Kultuurorganisasies kan unieke oplossings bied – Christoff van Wyk

“Kultuurorganisasies wat egter bereid is om openlik te erken dat daar ’n unieke identiteit, moraliteit en kultuur binne elke gemeenskap bestaan en dat hierdie kenmerke geskoei is op sekere kernwaardes, sal op die lange duur deel word van die oplossing vir Suid-Afrika se probleme.”


Albert Einstein het eenkeer gesê dat ons nie ons huidige probleme kan oplos deur op dieselfde manier te dink as toe ons die probleme geskep het nie. Die Engelse term vir hierdie stelling is ‘thinking outside the box’. Alhoewel hierdie sêding ’n cliché is, is dit presies wat ons vandag in Suid-Afrika nodig het en dalk kan kultuurorganisasies in dié verband unieke oplossings bied vir die toekoms.

Om kultuur te definieer is moeilik, maar dit moet eerstens gesien word as ’n handeling of ’n manier van optree wat mettertyd deur ’n groep of gemeenskap aanvaar word as die norm. Tesame hiermee moet identiteit en moraliteit ook ingereken word as interne grondslag of rigtingwyser vanwaar die uiterlike optrede gerig word.

Kultuur, identiteit en moraliteit binne bepaalde gemeenskappe en samelewings word geskoei op sekere kernwaardes wat binne daardie groep aanvaar word.

Vir die meerderheid van Afrikaners is die Christelike geloof daardie kernwaarde waarbinne identiteit, moraliteit en kultuur uitgewerk word op elke vlak van ons menswees.

Maar, wat tans gebeur is dat ons kernwaarde toenemend verbrokkel, ons identiteit word misken en beswadder en ons begin al hoe meer die nuwe moraliteit van die Westerse beskawing aanneem wat tot gevolg het dat Afrikanerkultuur besig is om heeltemal te verander en in baie opsigte ’n bestaanskrisis beleef.

Verandering opsigself is nie sleg nie, maar die vraag wat egter ontstaan is of hierdie verandering ten goede, of ten slegte is? En, hoe hanteer die kultuurorganisasie hierdie veranderinge? Behoort kultuurorganisasies betrokke te raak deur leiding en rigting te verskaf op welke wyse ook al, of is die rol van die kultuurorganisasie bloot dié van ’n neutrale fasiliteerder?

Die antwoord hierop is dat kultuurorganisasies definitief betrokke moet raak omrede hierdie organisasies op unieke wyse kan bydra tot die opbou van gemeenskappe en ook brûe kan bou tussen verskillende gemeenskappe wat andersins dikwels onmoontlik lyk.

Binne die konteks van die Afrikanergemeenskap waar die Christelike geloof steeds as die de facto-kernwaarde van Afrikaners beskou kan word, behoort kultuurorganisasies erkenning hieraan te gee sonder om weg te skram wanneer die kwessie van geloof ter sprake kom. Dieselfde behoort te geld vir identiteit, moraliteit en vanselfsprekend ook kultuur.

In dié verband word kultuurorganisasies egter toenemend onder druk geplaas om die keuse te maak vir erkenning of ontkenning. Ontkenning is dikwels die maklike roete en ook in lyn met die algemene staatsideologie van die dag waar daar in teorie gestreef word na een algemene Suid-Afrikaanse kultuur. In teorie is hierdie sogenaamde kultuur inklusief, maar in praktyk sien ons dat daar geen plek vir Afrikanerkultuur hierbinne is nie.

Kultuurorganisasies wat egter bereid is om openlik te erken dat daar ’n unieke identiteit, moraliteit en kultuur binne elke gemeenskap bestaan en dat hierdie kenmerke geskoei is op sekere kernwaardes, sal op die lange duur deel word van die oplossing vir Suid-Afrika se probleme.

Dié kultuurorganisasies wat egter wegskram hiervan en eerder die unieke identiteit, moraliteit en kultuur van verskillende gemeenskappe en veral die Afrikaner wil ontken, dra egter by tot die probleem en sal mettertyd ook die bestaanskrisis wat vir hulle in die toekoms wink, nie oorleef nie.

Die ontkenningsindroom verskerp die interne konflik wat reeds binne gemeenskappe bestaan en het ’n verdelende invloed wat veroorsaak dat gemeenskappe uiteindelik totaal verlam word en nie meer lewenskragtig kan optree en bydraes lewer tot die samelewing soos nodig nie.

Daarenteen kan kultuurorganisasies wat die roete van erkenning en wedersydse respek volg, ’n leidende rol speel om bo-oor die politieke en staatsbestel, gemeenskappe op te bou, asook om brûe te bou tussen verskillende gemeenskappe wat op die lange duur stabiliteit kan meebring.

Die denkraamwerk waarbinne ons samelewing tans funksioneer, is byna totaal staatsgeoriënteerd. Binne hierdie bestel word natuurlike kultuurgemeenskappe misken terwyl slegs kunsmatige staats- en politieke gemeenskappe erken word. Hierdie kunsmatige vorms van gemeenskap skep egter juis konflik omdat die staat se poging om ’n kernwaarde te formuleer, soos byvoorbeeld die grondwet, nie by magte is om universeel te resoneer met al die unieke gemeenskappe wat binne die grense van die land woon nie. Dus ontaard hierdie poging eerder in ’n proses waardeur identiteit, moraliteit en kultuur misken en ondergeskik gestel word aan die oorkoepelende staatswaardes van die dag. Wanneer hierdie miskenning noodwendig lei tot konflik, tree die staat tussenbeide as die sogenaamde beskermheer van beskawing, terwyl dit juis hierdie entiteit is wat verantwoordelik is vir die probleem.

Kultuurorganisasies wat bereid is om deur erkenning die ryk historiese en kulturele skatkis waaroor kultuurgemeenskappe beskik, te ontsluit en eietyds toe te pas, het reeds ’n alternatiewe oplossing hiervoor.

Die vraag is nou: Kan ons anders dink as wat ons gedink het toe ons die probleme waarmee ons nou sit, geskep het?

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.