Leef trots!

Bloedrivier, 16 Desember 2014

In 2012 het die FAK besluit om die Groot Trek se 175ste herdenking te vier deur ’n vieruurlange dokumentêr oor die Groot Trek vir kykNET te verfilm. Ons het oor ’n afstand van 5000km Pieter Retief se spore gevolg. Van die Kaap tot Natal. Veertig mense. Agt viertrek voertuie. Twee weke lank. Soos wat die reis gevorder het dit meer geword as ’n historiese reis. Dit het ’n persoonlike ontdekkingstog geword. Jy kan nie

  • op ’n man se stoep koffie drink,
  • sy vergete waspore in die Winterberge ontdek,
  • ’n diens in Kerkenberg se katedraal hou,
  • die Drakensberge aftrek,
  • by twee massagrafte staan,

sonder dat jy nie telkemale vir jouself afvra wie op aarde was hierdie mense nie?

Wie was hierdie mense? Mense wat sonder politieke, ekonomiese of kerklike bystand op ‘n reis gegaan het waarvan die eindbestemming onseker was. Wie was hulle?

Hulle was gewone mense. Mense soos ons. Gesinne en families wat ‘n plek gesoek het waar hulle vry, veilig en voorspoedig kon wees. Gewone mense wat deur hoë funksie prestasies die buitengewone bereik het. Die Voortrekkers was in alle opsigte ’n presterende gemeenskap. Dink net, toe Paul Kruger as tienjarige seun saam met sy ouers oor die Grootrivier getrek het, was daar niks. Geen dorp, pad, spoorweg, stad, republiek of winkel nie. Vyftig jaar later het hy die president geword van ’n staat wat hulle uit niks uit gebou het. Dit alles in een leeftyd! Sy leeftyd. Dit is ook hy wat gesê het dat daar eendag vir die mense wat ons vandag Voortrekkers noem ’n monument gebou moet word.

Ek het huis toe gegaan met ’n gevoel van ongelooflike trots. Trots op wat die Voortrekkers bereik het:

  • Hulle het die grense van Suid-Afrika getrek.
  • Hulle het hulle spore bevestig deur simbole, vlae, liedere en monumente sodat hulle kinders en kleinkinders nooit aan historiese geheueverlies hoef te lei nie.
  • Hulle het die oorloë van massamoord en plundery tussen die Zoeloes, Swazi’s, Sotho’s, Ndebele, Tswana en Griekwas stop gesit en die tirannie van inheemse despote beëindig.
  • Hulle het in vrede getrek en na die inheemse bevolking uitgereik. Dit was die Barolong wat na Vegkop die Voortrekkers gehelp het. Na Bloedrivier het Pretorius en Koning Mpande ‘n vredesverdrag gesluit. In in 176 jaar was daar nooit weer ’n oorlog tussen Afrikaners en Zoeloes nie.
  • Die Voortrekkers wat die onreg en grypsug van Britse imperialiste eerstehands ervaar het, het die grondbeginsels van ‘n republikeins-demokratiese tradisie vasgelê. By Thaba Nchu het hulle die eerste demokratiese verkiesing Suid van die Sahara gehou waar daar uit die volk vir die volk leiers gekies is. Hulle het demokrasie in Suider-Afrika gevestig.
  • Hulle het net ‘n manifes en 9 Artikels gehad. Met dit as vertrekpunt is die Republieke georden met grondwette, landswette, onderwyswette, landbouwette, munisipale wette en mynwette waarvan baie regsbeginsels tot vandag toe geldig is.
  • Hulle het sonder ondersteuning en goedkeuring van Brittanje republieke gestig. In die kort tyd van 14 jaar het hulle republieke internasionale erkenning van verskeie Europese moondhede gekry. Hulle republieke was die eerste internasionaal erkende republieke in Afrika.
  • Deur middel van reisjoernale, dagboeke en veldlessenaars het hulle die eerste Afrikaanse geskrifte die binneland ingedra en sodoende die grondslag gelê vir Afrikaanse skryfkuns.
  • Teenoor Britse verengelsing het hulle ’n taal- en kultuurbewustheid geskep wat oor tyd sou lei tot die ontwikkeling van ’n nuwe taal, Afrikaans. ’n Taal wat gebore is uit Afrika en na hierdie kontinent vernoem is.
  • Die Voortrekkers wat gewoond was aan staanplekke en laers het in 50 jaar dorpe en stede gevestig waar wit en swart ’n verdienste kon bekom. Dorpe soos Kroonstad, Betlehem, Lydenburg, Rustenburg, Potchefstroom en stede soos Pietermaritzburg, Johannesburg, Pretoria en Bloemfontein is gevestig en bestaan vandag steeds.
  • Hulle het die grondslag vir natuurbewaring geskep. Die Kruger-wildtuin, groter as staat Israel, is vandag steeds ’n internasionale bewys van hulle kreatiewe skeppingsvermoë.
  • In minder as vyftigjaar het hulle waspore ontwikkel tot ’n spoorlyn van Kaapstad tot Mosambiek.
  • Die infrastruktuur wat hulle in vyftigjaar geskep het, was meer as wat die Kaapkolonie in tweehonderdjaar kon reggekry.
  • Die Voortrekkers het met die Trap-der-jeugd in die wakis getrek. Vyftigjaar later is die fondamente vir topskole en tersiêre opleiding gelê.
  • Die Voortrekkers het sonder die ondersteuning van die Kaapse Kerk getrek. Met slegs die Bybel in die wakis het hulle die Christelike geloof behou en wyd versprei. Teologiese fakulteite en sendingstasies is gevestig op plekke waar dit nie vroeër moontlik was nie.
  • Tente waarin elke aand huisgodsdiens gehou is, het tot sierlike kerkgeboue ontwikkel.
  • Selfs hulle leed het hulle met trots gedra. Die Groot Moord by Bloukrans en Weenen wat die eerste en enigste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar 185 kinders in een nag vermoor is. Daarmee saam is hulle goewerneur, sy seun en 70 ander familie en gesinshoofde wreed vermoor. Die Trek was op ‘n mespunt van mislukking. Hulle het nie in sak en as gaan sit nie, maar onder leiding van Gerrit Maritz mede-verantwoordelikheid vir die hulpbehoewendes geneem. So het hulle die maatskaplike grondslag gelê vir die latere oplossing van Afrikanerarmoede.
  • Die Voortrekkers was na die Oosgrensoorloë verarm. Die verarmde Oosgrensboere wat met min roerende bates getrek het, het met vindingrykheid en harde werk in vyf dekades vaste bates van miljarde pond geskep.

Dit maak my trots.

Hulle Groot Trek is vandag ’n inspirerende gevallestudie van vryheid. Andries Pretorius verduidelik dat die “sug na vrijheid” nie net daarin bestaan het om van die Britse monargie vry te wees nie.

  • Die sug na vryheid was ‘n bevestiging van die reg om as ‘n selfrespekterende, selfstandige gemeenskap met ’n eie identiteit te mag voortbestaan.
  • Dit was ‘n strewe van ‘n gemeenskap om self te mag besluit.

Die Voortrekkers se sug na vryheid het opkomende geslagte Afrikaners geïnspireer om steeds na nuwe horisonne te beur.

Dit bou my trots.

Trots is nie selfverheffing of arrogansie nie. NP Van Wyk Louw waarsku immers teen kulturele hoogmoed wat die liefde vir die eie verhef tot ‘n nasionale egoïsme en miskenning van ander.

  • Trots, in die positiewe sin van die woord, skep toekomshoop.
  • Trots skep die durf om self verantwoordelikheid vir ons kulturele erfgoed te neem.
  • Trots maak dit moontlik vir Afrikaners om ’n presterende gemeenskap te wees.
  • Trots is die sleutel waarmee Afrikaners die kulturele kapitaal van die verlede ontsluit en eietyds toepas.

Ons geslag Afrikaners se reis deur die kontoere van die 21ste eeu is nie minder saakmakend of rigtinggewend nie. Ook ons sal as eietydse pioniers nuwe paaie moet bou en nuwe horisonne moet verken. Ook ons sal probleme aan die kraag moet vat, oplossings vind en nuwe koers aandui.

As ons terugkyk na die afgelope twintigjaar na 1994, is daar baie waarop ons trots kan wees.

  • Trots dat Afrikaners vandag anderkant die ou verdelingslyne van links/ regs/ KP/ NP/ verlig/ verkramp kan tree om opnuut weer saam te dink en saam te doen.
  • Trots dat Afrikaners met ‘n nuwe kulturele selfvertroue hulle kulturele identiteit as Afrikaners herontdek. Afrikanerskap is vir moderne Afrikanerskap is nie ’n rasseding nie, maar ’n kulturele begrip waaruit Afrikaners krag put en met voorposdenke en- dade steeds daaraan betekenis gee.
  • Trots op Afrikanerorganisasies wat nie na 1994 hulle Afrikanerskap versaak het, of vir ’n pot lensiesop verruil het, of dit vervang het met die niksseggende term Afrikaanses nie.
  • Trots op Afrikaners wat vandag steeds onbeskaamd Afrikaner is.
  • Trots op Afrikaners wat nie na 1994 slagoffers geword het nie. Wat nie met ‘n gelate gehawendheid en ‘n troostelose weerloosheid verlam is of aan een of ander skuldkompleks lei nie.
  • Trots op Afrikanerorganisasies wat dit wat ons eie is – ons taal, ons geskiedenis, ons tradisies, ons kultuur in beskerming neem en dit steeds as ‘n kulturele bate vir ons kinders uitbou.
  • Trots op Afrikaners wat steeds op die voorpunt veg vir dit wat reg en billik en menswaardig teenoor almal is.
  • Trots dat Afrikaners regstellende aksie en transformasie oorwin met entrepreneurskap.
  • Trots dat Afrikaners nie hulself van ander gemeenskappe afsluit en isoleer nie, maar uitreik, brue bou en diensgerig leef.
  • Trots dat Afrikaners in ’n tyd van soveel krisisse steeds hulle moue oprol en hard werk, sodat ons kinders ’n toekoms in Suid-Afrika kan hê.
  • Trots dat ons weer vir ons kinders ’n nuwe Afrikaanse universiteit bou.
  • Trots op ons Afrikaanse skole wat in ’n tyd van middelmatigheid uitnemend presteer.
  • Trots dat ons as Afrikaners steeds hier is en steeds ’n presterende gemeenskap is.

Vandag staan ons by Bloedrivier en die horison lyk donker. Al is ons landsomstandighede akuut, sal Afrikaners met hoë funksie prestasies ook die huidige landsomstandighede uitpresteer. Ons geskiedenis bewys dit en ons doen dit reeds. Ons vertrou nie op toeval nie. Ons fokus.

Gaan huis toe en leef trots. Leer jou kinders om as moderne Afrikaners trots te leef. Raak betrokke. Moenie op die kantlyn staan nie. Jou saamdink en saamdoen is nodig. Ondersteun Afrikanerorganisasies. Wees as Afrikaner die toekomsgerigte prestasie in jou gemeenskap.

In Die Voortrekkersangbundel is daar ’n lied. ’n Lied wat aansluiting vind by die gees van die Gelofte. ’n Lied met toekomshoop. ’n Lied wat my telkemale inspireer:

Soos kampvuurstompe deur die nag met helder vlamme brand,

so vlam in ons die liefde vir die jeug van hierdie land.

Die kinders van ons vaderland, o ja, vaderland bly steeds ons duurste pand.

En as ons met Trekkerseuns- en dogters werk,

dan maak geloof en liefde, ja ons hart en hande sterk.

En saam sal ons in hierdie land, o ja, hierdie land ’n helder toekoms bou.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.