vir kultuurgroepe tot sy reg kom nie. Dit is, wat my betref, die direkte gevolg van die beskouing dat kuns en kultuur abstrakte elemente is wat binne die hedendaagse realiteit moet terugstaan vir skynbaar meer belangrike uitdagings.

Die gevolg is verder dat die uitvoerende en skeppende kunste in Afrikaans in 2015 by ‘n situasie is waar die kwaliteit en omvang van die taal se skeppingskrag geloof word, terwyl dit terselfdertyd ‘n realiteit is dat ons skaars gehore het om ons kreatiwiteit aan ten toon te stel. ‘n Onlangse studie het aangetoon dat die vernaamste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste in die afgelope dekade sowat 70% van hul gehore verloor het.

By die fees waar ek betrokke is, het ons vandag die situasie dat die fees jaarliks deur soveel as 136,000 mense besoek word, maar dat slegs 4,000 van hulle enigsins die produksies op die feesprogram aanbied. Vraag en aanbod, sal u aanvoer! Die feeste se programme vind nie aanklank by die gehore nie. Dit is natuurlik die realiteit maar dit is die gevolg van gebrekkige toeganklikheid (deurlopend) vir Afrikaanssprekendes aan hierdie kunsvorme. Die antwoord, vir die inkomstestaat, is om die program aan te pas om byval te vind by gehore, maar op die langer duur sal hierdie oorkommersialisering van die kunste die doodskoot vir die Afrikaanse uitvoerende kunste wees.

(En hierdie verskynsel is nie eie aan die kunstefeeste nie – in stede sal teaterbesture dikwels spog met hul goeie bywoning, maar gaan loer gerus na die tipe inhoud wat goeie bywoning verseker. Dis gewis nie materiaal wat voeg en bydrae tot die kreatiewe skatkis van Afrikaans nie.)

Toeganklikheid behels egter meer as die daarstelling van fisiese toegang tot die kuns. Dit behels natuurlik ook die skep en ontwikkeling van toegangklike inhoud. Beteken dit dat die Afrikaanse kunste-omgewing inhoudelik sal moet vervlak? Allermins. Inteendeel, die feit dat sommige inhoud vandag deur die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes as ontoeganklik beskou word kan veel eerder deur die deur gevee word van ‘n beleid of siening waarvolgens daar vir dekades geen (of min) onderskeid getref is tussen vermaak en die hoër-funksie kunsvorme nie. Afrikaanssprekendes is vir so lank nie blootgestel aan hierdie kunsvorme en -genres nie, dat dit vandag vir die meeste van ons ontoeganklik is. Ek moet ook erken dat ‘n elitistiese beskouing teenoor veral Afrikaanse kontemporêre kuns en vermaak, die inhoud natuurlik ook nie tot voordeel was nie – in Afrikaanse ondervind ons die vreemde verskynsel dat ons ongelooflik krities is teenoor populêre kuns in ons eie taal, maar heel bereid is om internasionale inhoud in dié genre veel meer krediet te gee.

My verwysing na hoër-funksie inhoud verwys ook geensins na spesifiek klassieke genres, hoofsaaklik van Europese oorsprong, soos bv. klassieke- en kamermusiek of die kunslied (hoewel ek dit persoonlik ‘n skande ag dat toegelaat is dat die kunslied, waarin daar in Afrikaans bygedra is tot die room van internasionale werk in hierdie genre, byna tot niet gaan), maar meer spesifiek na oorspronklike, skeppende werk in Afrikaans. In hierdie lig hoort die boekstawing en latere toonsetting van die Griekwa-psalms in dieselfde liga as die kunsliedere deur van ons voorste komponiste en die rymklets uit die Kaapse vlakte.

Die antwoord is sekerlik ‘n middeweg: Magdaleen Kruger, hoof van RSG, stel dit baie goed wanneer sy dié radiostasie se mandaat beskryf as “…’n mengsel tussen wat hulle wil hoor en dit wat ons glo hulle moet hoor”.

  • Daar sal krities gekyk moet word na bestaande voertuie waarmee die kunste na gemeenskappe geneem word – insluitend die kunstefeeste. Indien kunste- en kultuur organisasies nie daarin kan slaag om binne hul bestaande modelle hul doelstellings te bereik nie, is radikale vernuwing en verandering noodsaaklik;Die vervaardigende kunstefeeste is almal tans in een of ander stadium van dié Ofskoon die bevordering van die kunste (van gehalte) ‘n deurlopende doelstelling is, veroorsaak dalende kaartjieverkope dikwels dat feeste, ten brode, tot so mate kommersialiseer dat die bevordering van die kunste totaal agterwee bly. Daar’s op ‘n keer gesê dat die feeste deesdae nie veel meer is as die kerkbasaars van ouds nie (gegewe die mate waartoe kommersialisering genoodsaak word) – is dit dan so vergesog om as moontlike antwoord voor te stel dat die kerke as’t ware hul basaars ‘terugneem’ en ‘n organisasie geskep word om inhoud te skep om dáár, in die gemeenskappe, aangebied te word?(Interessant: in Oudtshoorn blyk dit dat die groeipotensiaal van die KKNK by die bruin gemeenskap lê – oor die res van die spektrum kwyn bywoning en kaartjieverkope? In aansluiting by my weersin in ‘n geforseerde iets-vir-almal-benadering vra ek dus die vraag of die antwoord nie is om munt te slaan uit hierdie groeipotensiaal en die fees spesifiek te posisioneer ter viering en bevordering van die bruin Afrikaanse gemeenskap (en kultuur) van die streek nie? Sou dit nie ‘n groter bydrae lewer tot Afrikaans as ‘n halstarrige aandrang op absolute verteenwoordiging vir almal nie? – let wel, omdat ek nie verteenwoordig word nie, beteken nie ek is uitgesluit nie.);
  • Is die Afrikaanse gemeenskappe in Suid-Afrika goed genoeg ingelig omtrent die toeganklikheid van die kunste- en kultuuraktiwiteite in hul gemeenskappe? En, is daar genoegsame kunste- en kultuuraktiwiteite of word organisasies belas met die bevordering van die Afrikaanse kuns en kulture slegs benut om die een na die ander strategie of beleidsdokument te formuleer? Bedryf ons raadsaal-organisasies of haal ons inisiatiewe die werklikheid? Watookal die geval, toeganklikheid vereis ook bemarking en kommunikasie;
  • ‘n Laaste element t.o.v. toeganklikheid is die noodsaaklikheid van blootstelling ten einde die kuns- en kultuurwêreld as “verteerbare” inhoud te ontsluit.
    In die teaterbedryf weet ons: die beste tyd om ‘n kaartjie na ‘n produksie aan iemand te verkoop is wanneer dié persoon uit die teater stap. Die kunste begeester, dit wakker ‘n behoefte aan meer daarvan wat deur voldoende blootstelling ontaard in ‘n onversadigende behoefte daarna. Die negatiewe persepsie – dat die kunste die elitistiese domein van ‘n eksklusiewe groep ouerwordende intellektuele is, is bloot die gevolg van onvoldoende massa blootstelling daaraan.

    

Ten slotte

Terwyl die amptelike marginalisering van Afrikaans deur die regering van die dag gewis nie ontken kan word nie, is dit my ervaring dat groot hindernisse in die weg van ‘n nuwe, opwindende groeifase wat die Afrikaanse kuns en kulture betref, heelwat nader aan die huis is. Ons kom reeds, byna totaal, oor die weg sonder ondersteuning van die owerhede, en daar is geen twyfel dat hierdie toedrag van sake sal versleg eerder as verbeter nie. Ten spyte hiervan is Afrikaans (wat kuns en kultuur betref) aan die voorpunt – deur hand in eie boesem te steek is daar sedert 1994 wondere verrig met die oprig van strukture waarbinne die skeppende en kreatiewe vermoëns ontwikkel is. Die vraag is egter of Afrikaans aan die voorpunt van ‘n spul agterosse gaan bly, en of ons ons voorsprong eerder in ‘n groter arena wil meet?

Ek glo, wat die taal betref, hoef ons nie langer in ‘n lae rat op ‘n oorlewingsrit voort te sukkel nie. Afrikaans se stryd moet nou gevoer word om uitnemendheid – gemeet ver ander die engtes wat die huidige bedeling ons toelaat (en duld). Om dit te bereik sal ons egter ook die gesprekke binne die Afrikaanse-taalgemeenskap, in al sy diversiteit en met al sy kulture, moet verhef bó die engtes wat die taalgemeenskap die slaansak van die politieke ideologie maak.

 Die kunste, as noodsaaklike gereedskap wat ons in staat stel om ons kulturele identiteit uit te druk, sal nie ‘n geringe rol speel in hierdie proses nie. Dit mag dalk deurslaggewend wees. Enige strategie wat kuns en kultuur reduseer tot stokperdjie – minder belangrike/drukkende kwessies – sal nie alleen misluk in pogings om voorwaardes vir ‘n nuwe groeifase vir Afrikaans na te kom nie, maar loop die gevaar om die indrukwekkende werk, gedoen deur verskeie pioniers deur verskeie stadia, ongedaan te maak.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.